sr0905boekdinge_1_
Boeke

Boekdinge – Mei 2009

Choice, Not Fate – The Life and Times of Trevor Manuel, Pippa Green (Penguin Books, R324)
Een van die insiggewendste biografieë wat ek onlangs oor ‘n politieke figuur gelees het. Dit gee ‘n oorsig oor Manuel se vroeë lewe en sy rol as aktivis in die UDM. Die verdeeldheid in die Kaapse politiek (wat lig werp op die ANC se huidige verdeeldheid) word uitgelig. Green beskryf sy aanstelling as minister van finansies en die gepaardgaande kritiek, wat hom gemotiveer het om kritici se monde te snoer, sowel as sy aanslag en sy internasionale sukses. Sy plaas hom in konteks in die politieke prentjie van die nuwe SA. Ek sou graag breedvoeriger oor onlangse kwessies soos die wapenskandaal, die Polokwane-gebeurtenisse en Mbeki se afdanking wou lees. Dit word nou ook in Afrikaans uitgegee: Trevor Manuel – ‘n Lewensverhaal, Pippa Green (Tafelberg, R320) - Phyllis Green

Vlamsalmander

Vlamsalmander, Hennie Aucamp (Protea,R150)

Soos ‘n mens van Aucamp verwag, sorg dié heel lywige bundel vir ‘n verrykende, boeiende paar ure. Buiten die oordenking van skrywerskap en kunstenaar-wees raak hy breedvoerige temas aan: seks, liefde en oudword, die stand van Afrikanerskap (in een vuishou-gedig), die spesiale outsiders-aard van Seepunt asook gebeure soos 9/11 en Orkaan Katrina. Aucamp slaag daarin om oorwoë gedigte te skryf wat dinkwerk van die leser vra, dog glad nie duister of “moeilik” is nie – en juis hierin lê sy besondere leesbaarheid. – Hester Carstens

Alexander Seaton  

The Redemption of Alexander Seaton, Shona MacLean (Quercus, R325)

Die vergiftiging van ‘n klerk in ‘n Skotse dorpie word die raaisel wat ‘n jong man, Alexander Seaton, wil oplos. Die verhaal speel af in die 17de eeu en Seaton trotseer uiterste godsdienstige vooroordele, bygelowe en heksery. Die skryfster skep ‘n historiese agtergrond wat jou terugvoer na daardie tyd.- Lounette Fourie

Suiderkruis  

Suiderkruis, Morné Malan (tafelberg, R143)

Op Stilkuil swyg alleenboervrou Magriet al elf jaar lank oor die ongeluk wat haar man se dood veroorsaak en haar twee jong seuns van die plaas weggedryf het. Maar wanneer haar man se geliefde windpomp die gees gee, is dit tyd om haar vervreemde seuns te gaan soek. As jy verby die swakplekke kan kyk – ‘n te afwesige redigeerdershand, karakters wat nie sielkundig volrond ontwikkel is nie en ‘n valerige slot – is dit ‘n heel leesbare,
onderhoudende roman. -H. C.

Shadow People  

Shadow People, Shunna Pillay (STE Publishers, R145)

Dhava Aiengar is ‘n briljante jong pianis, ‘n Indiër in SA se apartheidsjare. Hy moet voortdurend vlug van die polisie, betogers, bendes en skurke.
Hierdie skokkende vertelling van die 50’s in Durban, Distrik Ses en Sophiatown het my laat voel of die skrywer ou wonde probeer oopkrap. -Lee-Ann Steenkamp

Op die Agterpaaie  

Op die agterpaaie, Dana Snyman (Tafelberg, R150)

Dis 20 van Snyman se stories wat in die reistydskrif Weg verskyn het, oor sy reise op die agterpaaie in SA en die res van Afrika. Sy aardse beskrywings van plekke en mense maak jou lus om die plekke te gaan opsoek en dit self te beleef. Deur sy menslike en unieke aanslag maak hy die lees ‘n reiservaring op sigself. – Gert Venter

Byna Liefde  

Byna liefde, Izak de Vries (Tafelberg, R143)

Dié 22 kortverhale handel oor mense wat liefde soek. Sommige vind dit, ander moet wag. Dan is daar mense wat net terugkeer na die hede om hulself weer te ontdek, om sodoende weer die passie van die liefde te geniet. Dié boek is vir mense wat wil lees oor die ewige soeke na die ewig-ontwykende liefde . . . - Barend Klopper

Alle paaie lei deur die Strand  

Alle paaie lei deur die Strand, Corlia Fourie (Lapa, R120)

Stella se rabbedoe-kinderdae ontvou in haar Ouma Strand se welkom-huis. Dis ‘n ontvlugting na jou eie kinderjare, vol herinneringe aan Jakkalsen- Wolf, niekerbols, speel in die strate en see-baljaar. Die vernuftige vertelling laat jou saam met Stella al haar bittersoet grootworddae ervaar – ook eerlike, kras dele. – Lee-Ann Steenkamp

13 Uur

13 uur, Deon Meyer (Human & Rousseau, R164)

Selfoongelui laat speurder-inspekteur Bennie Griessel om 05:37 wakker skrik.
‘n Liggaam is gevind. ‘n Jong meisie. Deon Meyer se 13 uur gaan oor twee moordsake: Die een ‘n moord op ‘n Amerikaanse toeris en die ander op ‘n bekende in die Afrikaanse musiekwêreld. Griessel is pas aangestel as mentor vir ‘n groep speurders, en wanneer hulle stry kry oor dié sake, moet hy ingryp. Dan is daar sy persoonlike probleme. Hy was ontrou aan sy vrou, met wie hy van bed en tafel geskei is. Sy bankrekening is byna leeg en sy seun wil permanent in die band Wet en Orde gaan speel. Dis ‘n tipiese 13 uur in die lewe van dié wetstoepasser. En daar is geen twyfel nie dat dié boek, soos Meyer se voriges, deeglik nagevors is. Wanneer jy dit neersit, wens jy sy volgende een is al in die winkels. – Nerisa Coetzee

A Girl made of dust  

A Girl Made of Dust, Nathalie Abi-Ezzi (HarperCollins, R224)

In die strate van Lebanon in die vroeë 80’s woed ‘n burgeroorlog, maar in die huis en hart van die negejarige Ruba woed ‘n meer persoonlike stryd. Terwyl sy noodgedwonge haar kinderskoene uitskop, maak sy kennis met die werklikheid van ras- en geloofsverskille en bowenal gesinsverbrokkeling. Dié aktuele roman gee ‘n goeie blik op die verwoestende
effek van oorlog op ‘n omgewing en onskuldige individue. Die beeldspraak is oorspronklik en ‘n mens kan maklik met die innemende karakters identifiseer. Die atmosfeer is dikwels somber, maar daar is goeie balans tussen die dramatiese en die komiese. Deur Ruba se
fyn waarnemings beleef ‘n mens die ironie van die lewe. Die woorde a girl made of dust word uitgebou tot ‘n uitstekende metafoor: die verlies van onskuld en drome en die mens se verganklikheid. Tog is daar die belofte van hoop en herstel op die horison van Ruba en haar mense se wêreld. ‘n Genotvolle eerste roman van ‘n belowende skrywer. -Amalia Uys

Dinosaurs, Steve Brusatte (Quercus, R419,95)
Toe my nefie Ryan 3 jaar oud was, het ons weer en weer na ‘n boek oor dinosourusse gekyk. Dit was sy gunsteling-onderwerp en die boek was voos geblaai teen die tyd dat sy boetie, Adrian, 6 jaar later opgedaag het. Ryan is nou 12, Adrian 6 en dinosourusse fassineer hulle steeds. Dié boek sal hulle eindelose plesier gee. Vir my ook! Dis groot, in volkleur, met super-realistiese uitbeeldings van die verskillende dinosourusse. By elke dier is ‘n uiteensetting van klassifikasie, ‘n kaart van waar
dit voorgekom het, statistieke oor die dierasie en ‘n skaal van sy grootte teenoor ‘n mens. Het jy geweet krokodille is baie naby verwant aan voëls? Dis maar een van die interessante feite in dié pragpublikasie. My nefies sal baie trots wees op my as ek dié dinge oor hul geliefde dino’s weet. En die
boek is boonop ‘n aanwins vir enige koffietafel. – Phyllis Green

Dinosaurs