FOTO Sue Charlton

FOTO Sue Charlton

Boeke

Celesté Fritze se debuutroman oor ’n familie met baie geheime

Die Retiefs van die plaas Verlorenkoppe is ’n familie met baie geheime. Dié geheime kom eers jare nadat baie van die gesinslede reeds dood is, eers op die lappe.

Hierdie debuutroman draai om die doen en late van die verskillende lede van die Retief-familie, maar Johanna (Jo) speel die hoofrol. Haar groottante (Christine Retief) se plaasjoernale begin in 1916, 100 jaar gelede. Dié joernale speel ’n baie belangrike rol in die verhaal, want dis daarin wat die grootste familiegeheime onthul word. Voor in Verlorenkop (Queillerie, R240) is ’n stamboom waarin die Retief-familie uiteengesit word. Dis handig, want dit help jou om kop te hou met die familielede en wie waar in pas.

Die verhaal skop af in die dorpie Colchester in Vermont waarheen Jo en haar man, Kerneels, ontsnap het uit Suid-Afrika om weg te kom van die politieke situasie. En vir Jo is dit ’n kans om weg te kom van haar eie twyfelvrae oor wie sy nou eintlik is. Dan begin die verhaal ontvou in hoofstukke wat afspeel in verskillende tydsfases en plekke, asook die dagboeke van Christine. Jo vertel ’n baie groot deel van die verhaal en is ook die karakter wat al die drade uiteindelik bymekaar trek. Dis ’n broeiende en boeiende verhaal van ’n familie waar elkeen ’n dramatiese geheim het om weg te steek, maar waar hulle tog ’n stewige verbintenis het met mekaar. Jo se vrede kom eers wanneer sy al die geheime ontbloot het en verstaan wat die impak daarvan op haar was, maar ook op die hele familie. En wanneer sy besef sy moet haarself vergewe, haar eie skuld laat gaan, dan eers kan sy werklik weer aangaan. Dis ’n komplekse verhaal waarin verskeie temas aangeraak word en die karakters spook nogal by jou lank ná die lees van die boek.

Ek het met Celesté Fritze gesels oor die skryfproses van Verlorenkop.

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Hoe het die skryfproses verloop?
Dit was ’n lang proses. Ek het in 2012 begin skryf en die groot skryf het gebeur voordat ek voorgelê het aan die uitgewer. Ek het baie karakters gehad. Daar was sewe vroue en hulle het almal vreeslik hard gepraat. My kop was so oorlaai en dit was moeilik om rigting aan al daai stemme te gee. Ek het toe klaar gemaak so goed ek kon, en ek het gedink ek het ’n redelike goeie storie met ’n redelike struktuur. Ek het vir Dineke Volschenk genader, want ek wou ’n toetsleser hê. Sy het vir my baie positiewe terugvoer gegee, maar ook gesê ‘hoekom skryf jy nie eerder ’n Mills & Boon nie, want daar was baie gay vroue in die storie’. Dit was meer van ’n liefdesgeskiedenis van ’n klomp gay vroue. Daar was nie regtig ’n sentrale tema of karater nie, almal het met mekaar meegeding. Toe moes ek weer gaan sit en dink. Ek het geweet ek sal my karakters moet sny. Ek het toe baie herwerk en daarna eers die manuskrip aan die uitgewer gestuur.

Waar het die inspirasie vir die verhaal begin?
Toe ek my honneurs gedoen het, moes ons ’n herinneringsverhaal skryf toe ons kortverhale behandel het. Ek het ’n verhaal geskryf oor die stories wat my tantes en my ma vir my vertel het. Dit was die begin. Maar met my boek wou ek nie net ’n verhaal oor die verlede skryf nie, ek wou die hede en die ander generasies inbring.

Die boek vertel die verskillende generasies se verhaal. Hoe het jy kop gehou met die verskillende verhaallyne, want dit speel nie chronologies af nie?
Ek moes op die ou einde gaan sit en die familieregister opstel, sodat ek kon sien hoe is die persoon, sê nou maar die stamvader en –moeder. Terwyl ek geskryf het, het ek gesien ek gaan moeilikheid optel en toe moes ek eers die struktuur skep. Daar het ek besef Jo is die karakter wat al die drade bymekaar trek. Toe ek dit kliek, toe besef ek Jo moes altyd daar wees, maar sy kan nie regtig altyd daar wees nie. So, sy moet êrens ’n konneksie met haar tante hê en die eerste een is die dagboek. Dan moet sy ’n konneksie hê met vriende en met haar man. Daar moet dinge in haar lewe gebeur en so het daar mense op haar pad gekom op die lewensreis wat sy moet leef.

’n Onderliggende tema in die verhaal is Jo se onsekerheid oor haar eie seksualiteit.
Dis iets wat sy opgetel het by haar tante, die kruisbande wat sy dra, die manier hoe sy met haar boerdery werk, asof sy nie ’n man se hulp  nodig het nie. Sy kon daar iets as kind agterkom uit die tante van haar. Maar hulle kon nooit daaroor praat nie. Eers wanneer sy tante Christine se dagboeke lees, begin sy besef, “ons stryd is eintlik dieselfde stryd”.

Die verkragtingstoneel waarna Johanna haar naam verander na Jo, hoekom dit as katalisator gebruik?
Dit was vir my interessant in die tyd wat die Grensoorlog aan die gang was, watter invloed dit op jong meisies gehad het. Wat het met jong meisies gebeur toe seuns opgehemel is as die soldate? Ek wou dit inbring dat hierdie soldate wat daardie tyd opgehemel is, het maar dinge aangevang het. Hulle is ook nooit debrief nie. Dit was vir my iets wat kon gebeur het. Jo het ook gevoel dit was haar skuld, dat sy die verkragting uitgelok het. Dit was die eerste verkragting en die tweede verkragting was met die Fransman. Vir een karakter om deur al daai goed te gaan, dit is amper asof sy haarself wou straf vir haar gedagtes.

Watter rol speel Muriel in Jo se lewe?
Jo word bewus van ’n karakter wat totaal buite haar leefwêreld is, buite haar ervaringswêreld. Jo is van die platteland. Sy ken nie hierdie kunstenaarstipes soos Muriel nie. Sy weet nie waarheen sy op pad is wanneer sy op haar motorfiets agter die vrou aanry nie en ’n wêreld gaan vir haar oop.

In Vermont doen Kerneels navorsing oor Alzheimer se siekte. Waarom juis dié siekte?
Daar is Alzheimer in baie mense se families. In ons eie familie is daar Alzheimer en ek onthou ’n ouma van my, toe ek ’n kind was, hoe sy met sulke lang grys hare gestap het in die tuin in haar nagrok. Sulke beelde beïnvloed ’n kind nogal. So daar is raakpunte hier en daar. Dit het in my skoot geval, nes Vermont. Ek was in New York en op die vliegtuig tydens ’n binnelandse vlug was daar ’n Vermonter van Boston wat langs my gesit het. Sy het my vertel van hierdie wonderlike herfs wat hulle ervaar. Lank daarna toe ek die boek begin skryf het, het ek weer daaraan gedink. Ek wou nie die familie Europa toe laat gaan nie. Ek wou hulle graag in Amerika hê. Ek het toe agtergekom hoeveel raakvlakke daar was, want die Universiteit van Burlington doen intens navorsing oor Alzheimer en daar is professore wat in daardie vakgebied op daardie stadium die ontdekking gemaak het dat sekere stowwe in die brein reageer op sekere middels. So, dit het half in my skoot geval. Toe kom ek agter Burlington het ’n perdeskool ook en so kon ek die perde ook inbring. Ek het ook gelees van ’n meestervioolbouer wat sy studio daar het. Ek glo ’n storie werk vir mens uit, dis vir mens beskore.

Jy skryf baie beskrywend. Is jy ’n visuele waarnemer?
Ek doen nogal. Ek hou van toeskouer wees. Ek hou van sit en mense bekyk. Ek het ook toe ek die boek moes herskryf, weggeloop van die huis af. Ek het die Greyhound-bus afgeneem Kaap toe en ek het ’n stel proewe van Petra Muller by my gehad. Dit het saam met my gery deur die Karoo. Die lees van daai lieflike poësie, terwyl ek deur daai groot venster gekyk het. Mens sien mos anders deur ’n busvenster, dit was vir my ’n wonderlike ervaring. Visueel was dit iets wat ek nie sommer in my lewe sal vergeet nie, saam met daardie gedigte van Petra.

Jy sê die verhaal het gespruit uit al daardie baie karakters wat jy gehad het. Is dit moeilik om van karakters ontslae te raak?
Dit is. Mens is baie teleurgesteld, dis soos ’n liefdesteleurstelling. Jy verlang nog altyd na daai persoon. Daar is een karakter wat ek moes laat gaan het, wat ek hoop ek weer êrens sal kan gebruik. Sy is baie interessant en ek dink haar storie is ’n goeie een.