sr0903boekdinge_01_
Boeke

Boekdinge – Maart 2009

Resensie

Snoeiskêr, Piet Steyn (Tafelberg, R140)
In Steyn se debuut ontmoet ons vir Peet Odendaal, ’n oud-recce. Dié knaap het ’n ongesonde voorliefde vir ’n bekende kinderliedjie, duime en ’n skerp stukkie tuingereedskap. Hierdie aksiebelaaide roman is op die lees van Amerikaanse misdaadtreffers geskoei: bloed, vloek en derms vier hoogty. Dit val Pine Pienaar en sy span polisiemanne te beurt om die onbehoorlike vent op te spoor voor hy verder droogmaak.

Van stad na platteland klim die dapper dienders opdraand, met genoeg kinkels in die kabel en wisselende perspektiewe om jou aan die lees te hou. Ofskoon heelwat situasies, veral die geykte liefdestonele, nie heeltemal oortuig nie, is dit ’n baie leesbare eerste poging. En na verneem word, is dit ook nie die laaste sien van Pine nie . . . Emsie Viljoen

The Phaidon Atlas of 21st Century World Architecture (Phaidon, R1 445)
Versameling van 1 037 uitstaande geboue vanoor die wêreld wat binne die laaste eeu
ontwerp en opgerig is. Die atlas word ingedeel in ses wêreldstreke waarin die globale en plaaslike tendense in argitektuur en ontwerp vertoon word. Elke gebou word geïllustreer met vloerplanne en foto’s en word beskryf in ‘n essay. Van die Suid-Afrikaanse geboue is Fagan Huis op Langebaan, Kliptown Square in Johannesburg, die nuwe Konstitusionele Hof in Johannesburg, Vryheidspark in Pretoria, Maropeng Visitor Centre op Sterkfontein en Lourierpark Gemeenskapsentrum in Bloemfontein.
Die boek het 4 600 kleurfoto’s, 50 opdraglyntekeninge, 800 bladsye en weeg 6,7 kg!
‘n Goeie oorsig oor moderne argitektuur en die ontwerp van ons tyd – mits jou bankbalans stewig is! Phyllis Green

 
RESENSIE
Sashenka

Sashenka, Simon Montefiore (Random House, R186)
Die storie van Sashenka begin in 1916 in Sint Petersburg. Die rykmansdogter word betrek by ondergrondse aktiwiteite terwyl haar ma nagte deur partytjie hou saam met Raspoetin, die
Russiese monnik wat tsaar Nicholaas II beïnvloed het. Sy word redakteur van ’n vrouetydskrif, trou met ’n staatsamptenaar en onthaal selfs vir Stalin by haar dacha (vakansiehuis). Maar dan raak sy verlief op ’n skrywer en haar lewe verander heeltemal . . .
Jare later kry ’n historikus opdrag om inligting oor Sashenka in te samel en die storie van die mooi Rus en haar kinders word ontsyfer. Alida Vos

Tears of the Desert

Tears of the Desert, Halima Bashir met Damien Lewis (Hodder, R189,95)
’n Aangrypende outobiografie: Halima Bashir het as skrander jong Soedanse meisie armoede en diskriminasie oorkom en haar mense, die Zaghawa-stam, se eerste mediese dokter in Darfoer geword. Die dekades lange burgeroorlog ontaard in die verkragting van vroue en in volksmoord. Haar eie vervolging en verkragting volg wanneer sy haar in die media en die Verenigde Nasies daarteen uitspreek. Die afgeleë nedersetting waar sy grootgeword het, is ook nie gespaar van die geweld nie. Ná soveel verlies, byna te onmenslik om te verstaan, besef sy dat sy nêrens meer in dié grootste land in Afrika veilig is nie en vlug na Londen. Maar hier staar deportasie haar voortdurend in die gesig. Die verhaal word met deernis vertel, maar die onmenslike wreedheid gaan die verstand te bowe. Liesel Pienaar