Boeke

Boekdinge – September 2010

“My gunsteling-boek op die oomblik is die Tjailatydresepteboek. Dit het resepte van luisteraars wat ek daagliks bel in Tjailatyd om te hoor wat hulle vir aandete maak. Dit gaan die wêreld se eerste radioresepteboek wees, met ’n lied wat by elke resep pas!
“Die eerste hoofstuk is nageregte, na aanleiding van die aanhaling wat sê: ‘Die lewe is so onseker, begin altyd eerste met nagereg.’ Dit is nie ’n koffietafelboek nie – jy kom saans by die huis, sit die oond aan, skink ’n glas wyn, en maak die boek oop!”
Amore Bekker oor die kookboek wat sy saamstel

 

Life in the Wild

Life in the Wild, Thomas Marent en ander (Penguin Group (SA), R400)

Hierdie is by uitstek ’n kyk-boek. Hoe beskryf ’n mens die foto’s? Dit klink so afgesaag om te sê pragtig, fantasties, fenomenaal, maar dit is inderdaad wat hierdie foto’s is. En nog meer!

Die kleure is ryk en diep, die onderwerpe trek jou in die foto in. Van die nabyskote van veral die soogdiere, maak dat jy aan die pels wil vat. Die boek word ingedeel in soogdiere, voëls, reptiele en amfibiese diere, visse en ongewerwelde diere.

Die inligting is baie kort en bondig, maar beskrywend genoeg om nie afbreuk te doen aan die afgerondheid van dié spogboek nie. – Phyllis Green

Die verhaal van Elandskloof

Die verhaal van Elandskloof, Tobie Wiese (Protea Boekhuis, R220)

Die verhaal van Elandskloof, vertel deur die bekroonde joernalis Tobie Wiese, begin in 1861 en eindig in 2005. Wiese word bygestaan deur Ricky Goedeman, ’n geskiedkundige navorser wat sy loopbaan as onderwyser by ’n sendingstasie begin het. Die boek vertel van die wankelrige begin van Elandskloof as sendingstasie en hoe politiek en maghebbers die lewens van gewone mense beïnvloed.

Dis ’n ware verhaal wat die menslike drama van grondverskuiwings belig, onder meer deur briewe en onderhoude met oud-inwoners. Die leser leer mense ken wat sonder veel simpatie rondgestoot is. Foto’s bevestig die veelbewoë tragedie.– Gert Venter

Klara kom tuis

Klara kom tuis, Margaret Bakkes (Lapa-Uitgewers, R130)

In die vyftigerjare verhuis Klara saam met haar man, Stefan, na Saldanha. Sy is oorspronklik van Pretoria, en Klara kry swaar – sy moes haar studie laat vaar voor die geboorte van hul eersteling en dit was ’n bitter pil.

Ná die geboorte van hul tweede seun begin sy skryf, en met haar eerste tjek betaal sy vir ’n reis na Europa waar sy ’n nuwe werklikheid vol ervaringe betree. Sy ontmoet vir Paul, ’n reisgenoot wat haar verstaan en haar vir die eerste keer in jare intelligent en begeerlik laat voel. Dit dwing haar tot ’n keuse: Aan die een kant is daar haar seuntjies en Stefan, verslaaf aan sy werk en studie, en aan die ander kant is daar Paul, die akademikus wat haar tot nuwe insigte lei . . .

Dié roman is gegrond op ’n verhaal wat oorspronklik in ’n tydskrif verskyn het.– Emsie Viljoen

Parrot and Olivier in America

Parrot and Olivier in America, Peter Carey (Faber and Faber, R199,95)

Dié ryk vertelling is ontleen aan Alexis de Tocqueville se bekende roman Discovery of America. Dis egter nie nodig om dié werk te ken om die verhaal te geniet nie.

’n Uitstaande kenmerk is die humor – die karakters is oordrewe karikature van mense wat ons almal ken. Olivier, ’n Franse aristokraat, kritiseer byvoorbeeld alles in Amerika – die kos en die onbehulpsaamheid. Hy is geaffronteer wanneer enigiemand waag om hom te “jy en jou” in Frans. John Larrit, met die bynaam van Parrot, reis saam met Olivier en speel die rol van ’n simpatieke bedrieër. Die hoofkarakters hou meer van Amerika wanneer hulle eers verlief raak . . .

• Carey het reeds twee keer die Booker-prys gewen (in 1988 en 2001) en Parrot is op vanjaar se kortlys vir dié groot toekenning.– Mariette Postma

Reisiger

Reisiger, Elsa Joubert (Tafelberg, R300)

In die tweede deel van  haar outobiografie (ná ’n Wonderlike geweld in 2005) reis Elsa Joubert deur haar verlede. Reisiger is ’n liefdesreis, dié van haar besonderse verhouding met haar man, die skrywer Klaas Steytler; ’n fisieke reis, al langs die Nyl op in Afrika, én ’n reis na haar eie skrywerstem. Die leser word ingetrek in haar merkwaardige verhouding met Mahmoed, ’n Indiese man van Kenia. Interessant is ook haar lewe as betrokke skrywer onder apartheid – veral die stuk ook haar bekroonde roman. Die swerfjare van Poppie Nongena. Die reis eindig in Joubert se woonstel: “Nou is ek in Berghof om te werk, nie om op my aftakeling te wag nie,” skryf sy.

• Reisiger is so pas met twee gesogte pryse bekroon: die Recht Malan-prys vir nie-fiksie en die UJ-prys vir skeppende skryfwerk. – Riette Rust

Rivals for the grown

Rivals for the Crown, Kathleen Givens (Pocket, R74)

Terwyl Skotland uitmekaar geskeur word deur hebsug en ambisie, hang ’n moedige nasie se vryheid in die weegskaal.

Daar is twee vroue wat die moed bymekaarskraap om op hul eie onafhanklikheid aanspraak te maak: Isabel de Burke en Rachel Anjou (’n Jodin) word vasgevang in ’n web van intriges en sameswering. Die Jode word uit Engeland verban, maar Rachel ontmoet weer later vir Isabel in Skotland. Albei is verlief, maar wanneer die vyandskap tussen Engeland en Skotland lewensgevaarlik raak, moet elke vrou besluit waar haar lojaliteit en bestemming lê.

Geskiedenis kry lewe in hierdie verhaal van oorlog en liefde.– Chris Botha

Apostroof

Apostroof, Fanie Oliver (Human & Rousseau, R149)

Apostroof is ’n vorm van beeldspraak waarin ’n denkbeeldige of  ieteenwoordige iets of iemand aangespreek word. In sy digbundel met dié titel is Olivier voortdurend besig om (onder andere) sy vrou aan te spreek; aanvanklik as die beminde van jare, later as sterwende en dan ook as gestorwene.

Die bundel is ’n uiters roerende besinning oor verlies – van ’n geliefde asook van taalvaardigheid as baken van menswees – en boonop dikwels ’n toonbeeld van hoe die verwysing na ander tekste ten beste in die poësie ingespan kan word. Olivier se ingetoë gedigte het trefkrag, speelsheid en ’n ligte hand wat gewigtige emosies dra.– Hester Carstens