Boeke

Boekdinge – September 2009

Om na ‘n wit plafon te staar, Jaco Kirsten (Tafelberg, R165)
Lara Krog, ‘n redakteur by ‘n uitgewer, kry opdrag om ‘n nuwe skrywer te vind en reageer op ‘n vriendin se wenk. As gevolg van ‘n misverstand kontak sy Lourens Erasmus en nie Laurens Erasmus nie. Teen die tyd dat sy haar fout agterkom, is dit te laat. Lourens, ‘n motorjoernalis, verras haar (en homself) deur ‘n uitstekende, dog hoogs kontroversiële en polities inkorrekte treffer te skryf. Die boek handel nie net oor Lourens se soeke na die perfekte roman nie, maar oor wie hy is en waar hy inpas in die nuwe Suid-Afrika. ‘n Hoogs amusante storie. – Karien Labuschagne

 

RESENSIES

 

Die algebra van nood Danie Marais
Die algebra van nood, Johann de Lange (Human & Rousseau, R140)
As hierdie bundel nie maklik lees nie, sou dit eerder wees vanweë die somtyds ontstellende wêreld wat dit verbeeld as weens enige duistere intellektualiteit. Wat nie beteken dat dit nie poëtiese diepte het nie. Allermins. Daar is genoeg intertekstualiteit, woordspeling en vernuf om met elke herlees iets nuuts te ontdek. Die titel en omslag vertel reeds wat veral die bundel se tweede afdeling genadeloos uitspel – “die eenvoudige skoonheid van algebra” wanneer “120 mikrogram” in jou
are jou heen en weer laat glip ” tussen verbeelde werklikhede”. Gedigte oor verslawing, erotiek en die dood word gekussing deur dié oor die natuur, liefde, gesprekke met digters en ars poetica. Die rofwerk op die agterblad, van “Rembrandt”, dien as opsomming: “Rembrandt het sy doeke met donker/verlig, sy soeke na klaarheid/met skadu’s verdig”. – Ilse van Staden
Al is die maan ‘n misverstand, Danie Marais (Tafelberg, R130)
Dié tweede bundel van Marais is véél meer as ‘n waardige opvolger van 2006 se In die buitenste ruimte. Wie tóé gevoel het Marais raak aan diep-verskuilde vonke menswees, staan nader. Weer en weer wil jy uitroep: Maar so ís dit! Net so, in hierdie vreemde woorde, voel ek dit nog áltyd. Hier’s baie oor vrees, oor gevaar wat van agter kom, oor buitekantwees, maar altyd met ‘n skewe glimlag wat stroperigheid
kniehalter.
Elemente herhaal ligweg vir samehang en her-oproep, maar sonder aangeplaktheid.
Die lang trauma van ‘n ouerwordende, uitmekaardrywende familie, die skrikblyheid van liefde vind en pa word, geweld en emigrasie, hieroor (en meer) skryf Marais só dat ‘n mens voel: Dankie, daar’s daai stukkie waarheid ook opgeskrywe. En dan nog die móóiste gedig oor ‘n ma . . . – Hester Carstens

STERBOEK 

Paradise Lost Paradise Lost
Paradise Lost, Persia from above, Georg Gerster (Phaidon, R599,95)
Gerster het in 1975 vir besigheid oor Iran gevlieg. Die kontras van woestynlandskap met grepe groen oases wat soos paradyse vertoon, het hom opgeval. Hy skryf toe aan die vorstelike hof met ‘n versoek om lugfoto’s te neem. Hy het ‘n vae antwoord teruggekry en min hoop gehad dat sy droom werklikheid sou word.
Ses maande later het iemand van Air Iran hom uit die bloute gekontak en gevra watter soort vliegtuig hulle moet aankoop vir sy projek! In twee jaar onderneem hy toe meer as 100 vlugte om dié pragfoto’s te neem. Dit is uitgestal vir Air Iran se vyftiende verjaardag, maar al die politieke probleme in die land vertraag toe die boek se publikasie met 30 jaar.
Dis fassinerend om daardeur te blaai en na die uiteenlopende landskappe te kyk. Die foto’s word aangevul met volledige inligting deur Myryam Sachs oor die geografie en geskiedenis van die streek, asook legendes rondom die ontstaan van die stede. Vir my is dié boek ‘n paradys gevind! – Phyllis Green

RESENSIES

Atlas of .. An Atlas of Impossible Longing, Anuradha Roy (Quercus, R325)
Teen die agtergrond van Indië se unieke kultuur word ‘n epiese verhaal van ware liefde vertel. Die twee onkonvensionele hoofkarakters, Mukunda en Bakul, se verbintenis groei van vriendskap tot onskuldige kalwerliefde en eindelik hartstogtelike onafskeidbaarheid.
In hul soektog na versoening met mekaar kom hulle te staan teen vooropgestelde sosiale idees, die ongeluk wat gereëlde huwelike veroorsaak, die fyn lyn tussen reg en verkeerd, menslikheid teenoor skreiende inhaligheid en verraad. Die roman is propvol eksentrieke
karakters en ‘n kaleidoskoop van vertellings wat mekaar aanvul, eggo en kontrasteer. Tog is dit Bakul en Mukunda se verhaal wat soos ‘n goue draad daardeur geweef is. ‘n Inspirerende roman met ‘n universele en noodsaaklike boodskap: In ‘n onregverdige en onherbergsame wêreld kan ware geluk en liefde alleen verkry word deur dit doelgerig na te jaag en daarvoor te veg. – Amalia Uys
Junot Diaz  The Brief Wondrous Life of Oscar Wao, Junot Díaz (Faber and Faber, R124,95)
Oscar de León is ‘n ghettobleeksiel met ‘n ewige soeke na die liefde. Ongelukkig is hy erg oorgewig en depressief en vlot sake nie. Omdat hy ‘n aspirant-wetenskapfiksieskrywer is, word hy tergend Wao genoem – die Spaanse weergawe van Wilde . . . Oscar Wilde.
Hy is ‘n Dominikaan wat in New Jersey woon en sy wortels gaan opsoek terwyl die diktator Rafael Trujillo oor die Dominikaanse Republiek heers. Die gevolg is so spannend dat sy vriend Yunior dink die hele De Leónfamilie is slagoffers van ‘n vloek. Oscar se ervaringe
word teen die agtergrond van sy hartroerende familiegeskiedenis geskets. ‘n Mens verstaan hóm daarom beter. Díaz skryf ‘n aangrypende storie met humor, geloofwaardige karakters en
lewendige taalgebruik. Hier en daar span hy Spanglish in. Binne konteks, nie onverstaanbaar
nie. Dis Díaz se eerste roman en was op die kortlys vir die Internasionale IMPAC Dublin-literêre toekenning. – Riette Rust
Chez Moi  Chez Moi, Agnes Desarthe (Penguin, R196,77)
Die verhaal van Myriam, wat ‘n eetplek in Parys oopmaak, ontvou baie langsaam. Sy
“stort” noodgedwonge in die opwasbak, koop net die allernodigste en kry lendelam stoele en tafeltjies present by ‘n man wat dit wou uitgooi. Haar eerste twee klante, Simone en Hannah, bring ‘n kelner, Ben, na Chez Moi en hy word Myriam se regterhand. Versoening met haar seun volg op ‘n interessante wyse, met ‘n verrassende einde. Verskeie interessante disse wat sy berei word beskryf, hoewel geen resepte gegee word nie. Hier is al die elemente wat dit ‘n wonderlike leeservaring moes maak.Die vertaling het egter moontlik misluk, wat sou verklaar hoekom die roman nie lekker lees nie. Dit voel plek-plek na ‘n swak poging om Chocolat van Joanne Harris na te doen. – Mariette Postma
Private Patient  The Private Patient, P.D. James (Faber & Faber, R282)
Ná ‘n suksesvolle operasie deur gerespekteerde chirurg George Chandler-Powell sterk Rhoda Gradwyn aan in Cheverell Manor, sy private kliniek buite Dorset. Maar dan sterf sy skielik onder verdagte omstandighede en kommandeur Adam Dalgliesh word gelas om dit te ondersoek. Gou blyk dit dat hy in ‘n web van twyfelagtige karakters, persoonlike geheime en duistere motiewe beland het, want binne dae vind ‘n tweede noodlottige insident op dieselfde perseel plaas – is die dokter skuldig aan wanpraktyk, of skuil daar iets meer agter Gradwyn, ‘n berugte speurjoernalis, se dood?
Hierdie waardige ou dame (James is kort duskant neëntig) se gedrae skryfstyl, literêre verwysings en gedetailleerde milieu- en karakterbeskrywings maak haar geliefd onder aanhangers, maar vir lesers onbekend met haar gesofistikeerde prosa kan die langsame tempo frustrerend raak, veral in die misdaadverhaal-genre. – Emsie Viljoen
Double Fault  Double Fault, Lionel Shriver (Serpent’s Tail, R139,95)
Sportliefhebbers sal dié nogal eensydige verhaal, wat in die tenniswêreld afspeel, moontlik boeiend vind. Die hoofkarakter, Willy, het baie ambisie – net jammer sy het nie geloof in haarself nie. Sy raak verlief op ‘n jong tennisspeler, Eric, wat net so ambisieus is, trou met hom en neem soos hy professioneel deel aan toernooie.
Haar loopbaan word kortgeknip deur ‘n kniebesering. Eric bereik egter hoogtes in die tenniswêreld, waarna Willy uitgesluit en jaloers voel. Natuurlik lei dit tot baie spanning in hul verhouding. Dis ontspanningsleesstof. – Nicolene Carstens