FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Boeke vir Kersfees

Kersfees is om die draai en as jy vir jou geliefdes boeke wil gee, hier is ’n paar voorstelle.

Voetspore op die ewenaar, Johan Badenhorst (Protea Boekhuis, R300)
Hierdie is Johan en die Voetsporespan se agste reis deur Afrika. Die reis was van Lamu tot Muanda. Nou waar op dees aarde is dit, sal jy vra. Lamu is ’n eiland aan die ooskus van Afrika en is deel van Kenia. Dis waar die reis begin het. En Muanda is waar die reis geëindig het, in die Demokratiese Republiek van die Kongo. Die span het van die ooskus na die weskus van Afrika op die ewenaar gereis en as jy van hul ontberings lees, besef jy Afrika is gewis nie vir sissies nie. ’n Maklike reis was dit beslis nie. Daar was oponthoude waarop nie gereken is nie, daar was liggame wat gepyn het na ’n staptog (eerder klimtog) in die Ruwenzori-berg, en malaria wat opgedoen is deur Gideon, voertuie wat vasgeval het . . . Dis ’n heerlike boek wat alles van die reis vertel. Johan gee ook interessante agtergrond oor die plekke waar hulle aangedoen het en so leer mens ook sommer heelwat dinge oor die kontinent. Die boek bevat baie kleurfoto’s wat dit ’n lekker kyk-boek maak.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Karren-Melk vir Ta’ Nonnie, Nico Moolman (Bestel by www.nicomoolman.net teen R250 pos/koerier-geld ingesluit)
Om deur Nico Moolman se boek te blaai, is om terug te stap in die geskiedenis van die mense wat deel was van die Anglo-Boereoorlog. Hy boekstaaf “onvertelde verhale uit die Volksmond” en begin die boek met die verhaal van Ta’ Nonnie wat op haar sterfbed in die Bethulie konsentrasiekamp se hospitaaltent gewens het sy kon tog nog net een keer ’n glas karringmelk geniet. Mens kan nie anders as om geraak te word deur die verhale waarin soveel lyding en hartseer oorgedra word nie. Die hopeloosheid van oorlog word in al sy nuanses beskryf deur almal wat hul persoonlike ervarings vertel in die verhale. Dis verstommend hoeveel persoonlike foto’s behoue gebly het as mens in ag neem dat die vrouens en kinders van die plase verwyder is en in konsentrasiekampe moes gaan bly. Die foto’s vertel almal ook ’n storie en dra by tot die leeservaring. Die tweede deel van die boek vertel die verhaal van die enorme Erfeniskwilt wat Nico se vrou, Naomi gemaak het waarop die rol van vroue, voor die oorlog, tydens en ná die oorlog uitgebeeld word. Die kwilt word in die Oorlogsmuseum in Bloemfontein uitgestal.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Cape Town Book, Nechama Brodie (Struik Travel & Heritage, R395)
Nechama is ’n Johannesburger en het soos vele ander Gautengers nie die Kaap verstaan nie. Sy het uiteindelik lief geword vir Kaapstad en het uit nuuskierigheid begin navorsing doen oor die aspekte van dié stad wat sy beter wou verstaan. Vier jaar later is hierdie boek die produk van haar deeglike navorsing. Die sub-titel is “A guide to the city’s history, people and places” en dis inderdaad waaroor Nechama skryf. Sy ontgin alle aspekte van die stad vanaf die vroegste geskiedenis tot nou. Sy beskryf die besienswaardighede, mense en ander interessanthede wat kleur aan die stad gee en wat gehelp het om die stad te vorm. Die boek is ryklik geïllustreer met foto’s, baie daarvan is nog nooit voorheen gepubliseer nie en is bekom vanaf argiewe van museums, universiteite en ander openbare instellings. The Cape Town Book is ’n inklusiewe en volledige geskiedkundige dokument wat fokus op die individuele ruimtes van die stad en sluit die volledige skiereiland in. Die eerste twee hoofstukke in die boek gaan oor “What Came Before?” en “Who Came Before?”.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The South African Bike Book & Events Guide, Tim Brink (Mapstudio, R299)
Brink ry al vir meer as 30 jaar fiets en hy is so verslaaf aan die sport dat hy besluit het om ’n allesomvattende boek daaroor te skryf. Hy begin met die geskiedenis van hoe die fiets ontstaan het en hoe dit die negentiende eeuse gemeenskap en industrie hervorm het. Veiligheidsaspekte en die wet rakende verkeersveiligheid word uiteengesit. Daarna bekyk hy alle soorte fietse en doen aanbevelings oor watter fiets geskik is vir spesifieke toestande. Jy kan ook uit die boek leer hoe om na jou fiets om te sien en om dit reg te maak. Alles wat jy moet weet oor hoe om ’n fietsryer te word, is ingesluit in hierdie handige gids. As jy aan iets kan dink waaroor Brink nie in die boek skryf nie, kan jy hom kontak op Twitter, @timbrink, en hy sal wel vir jou antwoorde kan gee.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

50 Upcycling-projekte: Ougoed word hougoed, Misi Overturf (Human & Rousseau, R325)
Overturf sê die woord upcycling het in die 1990’s ontstaan en dis wanneer goed wat weggegooi is of in onbruik verval het, gebruik word op ’n manier om ’n produk van hoër gehalte of waarde as die oorspronklike te skep. Dis presies wat sy met die projekte in hierdie boek illustreer. Vir die van ons wat nie so vaardig is met gereedskap nie is daar baie eenvoudige projekte soos om ’n ou spieël om te tower in ’n pragtige fokuspunt vir ’n vertrek. Overturf maak voorsiening vir mense wat hou van uitdagings deur maklike en moeilike projekte in te sluit. Sy wil hê haar boek moet ’n inspirasiegids wees. Sy sê: “Miskien inspireer dit jou om kreatief te wees, laat jou moontlikhede raaksien of bring nuwe idees vir projekte na vore.” Haar instruksies is eenvoudig en verstaanbaar en kan maklik gevolg word. Al daai goed wat jy geërf het wat jy iewers in ’n donker hoek wegsteek, kan omskep word in iets wat jy kan uitstal en mee spog!

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Laat Los jou Las, Kate Emmerson (Metz Press, R170)
Kate deel intieme aspekte van haar lewensverhaal, haar persoonlike laste, in die inleiding van haar selfhelp boek. Sy verduidelik hoe sy hierdie laste moes oorkom om haar eiewaarde te kon besef. “Ek deel om ’n paar redes kykies uit my lewe in die boek. Uit ’n selfsugtige (of self-volle!) oogpunt genees dit my omdat ons ons verlede genees wanneer ons ons stories deel en ander help om dit ook te doen.” Die praktiese werkboek lei jou stap vir stap om van jou emosionele bagasie ontslae te raak en om verantwoordelikheid te aanvaar vir jou lewe. Met elke stap help sy jou om tot nuwe insigte te kom.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Standing Tall in a Falling World, Angelique du Toit (Hay House, R316)
Die selfhelp boek is vanuit ’n Christelike perspektief geskryf en fokus op die maniere hoe jy jouself kan pantser om die aanslag van die lewe af te weer. Die boek is ingedeel in vyf hoofstukke: Standing tall in your soul; standing tall in your body; standing tall in your relationships; standing tall in your daily life, en standing tall in your spirit. Du Toit sê in die inleiding oor haar boek: “It has been designed for you to get real-time, daily benefit from applying the power-packed principles in your life.” Daar is plek in die boek waar jy jou eie aantekeninge kan maak.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Bully-Proof, Gail Dore (Struik Lifestyle, R200)
Hierdie boek is die ideale geskenk vir elke ouer, sowel as alle onderwysers. Boeliery is ’n reusagtige probleem in skole en een wat die lewe van kinders en onderwysers versuur. Duisende kinders leef elke dag in vrees, omdat hulle weet hulle gaan geboelie word. Dikwels is onderwysers magteloos oor hoe om die situasie te hanteer. In hierdie boek verduidelik Dore wat boeliery is, en hoe jy jou kind kan help om nie geboelie te word nie. Dis ’n praktiese handleiding wat jou stap vir stap neem deur alle aspekte van die probleem. Om jou eie kind te leer hoe om weerstand te bied teen boelies, en wat om te doen as jou kind die boelie is. Daar is ’n spesiale werkboek wat gemik is op onderwysers, om hulle te bemagtig om die probleem met selfvertroue aan te pak.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Glam Guide, Fleur de Force (Headline, R323)
Fleur de Force het in 2009 begin om videos oor skoonheid, mode, gesondheid en verhoudings vir YouTube te maak as ’n stokperdjie. Die afgelope vyf jaar het sy haar gehoor uitgebou en het sy 1,318,680 volgelinge op YouTube. In hierdie boek deel sy haar geheime en wenke oor skoonheid en grimering; onderwerpe wat sy in haar vlog hanteer het. Elke onderwerp word duidelik gemerk en begin met ’n inleiding deur Fleur en eindig met 10 vinnige wenke. Tussenin gee sy raad, vertel anekdotes en gee selfs resepte. Dis ’n mooi verpakte pakkie en is gepas vir jonger lesers wat nog baie wil leer oor hoe om hul eie styl te ontwikkel. O ja, sy gee selfs raad oor hoe jy jou eie YouTube vlog kan begin.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Kreatiewe Inkleurboek vir grootmense 4 en 5, (Human & Rousseau, R135)
Die gier om in te kleur is steeds besig om te groei onder volwassenes. In hierdie twee boeke kom die inspirasie uit die natuur en wemel die ontwerpe van die blomme, insekte en voëls. Party ontwerpe lyk amper soos ’n persiese mat, met vele krulle en draadjies wat ’n inkleurder ure besig sal hou. Die boeke is daarop gemik om mense bietjie stil te laat raak en net kreatiewe tyd met hulself te spandeer.