FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Boer teen Brit in roerende familiesage

Tydens die Anglo-Boereoorlog het Boer teen Brit te staan gekom, dikwels in bloedige gevegte tot die dood.

In Joyce Kotzè se familiesage, The Runaway Horses (Jonathan Ball, R260) is dit nie net ’n geval van Boer teen Brit nie, maar neef teen neef. Martin De Winter word ’n generaal in die Boere Kommando en moet veg teen sy neef, James Henderson wat ’n kaptein in die Britse weermag is. Maar eers ontvou die volledige verhaal van die twee families van die neefs se kinderdae af en hoe daar eintlik baie hegte bande tussen die neefs, asook die res van die uitgebreide families is.
Kotzè grond die verhaal op die geskiedkundige gebeure in die aanloop tot die Anglo-Boereoorlog en skets verder ’n oortuigende prentjie van lewe op kommando, sowel as die bloedige veldslae en die haglike omstandighede in die konsentrasiekampe. Fiksie word vernuftig verweef met geskiedkundige gebeure en die verhaal boei van die begin af. Dis gekompliseerde familieverhoudings, en juis dit het my aan die lees gehou.
Martin se suster, Stefanie is een van die karakters wat die meeste ontwikkel tydens die verhaal. Sy is ’n ware sosiale vlinder, en trou boonop met iemand wat die Boere glad nie goedgesind is nie. Wanneer sy dit agterkom, begin sy met ’n gevaarlike dubbele lewe en bly in haar ongelukkige huwelik om haar mense te help in ’n genadelose oorlog. Dan is daar boonop die intrige rondom Martin se jonger tweelingbroers, wat sorg vir ’n kinkel in die broers se onderskeie liefdesverhoudings.
Vir my, wat uit ’n familie kom met ’n soortgelyke geskiedenis as die De Winters s’n, was dit ’n fassinerende verhaal. As jy van geskiedkundige familieverhale hou, is hierdie ’n boek wat jy moet lees.

Ek het per e-pos met Joyce Kotzé gesels.
Runaway Horses cover

Waarom het jy nou eers begin skryf?
Lees is my passie, toe word die leser die skrywer. Die tyd was reg, want ek het genoeg gelewe om eerlik te skryf.

Wou jy nog altyd geskryf het?
Ek het nie ambisies gehad om ’n skrywer te wees nie. Dit het vanself gebeur.

Hoe lank het dit jou geneem om The Runaway Horses te skryf?
Navorsing ingesluit, 3-4 jaar. Die storie was dubbeld die lengte. Ek het dit opsy gesit en nie weer daarna gekyk vir jare nie, want ek was besig met navorsing oor die Eerste Wêreldoorlog. Vier jaar gelede het ek The Runaway Horses afgestof en dit verwerk tot die huidige vorm.

Waarom is die boek in Engels?
Die meerderheid van Suid-Afrikaners en Namibiërs is meertalig. My lees-, skryf- en dinktaal is Engels. Ek vind Afrikaans ’n moeilike taal om in te skryf, asook Duits. My woorde vloei in Engels en 99% van die navorsing is in Engels.

Het jy ’n persoonlike konneksie met die Anglo-Boereoorlog?
My Ouma Becker was as ’n jong dogter in die Christiana-konsentrasiekamp. Sy het later getrou met Oupa wie in die Vrystaat geveg het. My Ouma Dixon was in die kamp op O’okiep, ’n kamp wat gestig was om die siviele mense teen Jan Smuts se kommando te beskerm. Haar pa en ooms het vir die Britte geveg.

Hoe het jy die navorsing aangepak, want al is die verhaal fiksie is dit stewig gegrond in feite?
Ek het alles moontlik oor dié tydperk en oor die historiese karakters gelees en na al die plekke gegaan wat in die boek beskryf is. Dit is altyd noodsaaklik vir my om alle historiese feite presies weer te gee.

Het jy die Hendersons en De Winters uitgedink, of het jy hulle op ware mense gebaseer? Nee, soos al die ander fiktiewe karakters is hulle ook net uitgedink.

Dis ’n interessante klomp karakters in die verhaal. Moes jy van die begin af ’n tipe stamboom vir elke familie opteken, om tred te hou?
Ek het begin met die twee stelle kinders en soos die storie aangegaan het, het meer karaters op die blad verskyn. Hopenlik help die Lys van Karakters voor in die boek om die lesers te help tred hou.

Waarom neef teen neef laat veg in die oorlog?
Hoekom nie? Dis wat gebeur in alle oorloë, veral die wat nou in die wêreld plaasvind. Families word gedwing om te veg volgens waar hulle gebore is of met wie hulle verbind is.

Die ontwikkeling van Stefanie se karakter van sosiale vlinder na iemand wat ’n daadwerklike bydrae lewer tot die voortbestaan van haar mense is baie oortuigend en interessant. Hoe het jy op die spesifieke storielyn besluit?
Net die historiese storielyn is vooraf geskryf. Wat die fiktiewe sy betref; ek het die karakters geskep en hulle hul gang laat gaan. Dit was interessant om te ervaar hoe hulle self besluit het wat om te doen. As dit van my afgehang het, sou ek Stefanie by ’n treinvenster uitgegooi het want sy was’n irriterende madam!

Wat was vir jou die belangrikste element wat jy in die verhaal wou oordra?
Geen boodskap. Ek wou net ’n goeie storie skryf wat die lesers se verbeelding sal boei.

Watter tipe boeke lees jy?
Ek lees baie wyd, maar verkies poësie en geskiedenis. Wat fiksie betref; ek lees soveel boeke as moontlik wat op die mark verskyn.

Het jy ’n gunstelingskrywer?
’n Lang lys!! Kontemporêre skrywers; Kazuo Ishiguro, Sebastian Barry, G G Màrques, Josè Saramago en Karel Schoeman. Stuart Cloete beïnvloed my skryfstyl.

Is jy besig met ’n nuwe boek?
Ja, ek skryf aan Beyond Forgiveness. 1910 – 1920. Die storie speel af in die Karoo en Frankryk en sluit die 1914-rebellie en die lot van die SA Infanterie Brigade in Delvillebos en België in. Ek werk stadig en is ongedissiplineerd, so moenie dit gou verwag nie.