braam_malherbe
Boeke

5 Boekminute met Braam Malherbe

In my kop was Braam Malherbe lank, groot en vors. Toe nie! Met ons ontmoeting sien ek hy is medium-lengte, atleties gebou met blonde hare en ‘n oop gesig. Hy het daai buitelug-look en herinner my so bietjie aan die advertensies lank gelede van ‘n bekende sigaretmaatskappy se avonturier wat die bosse ingevaar het met sy Landie. Behalwe, hierdie avonturier kyk jou direk in die oë (en ek twyfel of hy ooit sal rook, het vergeet om te vra). En hy skroom nie om te praat oor die rede waarom hy sy liggaam deur absolute hel sit om ‘n verskil aan die stand van die natuur wêreldwyd te maak nie.
Braam is deesdae ‘n motiveringspreker en ‘n mede-aanbieder van die TV-program 50/50 waar hy ‘n insetsel, “Get Connected with Braam” doen. Maar dit het alles gekom na hy en sy hardloopmaat, David Grier, die lengte van die Muur van China gehardloop het van 24 Augustus 2006 tot 15 September 2006 – iets wat as onmoontlik beskryf is deur almal wat van hul planne gehoor het. Vir die projek om te slaag, moes hulle elke dag vir 17 weke ‘n marathon se afstand aflê op ‘n ongelyke oppervlak – sonder om beserings op te doen. In sy boek, The Great Run (Sunbird Publishers, R165) beskryf hy die avontuur wat sy lewe verander het.

Na die hardloop moes Braam ‘n operasie aan sy knie kry en dokters het gesê hy sal nooit weer hardloop nie. Hy het hulle verkeerd bewys en is weer terug in sy hardloopskoene en het hy in 2008 saam met David Grier reeds 3 500 km van Oranjemund in Namibië via Kaapstad tot by Ponto d’Oro in Mosambiek gehardloop ten bate van Operation Smile South Africa. En om alles te kroon is hy besig om te beplan aan ‘n volgende projek wat net soveel eise aan sy liggaam en gees gaan stel. Ek het met hom gesels oor sy ervaringe in China en die dinge wat hy in sy boek beskryf.

Jy het drie jaar aan die projek beplan, sodat alles vlot kon verloop. Deel daarvan was om reëlings te tref dat jou seun, Benjamin, deur iemand anders versorg sal word sou iets met jou gebeur tydens die projek. Hoe moeilik was dit?
Ek het nou nie meer net ‘n werk nie – ek het passie en ‘n beroep. Mens moet altyd jou passie volg, dan sal die geld ook kom. Ek het vroeër net werk nagejaag en toe verloor ek omtrent alles. Maar ja, toe begin ek werk aan die projek en ek het weer ‘n doel en ‘n passie. Dit was moeilik om ‘n kind agter te laat. Benjamin was toe maar 17 jaar. As ek nou terugkyk, besef ek hoe onsensitief ek teenoor Benjamin se behoeftes gestaan het. Daardie tyd het hy sy beste vriend, Lloyd, aan die dood afgestaan, hy was aan sy vriend se sy toe hy gesterf het. En vir my om na Lloyd se pa, Ian MacPherson, te gaan en te vra of hy na Benjamin sal omsien sou ek my lewe verloor in China – dit was moeilik. Ek bewonder my seun se vlak van volwassenheid, want op sy stil manier het hy my en die projek ten volle ondersteun. Ek het verwag almal moet my droom waarop ek gefokus het, verstaan. Dit was onregverdig teenoor almal in my lewe. Toe ek uiteindelik in die vliegtuig was op pad na China en ek lees Benjamin se brief aan my – dit was net snot en trane. . . Ek wou net uitreik na hom.

Het jou ervaring julle nader aan mekaar gebring?
Ja, hy was baie trots op my. Ons praat baie openlik oor issues. Daar was ook ‘n moeilike sy aan ons verhouding, want baie mense het aan hom gesê dat wat ek vermag het, ‘n baie moeilike ding gaan wees om op te verbeter. Dit is baie onregverdig, om daardie verwagting op sy skouers te probeer lê. Ek spoor hom aan om sy eie droom na te jaag. Die enkele grootste doel is om jouself lief te hê en om ‘n goeie selfbeeld te hê. Benjamin is nou ‘n jong man en hy gaan eersdaags die Camino stap – ‘n pelgrimstog om op sy eie unieke manier sy droom na te volg.

Jy kon fisiek voorberei vir die projek, maar hoe berei jy jouself emosioneel voor vir die realiteit om elke dag vir vier maande ‘n marathon te hardloop?
Die enigste manier om dit te oorleef is om die groot teiken op te deel in klein verteerbare deeltjies. Om die lengte van die muur van China (4 218 km) te hardloop moet mens met die einddoel in sig begin. My voornemens van die begin af sentreer op die geestelike sy en ook dat die projek gekoppel is aan ‘n liefdadigheidsorganisasie. Dit het my ‘n doel gegee. Ek kon nie op die einddoel fokus nie, eers was my fokus op die rusdag, en dan net om te oorleef tot aandete. En as dit te ver lyk, dan fokus ek om dit tot middagete te maak. In die Gobi-woestyn het ek van toring na toring gekyk om die hardloop verteerbaar te maak. Dit is noodsaaklik om terug te sit en die tyd te maak om oor mens se drome te dink. Jy moet dink aan môre. Op my rusdae het ‘n groot gedeelte van my dag gegaan om te herfokus waarom ek die projek aangepak het: Omdat dit ‘n wêreld-eerste was, omdat dit my lewe sou verander en omdat dit die lewens van soveel kinders sou verander, wat baat sou vind by operasies met die geld wat ons deur die projek insamel. Hierdie refleksie is vir my baie belangrik. Dis amper asof ek van buite myself neerkyk op myself om te sien waarheen ek op pad is.

Julle het ‘n paar kere baie noue ontkomings gehad, bv. die stofstorm in die woestyn en toe jy in die modder ingesuig is . . . Hoe voel dit om die dood soveel kere in die oë te gestaar het en te besef jy het oorleef?
Dis een van die redes waarom ek so baie oor my Pa in die boek skryf. Sy dood was die eerste keer dat ek die dood letterlik in die gesig gestaar het – toe my Pa op sy sterfbed was, was ek gekonfronteer met die realiteit van die dood. Ek het besef daar was dinge wat nog nie opgelos is tussen ons nie en dat ek nooit weer die geleentheid gaan hê om dit op te los nie. Maar dis die realiteit van die lewe. In die woestyn was dit ‘n ander soort dood wat ek in die gesig gestaar het. Ek het besef ek wou bly leef. As mens so naby aan die dood beweeg, besef jy eers regtig hoeveel jy het waarvoor jy wil leef en hoe graag jy wil oorleef. Daar was Benjamin en al die ander geliefdes in my lewe.
Daar was ook ‘n stukkie in myself wat my oortuig het dit was nog nie my tyd om dood te gaan nie, want ek het nog ‘n doel gehad om met my lewe te bereik. As ek terugkyk op my ervaring in China kan ek sien wat dit my gebied het – dit het deure vir my oopgemaak. As jy as gewone mens iets so groots aanpak, dan doen jy dit, want ander mense leer daardeur. Ek wou eerstens aan myself bewys ek kon ‘n sukses daarvan maak, maar ek moet bieg, dit sou baie moeiliker vir my gewees het om die projek te voltooi as ek my nie aan Operation Smile South Africa verbind het nie. Daar is iets baie bevredigends daarin dat die kinders wat baat vind deur die projek nie eers weet wie ek is nie. Wanneer ek by skole gaan praat, is dit ‘n ander saak en doen mens dit nie anoniem nie. Dan wil ek juis kinders uitdaag om iets daadwerkliks te doen om ‘n bydrae tot die planeet te lewer.

Hoe het jou vriendskap met David Grier die uitdagings van hierdie projek oorleef?
China het my geleer om vriendskappe te waardeer. Ek en David het ruimte van mekaar nodig gehad na afloop van die projek. Ek het baie gedink oor vriendskap en óns vriendskap in die tye wanneer ek alleen was. Ons het ‘n ongelooflike reis saam gehad met fisiek en emosionele uitdagings. Maar ons reis kan nou soos volg verduidelik word: As jy ‘n bergpad stap, kan jy kies om die kontoerpad te stap of jy kan kies om die steil kransroete te volg. Dit is twee verskillende roetes, maar bring mens uiteindelik by dieselfde bestemming uit. Ons twee stap elkeen nou ‘n aparte pad. Ek heg waarde aan David se vriendskap en ons het kontak, maar ons doen ons eie dinge.

Hoe belangrik was jou ondersteuningspan in China en die ondersteuning vanuit Suid-Afrika tydens die projek?
Dit was baie belangrik vir my om met elkeen van die spanlede in China ‘n gesonde verhouding op te bou. Ek het ‘n punt gemaak om elkeen beter te leer ken, ten spyte van die hindernis wat taal aan ons gestel het. Hulle was die sleutel tot die sukses van die projek en dit was vir my belangrik dat elkeen van hulle besef hoe belangrik hulle bydrae vir my is en wat dit vir my beteken. Dit was ongelooflik hoeveel ondersteuning ek van hulle gekry het, omdat hulle van my gehou het en omdat ek van hulle gehou het. Die ondersteuning van die huis af was ook ontsettend belangrik. Ek het probeer om met Benjamin te praat wanneer ek kon, natuurlik afhangende of daar selfoon-opvangs was of nie. Ek het ook teksboodskappe gestuur, wanneer ek kon. Dit het my geanker en het my minder alleen laat voel. Ek het ook baie ondersteuning van die blogs af gekry en so ook nuwe vriende gemaak.

Ek verstaan jy is reeds besig om jou volgende projek, die Earth Challenge, te beplan. Vertel meer.
Die projek het sy ontstaan in China en is versterk deur die Coastal Challenge. Wanneer ek met vissermanne praat, vertel hulle hoe uitgeput die visbronne is en ek hoor konstant van die verslegting van lewensbronne. Terwyl dit alles goed en wel is om vir kinders ‘n glimlag te gee, gaan daar oor ‘n paar jaar bitter min oor wees vir daardie einste kinders om oor te glimlag as ons nie radikale aanpassings maak in hoe ons ons planeet bestuur nie. My angst is om dinge reg te maak em my motto vir Earth Challenge is: “One earth, One home, One responsibility.” Dis ‘n dapper uitdaging, want ons sal geografiese grense moet afbreek. Ons moet fokus op die benarde toestand van die planeet. Earth Challenge vir my is om almal te wys dat ons eintlik in ‘n global village woon en dat ons almal met mekaar verbind is. As ons aanhou om menseregte eerste te stel voor dié van die natuur, gaan ons ons langtermyn-oorlewing in gevaar stel. Ons is nou in die beplanningsfase van Earth Challenge en beoog om die projek teen die einde van 2012 te loods. Ek wil ‘n kritiese massa van ‘n biljoen mense skep om een ding te doen – dit is hoe ons die wêreld kan verander.

  • http://qhqutlxifsrv.com/ xwjesxhagl

    bfeHhm sduvzyxdofpc, [url=http://wrmpswyfcbbc.com/]wrmpswyfcbbc[/url], [link=http://ochqdkemmtim.com/]ochqdkemmtim[/link], http://sicsuvucxprb.com/