Boeke

Boekdinge – Januarie 2010

Lekker nuut in 2010

• Alle Madiba-fêns moet hul oë oophou vir Conversations with Myself, wat teen die einde van die jaar deur die Nelson Mandela Foundation se Centre of Memory and Dialogue uitgegee word. Die boek is ‘n versameling van Madiba se uitsoek- persoonlike dokumente ter herdenking van sy vrylating uit die trunk 20 jaar gelede.
• Eindelik, ‘n nuwe Marita van der Vyver-roman! ‘n Koue dis (Tafelberg) is ‘n wraakroman in briefvorm. Die verhaal gaan oor ‘n vrou wat haar wreek op ‘n ontroue man en is propvol swart humor, seks, sonde, kos en lysies. Die hoofkarakter is ‘n gewese restaurantkritikus wat obsessief lysies maak . . .
• Van Ingrid Winterbach kom Die benederyk (Human & Rousseau) oor twee broers, Aaron en Stefaans Adendorff. Aaron is ‘n skilder wat in ‘n benarde situasie gedompel word as sy galery-eienaar hom in die steek laat. Stefaans is ‘n eks-verslaafde en hou hom besig met ‘n soektog na die herkoms van hul ontwykende derde oupa. Die boek word beskryf as “apokalipties en burlesk
– klassieke Winterbach”.
Marlene van Niekerk se Die sneeuslaper (Human & Rousseau) verskyn in die tweede helfte van die jaar. Dis vier kortverhale waarin ‘n klomp uiteenlopende karakters gebruik word om die skryfproses uit te beeld.
Annelie Botes se Duiwelsbrood (LAPA) is ‘n omnibus met drie novelles en korter werke – eg menslike verhale wat die hart sal raak.
• ‘n Heerlike roman: Vuurvreter (LAPA) gaan oor ‘n afgedankte vryskut-werker van die SAUK wat ‘n gigolo word. Uit die pen van Leon van Nierop.
Sophia Kapp se Die verhuising (LAPA) is ‘n liefdesroman oor vroue-issues. ‘n Universiteitstudent word gekonfronteer met die emosionele verskille tussen
‘n man en vrou.
Paul C. Venter skryf uit eie bodem vanuit Hanover. Sy boek In die mond van die Wolf is vol egte Karoostories.
Riaan en Michelle Garforth-Venter gee in hul boek DIY Groen (LAPA) raad oor hoe om groener te lewe. Hulle help ook met planne vir praktiese projekte in en om die huis vir die herwinning van afval.
• In ‘n opspraakwekkende boek van Griffel Media, Fall of a God, gaan onthullings gemaak word oor ‘n bekende chirurg wat mense oor jare vermink het en ook versekeringsbedrog gepleeg het, maar steeds toegelaat is om te praktiseer.

STERBOEK 
My eerste HAT My eerste HAT
My eerste HAT, vertaal deur Daniel Hugo (Pearson Education SA, R149,95)
Wat ‘n oulike woordeboek, maar ek is nie heeltemal die regte ouderdom om te besluit hóé oulik nie. Ek het die boek aan my nefies gegee om uit te toets.
Ryan (13) was onmiddellik mal daaroor, want dis maklik om te gebruik en baie kleurryk. Hy het sy jonger boetie, Adrian (6), wat nog nie weet hoe om ‘n woordeboek te gebruik nie, geleer hoe om woorde op te soek. Hulle was hoogs geamuseerd deur die beskrywings van woorde soos druk, druppel en naeltjie, en het hardop gelag vir die sketse. Vir hulle was dit ‘n lekkerleesboek en nie net ‘n stuk gereedskap nie. Die woorde word in rympies beskryf, wat dit lekker maak vir hardop lees.
Die boek bevat 1 000 woorde wat in algemene kindertaal gebruik word. – Phyllis Green
 

RESENSIES

 

Swartskaap, Odette Schoeman (Kwela Boeke, R190)
Sjoe, wat ‘n storie! G’n wonder nie dat Jeanne Goosen op die stofomslag aangehaal word waar sy sê dis die eerste Afrikaanse roman wat haar laat
huil het.

Schoeman sleep die leser saam in haar vertelling van ‘n ongewone kinderlewe (sagkens gestel) van baie ontwrigting, baie skole, baie huise, met geen agting vir die menswees van kinders nie. Sy laat die leser inderdaad hartseer voel, maar ook hardop lag.

Die boek laat ‘n mens wonder wat die meeste invloed uitoefen: oorerwing of
omgewing? Elke ouer behoort dié eerlike boek te lees sodat ons elkeen ons seëninge kan tel en ons kinders sal waardeer. – Mariëtte Postma

Op &aposn eiland

 Op ‘n eiland, Karel Schoeman (Human & Rousseau,R165, heruitgawe)
Die verteller, Ruud, gaan kuier op ‘n Griekse eiland by die jong SA skilder Johan. Hy bly daar saam met sy Nederlandse vrou, Hilde, en hul babaseuntjie, Julien. ‘n Ruk later kom Hilde se vriendin Elsa ook daar aan. Die vier mense woon ‘n tyd lank saam op die eiland, eenkant en geïsoleerd.
Die boek (oorspronklik in 1971 gepubliseer) se ietwat argaïese Afrikaans het my van heelwat leeslekkerte ontneem.

Tog, Schoeman gryp die verbeelding aan, soos met sy beskrywing van die “geruis van die golwe teen die kus, die dor bruin land wat tril in die hitte en die geur van stof en oleanders”.
Die verhaal bewys: Elke mens is op ander aangewese, maar elkeen tog alleen. – Lee-Ann Steenkamp

Digter wordende

 Digter wordende, Antjie Krog (Human & Rousseau, R160)
Dié keur uit Antjie Krog se digkuns, verdeel in liefdes-, gesins-, skryf en
politieke verse, asook gedigte uit die Hertzogpryswennerbundel Lady Anne, kan twee verskillende lesersgroepe besig hou.
Vir dié wat Krog se werk ken, is dit boeiend om te sien nie net wát die digter self uit haar hele oeuvre gekies het nie, maar ook hóé dit ingedeel is: Jy kan lekker dink oor hoe gedig X onder hofie Y sou inpas – nie oral ewe voor die hand liggend nie.
Vir lesers wat minder bekend is met dié belangrike digter bied die chronologiese ordening ‘n helder blik op haar skryfontwikkeling as digter
wordende.

‘n Ryk leeservaring. Net ‘n jammerte, dié vaal voorblad. – Hester Carstens

Kleure van die liefde  Kleure van liefde – in lewe en sterwe en daarna, Marthie Momberg (Protea Boekhuis, R130)
Momberg se man, Derek, was haar studenteliefde en sielsmaat. In 1998 word leukemie by hom gediagnoseer, en in die daaropvolgende 18 maande ervaar die egpaar hoop, die waarde van vriendskappe en die uiteindelike berusting daarby dat hy gaan sterf. Momberg se outobiografie bevat dagboekinskrywings van Derek en e-posboodskappe aan vriende oor die wêreld heen. Sy laaste paar uur word intens beskryf.
Haar reis, ook ná sy dood, sal vir menige leser hul eie word. – Mercy Morkel
Mandleve&aposs gold

 Mandleve’s Gold, Daniel J. Joubert, (Raider Publishing International, R159,95)
Die verhaal speel in 1873 in Pelgrimsrus af. Tydens ‘n jagekspedisie ontdek die grootwildjagter Mandleve Bartlett ‘n ryk goudneerslag. Die sangoma van die Sjangaan-stam voorspel die goud is nie vir hom beskore nie, maar vir sy kleinseun en ‘n onbekende vrou wat van ver oor die see sal kom. Hulle ken mekaar nie, maar sal moet saamwerk . . .
Later reis Sam Bartlett van Londen af om hom by sy oupa Mandleve aan te sluit. Elizabeth Bradford reis saam met haar man na Pelgrimsrus. Omstandighede dwing Sam en Elizabeth saam. In hul soeke na die goud moet hulle Afrika se aanslae trotseer.

‘n Kragtige verhaal van liefde, haat, goudkoors en moord. – Karien Labuschagne

Even

 Even, Andrew Grant (MacMillan, R207,95)
David Trevellyan is ‘n knap, hoogs opgeleide Britse spioen met ‘n siniese humorsin en hope dodelike moves. Hy word onverwags afgesny van sy
hanteerders ná hy op ‘n bisarre manier betrek word by ‘n koelbloedige sluipmoord in Manhattan. Gelukkig kry hy hulp van ‘n ou vriendin . . .
‘n Storie met ‘n vinnige tempo, sadistiese mense, baie pyn, moord en ‘n hele paar verwikkelings soos ons held homself dieper en dieper in ‘n web vasweef. Wanneer hy eindelik loskom, is dit vir sommige karakters te laat.
In hierdie boeiende riller is daar baie aksie, volop opwinding en ‘n paar ongeloofwaardige ontknopings.

‘n Mens kan dit nie neersit nie. – Deirdre Holzer