FOTO verskaf

Boeke

Bruce Springsteen stoei elke dag met depressie

Vir Bruce Springsteen is depressie die demoon wat hy op ’n daaglikse grondslag opnuut moet pak. Wanneer hy dit die minste verwag, konfronteer dié duiwel hom weer.

Só vertel die ikoniese rock-ster in sy outobiografie, Born to Run (Simon & Schuster UK, R350), waarin hy openlik oor sy stryd met depressie skryf. Die siekte was nog altyd deel van sy lewe, maar deur sy musiek, optredes, werk en medikasie kon hy dit beheer. Toe word hy sestig, ’n tydperk waarin hy gedink het hy gaan deur die lewe seil, want hy is suksesvol en sy kinders is uit die huis en suksesvol en onafhanklik. Hy en sy vrou, Patti, ook ’n sanger en liedjieskrywer, is gelukkig en tevrede met hoe hul loopbane en lewe verloop. En net daar steek daardie duiwel weer sy kop uit, maar hierdie keer laat hy nie los nie. Bruce se vrees was dat hy dieselfde pad as sy pa, wat uiteindelik graf toe is met ’n geestesongesteldheid, sal moet stap. Op ’n wêreldtoer, terwyl hy en Patti in Ierland was, was die stryd vir Bruce amper onuithoudbaar. “One night in Ireland Patti and I went to dinner with a group of people. I was doing my best to fake that I was a sane citizen. Under these conditions that can be hard to do. I had to leave the table somewhat regularly to let my mind off its leash (or keep it on).” Hy het besef dinge is heeltemal buite beheer en het sy dokter in Amerika gekontak wat vir hom medikasie kon voorskryf wat hom gehelp het om net weer balans terug te kry. Wat Bruce verder staande gehou het, is sy vrou, vertel hy. “Her love, compassion and assurance that I’d be all right were, during many dark hours, all I had to go on.”

Born to Run is een van die mees inspirerende lewensverhale wat ek al ooit gelees het. Ek kon dit nie neersit nie, want ek moes eenvoudig net weet wat in elke volgende hoofstuk in Springsteen se lewe gebeur het. Dit het hom sewe jaar geneem om hierdie boek te skryf, en dis so eerlik, onopgesmuk en vol emosie dat ’n mens nie anders kan as om betrokke te voel nie. Jy sien wie die man agter die rocker is, waar hy vandaan kom, hoe die mense in sy lewe (van die middelklas- en fabriekswerkers op sy tuisdorp tot familielede) die inspirasie vir sy liedjies was en watter demone in hom woed. Hy veg sy hele lewe al teen sy eie depressie en ook hieroor is hy brutaal eerlik, asook die geestesiektes in sy familie. Hy skryf ook hoe moeilik interpersoonlike verhoudings vir hom is en hoe hy eers laat in sy lewe sy geestesgenoot gevind het, hoe gelukkig hy is om ’n vrou te hê wat hom ruimte gee om net te kan wees … Wat staan vir my uit in sy loopbaan? Hoe hard en onverpoos hy gewerk het om ’n musikant te word, een wat gesorg het dat hy elke vaardigheid tot die beste van sy vermoë onder die knie kry; van kitaar speel en liedjies skryf tot klankopnames en konserte. Dis waarlik ’n uitmuntende boek wat my baie dieper insig in die lewe van ’n beroemde rocker gee, maar wat ook die private sy van ’n weerlose man weergee. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

The Age of Bowie, Paul Morley (Simon & Schuster UK, R315)
As jy na ’n konvensionele biografie oor David Bowie soek, hou verby. Hierdie boek is allermins dit. Dis eerder Morley se ode aan hierdie kunstenaar en die werk wat hy in sy loopbaan geskep het. Morley is obsessief oor die musikant van die eerste dag af wat hy kennis gemaak het met Davie Jones, oftewel David Bowie. Vir hom gaan dit oor meer as net die mens, en hy dokumenteer in diepte elke stap van dié ikoniese kunstenaar se vordering van ’n maer, onbeduidende musikant tot die wêreldster wat hy geword het. Daar is geen struktuur aan die boek nie en jy moet deurdruk as jy by die vleis wil uitkom. Dit kan ’n frustrerende leeservaring raak as jy soek na hoofstukke wat chronologies volgens iemand se lewe aangebied word. Jy gaan lees oor elke platekontrak, elke mens wat ’n invloed gehad het op hoe Bowie sy werk aangepas en gevorm het, niks word weggelaat nie. Maar wees gerus, ná die lees daarvan weet jy deeglik en in die diepste besonderhede hoe uniek die enigmatiese Bowie was in hoe hy sy musiekloopbaan bestuur het om die wêreldfenomeen te wees wat hy is. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

My Son’s Not Rainman, John Williams (Michael O’Mara UK, R195)
Dis moeilik om hierdie boek te beskryf en daardeur tot sy reg te laat kom. Ek gaan probeer. John Williams is ’n Britse grapmaker. Sy seun is outisties, en dis basies waaroor dié boek gaan. Oor hul lewe saam, oor die pad wat Williams gestap het sedert die geboorte van sy seun. Hy identifiseer hom net as “the Boy”, want dis hoe sy seun bekend wil staan. Die boek is geskoei op ’n blog wat Williams skryf, juis om ’n beter bewustheid te probeer skep rondom die onverklaarbare toestand van outisme. Mens sou dink dit sal hartseer wees om te lees hoe dit Williams se hart uitmekaar geskeur het toe sy seun ná jare eers met outisme gediagnoseer is, en nog veel later met serebrale gestremdheid. Dis egter ’n warm, emosionele, dikwels snaakse vertelling wat jou hul lewe deur hul eie oë laat sien. Williams delf nie in die mediese sy van sake nie, vir hom gaan dit oor die menslike sy van dié onverklaarbare siekte en hoe dit sy seun se verhouding met mense bepaal. Beslis ’n boek wat mens by bly. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Mademoiselle Chanel, C.W. Gortner (Harper Collins, R290)
Die skrywer van die boek is ’n selferkende bewonderaar van die ikoniese ontwerper Coco Chanel. In die fiktiewe verhaal, gegrond op stewige navorsing en biografiese inligting, vertel hy haar lewensverhaal. Hy plaas Chanel in ’n geskiedkundige konteks, sy het immers twee oorloë oorleef, en hoe sy haar sakeryk van die grond af opgebou het. Wat baie duidelik is uit sy weergawe is dat haar sukses nie sonder harde werk en haar persoonlike toewyding gekom het nie. Sy was betrokke by elke aspek van haar besigheid. Ek het nie besef dat sy haar lewe as ontwerper begin het as ’n hoedemaker nie. Sy het vroue se behoefte aan eenvoudiger en gemakliker, maar steeds elegante, uitrustings raakgesien. Dit het haar visie gevorm vir hoe sy uitrustings ontwerp het, prakties, maar steeds mooi. Tenspyte van haar sukses lyk dit of sy in haar persoonlike lewe nooit werklik ware geluk kon vind nie. Haar vele liefdesverhoudings het nooit tot ’n gelukkige huwelik gelei nie. Al wat dit gedoen het, was om haar aan te spoor om nog harder te bou aan haar sakeryk. Gortner skets ’n boeiende prentjie van ’n vrou wie se erflating vandag nog ’n beduidende rol in die modewêreld speel. Sy het vroue se lewens verryk met die visie wat sy in haar ontwerpe weerspieël het. En wie kan ooit haar ikoniese parfuum, Chanel No. 5, vergeet! – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

The Secret Diary of Hendrik Groen, 83 ¼ Years Old, Hendrik Groen (Penguin, R250)
Almal van ons gaan Hendrik Groen se pad loop. Oudword ontsien niemand nie. In hierdie snaakse, tragiese en soms hartverskeurende dagboek gee hy ’n dag vir dag weergawe van sy lewe in die ouetehuis waar hy woon. Sy pittige beskrywings van sy vriende is uiters gevat en hy skets ’n empatiese prentjie van hoe dit regtig voel om oud te word en in ’n ouetehuis versorg te word. Hy draai geen doekies om oor die inkontinensie en die demensie van vriende nie. Hy skryf kaalvuis oor die degenerasie van die liggaam en gees soos wat mens ouer word. Tog is dit nie ’n morbiede boek nie. Daar is baie ligte oomblikke soos wanneer hy en sy beste vriende die “Old but Not Dead Club” stig. Dit blaas nuwe lewe in hul almal se bestaan en maak dat die ander inwoners afgunstig raak teenoor die groepie vriende wat ooglopend gelukkig lyk en pret het in hul klub. Wat mens uit sy dagboek leer, is dat die lewe daar is om te lewe, om lief te hê en dat jy die reëls maar mag breek – maak nie saak hoe oud jy is nie. Ek het my ingeleef in Hendrik en sy vriende se lewens en as jy hou van stories wat jou roer, is hierdie boek vir jou. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Not without a fight, Helen Zille (Penguin Books, R380)
Daar kan nie ’n beter titel vir Helen Zille se outobiografie wees nie. Dié ystervrou van Suid-Afrikaanse politiek moes hard baklei vir elke stappie wat sy geneem het om die Demokratiese Alliansie uiteindelik as die amptelike opposisie in Suid-Afrika te vestig. Haar stryd begin egter lank voor ons haar as die gedugte (dog dansende) politikus leer ken het.

As die dogter van Joodse immigrante ouers wat voor die Tweede Wêreldoorlog uit Nazi Duitsland gevlug het, was Helen Zille se jongdae nie altyd maanskyn en rose nie. Haar stryd met ’n eetversteuring en die liefde wat haar landuit wou neem het haar byna vir Suid-Afrika verlore sien gaan.

Tipies Zille, die onverskrokke joernalis van weleer, draai sy nie doekies om wanneer sy oor haar oor haar eie foute en mislukkings skryf nie. Maar dis die politieke rugstekery – dikwels vanuit haar eie party – wat die leser by tye sonder woorde sal laat. Agter die skerms konkel ’n verregse Afrikaner met ’n korrupte Zoeloe en ’n Kaapse gangster probeer sy bes om Zille se DA in die Wes-Kaap te laat faal. Gelukkig is daar altyd die nuusdraers en so bly ’n geheim nooit lank ’n geheim nie.

Zille is ’n briljante skrywer wat die verraad en grootheidswaan en eie gewin van politici na net nog ’n dag op kantoor laat klink. – Susan Puren

 

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Switched at Birth, Jessica Pitchford (Jonathan Ball, R220)
Dis die ondenkbare, maar dit gebeur waarskynlik meer dikwels as wat mens van hoor: babas wat in ’n hospitaal omgeruil word.

Byna dertig jaar gelede is dit wat Megs Clinton-Parker en Sandy Dawkins getref het. Hul seuntjies Robin Dawkins en Gavin Clinton-Parker is omgeruil en het by die verkeerde ma beland. Toe die vroue twee jaar later die waarheid uitvind, het hulle besluit om die “verkeerde” seuntjie – wat toe reeds diep in hul harte gekruip het – te hou en die Staat vir nalatigheid te dagvaar.

In die jare daarna moes Megs en Sandy hartverskeurende keuses maak en hul aangrypende verhaal word in hierdie boek vertel. Die skrywer neem die leser tot diep in die intieme binnekring van die twee gesinne. Hulle woon in verskillende dele van die land, maar vestig ’n vreemde verhouding. Hulle bring vakansie saam deur, maak saam ’n televisieprogram en probeer iets behou wat eintlik reeds verlore is.

Intussen leef Robin en Gavin mekaar se lewens en dis nie maklik nie. Op die ouderdom van 15 besluit Robin om sy geboortereg te eis en so word die stituasie verder gekompliseer. Veral wanneer een van die seuns se pa ook deel van die gebeure word. – Susan Puren

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

I’m the girl who was raped, Michelle Hattingh (Modjaji Books, R200)
Michelle Hattingh was ’n student by die Universiteit van Kaapstad wat verkragting as onderwerp vir die tesis vir haar Honneursgraad in Sielkunde gekies het. Tydens haar tesisvoorlegging het sy begin deur te sê dat vrouens in Suid-Afrika ’n groter kans het om verkrag te word as om te leer lees. Ironies genoeg, op dieselfde dag wat sy haar graad ontvang, word sy en ’n vriendin op die strand aangeval, beroof en verkrag.

In hierdie boek vertel Michelle haar storie; van die skok en ontnugtering oor wat met haar gebeur het, hoe sy behandel is deur die polisie, mediese personeel, familie en vriende daarna en hoe sy weer met haar eie lewe moes aangaan in ’n tyd toe die wêreld soos sy dit ken vir altyd verander het.

Haar vertelling is eerlik, hartroerend en baie insiggewend. – Danica Gouws

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Om Hennie Aucamp te onthou, Danie Botha (Protea Boekhuis, R150)
Hennie Aucamp is op 21 Maart 2014, twee maande ná sy 80ste verjaardag, oorlede. Hennie was bekend vir sy kortprosa, kabarettekste, gedigte en kunskritiek. Op voorstel van Nicol Stassen het Danie Botha ’n herinneringsbundel oor die geliefde skrywer saamgestel. Die bundel bevat 18 bydraes van sy familie, vriende en medeskrywers wat verskillende fasette van sy lewe toelig. Bydraes deur sy familie sluit in die van sy kleinniggie Margaret Bakkes en haar seuns, Marius en Christiaan, self bekendes in die skrywerswêreld. Radiopersoonlikhede Monica Breed en Margot Luyt gee erkenning aan sy ondersteuning van radio- en verhoogwerk. Lina Spies vertel van hul jare in die akademie en vriendskap in Stellenbosch. Foto’s van sy kinderjare tot aan die einde van sy lewe, soos verskaf deur Philip de Vos en Marius Bakkes, dra by tot die herinneringe. Die geskakeerde vertellings, gedigte en foto’s bied ’n intieme blik op een van die werklike groot bydraers tot Afrikaanse literatuur. Danie Botha, die samesteller, was ’n vriend en ook die redakteur van sommige van Hennie se boeke en is self ’n bekende skrywer.  – Gert Venter

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Broedertwis, Albert Blake (Tafelberg, R240)
Generaal Christiaan de Wet word deur die meeste mense bewonder en onthou as die onverbiddelike bittereinder, die held van die Anglo-Boereoorlog, wat tot op die einde toe volhard het in die vryheidstryd. Minder gewild is sy jonger broer, Piet de Wet, wat onthou word as die joiner wat die wapen teen sy eie mense opgeneem het. Twee broers, lynreg teenoor mekaar, altwee ewe sterk in hul oortuigings. Blake probeer om die twee eiesoortige karakters te analiseer. Wat het die broers gemotiveer en watter rol het oorlogtrauma en hul vroue in hul keuses gespeel? Blake kies nie kant nie en laat die leser met die keuse om te besluit wie reg was. Christiaan, wat ten alle koste die vryheidstryd wou voer, of Piet wat ’n einde aan die smart van die oorlog wou bewerkstellig? Talle foto’s van die broers vorm deel van die boek. Blake is ook die skrywer van Boereverraaier wat onlangs in die rolprent Verraaiers omskep is. Hy is in 2014 met die Akademie vir Wetenskap en Kuns se Louis Hiemstra-prys vir niefiksie vereer. – Gert Venter