FOTO: verskaf

Boeke

Boekuittreksel: “Gemaklik in jou eie lyf” deur Leandie du Randt

Leandie du Randt is ’n gewilde jong Afrikaanse aktrise en ook ’n geregistreerde psigometris. In Gemaklik in jou eie lyf: Wees die beste jy bied sy praktiese leefstyladvies vir tienermeisies oor ’n groot verskeidenheid temas soos selfvertroue, liggaamsbeeld, groepsdruk en donker gedagtes.

Dag 4 – Respekteer jou liggaam

The human body is the best work of art. – Jess C. Scott

In die vorige twee hoofstukke het ons ’n bietjie meer begin kyk na hoe jou lyf verander het oor die jare en waarvan jy omtrent jou liggaam hou en nie hou nie. Jy het dalk die laaste tyd ook ander veranderinge aan jou liggaam begin agterkom, meer in die manier hoe jou liggaam dalk voel, veral as jy by sommige seuns is. Dit is hormone wat dit veroorsaak en dit is maar net ’n teken dat jy besig is om deur puberteit te gaan.

Puberteit is die proses van fisiese veranderinge van ’n kind se liggaam tot ’n volwasse liggaam. As gevolg van die verandering kan seks lei tot bevrugting, dus swangerskap. Die verandering dui ook ’n oorgangsproses aan van kind tot volwassene deurdat seuns en meisies meer begin groei tot hul uiteindelike volwasse vorm. Daar is niks fout met dié stadium nie en elke mens moet tussen die ouderdom van 10 en 18 daardeur gaan. Party gaan vinniger deur puberteit as ander en daar is ook niks daarmee verkeerd nie. Soos ek reeds gesê het, individue se liggaamsveranderinge en groeiproses word beïnvloed deur genetika en fisiese bou.

Die gevoel waarvan ek vroeër gepraat het wat jy moontlik kry as jy by ’n sekere seun (of dalk ’n meisie) is, beteken dat jy fisies moontlik aangetrokke is tot die ander persoon. Dit beteken dat jy dalk die ander persoon aantreklik vind of van hulle hou. Dit is ’n normale gevoel en jy sal dit tien teen een nog baie in jou lewe voel, en nie net by dieselfde persone nie. Dit beteken ook dat jy seksueel geprikkel word deur die persoon se voorkoms en menswees en moontlik in ’n verhouding met hulle sal wil wees, dalk selfs met die persoon sal wil seks hê. Dit is normaal om sulke gedagtes te kry, daar is niks fout met jou nie. Die trick is net om nie altyd uiting aan die gedagtes te gee nie.

Wat ek daarmee bedoel is dat jy nie elke keer wanneer jy so voel saam met ’n persoon in die bed kan gaan spring nie. Dit sê ek as gevolg van baie redes en nagevolge. Eerstens; jou lyf is breekbaar en kosbaar en jy moet goed daarvoor sorg. Jy kan dit nie sommer aan enige iemand wys of uitdeel nie. Jy moet jou lyf en die gawe daarvan respekteer. Jou lyf is bedoel vir die persoon wat jou eendag gaan liefhê en mooi na jou gaan kyk. Tweedens: hoe meer jy saam met ’n klomp verskillende ouens gaan slaap, hoe groter gevaar loop jy om swanger te raak, MIV/vigs of ’n SOS (seksueel oordraagbare siekte) op te doen. Hoe jonger ’n mens is, hoe groter is die kans dat jy kan swanger raak oor jy nog nie lank menstrueer nie, so daar is nog baie eiertjies wat bevrug kan word.

MIV/vigs is ’n siekte van die menslike immuunstelsel wat deur die menslike immuniteitsgebrekvirus (MIV) veroorsaak word. Tydens die aanvanklike stadium van infeksie kan ’n persoon dalk eers vir ’n kort rukkie voel asof hy of sy griep het. Dit word gewoonlik gevolg deur ’n lang tydperk sonder enige verdere simptome. Die grootste gevaar hiervan lê natuurlik in die moontlikheid dat jy in meer gevalle as nie, ná besmetting glad nie simptome sien nie en dan lank met die virus in jou lyf aangaan sonder dat jy eers weet jy het dit.

Soos wat die siekte begin vorder, kan dit inmeng met die immuunstelsel, wat die persoon baie meer geneig maak tot infeksies, insluitend oppor-tunistiese infeksies en gewasse waarvoor mense met ’n gesonde immuunstelsel nie gewoonlik vatbaar is nie. MIV word hoofsaaklik oorgedra deur onbeskermde seksuele omgang (insluitend anale en orale seks), besmette bloedoortappings, spuitnaalde, en van moeder na kind tydens swangerskap, geboorte of borsvoeding. Sommige liggaamsvloeistowwe, soos speeksel en trane, kan nie MIV oordra nie.

Om jouself daarteen te beskerm dat jy met die vigsvirus besmet word, moet jy nie met ’n klomp verskillende mense rondslaap nie, veral nie as jy nie weet wat hulle MIV-status is nie. Seuns sal vir jou lieg net om jou in die bed te kry, so maak seker jy gebruik ’n kondoom as jy wel gaan seks hê.

Jy kan ook jou dokter vra om jou op ’n voorbehoedmiddel te sit wat reg is vir jou liggaam om te keer dat jy nie swanger raak nie. Onthou net dat jy nie op so jong ouderdom eintlik al op die pil behoort te wees nie, want die pil het baie newe-effekte wat sleg vir jou gesondheid kan wees. Moet asseblief net nooit onbeskermde seks hê nie. Spyt kom altyd te laat en jou hele lewe lê nog voor jou. Jy wil nie daardeur gaan met ’n ongewenste baba op die heup of ’n aborsie op jou gewete nie. Nog minder met die vigsvirus, want dan sal jy nooit weer kan seks hê sonder om ’n kondoom te gebruik nie en jy sal ook nooit mag swanger raak nie omdat jou baba dadelik met die vigsvirus besmet sal word.

Nog ’n moontlike gevaarlike gevolg van rondslaap en van onbeskermde seks is dat jy seksueel oordraagbare siektes kan opdoen. Jy kan ’n SOS oftewel seksueel oordraagbare siekte kry deur op ’n klomp verskillende maniere seksueel aktief te wees. Die siektes manifesteer in jou liggaam op verskillende maniere en in verskillende areas soos op die gesig, mond en veral die geslagsdele. Dit is hoogs oordraagbaar en sal al jou liefdes-verhoudings baie kompliseer deurdat jy die siekte aan jou toekomstige seksmaats sal kan oordra. Jy sal ook nie ’n baba kan hê nie, want die baba sal daardeur in gevaar gestel word. Dit is nie die moeite werd om jou hele lewe op te mors en te kompliseer vir een keer se ‘moontlike’ plesier nie. Asseblief, dink mooi, jou lyf is só kosbaar.

Ek het die term sacred garden van ’n vriendin gekry. Dit verwys na jou liggaam, seksualiteit en geslagsdele. Vir my is ’n vrou se liggaam so uniek en mooi gemaak dat ’n mens kan verstaan hoekom die manlike geslag dit so aantreklik vind. Dit is ook ’n goeie ding dat mans aangetrokke is tot ons vrouens se liggame, maar dit gee hulle nie die reg om dit te misbruik nie. Dit gee jou ook nie die reg om jou tuin met elke Jan Rap en sy maat te gaan deel nie. Dit bring my by my derde rede oor hoekom jy jou lyf moet respekteer en versigtig moet wees saam wie jy slaap.

Hoe meer mans jy gaan toelaat om in jou tuin te kom speel hoe meer mans gaan jou mooi blommetjies, bome, groen grassies en waterstrome kom bemors. Dink aan ’n ongelooflike mooi tuin en als wat daarin groei en hoe mooi dit in die somer lyk. Stel jou nou voor 20 mans wat in daai tuin kom rugby speel en mekaar tekkel en al jou mooi blomme en bome vernietig. Gaan dit agterna nog so mooi wees ? Dit gaan baie lank vat om jou tuin weer so mooi te kry, dink jy nie? Nou dit is my punt. Jou tuin is so mooi gemaak vir ’n rede. Jy moet trots wees op jou liggaam en dit nie as ’n rugbyveld gebruik nie.

Nou, met hoe meer ouens jy gaan slaap, hoe meer ouens gaan kom ‘rugby’ speel in jou tuin en als kom opneuk. Nadat hulle lekker gespeel het en moeg is, gaan hulle nie daar bly en jou help om al die plantjies weer water te gee en te help groei nie. Nee, my maat, hulle gaan na die volgende mooi tuin toe gaan wat nog heel is en waar die blommetjies nog groei. Dis hoekom jy mooi moet kies wie jy toelaat om jou sacred garden te betree en saam jou te geniet. Dit is hoekom jy verkieslik ook moet wag tot jy die liefde van jou lewe ontmoet het, sodat net hy jou tuin saam jou kan geniet. Dis hoekom jy iemand moet kry wat nie net wil rugby speel in jou tuin nie, maar jou inderdaad wil help om die blommetjies in jou tuin water te gee en dit op te pas; jou dus respekteer en met liefde en bewondering hanteer.

Ouens gaan jou die maan en sterre belowe om jou in die bed te kry. Ek was al deur daai stadium waar seuns nie hulle hormone in toom kan hou nie. Moenie geflous word wanneer hulle se hulle sal môre nog van jou hou nie, of hulle sal vir niemand gaan sê nie. Dit is twak man. Jy kan ook nie van ’n seun op hoërskool verwag om jou die maan en sterre te belowe nie, want hy het nog baie om te leer en te groei en ek sê nou vir jou, ’n man ontwikkel gewoonlik baie later as ’n vrou; hulle is lucky as hulle op 25 al ’n bietjie uitge-figure het waarvan hulle hou en met wie hulle wil trou. Moenie vir daai praatjies val nie.

Jy verdien meer. Wag vir die man wat jou gaan liefhê en wat jou gaan wil hê ná hy deur sy grootword-skandale gegaan het. Wees die meisie wat almal sal wil hê nadat hulle al die ander maklike meisies gehad het; die vrou van hulle lewe, die koningin van hulle kasteel. Jy wil nie die meisie wees wat rondslaap nie. Jy is meer werd as dit. Seuns sal vir almal vertel jy het saam met hulle geslaap. Dis wat hulle op skool doen; hulle gaan by mekaar spog om te kyk wie het al saam die meeste meisies geslaap en watter meisie is die maklikste. Moet asseblief nie daardie meisie wees nie. Jy het die reg om nee te sê. Dit is JOU lyf.

*Lees hier wat Leandie oor dié boek te sê het & hou SARIE.com dop vir nog ’n uittreksel uit Gemaklik in jou eie lyf

Die boek word deur Random Struik uitgegee en is ook beskikbaar in Engels.