Braam Louw deur Momento Photography

Braam Louw deur Momento Photography

Boeke

Braam Louw sou nie anders kies as hy sy lewe kan oorhê nie.

Al het Braam Louw ’n arm en ’n been verloor in die ongeluk waarin hy sy broer se lewe gered het, sal hy nie anders kies nie.

Sy lewe het 32 jaar gelede onherroeplik verander. In sy boek, It cost me an arm and a leg (Kwarts Publishers, R150), skryf hy oor die seevakansie en hoe dié fratsongeluk in 1984 gebeur het. Die een waarin hy sy regterarm en regterbeen verloor het … Braam, sy broer Niël en twee vriende wou die dag by Swartvlei gaan seil, ’n gewilde plek vir seilgeesdriftiges. Terwyl hulle die seilbootjie na die water gesleep het, het die mas aan oorhoofse spanningsdrade geraak en drie van die seuns is ernstig beseer deur 11 000 volt elektrisiteit. Braam was eers ongedeerd, maar het omgedraai om Niël te help en so sy lewe te red. Braam het daarna sy regterarm en -been verloor. Hy het later die Wolraad Woltemade toekenning vir dapperheid ontvang vir hierdie heldedaad. In die ongeluk het Niël sy linkerarm verloor en een van die vriende het sy regterarm verloor.

Braam vertel dat dit ’n wonderwerk is dat hulle nie dood is in die ongeluk nie. Die pad na herstel was lank en dit word in die diepste besonderhede in die boek gedeel vanuit Braam se persoonlike perspektief. Jy kan nie anders as om bewondering te hê vir sy durf en deursettingsvermoë om sy lewe so vinnig as moontlik na normaal te laat terugkeer nie. ’n Jong seun wat opnuut leer loop, leer fiets ry, wat vir homself die doel stel om motorfiets te kan ry, om weer aan sport deel te neem en weer die vryheid te voel van om te swem en te duik in die see. In die eerlike vertelling verduidelik hy hoe sy Christenskap en die ondersteuning van sy familie en vriende hom gehelp het om die lewe aan te durf en om elke uitdaging wat die lewe hom bied voluit aan te pak, as ’n deelnemer en nie as iemand wat op die kantlyn sit nie.

“As iemand vir my vra wat as ek more my arm en been kan terugkry, sal ek waarskynlik vir hom sê ek wil dit nie terughê nie. Dit sal vir my vreemd wees om dit terug te hê. Ek dink ek sal miskien die aandag mis, soos as ek op die strand stap en niemand staar my aan nie. Dis ’n vreemde sameloop van omstandighede om jou te neem waar jy moet wees in jou lewe,” verduidelik hy, terwyl hy my stip in die oë kyk. Hy lag maklik en is gemaklik en kalm wanneer hy praat oor wat alles gebeur het in die jare sedert daardie seevakansie.

Hy het berus daarby, want slegte goed gebeur nie in jou lewe om jou te straf nie. “Dit gebeur nie met jou om vir jou ’n toets te wees nie, maar ek glo dit word soms toegelaat, om jou te skool en sterker te maak vir wat gaan kom. Om jou op ’n ander pad te plaas. Ek is emosioneel ’n ryper mens as voor die ongeluk. Ek was ’n kind toe die ongeluk gebeur het, maar die groeiproses was meer radikaal in die jare daarna, as wat dit sou wees as die ongeluk nie gebeur het nie.”

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Waarom wou jy juis nou, soveel jare ná die ongeluk, die boek skryf?
Ek was die laaste jare besig met my beroep, maar so paar jaar gelede het ek besef ek wil graag my belewenis van die ongeluk en hoe ek dit ervaar het op skrif stel. Al was dit net vir die familie, sodat die kleinkinders eendag kan sê “my oupa het ’n arm en ’n been verloor in ’n ongeluk in 1984”, dan was dit iets. In al die jare waar ek en Niël gekom het, wou mense weet of ons dié twee outjies was wat in daai ongeluk was? Hulle wou weet wat ons doen, en waarmee ons besig is vandag. Daardie tyd was ons op vakansie en was op pad om te gaan seil; ons het nie ’n gevaarlike situasie aangedurf nie. Ek dink dis juis dit wat die publiek se hart aangegryp het. Die mediadekking was in daardie tyd redelik beperk, uit die aard van die saak was dit voor selfone. Maar daar was stories oor ons in koerante en tydskrifte. En daar was ook ’n dokumentêre rolprent, ’n Afspraak by die see. ’n Filmspan het ons gevolg vir omtrent so ’n jaar ná ons ongeluk, van die tyd in die hospitaal af, tydens die aanpassing, terug skool toe, alles … Hulle het ’n hele paar honderd ure se beeldmateriaal gehad wat hulle moes indruk in ’n program van 45 minute.

Julle was bitter jonk toe die ongeluk gebeur het. Hoe was daardie media aandag?
Niël is ’n jaar en 9 maande ouer as ek. Ek was 15. Ons het gefokus daarop om fisies aan te pas en vrede te maak dat ons ledemate verloor het. Net ná ons uit intensief is, het mense van verskillende koerante en tydskrifte ons kom sien. Ek onthou dat daar in van die berigte foute was rakende die omstandighede van die ongeluk. Party het gesê ons het die boot oor die pad getrek; ander het gesê ons was onwettig op daai plek. Dis ’n algemene plek wat oop was vir die publiek. Hulle het my en Niël se name omgeruil op foto’s.  Dit was nogal frustrerend, maar die ander kant, die media teenwoordigheid, veral toe ons afgeneem is vir omtrent ’n hele jaar, het ons amper gewoond gemaak aan die belangstelling van die publiek. Aan die soms irriterende staar van mense, maar dit het so deel van ons lewens geraak. Ons is onmiddellik blootgestel aan openbare reaksie omdat ons ledemate verloor het.

Was dit moeilik om jou lewe chronologies deur te werk om die boek te skryf?
Dit was, maar dit was ook ’n groeiproses, ’n gesond maak-proses. Dit het ’n paar jaar gevat om dit klaar te skryf. Ek het geskryf en dan het ek weer van vooraf begin. In die proses moes ek my indink in hoe ek op daardie stadium gevoel het; wat was my emosionele ervarings. Die dele waaroor dit moeilik is om te praat, is mens se emosionele ervarings en omstandigheid. Ons mans is cowboys, ons moet taai wees – ’n “cowboys don’t cry”-situasie. Ek is ’n softie aan die een kant, maar aan die ander kant is ek ’n vegter. Ek kan fisiese pyn hanteer, maar ek is ook ’n emosionele weerlose mens. Ek het dit swaar gevind in die begin om my in te dink in die fyn detail van die ongeluk, om dit te kan weergee. Ek het ’n traan of twee afgevee as ek die goed moes skryf. Maar dit was vir my goed om dit te doen. Die boek is Braam Louw se ervaring van die ongeluk, nie wat die media sê of wat almal vertel het nie. Dis my reis van kind tot grootmens.

Jy skryf met ’n baie positiewe aanslag. Is jy van nature ’n positiewe mens?
Ek glo wie en wat mens is is ’n kombinasie van ’n paar goed. Die een is aangebore genetiese eienskappe waarmee jy sekere trauma in jou lewe kan hanteer. Die ander ding is familiebande, ondersteuning van familie is op sigself ’n groot aandeel in hoe jy goed ervaar en hoe aanpasbaar jy is en hoe fisies en emosioneel sterk jy aan die ander kant gaan uitkom as jy deur ’n situasie gaan. As mens in isolasie deur ’n proses was, sou jy waarskynlik anders daar uitgekom het.

Het die ongeluk jou en Niël nader aan mekaar gebring?
Ja. Ons was as kinders groot maats en het baie saam gespeel. Mense het my ook al baie gevra oor die heldedaad om my broer se lewe te red. Vandag, welwetende wat gebeur het, sou ek dit duisend keer weer doen. Dit was ’n instinktiewe ding en broederliefde.  Ek het nie eintlik gedink watter gevare dit inhou nie. Omdat ons elk ’n arm verloor het en moes aanpas in die lewe het daar ’n ander tipe band tussen ons tot stand gekom. Hy het sy linkerarm en ek my regterarm verloor. Ons was altwee regs. Hy is baie kunstig en tot ’n mate is dit vir my ’n seëning dat hy die linkerarm verloor het en nie van vooraf moes leer skilder met ’n verkeerde arm nie. Skryf is ’n probleem. Dis steeds vir my vreemd om ’n pen te stoot en nie te trek nie. Dit voel net nie reg nie. My kop werk steeds regsom. Alhoewel ek aangepas het en tennis en muurbal speel met die linkerhand, maar fyner dinge soos ’n potloodskets sou baie moeiliker wees. Niël is my ouer broer, iemand om na op te kyk.

Die tienerfase is baie moeilik, selfs sonder dat mens deur trauma hoef te gaan. Was dit ’n skok om terug te gaan skool toe?
Definitief. Ek wil nooit die ongeluksituasie verromantiseer nie. Dit was moeilik. Dit was ’n harde pad. Ek glo nie dat mens se Christenskap jou vrywaar van pyn en lyding nie. Christenskap is ’n hanteringsmeganisme en dit gee sin aan wat gebeur het. Maar dit beteken nie as ’n jong seun, ek gaan terug skool toe en alles is okei nie. Ek het in die begin baie getwyfel oor meisies. Hoe sal ’n meisie voel oor ’n ou wat ’n arm en ’n been verloor het. Gaan ek anders hanteer word? Gaan ek harder moet baklei en harder impress om ’n meisie te kry? Dit het amper ’n toetsmeganisme geraak: as ’n meisie nie ingestel is net op die fisiese nie, was dit vir my ’n waterskeidingsmetode om te sien wie is regtig die moeite werd en wie is nie.  Ek het nie te kort gehad aan meisies nie. Ek het agtergekom ’n meisie se kop werk anders as ’n ou s’n. Ouens is meer ingestel daarop dat ’n meisie mooi moet wees, sy moet alles hê wat ’n girl moet hê. Dis moeilik om dit in my kop om te swaai, sou ek ’n meisie date met een arm en een been? Ek sal waarskynlik, maar ek kan my nie daarin indink nie. My vrou sien my glad nie as iemand met een arm en een been nie. Sy sal vir my twee glase aangee en ek sal haar daarop wys ek kan net een op ’n slag hanteer. Ek is nie vir haar ’n mindere nie. Ek is vir haar meer man en meer mens as enigeen wat sy ken. Man wees gaan nie oor hoeveel ledemate jy het nie.

Ek was verstom om te lees hoe jy weer leer loop het, en toe fiets leer ry het en daarna motorfiets.
Ek is ’n vegter en ’n gladiator. Dit het die verskil gemaak dat ek is waar ek vandag is. Ons liggaamlike oefeningonderwyser het ná ek terug is skool toe vir my gesê ek hoef nie alles te doen nie. Ek het vir hom gesê dat ek alles wil saam doen. Ek wou nie uitgeskuif word en op die kantlyn sit nie. Ek is nie ’n kantlyn-mens nie. Ek is ’n deelnemer. Al het ek gesukkel om sekere goed te doen, wou ek ten minste probeer om dit te doen. Ek wou dinge druk sover ek kon. Ek het baie kunsbene so gebreek, maar ek wou so gou as moontlik so normaal as moontlik aanpas. Dit was nooit ’n kwessie dat ek eers aan my amputasie moet werk om te doen wat ek wil doen nie. Ek doen dit net.

Was dit vir julle belangrik om terug te gaan na Swartvlei waar die ongeluk gebeur het?
Dit was ’n mate van afsluiting. Dis soos wanneer jy van ’n perd afval, dan moet jy dadelik opklim en weer ry. Ons vier outjies moes soontoe gaan en doen wat ons graag wou doen daardie dag, om te gaan seil. Dit was ’n vreemde ervaring. Dit was emosioneel, maar ook gerusstellend en gemaklik – die feit dat ons kan seil en dat ons okei is.

Wat wil jy hê moet mense leer uit jou boek?
Mense moet hul trauma in perspektief sien. Ons as mense is geneig om baie korttermyn te dink. Ons sien die probleem nou raak en ons dink nie aan waarheen dit kan gaan nie. Ons gee altyd die skuld vir die probleem vir iemand, vir God, vir die land, vir die ekonomie … Ek glo my boek gaan nie net ouens met amputasies help nie. Enigeen wat trauma beleef het, kan uit die boek hulp kry. As ek die boek geskryf het ’n jaar of twee ná die ongeluk, kon mense sê dat ek die pad nog moet stap. Maar ek het die pad gestap en ek het die toets geslaag.