FOTO: verskaf

Boeke

Boeke vol inligting

Daar is mense wat nie daarvan hou om fiksie te lees nie. Vir hulle het ek spesiaal ‘n hopie nie-fiksie boeke uitgesoek.

Ek hou ook daarvan om nie-fiksie te lees. Baie keer het dit my al handig te pas gekom wanneer ek bordspeletjies speel waar mens se kennis oor ‘n verskeidenheid onderwerpe getoets word. Ek wens net ek kon alles onthou wat ek lees. Dit sou ‘n groot voordeel wees om ‘n fotografiese geheue te hê. Nou ja, dis my nie beskore nie. Gelukkig kan ek altyd gaan naslaan in ‘n boek! Hierdie boeke is ook uitstekende geskenke vir lesers wat hou van feite.

Onthou om ons elektroniese winkel op kalahari.com te besoek om van die boeke aanlyn teen afslagpryse te bestel. Pryse is voorgestelde pryse en kan verskil afhangende die beskikbaarheid van boeke.

Engele in die vreemde, Chris Schoeman (Zebra Press, R230)
Ná die uitbreek van die  Anglo-Boereoorlog in Oktober 1899 het honderde buitelandse vroue na Suid-Afrika gekom om deel te wees van die oorlog. Schoeman vertel die verhale van twaalf van die vroue afkomstig vanaf  die Britse kolonies soos Kanada, Australië en Nieu-Seeland tot die pro-Boerlande soos Holland, België en Duitsland. Hulle het gekom om hier te werk en te lewe in moeilike toestande wat vir hulle taamlik vreemd moes wees. Die vroue het uit ‘n verskeidenheid agtergronde en beroepe gekom en het veral op die gebied van die verpleegkunde en onderwys ‘n bydrae gelewer. Alhoewel hulle gewone vroue was, met wie die leser maklik kan identifiseer, het hulle ‘n verskil in die lewens van die mense onder wie hulle gewerk het gemaak. Talle het in Suid-Afrika aangebly ná afloop van die oorlog. Foto’s en kaarte help om die gebeure geloofwaardig voor te stel. Die inligting in die boek is verkry uit voorheen gepubliseerde verhale, biografieë, tydskrifartikels, koerantberigte en briewe. –Gert J. Venter

FOTO: verskaf

CARTE Blanche, The Stories Behind The Stories, Jessica Pitchford (Jonathan Ball, R200)
Dis moeilik om ‘n boek te beoordeel as jou eie naam daarin pryk. Maar dis ook eintlik maklik, want Jessica Pitchford se boek gaan oor veel meer as die aanbieders en joernaliste en die kleur-prentjies wat Carte Blanche oor die afgelope 25 jaar ‘n Suid-Afrikaanse instelling gemaak het.
Dit herroep wonderlike, menslike verhale van regoor die wêreld waar Carte Blanche ‘n draai gemaak het. Dit vertel van intriges, mislukkings, oorwinnings, rampe en ontdekkings  –  ‘n soort geskiedenis boek oor die afgelope 25 jaar.
Of die leser nou ‘n spesifieke program wat die boek aanhaal kan onthou of  nie, dit maak vir goeie leesstof en bring ‘n heel nuwe dimensie na ‘n ou storie, selfs al het mens destyds na die oorspronklike uitsending Prozac of Australië oorweeg.
Jessica is die spanlid wat feitlik elke Carte Blanche-storie fyn skaaf en in lekker-praat-taal verwerk en hierdie debuut  is, soos die program, ook ‘n wenner. – Susan Puren

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Suid-Afrikaanse helde en ikone, Wendy Maartens (Lapa Uitgewers, R160)
In hierdie wonderlike boek leer ’n mens van die dapperste mense (en diere) in ons land se geskiedenis. Ek moet erken, toe my ma vir my hierdie een gee, het ek nie gedink dit gaan ’n lekker boek wees nie. Ek was verkeerd. Ek kon die boek nie neersit nie.
Dit bestaan uit ’n klomp kort stories oor Suid-Afrikaanse helde. Daar was stories wat ek geken het, soos dié van Wolraad Woltemade, en stories wat ek glad nie geken het nie, soos die een van die helde van die Westdene-busramp. Die lekkerste storie was die een van Natalie du Toit, wat moes veg vir haar drome. Die bekendste was seker die een van Racheltjie de Beer en die oulikste was die een van Wollie die DBV-brakkie. Daar is baie stories oor die ou oorloë in ons land, maar ook nuwes soos dié van oud-pres. Nelson Mandela en die seuntjie Nkosi Johnson, wat mense geleer het om siek mense met begrip te behandel. – Nina Swart (12 jaar, Bela-Bela)

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

If trees could talk, Megan Emmett (Jacana, R241,68)
As jou kennis van bome nog altyd beperk was tot doring-, wilger- of bloekomboom, dan is dié boek vir jou. Vir die skrywer, Megan Emmett, is bome veel meer as ‘n deel van die ekologie. In haar inleiding tot die boek beskryf sy hulle as karakters in ‘n buitelug avontuur of  as statige ou spesies wat tuur oor ‘n landskap.
Sy sê verder dat sy  met haar boek wil poog om die leser  aan bome se  persoonlikhede bekend te stel. En sy kry dit reg, in dié boek leer mens veel meer as net van biologie en geologie. Dit neem mens op ‘n wonderlike reis deur ons land se bome, hul blomme, vrugte en blare en bo alles, hul aard en persoonlikhede.
Dis ‘n praktiese gids vol glans illustrasies en foto’s en sal deur die hele gesin gebruik en geniet word. En oor en oor gelees word want dis veel meer as ‘n naslaan gids. – Susan Puren

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Lifeblood, Alex Perry (Picador Africa, R178,89)
Die meestal eenvoudige tegnieke om malaria te beheer, moet net korrek toegepas en volhou word. Het  Afrika ‘n malariaprobleem omdat die kontinent so arm is of hou malaria Afrika arm? Lifeblood handel oor die suksesvolle werk van die miljoenêr en filantroop, Ray Chamber en die Malaria No More Team in Afrika. Malaria kan doeltreffend en goedkoop beheer word deur die gebruik van bednette. Die probleem kom by die verspreiding van die nette in Afrika. Korrupsie, die vermorsing van geld en die ondoeltreffendheid van verskeie hulpprogramme word skerp veroordeel. Daar word verwys na lande waar die programme gewerk het, en die lewensomstandighede daadwerklik verbeter het en hoop gee vir die toekoms van Afrika. Met hierdie uiters leesbare boek wys Perry waarom hy as een van die beste joernaliste in Afrika beskou kan word. –Gert Venter

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Lost Trails on the Lowveld, T.V.  Bulpin (Protea Boekhuis, R180)
 Alhoewel die boek die eerste keer in 1950 uitgegee is, is dit steeds ‘n treffer al is die skryfwyse verouderd.

Bulpin het die vermoë om karakters uit Suid-Afrika se geskiedenis lewendig te maak. Nie net geniet jy die stories nie, maar jy leer ook meer van ons geskiedenis. Thomas Bulpin het geskryf oor die grootwildjagters van Afrika en hy was bekend as reisskrywer. Hy het in sy lewe (1918 -1999) 25 boeke geskryf.

Van die karakters wat ons in hierdie boek ontmoet, is Henry Rhodes, wat ‘n kanon gesteel het, Mujaji, die reën koningin en Stevenson-Hamilton, wat  die Kruger Nasionale Park begin het en ook die eerste bewaarder was.

Daar is soveel kleurvolle karakters in die boek dat dit ‘n genot is om die boek te lees. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Veldgids tot Bome van Suider-Afrika, Braam van Wyk en Piet van Wyk (Struik Nature, R350)
Die veldgids kan deur almal gebruik word, van die beginner tot die ervare boomkenner.  Dis handig vir vinnig naslaan. Soos enige ander gids is hierdie een ook ingedeel in afdelings: ‘n inleiding, identifisering van bome, gids tot spesiebeskrywing en die beskrywings. Die meer as 1 000 bome wat behandel word, is in 43 groepe verdeel met ‘n sleutel van elke groepe. Elke boom se naam word in Latyns, Afrikaans en Engels gegee. Verder word die boom se algemene kenmerke beskryf. Daar is ook agter in ‘n afdeling met foto’s van die volwasse bome. Hierdie boek is ‘n hersiende en opgedateerde weergawe van die Veldgids tot bome van Suider-Afrika wat in 1997 uitgegee is. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Eagles of Africa, Johann Knobel (Sunbird Publishers, R266,09)
Elkeen van die 26 arende wat in Afrika kan voorkom, word individueel behandel. Waar dit bekend is, word die Latynse-, Engels-, Afrikaanse-, Franse-, Duitse-, Spaanse-, Swahili-, Tswana- en Zoeloename van elke spesie gegee. Hoe die arende jag, broei, hul gedrag, asook hul status (hoe bedreig hulle is) word bespreek. Maar Johann Knobel verveel ons nie met droë feite nie, hy vertel ook van sy persoonlike ervarings met die indrukwekkende voëls. Ryklik geïllustreer met pragtige volkleur foto’s. Die boek is ‘n ware aanwins en enige voëlliefhebber sal dit waardeer.  Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Walking with the wounded, Mark McCrum (Sphere, R230)
As in ag geneem word dat die Noordpool vir die eerste keer in 1969, dieselfde jaar as die maanlanding, te voet bereik is, is so ‘n staptog iets wat min mense sal oorweeg. Selfs die mees geharde avonturiers sal twee keer dink voordat hulle dit aanpak. McCrum vertel van vier beseerde Britse soldate, wat ledemate verloor het, wat dit gedoen het. Om ‘n 100 kg slee oor ruwe ysvlaktes te trek en yswaterpoele van -35°C oor te steek, verg moed. Om op ys te slaap waar diep krake oornag vorm en die konstante daglig maak dinge ook nie makliker nie. Hulle het hierdie ekspedisie in 2011 aangepak om geld in te samel vir die rehabilitasie van beseerde soldate. Prins Harry het as beskermheer opgetree en het die soldate op ‘n deel van die roete vergesel. Hy het ook die voorwoord geskryf. Die inspirerende boek wys weereens wat met ‘n sterk wil bereik kan word. Een van die soldate, Jaco van Gass, is oorspronklik van Suid-Afrika. Talle foto’s help om die avontuur nog meer realisties te maak. – Gert Venter

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Lion and the Lamb – Memoirs of a Vet, Mike Hardwich (Vanguard Press, R150)
In die vroeë 1970’s nadat hy kwalifiseer as veearts by die Onderstepoort Veterinêre Instituut, neem Mike Hardwich ‘n veeartspraktyk in die Natalse Middelande oor. In hierdie boek vertel hy van sy wedevaringe as veearts, boer en later ook van sy werk in die film-industrie. As veearts in die platteland werk hy nie net met huis- of plaasdiere nie, maar ook met wilde-, dieretuin- en sirkusdiere. Hy vertel ook van die mense waarmee hy oor die jare te doen gekry het. Hy het bekend geword, nadat hy ‘n leeuwelpie en lammetjie opgelei het vir ‘n advertensie waarin hulle langs mekaar lê. Die advertensie is op televisie uitgesaai. Hierdie boeiende boek gee lesers insig in hoe veelsydig veeartse op die platteland moes wees en watter innovasies hulle mee vorendag gekom het om die werk gedoen te kry. Die boek is vir almal, nie net diereliefhebbers of veeartse nie. – Karien Labuschagne

 

.