Boeke

5 Boekminute met Carina Stander

Die bundel volg op haar debuutbundel, Die vloedbos sal weer vlieg. Carina Stander skryf oor alles wat sy waarneem en ervaar. Indrukke van plekke waar sy gereis het, mense wat sy ontmoet het, die natuur en ook oor haar emosies. Phyllis Green het haar per e-pos meer uitgevra oor die nuwe klomp verse.

Wat het eerste gekom: die titel, woud van nege en negentig vlerke, of die kunswerk op die omslag?
Op dieselfde oomblik as wat die titel drie jaar gelede in my kop gespring het, het ek die prentjie van die voorblad in my verbeelding gesien. Ek het ‘n voorskets daarvan gemaak en dit geliasseer. Maar eers nadat ek al sewentig gedigte in die bundel klaar geskryf het, het ek die omslag geskilder.

Die boom op die voorblad is net ‘n geraamte, maar die drie vere wat daaraan hang, is die ene lig en lewe. Ook op die agterblad groei daar nuwe blaartjies uit ‘n voël se dooie takvlerke. Die boom is ‘n beeld van opstanding uit die dood (kreatiewe, emosionele en geestelike dood), omdat sade ontkiem en blare uitspruit selfs ná brande en droogte.

Die bundel is in ses afdelings ingedeel. Wat is die sentrale tema in elk?
Die eerste afdeling, “vlam onder die water” speel af op die vulkaaneilande van Hawaii, in Bolandse wingerde, langs die Kaapse kus, by Argentinië se 270 watervalle, in die Amatola en Kalifornië se woude. Hierdie gedigte is opgedra aan “die God van hemel en aarde.” Hy is die Vlerkman wat die verdwaaldes opsoek en terugneem na neste wat sterker is as die storms.

Die tweede afdeling, “vasteland, wankelland”, gaan oor Suid-Amerika en Afrika. Vastelande is nie vas nie – hulle wankel: die Brasiliaanse slawe dans vir vryheid. Suid-Afrikaners immigreer, maar verlang. ‘n Malawiese vrou met malaria versorg ander. Hierdie verse gaan oor hoop wat groter is as die hartverskeurende dinge in die wêreld. Die wonderwerk is soms groter as die wond.

Afdeling drie, “sondoop”, is gesprekke met vriendinne – van skoolmaatjies tot varsity-vriendinne – en met literêre voormense soos Ingrid Jonker en Leipoldt.

In die vierde afdeling, “wildernis”, besoek ek weer die plaas in die Waterberg waar ek opgegroei het en waar my ouers steeds boer. Ek skryf oor my ouers in ‘n tyd toe hulle so oud was soos wat ek nou is; oor hoe ek gebore is “uit die woorde van ‘n ma en die wildheid van ‘n pa”. Dit gaan oor my kinderherinnerige aan eenvoudige oorvloed en oorvloedige eenvoud.

Afdeling vyf, “palm-pas” is liefdesgedigte vir my reismaat en man. Dit gaan oor die ses maande wat ons in ‘n woudhuisie in die Skotse Hoogland gewoon het en oor ons saamwees in die Amasone-oerwoud. Dis verse oor eenwording, sensualiteit, bevrugting.

Die sesde afdeling, “die nege-maande-moeras”, gaan oor die wonderlike wagtyd toe ek swanger was met ons eersteling. Die moerasse, riviere en oseane in hierdie gedigte is ‘n ruimte vir swangerskap: In die donker waterwêreld broei ‘n geheimpie uit – ‘n onsigbare seuntjie. Die bundel eindig by ‘n nuwe begin: die geboorte.

Waarom vorm die spirituele ‘n kernmetafoor in baie van jou gedigte?
Die spirituele vloei soos ‘n onderaardse wateraar regdeur my lewe: Maak nie saak waaroor ek skryf nie, al die putte waaruit ek my water skep, word gevoed deur dieselfde Bron.

Die gedig, “om die grond te groet”, verwys na ‘n verknogtheid aan die vaderland, ‘n plek wat immer in jou bloed sal wees. Hoe voel jy oor jou vaderland?
Ek het daardie gedig geskryf ná ‘n gewelddadige inbraak in ons huis in Houtbaai waar my man vir dood agtergelaat is. Ons het dit destyds ernstig oorweeg om te emigreer, maar ook besef dat ons liefde vir die land ons sal agtervolg en al om ons “hakskeensenings snuif”. Mens laat die grond en die mense wat jou sien grootraak het nie sommerso agter nie. Ons is hartgrondig lief vir die land, maar dit beteken nie dat ons nooit, ooit hier sal weggaan nie.

Jy reis baie en skryf ook artikels vir tydskrifte oor jou reise. Waarom verwys jou gedigte dikwels na die plekke waar jy gereis het?
Wanneer mens reis, is jy baie oplettend – ‘n instink wat jou help om te oorleef. Skryf is ‘n manier om dié helder indrukke te verewig.

Reis is ook die tyd wanneer ek en Gerrit net op mekaar fokus – weg van werk, rekenaars en fone – en op ons tweejarige seuntjie wat nou reeds 27 keer saam met ons in die pens van ‘n vliegtuig was. Ons verhouding het nege jaar gelede op die langpad begin, as reismaats. Ons deel eerder ‘n ou kar sonder skuld, maar reis elke jaar vir drie weke na vreemde plekke. Ná ‘n groot projek (soos ‘n solo-kunsuitstalling/ ‘n graad/ die publikasie van ‘n boek) beloon ek myself altyd met ‘n vakansie – en só versamel ek natuurlik weer nuwe idees, nuwe werk!

In die afdeling wildernis skryf jy oor jou wortels, waar jy vandaan kom. Was die ouderdom twaalf ‘n waterskeiding in jou kinderjare?
Ja. Ek het in November 1988 twaalf jaar oud geword. Dit was die goorste jaar van my hele lewe. Alles en almal om my het een na die ander verkrummel. Die gedig “Verstrooitjie” gaan oor my skugter Afrikaans-onderwyser, meneer Ströh (ek noem hom “die laaste oorlewende op die planeet”) wat by my, die “stukkende stuk-kind” wou weet of daar dalk “‘n versie in my skuil”. Ja, hy het skryftalent in my gesien. Daardie jaar het my woorde en die Woord my meer as ooit getroos.

Jou gedig “papierplantasie” verwys na hoe die mens woude vernietig. Voel jy as skrywer soms skuldig oor ons groot papierverbruik?
‘n Skrywer mag dalk maar skuldig voel as sy derduisende boeke verkoop, maar ai toggie, ek verdien ongelukkig (nog) nie dáárdie skuldgevoel nie!

Moet jy reis sodat jy kan skryf of skilder? Of is daar ander inspirasies ook?
Ek het my eerste gedig geskryf toe ek 8 jaar oud was, maar eers op 18 begin reis. Baie van my gedigte gaan oor alledaagse dinge en gewone mense waarin ek iets vreemds of interessants vind. Stories en musiek inspireer my ook. En ‘n liefde vir die wildernis. Meegevoel met mense laat my ook skryf, soos in die gedig, “Lima”, wat gaan oor ‘n straatkind wat ek in Peru gesien het. Pyn is egter nie (meer) die grootste impuls vir my skryfwerk nie. In my skakeling met mense en God, in my skilderkuns en eenwording met die natuur, is indrukke van volheid soms só oorweldigend dat dit eenvoudig verwoord móét word.

Wat lê nou vir jou voor?
Môreoggend sewe uur vlieg ek Zanzibar toe! En sjuut… dis eintlik ‘n geheim, maar ek skryf op die oomblik aan ‘n roman.

KLIK hier om na ‘n toonsetting van een van Carina se gedigte deur Herman van der Berg te luister