sr0912boekdinge_6_
Boeke

Boekdinge – Desember 2009

Russell James, Russell James (teNeues, R1 764,95)
Dié Australiër het as 15-jarige as ‘n asbliksweiser begin werk. Sy redding, sê hy, het gekom deur ‘n hond wat hy as geskenk gekry het. Dié hond het hom liefde en verantwoordelikheid geleer. Hy beland in die polisiediens as ‘n hondehanteerder, maar ná vyf jaar besluit hy om die wye wêreld aan te durf. Hy word ‘n model in die Ooste, koop ‘n sukkelende modelagentskap, bring dit op die been, begin rondspeel met kameras en besluit op 34 hy wil New York as fotograaf stormloop. Sy durf en passie laat hom ook nie in die steek nie. Sy pragfoto’s maak hom vandag ‘n gesogte fotograaf in die uiters mededingende modewêreld. - Phyllis Green

 

SPESIAAL VIR VROUE


Tango ligvoets deur die lewe, Jeanne Els (Lux Verbi, R90)
‘n Vrolike bundel wat kleur gee aan jou dag. Els stel alledaagse gebeure in perspektief: Haar gesin se eienaardighede maar ook haar ma se dood word
deernisvol beskryf, dikwels met ‘n onverwagse einde.
‘n Opbeurende geskenk vir iemand wat nodig het om te lag! - Mariette Postma

Thula-thula, Annelie Botes (Tafelberg, R165)
Gertruida leef met die herinneringe van ‘n pa wat haar jare lank gemolesteer het. Botes het dié moeilike onderwerp met deernis aangepak. By tye swaar om te lees, maar nodig – om te besef molestering en bloedskande is nooit ‘n swart-en-wit onderwerp nie. - Charis Labuschagne

Katvoet, Riana Scheepers (Human & Rousseau, R155)
Sensuele, sjarmante en onthutsende kortverhale oor die alledaagse. Scheepers
skryf uit ‘n vroulike perspektief oor liefde, die komplekse verhoudings in
Suid-Afrika se politieke bestel, die wonder van die natuur en oor die ervarings van
vrouwees.

Audrey Blignault, saamgestel deur Marié Heese (Tafelberg, R220)
Audrey se lewe deur haar eie oë. Heese (haar dogter) het dié outobiografiese
essays gekies om ‘n beeld van Audrey se lewe te bied. Audrey bly immergewild!

Diana: van feëprinses tot tragiese ikoon, Magda Cronjé (Griffel, R137)
Cronjé deel nuwe en minder bekende feite oor Diana en insidente in haar lewe in
dié omvattende biografie in Afrikaans. Sy skilder ‘n prentjie van die feëprinses,
maar ook een van tragiek en hartseer.

LEKKERLEES-BOEKE
Lekkerlees-Boeke
Boheem, Chanette Paul (LAPA, R170)
Karien Bresselaar lei ‘n dubbele lewe in Bohemia, ‘n afgesonderde kunstenaarsdorp. Rose-Anne Lockwood, matriarg van die kunstenaarsgemeenskap, word vermoor. Karien se verlede word oopgevlek. Ook dié van die ander inwoners. Wie is die skuldige? ‘n Boeiende spanningsverhaal met ‘n interessante ontknoping.

Helene de Kock Omnibus 11, Helene de Kock (Human & Rousseau, R170)
Twee liefdesromans in een! Albei stories speel af in die wynlande. In ‘n Kind vir vier oude vrinde word ‘n baba een nag op Isabel Verwey se drumpel gelos. Waar kom die baba vandaan, en hoekom juis by háár die kind los? ‘n Storie vol geheime en intrige.
In Volmaakte versnit kies Marita Malan vryheid en dit bring vir haar ongeluk. Sy kry ‘n kans om terug te gaan na haar mense op die wynplaas en weer te kies. Kies sy dié keer geluk en liefde?

The Lost Boy, Aher Arop Bol (Kwela Books, R140)
Die aangrypende lewensverhaal van Aher Arop Bol wat as een van die ‘’lost boys of Sudan” op ‘n vlugtog deur die bosse na ‘n Ethiopiese vlugtelingkamp geneem is. In 1980 moet hy weer vlug – dié keer tot in Suid-Afrika. Dis ‘n bomenslike stryd om oorlewing. Hy deel sy wedervaringe en sy stryd vandag om sy één ambisie uit te leef – ‘n goeie opvoeding.

BY se bedkassieboek, saamgestel deur Andriette Stofberg (Tafelberg, R150)
Dié een moet beslis langs jou bed lê – jy sal weer en weer in die bundel verdiep
raak. ‘n Heerlike hutspot van skryfstukke deur onder andere Dana Snyman, Chris Chameleon, Kirby van der Merwe, Marida Fitzpatrick en Max du Preez wat al in By verskyn het, met ‘n paar nuwe bydraes spesiaal deur gereelde By-skrywers vir die bundel geskryf is!

VIR DIE MANNE
Vir Mans

Die bike-boek, saamgestel deur Tobie Wiese (Tafelberg, R165)
Of hulle al ooit agter die stokke van ‘n bike was of aan die gatkant gesit het as passasier, hierdie skrywers het almal een ding in gemeen: ‘n fiksasie met bikes. En dis nie net manne nie! Die uiteenlopende vertellings, sommige fiktief en ander ware gebeurtenisse is heerlike leesstof.

Van Gansbaai tot Gaboen, Johan Badenhorst (Human & Rousseau, R230)
Die Voetspore-ekspedisies het Badenhorst en sy span reisigers al ou bekendes gemaak. Allerhande interessanthede oor die omgewing, mense, asook persoonlike ervarings word gedeel. Lekker baie foto’s maak dit ‘n heerlike kuierboek.

A Complete Guide to the Frogs of Southern Africa, Louis du Preez & Vincent Carruthers (Struik, R320)
Dié volkleurgids beskryf al 160 paddaspesies wat in Suid-Afrika voorkom volledig.
Die foto’s vergemaklik identifikasie. ‘n Heerlike bonus is die CD met die verskillende
paddakwake.

VIR DIE JONGERES
Vir Jongeres

Grootword is nie vir sissies nie, Kowie Rossouw (Protea Boekhuis, R95)
Tienerwees kom met uitdagings. Johannes se ma en pa is geskei weens sy pa
se drankprobleem. Johannes gaan kuier by sy pa, maak nuwe vriende en word gekonfronteer met uitdagende emosies. Hy leer dinge is nie swart of wit as dit by verhoudings kom nie.

Pandora se boks, Nelia Engelbrecht (Tafelberg, R94,95)
Olga en Annelie Kruger trek saam met hul skoolhoof-pa na ‘n klein dorp. Olga moet
met goed in haar kop deal, asook ‘n klomp afgunstige kinders in haar nuwe skool.
Boonop het kleinsus Annelie ‘n eetversteuring. Boeiend en menslik.

Die krokodil se knopperige vel, Andrea Florens (Art Publishers, R75)
Krokodil het die mooiste en gladste vel. Die ander diere weet dit nie, want hy het onder die water gebly en net met volmaan uitgekom. Een nag sien uil vir krokodil en vertel vir almal van krokodil se mooi vel. Almal bewonder hom en hy raak verslaaf aan komplimente. Toe doen krokodil ‘n dom ding. Lees self waarom hy vandag lyk soos hy lyk!

Die gelukkige luiperd, Andrea Florens (Art Publishers, R75)
Luiperd se lewe is op die spel – die koning wil ‘n kombers van sy vel maak. Luiperd vra hyena om hom te help. Slinkse hyena steel die koning se skape en maak ‘n pragtige kombers vir die koning. So red hy luiperd se vel. Pragtig geïllustreer met
plakkers agterin vir saamlees en plak. Meer oor die reeks by www.artpublishers.co.za.

In die nimmer-immer-bos, Linda Rode (Tafelberg, R250)
Die 60 sprokies en sketse in dié bundel sal jou betower en wegvoer op ‘n verbeeldingsvlug na die wonder van die mens en natuur. Uiteenlopende
sprokies uit verskillende lande. Kommentaar aan die einde van elke sprokie dui die oorsprong aan en plaas sprokies in konteks met mekaar. Gemaklik vir voorlees en vir self lees.