sr0910boekdinge_2_
Boeke

Boekdinge – Oktober 2009

Vuurwiel, Joan Hambidge (Human & Rousseau, R140)
Soos die “Derwiese dansers” van een gedig laat hierdie bundel ‘n mens met ‘n gevoel van selfhipnose, “tollend weg van die ek”.  Aan die een kant is dit tipies Hambidge. Temas soos liefdesverhoudings, verlies en digterskap word uitgeskryf in ‘n moderne woordwêreld van e-pos, selfone, filmsterre en openbare ruimtes.

Die persoonlike en die digter se verwerking daarvan staan steeds sentraal. Daar is die gebruiklike intertekstualiteit en parodie. Wat egter tematies bykom, is die dood.

Die wiel draai, ‘n vuurwiel van passie en palindroom, sodat ‘n mens soms ‘n voet wil uitsteek teen die duiseligheid, jouself wil gaan grond in die massa van die digter se bestaande oeuvre. Wat bybly, is die besef: “Ek is niks sonder my woorde/ nie. My woorde is niks sonder/my nie. O woorde, stukkende woorde/wat ek heel timmer op die roete”. - Ilse van Staden

 

STERBOEK
 
Animal Migration

Animal Migration: Remarkable Journeys in the Wild, Ben Hoare (Struik, R199,95)
Troppe wildebeeste en sebras wat oor die grasvlaktes van die Serengeti hardloop was die eerste beeld wat by my opgekom het by die lees van dié titel. Toe ek begin deurblaai, het ek besef hoeveel voëlspesies, visse, insekte, paddas en selfs slange migreer. Die skrywer verduidelik die migrasieproses oor land, water en in die lug en gee baie interessante brokkies inligting.

Het jy geweet die Arktiese seeswael vlieg jaarliks sowat 40 000 km wanneer hy migreer? Een van die oudste geringde Arktiese swaels was 34 jaar oud. Kan jy jou indink hoeveel kilometers dié voël in sy lewe gevlieg het! Die boek is ryklik geïllustreer met pragkleurfoto’s en het kaarte waarop elke dieresoort se migrasie-roete gewys word.

Voorwaar ‘n boek wat ‘n mens weer en weer sal deurblaai – en elke keer iets nuuts leer. – Phyllis Green

Binne Animal Migration

Resensies

 
Geldwolf

Geldwolf, Carel van der Merwe (Umuzi, R199)
In die vinnige baan is geld tegelyk onbenullig en allesoorheersend. Stephen Winter se lewe is oppervlakkig en draai om geld en mag. Hy stel sy gesin teleur omdat hulle altyd laaste kom en hy onderdruk sy gevoelens tot só ‘n mate dat dit sy gesondheid aantas. Hy is onmenslik koud teenoor sy vrou wanneer sy hom na sy mening verraai.

Hy maak deurentyd selfsugtige somme om sy saldo te verhoog en invloed uit te brei.
Die verraad van sy vennote en diegene wat hy as vertrouelinge beskou juis toe hy ondersteuning nodig kry, skok hom.

Van der Merwe vertel ‘n boeiende storie van ‘n armmanskind wat van heel onder teen die leer opbeweeg, en wys hoe ongevoelig die sakewêreld kan wees.

‘n Opwindende storie, uitstekend vertel. - Mariette Postma

 Rooiluiperd

Rooi Luiperd, François Bloemhof (Human & Rousseau, R143)

Amerika het die CIA, Engeland het MI5 en Suid-Afrika het die Fabriek.

Soos enige geheime organisasie het die Fabriek ‘n rangorde. Die top-agente is bekend as die groot vyf. Een van hulle, die Rooi Luiperd, verdwyn tydens ‘n missie. Twee junior agente ding mee om die top-posisie. Wie ook al die raaisel rondom die verdwyning
van die Rooi Luiperd kan oplos, sal sy opvolger wees.

Dis ‘n verhaal vol verraad,
agterdog en moord, maar ongelukkig nogal voorspelbaar. – Karien Labuschagne

 Wederkoms

 Wederkoms, Louis Krüger (Human & Rousseau, R165)
Die aangrypende en diepsinnige beskrywing van Jannes Hoop se innerlike lewe terwyl sy werklike lewe sonder enige hoop is. Sy kinderlike, dog deurtastende geloof verander nie soos moeilikheid ontstaan nie. Jannes se gedagtewêreld wys presies hoe min nodig is om met hoop te leef.

Hy hou die duiwe wat mieliepitte soek in ‘n leë pakhuis dop, en besluit dat een van die goue stofdeeltjies wat rondsweef die aarde is.
Jannes hoor die duiwe se vlerke en gepronk, hul pote wat tik op die sink, en die reuk van mielies en lusern maak hom wat niks het nie diep gelukkig. Sy geluk met Myrte was van korte duur, en hul seun, Bas, het net tydelik sin aan sy lewe gegee.

Dis nie ‘n romantiese, maklik verteerbare verhaal nie, maar ‘n bevredigende, verrykende boek. – – Mariette Postma

 Grootraad Makedaan  Grootraad Makedaan en die bobbejaantrop van Donkerberg, Marius Ackermann (Protea boekhuis, R100)
Wat is die verskil tussen ‘n horde besope bobbejane en ‘n spul magsbehepte politici? Nie veel nie, wys hierdie satire wat verskeie aspekte van politieke filosofie op vermaaklike wyse belig en insiggewende maatskaplike kommentaar lewer. Die affêre speel hom af teen Donkerberg se hange, slaapplek van Grootraad Makedaan en sy onderdanige dorpsbobbejane. Bedags deursnuffel hulle die asgate vir eetgoed en saans vier hulle fees in die lapa met klubs en rade se oorskietkos. Uiteindelik lei hul onnatuurlike lewenswyse tot spanning in die trop en ‘n dapper bobbejaantjie besluit om hul griewe op skrif te stel. Dit loop uit op ‘n blitsverkiesing en die gebeure daarna lei tot ‘n sameswering, wat meebring dat die leier en sy stafsekretaris die trop verlaat. Die einde van Grootraad se bobbejaanstreke? – Emsie Viljoen
 Jan Nel

 Dwalers loop nie by twyfelaars nie, Jan Nel (Protea Boekhuis, R100)
Nel het reeds verskeie bundels lekkerleesstories op sy kerfstok en hierdie een is geen
uitsondering nie.

Dit bevat 15 stories oor siele, selfs ‘n dieresiel en ‘n vliegtuig wat nie tot rus kan kom nie. Die spookstories word vertel deur vriende wat sit en kuier om ‘n Laeveldse vuurtjie.

Die nodige versterkings is teenwoordig, en of dit liegstories of ware stories is, moet die leser self besluit.

Hou egter die titel in gedagte voordat jy besluit . . .

- Gert Venter

 Goodnight, Beautiful

 Goodnight, Beautiful, Dorothy Koomson (Penguin Group SA, R200)
Nova stem in om ‘n baba vir haar beste vriend, Mal, en sy vrou, Stephanie, te hê.
(Mal se sperms, Nova se eiers.) Dan besluit Mal hy wil nie meer die kind hê nie, onder druk van Stephanie. Nova besluit om die seun, Leo, alleen groot te maak. Mal en Nova het jare lank nie kontak nie, tot Leo ernstig siek word . . .

Waarom neurotiese Stephanie in elk geval toelaat dat Mal ‘n baba by sy sielsgenoot kry, gaan my verstand te bowe. En die lafhartige manier waarop hy swanger Nova aan haar lot oorlaat, is onvergeeflik. Maar vroue-lesers op amazon.com was mal daaroor en het glo dae lank geween.

Waarskuwing: Die einde is nie voorspelbaar nie. – Lydia van der Merwe

 In the Blood

In the Blood, Andrew Motion (Faber & Faber, R164)
Om die gedagtes en ondervindings van ‘n kind te lees is om die lewe te sien deur die
oë van so ‘n kind. ‘n Mens kry begrip vir hoe kinders die lewe ervaar.

Motion vertel in dié ware verhaal van sy eie kinderlewe.

Met gelatenheid gehoorsaam die jonge Andrew sy ouers en die skool se gesag en dissipline en ervaar hy sy eerste soen. Met dieselfde gelatenheid aanvaar hy ook die verdriet in sy lewe.

Die boek is by tye vervelig, want die skrywer beskryf mense, omgewings en stories langdradig. -Trudy Booyens