FOTO: Suzanne Swart

Boeke

Boeke so gewoon soos soggens se pap

Vir kinderboekskrywer, Ingrid Mennen, is boeke so gewoon soos soggens se pap! Maar as jy haar jongste boek onder oë kry, besef jy dié kinderboek is glad nie gewoon nie.

Ink (Tafelberg, R180) is ’n lieflike boek wat gaan oor letters wat woorde maak, woorde wat stories maak, en stories wat mens laat lees. Ingrid se dogter, Irene Berg, het saam met haar aan die boek gewerk en het die illustrasies gemaak. Ek kan my vereenselwig met Tinka, die dogtertjie in ink, want nes sy was ek as kind reeds gek oor boeke en woorde en lees. Dié liefde is steeds die grootste liefde in my lewe! Al is die boek se verhaaltjie kort en eenvoudig, bevat dit ’n kragtige les. Die illustrasies gryp mens se verbeelding aan en selfs as volwassene het ek myself verloor in hierdie pragboek. Dis een van die mooiste boeke wat ek in ’n lang tyd gelees het.

Ek het per e-pos met Ingrid Mennen gesels oor ink.

FOTO: verskaf

Vertel kortliks wie jy is en hoe jy begin skryf het.
Ek is getroud en is ma van drie volwasse kinders.  Ek het begin skryf toe my kinders klein was.

Waarom skryf jy juis kinderboeke?
Dis nogal ’n moeilike vraag! ’n Kinderprenteboek kan my steeds diep raak, al is ek ’n volwassene. En prenteboekstories is eenvoudig die soort stories wat by my kom aanklop. Kinders maak vir my saak. Dis ook ’n uitdaging om in min woorde ’n goeie storie te probeer vertel.

Waar het jou inspirasie vir ink vandaan gekom?
Die inspirasie vir ink kom van herinneringe uit my kinderjare, uit daardie tyd toe ek leer lees en skryf het. Dit was ’n tyd van voorleesaande voor die vuur in ons huis langs die meulstroom; waar ’n koerant elke oggend vroeg teen ons voordeur afgelewer is en ons kinders partykeer, nes Tinka, koerante op die vloer uitgepak het sodat ons onsself daarop kon afteken. Dit was ’n tyd toe letters en woorde die fassinasie gehad het van ’n geheimenis  – en die antwoord van die geheimenis sou ek weet as ek kan LEES, het ek toe gedink: ’n boek wat ek teen my hart kon druk. Boeke bring antwoorde … steeds!

Ons was gelukkig, want boeke was so gewoon soos soggens se pap en so eksoties soos ’n reis na ’n onbekende verre land.

Met ink blaai jy deur ’n boek vol van my beste kindertydherinneringe. Daar is ook in ink baie wat vir my bly saakmaak as volwassene. Byvoorbeeld, dat lees en boeke jou eie klein wêreld baie groter kan maak; dat ALMAL geleentheid behoort te hê, soos die droom van Gutenberg, om ’n boek te kan besit, elke gewone mens, elke kind. En daar is altyd die hoop dat almal, grootmense en kinders, weer entoesiasties sal raak oor die lees en voorlees van boeke … daar is mos stories vir 1001 nagte!

Irene Berg. FOTO: verskaf

Dis die tweede boek waaraan jy en jou dogter, Irene Berg, saamgewerk het. Hoe het dit gewerk, want sy woon in Duitsland?
Ons sorg dat ons elkeen ’n voorlopige voorbeeldboek (dummy) het: teks en illustrasie wys dan hoe ons idees aan die begin lyk. Op hierdie stadium is die teks gewoonlik aanvaar, maar woorde verander ook soos illustrasies en idees vorder. Soos met die maak van Ben en die Walvisse, het ons dikwels ook tydens die maak van  ink gebruik gemaak van Skype en e-posse om te werk. Whatsapp het bygekom sedert die maak van Ben en ons geniet dit om so vinnig reaksie te kan kry op vrae of idees of fotos wat ons aan mekaar stuur. Die kommunikasie beteken dat daar ’n noue samewerking is, ons deel ’n visie vir wat die boek miskien kan word. Dis ’n visie wat groei, soos iets ‘organies’.

Hoe belangrik is die illustrasies vir jou in jou boeke?
Dis baie belangrik. Uiters belangrik! Sonder die regte illustreerder kan ’n kort prenteboekteks nie tot ’n opwindende dramatiese geheel groei nie. Iemand het gesê, “een illustrasie is ’n duisend woorde werd” – dis ook waar vir ink.

FOTO: verskaf

Omdat ink se teks beide eenvoudig en kompleks is (vir ’n jong kind), het die illustrasies op party bladsye nogal kopkrap gekos. Daar is woorde wat nie met die eerste oogopslag maklik illustreerbaar was nie. ’n Meer komplekse fase kon visueel vereenvoudig word deur Irene se illustrasies. Of eenvoudige woorde kon met die illustrasies komplekser/interessanter gemaak word. Ek hou daarvan dat die kopkrapwerk dan ’n bietjie aan die kind wat lees oorgelaat word. Ink is immers ’n eerste ‘hoofstukboek’!

Met die regte illustrasies kan ’n ryker geskakeerde storie vertel word – sommer ’n baie lekkerder storie verskyn.  Dit maak die proses van boekmaak baie opwindend.

Jy is ’n bekroonde kinderskrywer. Jy het die Alba Bouwer-prys gewen vir jou boek, Ben en die walvisse. Hoe voel dit om ’n prys te wen vir jou werk?
Dis baie, baie lekker maar dis ook ’n oorweldigende oomblik – dit kom onverwags, want die kreatiewe proses is delikaat en die uitvoering bring dikwels twyfel. Erkenning is ’n groot aansporing … totdat die proses van iets nuuts skep, weer van voor begin.

Het jy ’n roetine wanneer jy skryf, of skryf jy enige plek, enige tyd?
Alhoewel ek van orde hou, verloor ek alle geordendheid en roetine wanneer die storie begin oorneem en ek verdiep raak in werk.

Hoe kies jy waaroor jy wil skryf?
Partykeer is dit ’n paar woorde, soos ’n eerste lyn van ’n storie wat ‘kom kuier’; of iets fassineer my waarvan ek meer wil uitvind; of iemand, soos ’n kind … wat onder ’n sterrehemel sit, wil ek leer ken; ek weet nie presies hoe dit werk nie. Dit gebeur maar.

Het jy ’n gunsteling-kinderboek uit jou eie kinderdae, iets wat ’n blywende indruk op jou gemaak het?
Daar was wonderlike stories in my kinderdae, my antwoord kan elke keer iets anders wees. ’n Versameling Griekse mites en legendes met illustrasies wat geverf was, en grillerig en mooi was tegelykertyd, wat my ma vir ons begin lees het toe ek vyf was. Dis nou nog op ’n boekrak in ons huis.