FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Boeke vir die siel

Die Kersseisoen is ’n tyd vir bepeinsing. Om te dink oor die jaar wat verby is en oor dit wat gaan kom. Dis ook die tyd wanneer mense ’n behoefte het om hul siel te voed.

Hierdie lys boeke is perfek om jou weer te help fokus en op die regte pad te kry vir 2015. Hier is leesboeke oor teologiese onderwerpe, dagstukkies en sommer net gidse vir die lewe. Wees die beste jy wat jy kan wees en streef daarna om daagliks sò te leef asof dit jou laaste dag op aarde is. Hierdie boeke maak dit alles vir jou moontlik.

deur Mari Rheeder

What I know for sure, Oprah Winfrey (Pan Macmillan, R229)
“What I know for sure: Your journey begins with a choice to get up, step out, and live fully.”
Hierdie antwoord op ’n vraag oor wat sy beslis weet sowat 20 jaar gelede, het haar geïnspireer om ’n rubriek in haar tydskrif, O Magazine, hierop te grond. In hierdie bundel word van haar rubrieke gedeel. Sy skryf oor dinge wat die meeste saak maak in die lewe, vreugde, aanpasbaarheid, verwondering, dankbaarheid en geleenthede.

staan jou manStaan jou man, Nick Vujicic (Christelike Uitgewersmaatskappy, R149)
Meeste mense het gedurende hul lewe die een of ander tyd in aanraking gekom met ’n boelie wat jou afkraak en minderwaardig laat voel. Nick Vujicic het geen ledemate nie. Hy weet wat dit beteken om deur te loop onder boelies. Hy vertel sy eie ervarings sodat jy daardeur kan leer hoe om boeliery te hanteer en om dit te oorkom om die bose kringloop te breek.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Hoor die Hartklop van God, Andries Enslin (Christelike Uitgewersmaatskappy, R139,95)
366 kragtige en inspirerende boodskappe. Hierdie pragtige, volkleur boekie is die perfekte geskenk vir enige vrou. Elke dagstukkie word gegrond op ’n teks met temas soos: God is liefde, diensbaarheid, vreugde en geestelike fiksheid.

 

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Hoor God se stem, Elize Parker (Struik Christelike Media, R169,95)
Die Here wil met ons praat. Ons hou ons soms doof vir sy stem, maar steeds wil Hy met ons praat. Hierdie 365 dagstukkies vir vroue wil hê vroue moet ontvanklik wees vir God se boodskap. Die stukkies wil vroue se harte aanraak, hulle inspireer en moed gee vir elke situasie. Elke dagstukkie word gevolg deur ’n gebed om die gees te verryk.

 

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

When Power meets Potential, T.D. Jakes (Struik Christelike Media, R199,95)
Elkeen soek na sy eie doel in die lewe. Dikwels is dit reeds binne jou, maar jy herken dit net nie. Volgens Jakes moet ons ophou soek en begin om die krag wat binne ons is te gebruik om ons doel te bereik. God gebruik jou potensiaal om iets groot uit jou lewe te maak. Ons moet egter toeganklik wees om die potensiaal wat die Here vir jou gee, te gebruik. Hierdie boek is ’n daaglikse herinnering dat die lewe nie wag om te gebeur nie; jy is in jou lewe en dit wat jy vandag doen, bepaal jou pad vorentoe.

FOTO: veeskaf

FOTO: veeskaf

On Heaven and Earth, Jorge Mario Bergoglio & Abraham Skorka (Bloomsbury Hb Trade, R288)
Hierdie boek is in dialoog-formaat geskryf en bevat die gesprekke tussen twee Christelike leiers, Bergoglio en Skorka. Hulle praat oor ernstige teologiese onderwerpe soos die duiwel, ateïsme, gebed, dood, aborsie, egskeiding, gay-huwelike en nog baie ander. Hierdeur poog hulle om hul eie gelowe, Judaïsme en die Katolisisme, te verbind.

 

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Little book of Mindfulness, Tiddy Rowan (Quadrille Publishing, R109)
Mense in vandag se vinnige- en besige samelewing vergeet partykeer om te leef. Ons is so gefokus op wat volgende moet gebeur dat ons vergeet om bewus te wees van die oomblik waarin ons NOU is. Hierdie boekie wil jou op die pad bring van bewus wees: van jou situasie, van jou geleenthede en van jou geluk. ’n Inspirerende boekie om in jou sak rond te dra.

 

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Honestly, Johnnie Moore (Harvest House, R115 e-Boek)
Die skrywer spreek die skynheiligheid van sommige Christene, asook sy ouers s’n aan. Hy gee ’n eerlike weergawe van sy geloofworsteling. Hy reis onder ander na Indië en bestudeer ander gelowe soos Hindoeïsme, Boeddhisme en Islam, maar kom tot die gevolgtrekking dat geen ander godsdienstige stelsel of sogenaamde ‘heilige’ met Jesus, die God van die Bybel vergelyk kan word nie. Hoekom laat God lyding toe? Hy besoek Rwanda waar ’n verskriklike menseslagting plaasgevind het maar hul geloof in God geseëvier het. In ’n kerk in Rwanda sing skuldiges sowel as slagoffers saam – ‘It is well with my soul’. Vir hierdie mense is Jesus nie net ’n historiese figuur nie; Hy is dié Jesus wat opgestaan het en wat leef.
As Christene moet ons God vertrou en bid, die Bybel lees en ons geloof lééf. ’n Baie inspirerende boek vir alle Christene wat hierdie Jesus wil leer ken soos Hy verdien om geken te word. – Linda Volschenk

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The first phone call from heaven, Mitch Albom (Little Brown Book Group, R353)
Albom, skrywer van die internasionale treffer Tuesdays with Morrie vra ‘Wat as die einde nie die einde is nie?’ By almal wat al geliefdes aan die dood moes afstaan, is daar altyd ’n hunkering om hulle weer te sien en met hulle te kommunikeer. ’n Klein dorpie, Coldwater in Michigan word beroemd wanneer sewe mense telefoonoproepe van afgestorwenes kry. Albom beweeg histories tussen die uitvinding van die telefoon in 1876 en ’n wêreld behep met die volgende telefoonoproep uit die Hemel. Is dit ’n wonderwerk of net ’n gevoellose poetsbakkery? Sully Harding wat ook ’n telefoonoproep van sy vrou kry, probeer die geloofwaardigheid daarvan vasstel. Na ’n motorongeluk waarin hy amper doodgaan, sien en praat hy met sy vrou en al die onbeantwoorde vrae word beantwoord. Die boodskap is dat mense siele het en as hulle sterf, hulle nie net weg is nie. ’n Eerbare storie van liefde, ’n bietjie geskiedenis en geloof. – Linda Volschenk

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Here, ken U my, Angela Thomas, vertaal deur Esta Grobler (Christelike Uitgewersmaatskappy, R129,95)
Angela bespreek twaalf identiteitskwessies … waarop God haar vra – Weet jy wie EK IS? God ken en is lief vir ons. Met elke kwessie word God se karaktereienskappe geopenbaar aan die hand van Bybelstudie – Hy is waardig, Hy sien “Sien God in elke gawe, groot en klein, wat jy ontvang”. Hy is ons vertroosting “Ek is so lief vir jou dat ek my seun, Jesus, gestuur het sodat hy jou kan wys hoe om te glo wie EK IS” en Hy is in beheer, jou redder en gee jou krag en hoop. Hy is die God wat gee en Hy wil hê dat ons in oorvloed moet lewe. God het ’n doel vir ons net soos ons is. Haar daaglikse gebed het geword – Here ek wil Ú beter leer ken. ’n Inspirerende boek vir elke vrou hoe om te lewe.

Naskrif: EK IS (God) (hoofletters). In Engelse Bybel – Exodus 3:14, God said, “I am who I am. This is what you must say to them: ‘The one who is called I AM has sent me to you’. I AM word algemeen in Engelse weergawes van die Bybel gebruik. – Linda Volschenk

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

His Call, My All Hennie Keyter & Janet Rodriguez (Tracy McDonald Publishers, R165 e-Boek)
Soortgelyk aan lektuur soos God se Smokkelaar deur Broer Andrew, kan Keyter se debuut beskryf word as ’n geestelike aksieverhaal propvol innerlike dialoë met die Here, lewensgevaarlike avonture, bonatuurlike genesings en ander wonderwerke. Anders as eersgenoemde (’n bekende sendeling, gemoeid met die verspreiding van Bybels in eertydse Kommunistiese lande) het Keyter hom na ’n profetiese uitspraak en hemelse visioen geroepe geag om die Evangelie in Afrika te verkondig en kerke te vestig sover hy gaan. Die boek het ’n vinnige pas, lees maklik en word plek-plek aangevul deur foto’s en briewe van vriende en volgelinge. As Christelike literatuur is Keyter se vertelling uiteraard op ’n spesifieke teikengroep gemik; nietemin word dié publikasie hoofsaaklik vir diegene bekend met Charismatiese dogma aanbeveel. – Emsie Viljoen