Boeke

Boeke met meer om die lyf

Soms lees ek ligte-vermaak-boeke omdat ek net wil ontsnap en ontspan vir ‘n wyle. Ander kere kies ek ‘n boek wat meer om die lyf het.

Soms is dit die skrywer wat my aantrek en ander kere is die onderwerp en dikwels is dit beide! Moet my nie vra hoe ek my boeke kies nie, want dis meesal maar ‘n lukrake affere. Ek kan ‘n boek optel omdat die prentjie op die omslag my aantrek. Die stukkie wat agterop die omlsag geskryf is het ook die vermoë om my nuuskierigheid te prikkel. Hoeveel ek van ‘n skrywer se vorige boek gehou het, kan ook bepaal of ek die nuwe een wil lees. Partykeer is dit die titel, veral as dit enigsins klink soos hierdie hopie boeke wat ek vandeesweek gekies het. Die lees- en skryfwerk is die keer deur ander mense vir my gedoen! Hierdie hopie boeke het almal bietjie meer om die lyf en is nie ligte vermaak waarmee jy net vir ‘n uur kan ontspan of ontsnap nie.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

And the mountains echoed, Khaled Hosseini  (Bloomsbury, R244)
Hierdie langverwagte derde boek van Khaled Hosseini is weereens hoofsaaklik in Afghanistan gesetel. Dis ‘n epiese verhaal wat oor drie generasies en drie vastelande strek. 

Die verhaal begin in 1952 met die 10-jarige Abdullah en sy 4-jarige sustertjie Pari wat saam met hul pa, Saboor, twee dae lank deur die verlate woestynlandskap na Kaboel stap waar hul oom Nabi vir hulle pa werk gereël het. Abdullah het ‘n besonderse band met Pari, want hy het haar versorg van haar geboorte af toe hulle ma tydens die bevalling gesterf het. Min weet die twee kinders hoe hulle hele bestaan deur hierdie reis omvergewerp gaan word.

Die verhale van verskeie karakters in die boek word tot ‘n mindere en ‘n meerdere mate met mekaar verweef. Maar die skrywer kry dit reg om al die verskillende verhale aan die einde bymekaar te bring. – Retha Burger

calling_me_home_300wCalling me home,  Julie Kibler (Pan Books, R254)
Sewentienjarige Isabelle McAllister lewe ‘n bevoorregte lewe in ‘n verkrampte rassistiese dorpie in die Amerikaanse suide in die laat 1930’s. Haar pa is ‘n geliefde dokter en haar ma is ‘n statusbewuste huisvrou wat vir Isabelle die regte man soek om mee te trou. Isabelle raak verlief op hul swart huishoudster se seun, nadat hy haar een aand uit ‘n verknorsing red. Albei van hulle weet dat hulle geen toekoms saam kan hê nie, maar hulle is nie bereid om sommer net hul liefde op te gee nie.Die verhaal hervat waar die amper negentigjarige Isabelle haar swart haarkapster, Dorrie, vra om haar na ‘n begrafnis aan die ander kant van Amerika te neem. Tydens die lang motorrit ontvou Isabelle en Dorrie se verhale.Lesers wat gehou het van The Help sal hierdie boek ook geniet.  – Retha Burger

girl_child__300wGirlchild, Tupelo Hassman, (Quercus, R209)
Sommige mense ken nooit moeilike omstandighede nie. Rory Dawn Hendrix is nie een van daardie mense nie. Sy is gebore toe haar ma net 16 jaar oud is, en ken niks anders behalwe die trailer park  in Reno, Nevada waar sy grootword  nie. Rory besluit op ’n jong ouderdom sy gaan uit die trailer park  ontsnap nog voordat sy self 16 jaar oud word. En dit sonder ’n kind van haar eie. Dis egter nie so maklik soos wat dit klink nie. Soos wat Rory haar storie vertel, leer jy al die karakters in haar lewe ken. Jy deel in alles, veral in die hartseer wat sy moet deurmaak. Jy besef Rory is vasgevang in ’n kringloop waaruit sy nooit sal kom nie.Ek voel ek móét verklap dat dié verhaal nie ’n gelukkige einde het nie. As jy oukei is daarmee, dan is Girlchild beslis een om te lees. Maar as jy hou van iets ligter, vermy liefs dié boek. – Liesl du Toit

i_remember_nothing_300wI remember nothing and other reflections, Nora Ephron (Doubleday, R215)
Nora Ephron was ʼn Amerikaanse filmregisseur, draaiboekskrywer, joernalis, outeur en ʼn blogskrywer wat veral bekend is vir haar films Silkwood, When Harry met Sally, Sleepless in Seattle en meer onlangs Julie & Julia.  Die goue draad van pretensielose humor, vervleg in al vier die films hier ter sprake, maak van I remember nothing and other reflections, ʼn heerlike persoonlike kuier.
Die bundel essays handel oor  ʼn verskeidenheid onderwerpe waarmee ek gemaklik kon identifiseer. Egskeiding, ʼn afkeur vir eierwitomelette, ouderdom en veral geheueverlies,  kom aan die bod.  Ephron open die bundel met: “I have been forgetting things for years – at least since I was in my thirties. I know this because I wrote something about it at the time; I have proof. Of course I can’t remember exactly where I wrote about it or when, but I could probably hunt it up if I had to” (p. 15).
Elke essay is deurspek met kwinkslae wat ʼn mens laat skater.  Jy word ʼn vriendin en klankbord vir ʼn gesprek oor onder andere ouderdom en die voordele of nadele van tegnologie wat diegene wie se geheue soos ʼn sif met ʼn gat is, kan aanvul, “The Senior Moment has become the Google moment,” (p. 24).  Die hoofstuk wat handel oor “The six stages of E-mail” (p. 167-172) behoort veral byval te vind onder die tegnologiese gestremdes onder ons, dit sluit my in, waarin die ekstase en die stryd om tegnologies by te bly in ses fases saamgevat word.Ten spyte van die ligte trant van die essays kyk Ephron diepsinnig na die werklike betekenis van ouderdom: “You are suddenly in a lottery, the ultimate game of chance, and someday your luck will run out” (p. 210).Hierdie bundel behoort byval te vind by lesers van alle ouderdomme, veral diegene wie vergeet om te onthou om te onthou. – Linette van der Merwe

1._killing_kennedy_300wKilling Kennedy: The end of Camelot, Bill O’Reilly & Martin Dugard (Macmillan, R210)Op 22 November 1963 het Amerikaners se lewens handomkeer verander – Lee Harvey Oswald, ’n sowjet-ondersteuner, skiet president John Fitzgerald Kennedy dood tydens ’n optog deur die strate van Dallas, Texas.Met dié boek kry jy ’n kykie in die private lewe van een van die VSA se gewildste presidente nog. Van sy naakte swemsessies by die Withuis en sy affair met Marilyn Monroe tot die dag wat hy en sy vrou, Jackie, hul babaseun verloor.Jy lees ook die stories agter van die 60’s se bekendste politieke gebeurtenisse, soos Martin Luther King se ‘droom’ en die Kubaanse missielkrisis.Ekstra inligting oor Lee Harvey Oswald se lewe maak die boek, wat soos ’n storieboek lees, meer uniek. Dit herinner jou ook aan die goeie dae van Kennedy se bewind – dae wat hy en Jackie dikwels die Amerikaanse Camelot genoem het.-Elmari de Vos

letters_to_my_son_300wLetters to my son,  Mignonne Breier (Kwela Books, R145)
Mignonne Breier se 25-jarige seun het haar die Vrydag gebel om te sê hy voel nie lekker nie en wil graag vir die naweek huis toe kom. Vier dae later is hy in die hospitaal dood aan leukemie.
Sy het vier jaar lank gesukkel om vrede te maak met die onverwagse manier waarop haar seun van haar weggeneem is. Sy het toe besluit om vir hom ‘n reeks briewe te skryf waarin sy met hom gesels oor sy lewe, sy dood en haar lewe sonder hom.Die briewe is baie eerlik en roerend, en ‘n mens ervaar hoe die skryfster die pyn en verlies uit haar uitskryf en uiteindelik die geleentheid kry om haar seun te groet. Tenspyte hiervan is dit ‘n interessante boek wat goed geskryf is en glad nie ontstellend en morbied nie. – Retha Burger

peace_and_plenty_300wPeace and Plenty, Sarah Ban Breathnach (Hodder & Stoughton, R250)
Breathnach het skatryk geword met die publikasie van haar blitsverkoper Simple Abundance, maar alles weer verloor deur swak finansiële bestuur.Terwyl sy haar lewensverhaal vertel, gebruik sy aanhalings van outeurs, digters en bekende persone vanaf die 19de eeu tot die hedendaagse tyd, met veral verwysings na die depressiejare. Sy verwys na boeke, gedigte, wêreldgebeure en laat lewenswaarhede tussen die lyne deurskemer. Hoofsaaklik vrouens wat geld verloor het, word ingelig oor geldwaarhede en hoe dit ook hul verhoudings kan beïnvloed. Sy bespreek sake wat na aan ‘n vrou se hart lê soos kinders en sê God wil hê dat ons geestelik en materieel voorspoedig moet wees. Die boek is interessant, positief en inspirerend. Sy gee raad en moedig vroue aan om uit haar ondervinding te leer, en weer finansieel sterk te word: “All the money’s gone. But when it’s back – and it will be – I’ll know better, and so will you.”  – Linda Volschenk

the_restless_supermarket_300wThe Restless Supermarket, Ivan Vladislavić (Umuzi, R185)Ontmoet vir Aubrey Tearle – afgetrede proefleser van telefoongidse, iesegrimmige oujongkêrel, ywerige haarklower en volslae beheervraat. Dis 1993 en onse Aubrey is nie ’n gelukkige man nie; behep met tekens van verval en aanduidings van dalende standaarde, vit hy oor elke minuskule detail en vervreem hy hom toenemend van al sy ou kennisse. Wanneer hy boonop verneem dat Café Europa (sy gunsteling kuierplek in Hillbrow) se deure aanstons gaan sluit, is die gort gaar.The Restless Supermarket beskryf ’n tydperk van oorgang en aanpassing in die Suid-Afrikaanse geskiedenis met geestigheid, empatie en ’n skerpsinnige aanslag; dis ’n vermaaklike vertelling en word veral aanbeveel vir lesers met ’n belangstelling in blokkiesraaisels, woordspelings en ander linguistiese verskynsels. Hierdie roman is oorspronklik in 2001 uitgegee en kort daarna met die Sunday Times Prize for Fiction bekroon. Dis ’n welverdiende akkolade; Vladislavić se skryfwerk is eersteklas en absoluut die moeite werd om gelees te word. – Emsie Viljoen

the_cat_s_table_300wThe Cat’s Table, Michael Ondaatje (Random House Struik, R239)
Ondaatje vertel van die bootreis van die elfjarige Michael vanaf Trincomalee in Sri Lanka ná Tilsbury in Engeland in die vroeë vyftigerjare. Die Oronsay is ‘n reuse passasiersboot met sewe dekke en meer as 600 passasiers.
The Cat’s Table verwys na die tafel met die minste voorregte in die eetsaal wat Michael met nege mense deel. Dit sluit Cassius en Ramadhin, twee seuns van sy eie ouderdom in. Die boot is ‘n onontdekte kasteel vir die seuns. Deur Michael se oë leer ken ons van die eksentrieke en eienaardige karakters op die boot. Die intriges van die passasiers word deel van Michael se eie ervaringe. Ons beleef storms, sien romanses ontwikkel en word deel van die alledaagse lewe op die boot. Verwysings na die verlede en die toekoms van die seuns en die passasiers word meesterlik verweef om hierdie verhaal ‘n heerlike leeservaring te maak. Ondaatje het ‘n deurlugtige en droomagtige skryfstyl. Hy het al verskeie boeke en digbundels geskryf. Die bekendste is seker The English Patient. – Gert Venter

sense_of_an_ending_300wThe Sense of an Ending,  Julian Barnes (Jonathan Cape, R215)
Verdienstelike wenner van die 2011 Man Booker-prys. Middeljarige, geskeide Anthony Webster ontdek hoe vals sy herinneringe is. ’n Prokureursbrief stel hom van erfgeld in kennis. Hy vind uit watter skade hy onbedoeld aan ander, veral aan Adrian Finn wat anders as die res van hul groepie vriende is, en aan Victoria Ford, albei se vriendin gedoen het.  Anthony som sy jeug (en dié van sy vriende) as “book-hungry, sex-hungry, meritocratic, anarchistic” op. Die meer gebalanseerde en beginselvaste Adrian Finn sê: “History is that certainty produced at the point where the imperfections of memory meet the inadequacies of documentation.” Anthony sal uitvind hoe waar dié woorde is. Hoe moeilik dit is om ’n eie geskiedenis korrek te onthou en verstaan, hoe pynlik die opdoen van selfkennis kan wees. –  Malene Breytenbach