FOTO: verskaf

Boeke

Boeke bedoel vir ’n Kerskous

Wat is lekkerder as om ’n boek in jou Kerskous te kry? Die antwoord kan net wees: meer as een boek.

Reg deur die jaar wanneer ek lees, dink ek die hele tyd wie van my kennisse, vriende en familie ook van die spesifieke boek sal hou. So maak ek my hopie bymekaar en elke boek word vir ’n spesifieke Kerskous opsy gesit. Die waansin in die winkels net so voor Kersfees sal my van my kop af dryf. Dis glad nie vir my lekker om so tussen stampende, stotende en ongeduldige geskenksoekers inkopies te doen nie. My gewoonte om deur die jaar reeds boeke bymekaar te maak, verseker dat ek nie haastig inkopies hoef te gaan doen om daardie ‘laaste minuut-geskenke’ in die hande te kry nie. Die grootste voordeel is dat dit help my ook sommer om my humeur in toom te hou – geduld is hoeka ook nie een van my beste eienskappe nie . . . Hierdie week is daar ietsie van alles in my hopie boeke. ’n Kyk-boek, iets vir iemand wat belangstel in geld, gesondheid, ander mense se lewens en sommer net boeke vir lekker lees.

21 Icons South Africa, Adrian Steirn (Quivertree, R675)
Ek is die afgelope tyd nogal mismoedig oor ons land en is vasgevang in ’n web van negatiwiteit oor die ekonomie, politiek, onderwys en infrastruktuur. Vandag moet ek erken dat dit ’n Australiër wat in ons land woon en werk gevat het om my uit my negatiewe siklus te ruk. Toe Adrian Steirn by die bekendstelling van sy boek oor sy projek, 21 Icons, vertel het waar hy die inspirasie vandaan gekry het vir hierdie uitsonderlike boek, skaam ek my tot in my kleintoontjie! As iemand wat van ’n hoogs-ontwikkelde en gesofistikeerde land soos Australië ware inspirasie kan vind in ons land en sy mense, waarom is ek so skepties? Ek moet net deur sy boek blaai om te sien hoeveel inspirerende mense en stories daar is. Volgens hom is daar steeds ’n welwillendheid en goedheid in die inwoners van ons land en kan ons by baie mense hoop kry, nie net dié wat in sy boek verskyn nie. Die pragtige koffietafelboek wys die ikone wat hy afgeneem het, maar vertel ook wie hulle is, wat hulle doen en gee ook meer agter-die-skerms-inligting oor elke fotosessie. Van die uiteenlopende Suid-Afrikaners in die boek is Nelson Mandela, FW de Klerk, Gary Player, Johnny Clegg en Phillip Tobias. As jy wil weet wie die ander is, moet jy maar die boek aanskaf!

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Wheat Belly, William Davis, MD (Harper Thorson, R237)
Davis is ’n kardioloog wat hierdie boek oorspronklik in 2011 geskryf het. Hy het soveel reaksie na die publikasie daarvan gekry dat hy die boek weer publiseer met nog gevallestudies en navorsing wat bygewerk is. Waarom die boek skryf? Hy wou verstaan waarom mense gewig verloor het en drastiese gesondheidsverbeteringe getoon het as hulle koring uit hul dieet gesny het. Hy het wyd met mense gepraat en ook vele navorsingstudies bestudeer, sowel as sy eie pasiënte gemonitor om die inligting vir hierdie baie interessante boek bymekaar te maak. Volgens hom is daar reeds baie bestaande navorsing wat wys watter veranderinge moderne koring ondergaan het in belangrike komponente soos gliadien proteïne en dit veroorsaak negatiewe effekte in mense soos onder meer inflammasie en diabetes. Met hierdie boek wil hy omvattende inligting gee sodat lesers ’n goeie besluit ten opsigte van hul gesondheid en die eet van koring kan neem.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Arctic Summer, Damon Galgut (Umuzi, R250)
Galgut vertel die verhaal van E.M Forster en hoe hy A Passage to India geskryf het. Forster het uiteindelik elf jaar geneem om die epiese verhaal te skryf. Een van die dinge wat vir my uitstaan, is hoe mooi Galgut skryf. Ek het bly lees, vir die storie, maar ook vir die vloeiende skryfstyl. Al die vertwyfeling wat Forster gehad het oor sy skryfvermoë, sy onvervulde liefde en sy hunkering na aanvaarding en vriendskap word so verwoord dat jy sy pyn, teleurstelling en eensaamheid saam met hom beleef. In 1912 het Forster sy student en vriend Syed Ross Masood na Indië gevolg en op sy omswerwinge in Indië het hy die idee vir A Passage to India gekry. Sy liefde bly onbeantwoord tydens hierdie reis en hy gaan terug na Engeland om weer sy veilige en versigtige bestaan te hervat. Hy keer terug na Indië om daar te gaan werk en beleef sommer ’n hele klomp dramatiese gebeure. Galgut het die vermoë om die karakters rondom Forster lewe te gee, sodat biografiese inligting boeiende storiemateriaal word. Hierdie is een van die lekkerste boeke wat ek vanjaar gelees het.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Wealth Chef, Ann Wilson (Hay House, R235)
Ek dink almal kan baat vind by raad van hoe om mens se geldsake beter te bestuur. Wilson vertel in haar boek hoe sy in net agt jaar van skuldbelaaide kerkmuis ontpop het in ’n multi-miljoener net deur haar geldsake onder beheer te kry. Sy is die kok en gee vir lesers haar resep van hoe sy self haar situasie omgekeer het. Die boek is maklik om te lees en is glad nie intimiderend nie. Baie van haar wenke is common sense, maar hier gee sy vir jou ’n stap-vir-stap handleiding van hoe om hierdie kennis te gebruik om jouself te bemagtig. Dis ’n handige boek waaruit almal kan leer.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The All-Girl Filling Station’s Last Reunion, Fannie Flagg (Chatto & Windus, R270)
Sookie Earl lei ’n voorspelbare voorstedelike lewe saam met haar man, volwasse kinders en formidabele ma, Lenore Simmons Krackenberry. Haar grootste opwinding is om te probeer keer dat die Blue Jays in haar tuin die ander voëls se kos opvreet en om haar ma gelukkig te probeer hou. Sy kry onverwags ’n pakkie en haar lewe word omvergewerp, want sy vind uit sy is nie wie sy haar hele lewe gedink het sy is nie. . . Nog minder is Lenore die formidabele vrou waarvoor sy haarself uitgee. Sookie is in ’n tweestryd gewikkel – moet sy antwoorde gaan soek, of moet sy net aangaan soos altyd en maak of niks verander het nie? Hierdie roerende en vermaaklike roman word boeiend geskryf deur die skrywer van “Fried Green Tomatoes at The Whistle Stop Café.” Sy neem jou op ’n heerlike ontdekkingsreis saam met Sookie na Kalifornië en die 1940’s, waar sy uitvind van Fritzi en haar familie se All-Girl Filling Station. Die vraag is: wie is Fritzi en hoe pas sy en haar familie in Sookie se lewe?

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Love. Loss. Life, Monica Nicolson Oosterbroek Hilton-Barber Zwolsman (MF Books, R195)
Ek moes net hierdie lewensverhaal deur Monica ‘met die vier vanne’ lees, eerstens omdat ek gedeeltes van haar storie ken en tweedens omdat ek wou sien hoe sy aan haar vier vanne gekom het. Ek was verras en ontroer oor met hoeveel eerlikheid dié joernalis oor haar persoonlike verhoudings skryf, hoe sy haar hart ontbloot oor die geliefdes in haar lewe wat gesterf het. Sy het twee geliefde eggenotes, bekroonde fotograwe Ken Oosterbroek en Steven Hilton-Barber, sowel as haar 16-maande oue seuntjie in ’n periode van tien jaar aan die dood afgestaan. Haar lewe was nie sonder drama nie, en soos sy self erken, dikwels het sy baie daarvan self geskep deur haar optrede en keuses wat sy gemaak het. Sy spaar haarself nie in die vertel van haar storie nie, ook nie ander mense wat rolle in haar lewe gespeel het nie. Mens staan verbysterd dat sy na elke tragedie weer die moed bymekaarskraap om aan te gaan en om weer ’n nuwe liefde in haar lewe toe te laat. As jy die boek toemaak, besef jy sy het die krag erens gekry om negatiewe dinge te oorleef op so manier sonder dat sy haar passie vir die lewe verloor het. Vandag woon sy en haar twee seuns in Australië.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Love Song of Miss Queenie Hennessy, Rachel Joyce (Doubleday, R257)
Hierdie skrywer se vorige boek, The Unlikely Pilgrimage of Harold Fry, was ’n boeiende verhaal, en ek wou die heeltyd weet wat van Queenie Hennesy (vir wie Harold sy epiese staptog aangepak het) geword het. Toe ‘Miss Queenie’ op my lessenaar beland, moes ek uitvind of die verhaal aan my verwagtings gaan voldoen. Dit het my nie teleur gestel nie. Queenie se verhaal word parallel met die van Harold vertel, maar jy hoef nie sy boek te lees om hierdie een te waardeer nie. In die hospies waar Queenie is, ontmoet jy die uiteenlopende nonne wat na haar moet omsien, sowel as die ander inwoners wat een vir een die lewe verlaat. Queenie onthul stukkie vir stukkie die gebeure wat daartoe gelei het dat sy die brouery waar sy en Harold gewerk het, verlaat het. Die ’n eg menslike verhaal word met baie empatie vertel en bly mens nog lank by nadat jy die laaste woorde gelees het.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Four Streets, Nadine Dorries (Head of Zeus, R210)
Dié hartverskeurende verhaal van ’n paar Ierse gesinne speel gedurende die vyftigerjare in Liverpool af. Hulle woon in ’n baie arm woonbuurt en meeste van die mans werk op die dokke. Dit gaan in die gesinne maar broekskeur en deur saam te staan en mekaar te help, oorleef hulle die aanslagte van die lewe. Die sterkste storielyn gaan oor twee jong meisies wat saam opgroei. Nadat die een meisie se ma met haar geboorte sterf, vang ’n koue vrou haar weerlose pa in haar slinkse net sodat sy uit haar lewe in diens van ’n hotel kan ontsnap. Dié stiefma pas nie in by die hegte Ierse gemeenskap nie en dit lewer heelwat drama op – vir haar en vir die ander inwoners van die vier strate. Die ander meisie worstel met ’n donker geheim wat die hele gemeenskap uitmekaar kan laat spat en die kerk in ’n ander lig kan plaas. Die tragedie, humor en gees van ’n hegte gemeenskap wat deur dik en dun bymekaar staan, word uitmuntend uitgebeeld, terwyl daar tog ook sosiale kommentaar gelewer word op maatskaplike dienste en die rol van die Katolieke kerk in sulke behoeftige gemeenskappe. Die roerende en empatiese verhaal spook by my.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

You should have known, Jean Hanff Korelitz (Faber & Faber, R240)
Die tema van hierdie boek was boeiend en ek kon nie vinnig genoeg lees om te sien wat met die hoofkarakter, Grace Reinhart Sachs gebeur nie. Sy is ’n huweliksberader en skryf ’n boek waarin sy sê dat vroue in verhoudings geneig is om die tekens van die toksisiteit van hul lewensmaat reg aan die begin van ’n verhouding te ignoreer. Sy lys dan al die dinge wat die kokkies in jou kop moet laat lui. Sy het al verskeie media onderhoude toegestaan oor haar omstrede selfhelp-boek en word as ’n kenner beskou, maar dan gebeur daar iets en is daar ’n reusagtige kinkel in Grace se lewe. Sy is al 17 jaar baie gelukkig getroud met die empatiese, pediatriese onkoloog Jonathan. Of so het sy gedink. Een van die ouers by haar seun se skool word vermoor en Grace vind uit Jonathan is nie wie sy gedink het hy is nie. Skielik is haar hele lewe en waardesisteem tot niet en moet sy nuut begin om vir haar en haar seun ’n lewe te skep. En hoe nou gemaak oor haar eie boek waarin sy ander vrouens laat verstaan het hulle moes geweet het hoe daai lewensmaat is? Die verhaal maak ’n klompie interessante sielkundige draaie en is hoogs vermaaklik.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Will you remember me?, Amanda Prowse (Head of Zeus, R210)
Poppy Day, haar man, Mart en twee jong kinders is gewone, voorstedelike jongmense wat lief is vir mekaar en glo dis die ding wat tel in hul lewens. Poppy het al gedroom van ’n swembad en ’n diamantring so groot soos ’n ysblokkie, maar sy sal op haar gelukkigste wees as Mart vroeër kan huis toe kom van die plek waar hy deur die weermag ontplooi is. Haar wens word waar en die jong gesin geniet elke oomblik, omdat hulle nie weet wanneer Mart weer weggestuur gaan word nie. Hulle geluk is van korte duur wanneer Poppy ’n knop in haar bors ontdek en sy gediagnoseer word met borskanker en dadelik behandeling moet ondergaan. Sy probeer om die gesinslewe so normaal moontlik te hou, maar dan gebeur daar ’n paar dinge wat alles deurmekaar krap. Prowse se verhaal is allermins stroperig of prekerig, en dit verval ook nie in clichés nie. Hierdie romantiese verhaal het genoeg pitkos om jou te boei enduit.