Boeke

Boekdinge – Junie 2009

Die maand se leeservaring beloof om jou op reis te neem deur Kate Moss se hangkas, deur die stofstrate van Afrika, deur die doolhof van lewenservaringe. So sit jou veiligheidsgordel aan en trek weg!

Staan in die algemeen nader aan vensters, Loftus Marais (Tafelberg, R123)
Dis die oë van digters wat doodgewoon anders na die wêreld kyk, dié dat hulle volgens die titel van hierdie bundel nader aan vensters staan. Marais, ‘n debuutstem, se verse is ironies en trompop – what you see is what you get. Hy kyk deur die rame van portrette, deur die voorruite van motors, uit sy woonstelvenster en deur kameralense. Die spreekwoordelike doekies word nie omgedraai nie – inteendeel, dis juis tussen-die-lakens wat van Marais se beste verse oplewer. (Hier loop ook spore van Johann de Lange.) Die digtersblik op homoseksuele liefde, ander digters, fonteine, ma’s, bome en ‘n tuindwerg is ‘n opwindende leeservaring.  – Christine Nel

*Loftus Marais deel vanjaar die Eugène Marais-prys vir dié bundel met Ronelda S. Kamfer. Die boek is ook vir die W.A. Hofmeyr-prys benoem.

RESENSIES

Momente en Mirakels Moerbuityd

Momente en mirakels, Suzanne le Roux

(Corals Publishers, R119,95)

‘n Lekkerlees-reisboek vol vreugde- én krisisoomblikke wat telkens mirakels word. Die skrywer se lewensreis begin op Tierfontein, haar geboorteplaas in die Vrystaat. Sy vertrek na ongewone bestemmings wat sy in die fynste

detail beskryf – van ‘n Afrika-safari (vol humor) tot die “mirakelmoment van een wees met die natuur” waar sy “gewigloos” op ‘n louwarm Griekse see dryf. Elke oomblik

van pyn of ekstase lei tot die ontdekking van haar ware self. Haar vertellings laat die leser self na binne kyk. Bestel by www.coralspublishers.co.za.  -Mercy Morkel

Moerbuityd, Daleen Maas (Ganesha Uitgewers, R140)
Die hoofkarakter is losweg op die skrywer se belewenisse in senuklinieke gebaseer – ná meer as 20 jaar is ‘n akkurate diagnose gemaak wat tot die skryf van hierdie boek gelei het. Vianne word uit ‘n psigiatriese inrigting
ontslaan en gaan bly op ‘n kusdorpie. Haar selfopgelegde afsondering word onderbreek deur vreemde karakters, elk met ‘n eie storie, wat haar uiteindelik na selfvergifnis, genesing en ‘n nuwe lewe lei. Duidelik is die hortende skryfstyl daarop gemik om Vianne se verwarde denkprosesse en neurotiese lewensuitkyk te beklemtoon. Tog raak die staccato-sinne erg hinderlik, veral omdat geen onderskeid getref word tussen die uitdrukkingsvermoë van verskillende karakters nie (Martha, Bettie en Kardoes word presies dieselfde verteltrant as Vianne in die mond gelê). Ten spyte hiervan is Moerbuityd die lees werd.
Beskikbaar by uitsoek- Exclusive Books-winkels, of bestel by ganesha@border.co.za
of www. graffitibooks.co.za – Emsie Viljoen
Die Boek van Ester Die Tuiskoms
Die boek van Ester, Wilna Adriaanse (Tafelberg, R180)
Ester Green, ‘n politieke fotojoernalis, se lewe word in een aand omvergewerp wanneer haar ouers by hul huis doodgeskiet word. Sy pak haar tasse, trek Londen toe en verander haar beroep, klere en lewe. Twee jaar later is sy terug in die Laeveld, waar sy vir Samuel McGreggor ontmoet. Hy is ‘n uitgesproke wildbewaarder wat glo dat genoeg mense ‘n verskil kán maak. Die verhaal het ál die elemente van ‘n lekkerlees- romanse. Dit beskryf ook die moeilike pad na aanvaarding en heling. Die boek eindig egter abrup, met ‘n paar los drade. – Lee-Ann Steenkamp
 Die tuiskoms, Sophia Kapp (LAPA Uitgewers, R140)
In dié hygroman (nogal met vrae vir leeskringe) wil die skrywer die isolasie, manipulasie en aftakeling rondom gesinsgeweld uitlig. Liz Aucamp het ‘n verlede – sy het Groblersdorp onder ‘n skarlaken-wolk verlaat. Nou keer sy terug . . . Benodigdhede: 1 Beeldskone, briljante heldin. 1 Aantreklike, sardoniese held. ‘n Hand vol konkelwerk. Etlike vergissings, vooroordele en netelige kwessies. Metode: Meng alles kreatief, met geloofwaardige dialoog en vinnige pas. Voeg morele dilemmas by en prut met sensitiwiteit; versier met humor en sit voor met ‘n gelukkige einde wat los drade vasknoop. ‘n Mens peuter nie aan wenresepte nie. Vir meer oor Sophia Kapp, besoek www.lapa.co.za. – E.V.
Manolo Blahnik het eens van Kate Moss gesê sy is te kort en te maer, haar tande is nie perfek nie en sy is die absolute teenoorgestelde van wat die woord “supermodel” in die negentigs beteken het. Langs Naomi Campbell, Linda Evangelista en Christy Turlington het sy soos ‘n windverwaaide meisie gelyk.
Dít was tóé. Dis verstommend hoe Kate intussen die modewêreld oorrompel het en ‘n styl-ikoon geword het. Dié boek vertel hoe sy getrou gebly het aan haar persoonlike klerestyl, hoe sy iets kan aantrek en dit haar eie maak, pleks dat die klere háár dra. Kate het gegroei van ‘n blote model tot ‘n sakevrou wat ‘n groot invloed het op die sukses van mode-items en selfs ontwerper-klerereekse.
Nie sleg vir ‘n kort, maer meisie met skewe tande nie! Meer oor die skrywer en boek by www.angelabuttolph.com.
- Phyllis Green
Kate Moss Style
RESENSIES

 

Something to Tell You Repatriated
Something to Tell You, Hanif Kureishi (Faber & Faber, R153)
Die verteller in Hanif Kureishi se sesde boek is Jamal Khan, ‘n middeljarige psigoanalis met ‘n humoristies-siniese blik op die lewe. Die vertelling spring tussen terugblikke op Jamal se generasie se ervaring van Londen in die 1970’s en sy huidige bestaan daar. Jamal leef in ‘n wêreld vol ouerwordende hippies. ‘n Groot deel van die verhaal wentel om sinistere gebeure rondom die dood van die pa van sy eerste liefde, Ajita, in die laat 70’s. Nou word Jamal weer met dié gebeure gekonfronteer, met verrassende gevolge. – Marina Smith
Repatriated, Adriaan van Dis (Random House, R212)
In ‘n Nederlandse kusdorpie berei Mr. Java – ‘n eks-kolonianer geskaad deur die oorlog – sy seun voor op die toekoms en trek hom diep by sy denkbeeldige wêreld in. Hy luister na radio-uitsendings van H-bom-toetse, is obsessief op die uitkyk vir spioene en verwag ‘n kernslagting. Sy vrou en dogters uit ‘n vorige huwelik in Indonesië lewer skeptiese kommentaar. Die seun probeer wegbreek van sy ouers, maar besef hy kan nie ontsnap van hul verlede nie. ‘n Donker, komiese storie wat nie maklik lees nie. – Chris Botha
No Time for Romance Dark Continent My Black Arse
 No Time for Romance, Lucilla Andrews (Transworld Publishers, R133)
Dié boek open ‘n heel nuwe venster op die lewe en hartseer van mense, veral verpleegsters, tydens die
Tweede Wêreldoorlog. Dié oorlog loop hand aan hand met die Joodse volksmoord en gepaardgaande
wreedhede. Die leser word in die oorlog ingetrek: Jy kan die afwagting aanvoel wanneer die hospitaalpersoneel die vliegtuie hoor aankom en wag vir die geluid van bomme. Wanneer alles verby is, is hulle gereed om vasberade en met humor die pasiënte te help en te kalmeer. ‘n Moet-lees vir elkeen wat vergeet het wat oorlog beteken. – Trudy Booyens
Dark Continent my Black Arse, Sihle Khumalo (Umuzi, R133)
Kleintyd al was dit Sihle Khumalo se grootste droom om van Kaapstad na Kaïro te reis, nes die groot verkenner Dr. Livingstone. Op 30-jarige ouderdom, ná maande van oordenking, bedank hy uit sy werk en begin beplan aan sy groot avontuur na Kaïro. Wat volg, is Khumalo se opwindende reis met openbare
vervoer deur Afrika se stofstrate. Hoewel hy hom daagliks in moeilike situasies bevind, benader hy alles met humor en optimisme. ‘n Wonderlike en insiggewende reisverhaal, gevul met die skoonheid en diversiteit van Afrika. – T. de Klerk
The Broken Window

 The Broken Window, Jeffery Deaver (Hodder and Stoughton, R214)
‘n Spannende riller wat jou van die eerste bladsy vasvang: Lincoln Rhyme op sy beste, soos altyd!

Die rekenaartegnologie kan dalk vir party van ons ‘n bietjie vreemd wees, maar daar is baie te leer en dis ongelooflik wat alles met tegnologie vermag kan word – skrikwekkend, eintlik!

Tot op die laaste kan jy nie raai wie die moordenaar en rekenaar-ghoeroe is nie. Ruim baie tyd in om hierdie boek te lees, want jy sal nie gesteur wil word nie. – Nicolene Carstens