FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Boeke is sexy

Ek stem saam. Boeke is inderdaad sexy.

Wie is ek om te stry met Benjamin Trisk, Hoof Uitvoerende Beampte van Exclusive Books, wat hierdie stelling gemaak het by die bekendstelling van dié boekhandelaar se Kersfees-katalogus. Boonop sê hy die boek is terug, ten spyte van almal se vrese oor die groot digitale bedreiging. Goeie nuus oor boekverkope is deur NB Uitgewers bekend gemaak: “Die verkope van gedrukte boeke in Brittanje het gedurende die eerste ses maande van 2015 vir die eerste keer in sewe jaar gestyg – hoofsaaklik danksy ’n 10%-styging in gedrukte boeke vir kinders en jong volwassenes. Dié tendens, wat ook in lande soos Nederland voorkom, het oorsese uitgewers onkant betrap, aangesien kinders van alle ouderdomme allerweë as die digitale generasie beskou word.” Volgens Michelle Cooper, uitgewer van boeke vir kinders en jong volwassenes by Tafelberg is daar ook ’n styging in die verkope van plaaslik gepubliseerde kinderboeke wat nie op die massamark gerig is nie. Vir my is dit fantastiese nuus, want ek hoop dit inspireer ouers ook om meer te lees. Oor boekwinkels sê Trisk dat dit ’n plek moet wees soos ’n gemeenskapsbiblioteek waarheen mense kom om sommer net rond te hang. Hulle hoef nie noodwendig ’n boek te koop om daar te wees nie. Die boekwinkel moet ’n ervaring wees. Nou ja, daar is vir my niks lekkerder as om in ’n boekwinkel rond te hang nie, en as daar boonop ’n koffiewinkel is, raak my kuier lekker lank!
Hierdie week fokus ek op ’n paar van die boeke wat deel is van Exclusives se Kersfees-katalogus. Daar is regtig iets vir elke leser ingesluit in die katalogus.

Die Huis van Rye, Nataniël (Human & Rousseau, R308)
Sê iemand ‘Nataniël’, dink ek onmiddellik aan kos weens sy vele televisieprogramme oor kos en ook sy verbintenis met ’n sekere winkelgroep se boerewors-kompetisie. In hierdie jongste boek van hom is daar meer as 100 resepte, van vingerhappies en ontbyt tot heerlike gebak en nagereg. As jy al na Nataniël se programme gekyk het en sy rubrieke gelees het, sal jy weet hy het ’n passie vir simmetrie en vir mooi goed. Items word in rye uitgestal op tafels en ander uitstalplekke. Dit word nie sommer net in ’n bondel neergesit nie. Sy passie vir simmetrie, en rye, reflekteer ook in hierdie boek.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Vlam in die sneeu, André Brink (Penguin SA, R358)
Toe Mandela in die parlement ’n gedig van Ingrid Jonker voorgelees het, het duisende Suid-Afrikaners vir die eerste keer bewus geraak van dié Afrikaanse digter. Ek het as kind op skool die eerste keer kennisgemaak met Ingrid Jonker, toe een van haar gedigte in die Afrikaanse klas voorgelees is. Eers later het ek bekend geraak met André P. Brink se boeke. En veel later het ek eers begin belangstel in die verhouding tussen die twee. Ek het alles gelees waarop ek my hande kon lê, juis weens Jonker se tragiese dood. In hierdie boek word die liefdesbriewe tussen die twee beroemde skrywers vir die eerste keer volledig gepubliseer, ’n halfeeu nadat dit geskryf is. Insiggewend oor hul verhouding, maar nog interessanter is die kommentaar wat hulle lewer op ander skrywers wat hul tydegnote was. Brink het die briewe kort voor sy dood voorgelê vir publikasie en die projek is voltooi deur André se letterkundige weduwee Karina M Szczurek. Dis ’n wonderlike boek, want deesdae skryf niemand meer briewe op papier nie. Dis ’n kuns wat verlore gaan en in hierdie boek ervaar jy die impak van die brief!

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die verdwyning van Billy Katz, Chris Karsten (Human & Rousseau, R250)
Lesers van Karsten se Abel-boeke sal verheug wees om te hoor hy het nou ’n verhaal geskryf waarin Ella Neser met reg die hoofrol vertolk. Sy het ons geboei in die Abel-trilogie en ons wou meer weet oor haar. Sy is ’n boeiende karakter met wie lesers maklik identifiseer. In hierdie jongste verhaal begin sy weer werk as speurder ná sy drie maande tuis herstel het nadat sy die Abel-saak finaal afgehandel het. Is sy reg vir ’n nuwe saak, een waar sy die spoor moet vat van vier geamputeerde voete? Waar kom die voete vandaan en waar is die res van die liggame? Sy is maar nog bewerig en onseker oor hoe sy dinge gaan hanteer. Maar werk bly werk en sy moet die saak begin ondersoek. Sy krap met die hulp van ’n voormalige speurder ’n onheilige nes van skokkende, en tragiese gebeure oop. Die storie word stelselmatig onthul, totdat al die dele mooitjies in mekaar pas. Die karakters word weer uitmuntend beskryf, op so manier dat jy jouself kan indink presies hoe hulle lyk. En Karsten weet net hoe om die plot die heeltyd lewendig te hou sodat jy die boek in een dag wil verslind. Natuurlik sal ek graag in ’n volgende boek meer wil lees oor Ella se verhouding met die voormalige speurder! – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Rympies vir pikkies en peuters, saamgestel deur Riana Scheepers, Suzette Kotzé-Myburgh en Gertie Smit (Tafelberg, R280)
Elke nuwe ma moet hierdie pragtige boek met prettige rympies en kleurvolle illustrasies besit. Dis vir hardop voorlees en omdat die versies ’n vaste ritme en rympatroon het, help dit om die kind se geheue te stimuleer. Die kind se taalvaardigheid sal ook ontwikkel word met hierdie rympies. Die samestellers sê: “Hierdie bundel wil vir ons kleinste kinders rympies gee waarmee hulle as’t ware kan grootword. Die vrolikheid en olikheid van hul daaglikse lewe word in rymvorm vasgevat, hul leefwêreld word op ’n klankryke wyse verwoord en só word hulle ondersteun om al die moeilike ontwikkelingstake baas te raak.” In Afrikaans sê mens dinge op ’n unieke manier, veral as dit stuitige versies is. Vertaalde versies klink net nie so nie, en lê nie so lekker op die oor soos Afrikaans nie.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

We Never Asked for Wings, Vanessa Diffenbaugh (Mantle, R292)
Die skrywer fokus in hierdie verhaal op ’n paar sosiale kwessies: op tiener swangerskap, die verantwoordelikheid van ouers teenoor hul kinders, onwettige immigrasie en boeliery. Die verhaal is glad nie prekerig of geforseerd nie. Letty Espinosa en haar gesin het dit glad nie breed nie en woon in ’n vervalle woonstelletjie in ’n vergete deel van ’n vleiland. Sy het drie verskillende werke in ’n poging om die pot aan die kook te hou. Haar ma maak haar twee kinders reeds vir 14 jaar groot. Haar ouers is oorsproklik van Meksiko en nou op hul oudag gaan hulle terug. Letty moet vir die eerste keer verantwoordelikheid neem vir haar kinders, nie ’n maklike taak nie. Sy moet besluite maak wat haar en haar kinders se lewe onherroeplik verander, maar dis ter wille van ’n beter lewe. My gunsteling-karakter in die verhaal is Letty se veertienjarige seun, Alex wat ’n hele ander perspektief van gebeure gee. Hy vertel hoe moeilik dit is om nie in te pas op skool nie, dat jy weens jou andersheid aandag trek en dan ’n slagoffer van boelies word. Sy stem is vir my ’n hoogtepunt in die hartroerende verhaal.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The thing about jellyfish, Ali Benjamin (Macmillan, R129)
Die verhaal is gemik op tieners en jong volwassenes, maar enigeen wat hou van aangrypende verhale met lewenswyshede sal van hierdie een hou. Waarskuwing: hou maar die sneesdoekies byderhand, want huil gaan jy huil. Die essensie van die verhaal gaan daaroor dat terwyl jy probeer om ’n groot verlies te verwerk, gaan die wêreld om jou normaal aan asof daar niks gebeur het nie. Suzy is twaalf jaar oud. Haar voormalige beste vriendin het verdrink, en sy glo nie die verduideliking van “soms gebeur goed maar net” wat haar ma vir haar gee nie. Op ’n skooluitstappie na ’n akwarium sien Suzy die uitstalling van jellievisse, een daarvan is piepklein, byna deursigtig en dodelik. Sy glo onmiddellik die dodelike jellievis is die oorsaak van haar vriendin se dood. Dan begin sy navorsing doen om haar teorie te probeer bewys. So ontvou dan ’n verhaal waarin Suzy baie dinge ontdek . . . Terselfdertyd word baie lewenswyshede oor die wetenskap gedeel.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Big Magic, Elizabeth Gilbert (Bloomsbury, R313)
Gilbert is bekend vir haar boek “Eat Pray Love” wat deur derduisende vroue gelees is. Dis ook later verfilm met Julia Roberts wat die hoofrol gespeel het. Big Magic gaan oor, soos die subtitel sê, Creative living beyond fear. Dis Gilbert se eie filosofie en mymeringe hieroor. Waar begin jy? Sy glo die vraag wat jy moet vra is: “Do you have the courage to bring forth the treasures that are hidden within you?” Bowenal, glo sy, jy moet gedryf word deur nuuskierigheid, eerder as vrees. So gaan sy aan om aan die hand van persoonlike ervaring, en anekdotes oor mense wie sy ken, te verduidelik hoe jy jouself kan oopstel om ’n meer kreatiewe lewe te leef. Lesers wat van haar ander boeke gehou het, sal beslis aanklank vind by haar nuwe boek.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Jane’s Delicious Urban Gardening, Jane Griffiths (Sunbird, R295)
As jy al ooit daaraan gedink het om ’n groentetuin te begin dan is hierdie boek net vir jou. Griffiths verduidelik al die stappe van hoe om ’n groentetuin te begin op ’n eenvoudige en verstaanbare manier. Hoe om grond voor te berei, waar wat geplant moet word, hoe jy jou tuin moet versorg – alles word in die handige gids uiteen gesit. Daar is selfs ’n hoofstuk net oor hoe om tuin te maak in houers, ja groente kan in houers gekweek word. As jy nie ’n klein lappie grond het nie, kan jy selfs ’n vertikale tuin ontwerp en teen ’n muur vir jou ’n hangende groen spasie skep. Ruimte is nooit beperkend nie, sê Griffiths, dis hoe jy die spasie benut wat saak maak. Hier is haar doel met die boek: “Jane’s Delicious Urban Gardening is about exploring and sharing ways that urbanites can live a more connected and sustainable life in the city.”

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Beer Safari, Lucy Corne (Struik Lifestyle, R282)
As jy gedink het bier is net vir manne moet jy maar weer dink! Dis deesdae ’n gesogte drankie onder vroue ook, veral die vele craft biere wat nou in die land beskikbaar is. Lucy Corne is passievol oor bier en skryf reeds jare daaroor. Haar vorige boek oor bier het ’n prys gewen! In hierdie boek beskryf sy elkeen van die 100-plus brouerye wat sy besoek het, verduidelik wie die bier maak en hoe die bier proe. Natuurlik is die boek ook ryklik geïllustreer met foto’s. Die boek is geografies opgedeel sodat dit maklik is om te sien presies waar elke brouery is. As jy op jou eie safari wil gaan om jou lekkerste bier te vind, moet jy die boek aanskaf. Dit sal help met jou beplanning van waarheen om te gaan en gee jou ook handige inligting om ’n gesprek af te skop oor ’n bier, of twee. . . ’n Heerlike geskenk vir enigeen wat hou van bier.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Diary of a Wimpy Kid #10, Old School, Jeff Kinney (Puffin, R226)
Ek is gek oor Kinney se wonderlike boekies waarin arme Greg Heffley altyd op die een of ander manier deur die wêreld geknel word. In hierdie tiende boek besluit sy dorp om terug te keer na die dae voordat almal die heeltyd besig was met selfone en allerhande ander tipe toestelle wat voorafgegaan word deur ’n “i”. In sy huis moet Greg natuurlik ook by die nuwe reëls inval, maar dis nie vir hom lekker nie. Wat gaan hy maak om hierdie vreemde situasie te oorleef? Kinney se boeke word in 89 lande verkoop en het wêreldwyd meer as 120 miljoen eksemplare verkoop. Dis ook vanjaar die tiende verjaarsdag van Wimpy Kid. Mag Greg Heffley ons nog vir baie jare amuseer!