Boeke

5 Boekminute met Carol Drinkwater

Sy skryf oor olyfbome en olywe. Alles het jare gelede begin toe Carol Drinkwater en haar man ‘n klein, verwaarloosde olyfplasie in Frankryk gekoop en dit opgebou het tot ‘n hele olyfboerdery. Die afgelope 16 maande was sy pal op reis om inligting te versamel vir haar tweede boek, The Olive Tree (Phoenix Paperback, R134,95) oor haar soektog na die oudste olyfbome ter wêreld. Die boek vertel die fassinerende geskiedenis van die bome en ook haar reiservarings. Phyllis Green het met Drinkwater gesels oor die soektog en wat dit alles opgelewer het.

The Olive Route is die eerste been van jou reis op soek na die oudste olyfboom. Het daardie reis jou beïnvloed in jou daaropvolgende reise vir The Olive Tree?
My liefde vir die olyfboom het alles begin met Trilogy, my boeke oor ons olyfplasie en alles wat daar gebeur. Ná ek my man ontmoet het, het ons ‘n klein olyfplaas in Frankryk gekoop. Ek het die bome leer ken en in daardie tyd het ek Trilogy geskryf. Ek wou weet wat die voorsienigheid van die olyf is en het toe reeds baie van die mitiese, oudste olyfbome gehoor. Ek wou die oudste bome gaan soek. So het die idee vir die boeke ontstaan. Ek het eers met die Oostelike roete begin en was in Sirië tydens 9/11. Ek was gestrand vir drie dae en was met afgryse vervul oor die totale waninformasie oor die gebeure. Uiteindelik kon ek plek op ‘n vliegtuig kry wat die vlugbemanning van al die verskillende rederye wat onttrek het, uitgevlieg het. Ek het ongedeerd daarvan afgekom, maar die projek is vir twee jaar op ys geplaas. Toe, met die inval van Irak en Saddam Hoessein se val, het ek besef die projek móét gebeur voor dit te laat is. Ek moes myself organiseer. In dieselfde tyd het ek ‘n brief van iemand uit Australië gekry met ‘n foto in van ‘n boord olyfbome wat hy in Libanon afgeneem het. Hy het die bome op so 1 000 jaar oud geskat, maar ek het besef die bome is baie ouer. Dit was net die regte inspuiting om my gemotiveerd te kry en ek het summier my reisplanne so gereël dat ek in Libanon begin.

Was dit maklik om in Libanon te reis?
Ek was gelukkig om vroeër ‘n Libanese vrou te ontmoet wat ‘n goeie vriendin geword het en sy was my eerste kontak in dié land. Ek het by haar tuisgegaan en vandaar die berge in gereis waar ek ‘n ander vrou ontmoet het wat geweet het waar die olyfbome was. Die reis daarheen was veeleisend en ons het met moeite twee klein boorde gevind met olyfbome wat tussen 6- en 7 000 jaar oud was. Wat so merkwaardig was, is dat die bome se vrugte steeds gebruik word om olie van te maak en die vrugte ingelê om te eet!

Dit klink of jy ‘n liefdesverhouding met olywe het.
In die begin was dit net ‘n passie en belangstelling, maar jy is reg. Dit het ‘n intense liefdesverhouding geword! Ek is mal oor die bome se vorms en hoe hulle lyk – veral die oues. Dan is daar ook geweldig baie gedigte en toneelstukke waarin olywe of die boom genoem of beskryf word. Die boom speel ook ‘n rol in omtrent alle godsdienste, dit word gesien as ‘n simbool van vrede.

In jou boek verwys jy konstant na die nadelige landboupraktyke wat tans in olyfboerderye plaasvind. Is daar ‘n gesonder of beter manier om met olywe te boer?
In hierdie boek wou ek dieper delf in die olyf se verlede – die erfenis van die olyf. Wat ek nie verwag het nie, was om gekonfronteer te word met die toekoms van die olyf. Die verwoestyning en ander skadelike landboupraktyke het my laat dink oor wat ons aan ons planeet doen. Dit gaan baie moeilik wees om die kwessies te hanteer, eerstens omdat mens moet baklei teen groot besighede. Maar ons moet êrens begin. Ek het in Spanje met ‘n grondkundige gepraat en hy het my laat besef hoe verreikend die probleme is. Ek was oorweldig deur die grootsheid van die kwessie en dit het my tot stilstand gebring. Ons sal moet terugkeer na die basiese. Elke mense sal op sy klein en individuele manier ‘n bydrae moet maak.

Hoe het jy jou reis beplan?
Ek het altyd so losweg ‘n idee van waarheen ek wil gaan. Dis nogal vaag en is baie kere afhanklik van kontakte wat ek op plekke het en ook van die mense met wie ek wil onderhoude voer. Dit gebeur soms dat ek moet teruggaan na ‘n plek waar ek al was, maar ek vind altyd ‘n manier om aan te beweeg na ‘n volgende bestemming.

Jy was in afgesonderde plekke en dit moes uitdagend gewees het?
Ja, Algerië was afgesonder en ‘n aangrypende ervaring. Vir ‘n deel van daardie reis was ek verskriklik eensaam. Maar ek het ongelooflike mense daar ontmoet wat baie mededeelsaam was. Die geriewe was regtig baie basies. Die wonderlike was dat ek net vir een maand onder die basiese omstandighede moes leef en dan kon aanbeweeg na beter omstandighede. Die slegte is dar daar mense in dié land is wat permanent so woon. Dit was ‘n voorreg om hul lewens te kon deel.

Het jy ooit bedreig gevoel omdat jy vroualleen gereis het?
Nooit. Ek het soms oorweldig gevoel, veral deur die skoonheid van plekke en ook die menslikheid van mense. Vir ‘n vrou wat alleen gereis het, het ek verbasend min probleme ondervind. Ek het wel geweldige vrygewigheid ervaar. Mense het hul geheime met my gedeel, hul harte en huise vir my oopgemaak. Ek het die woestynbewoners in Algerië ontmoet, wat heeltemal afgesonder van enige ander mense leef. Hulle het soveel stories gehad om te vertel – oor oorlewing en ontberinge. Ek was senuagtig voor ek begin reis het. Ek jok, eintlik was ek in ‘n staat van totale paniek en ek het gedink ek sal dit nooit oorleef nie. Maar dis vreemd, toe ek eers begin reis, het ek geweet dis die regte ding en ek moet dit doen.

Was taal ‘n probleem?
Ek praat Frans, Italiaans en so bietjie Spaans. Met die basiese van die Latynse tale kon ek myself darem oral taamlik verstaanbaar maak. Gelukkig kon ek ook altyd iemand vind wat kon vertaal wanneer ek in ‘n meer gekompliseerde gesprek was.

Het jy ‘n spirituele ervaring beleef op jou reis?
Ek het heelparty ervaar. Met my vorige boek, toe ek in Palestina was, het ons ‘n klein boord olyfbome geplant. Ons kon egter nie die sirkel voltooi nie omdat die oorlog ons gekeer het. Hierdie keer het ek ‘n geweldige spirituele ervaring gehad in Sardinië. Ek het voor ‘n baie ou olyfboom gestaan waarvan die stam soos ‘n gesig gevorm was. Op hierdie reise was ek eensaam, maar ook ekstaties gelukkig en dit was ‘n voorreg om so ‘n tog te kon ervaar.

Jou skryfstyl is ‘n mengsel van anekdotes oor mense en gebeure en feitelike reisinligting oor plekke, ens. Skryf jy terwyl jy reis of werk jy van aantekeninge af ná die tyd?
Ek doen beide. Wanneer ek die koers van my reis kies dan doen ek so bietjie navorsing oor die plekke. Partykeer vind ek eers ná my reis baie interessante inligting oor ‘n plek uit en voel dan spyt dat ek dit nie voor die tyd geweet het nie. Ek vors die belangrikste plekke waar ek gaan aandoen baie goed na. Dis maar hoe dit is met my soort reisplan. Ek maak aantekeninge terwyl ek reis en my reël is om elke aand eers my aantekeninge op my skootrekenaar te tik en dit losweg te rangskik in ‘n struktuur. Teen die tyd dat ek by die huis kom, is die geraamte van my boek daar. Dis belangrik om my eerste indrukke en gedagtes en gewaarwordinge so vinnig as moontlik neer te pen terwyl ek reis. Mens vergeet baie gou hoe jy gevoel het en wat jou reaksie was as daar eers tyd verloop het.

Jou volgende projek?
Ek werk saam met UNESCO aan ‘n dokumentêre reeks wat geïnspireer is deur my boeke, The Olive Route en The Olive Tree. Dit sal ‘n reisreeks wees vol geskiedkundige feite en ons gaan basies weer terug na my Olive Heritage Trail in die Mediterreense streek. Dan begin ek ook aan ‘n nuwe trilogie boeke werk waarvan die verhale in Frankryk sal afspeel. Dié keer gaan dit fiksie wees.

  • BxfvC1 itgtuyofdbaz, [url=http://soomhjlbkeeh.com/]soomhjlbkeeh[/url], [link=http://fwnocizdfymq.com/]fwnocizdfymq[/link], http://jjeogxrizkqw.com/

  • ED

    kan jy my help soek sketse oor vugte inle