FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Corban Addison veg vir menseregte in die boeke wat hy skryf

Menseregte, en spesifiek vroueregte is iets wat Corban Addison na aan die hart lê.

Hy skroom nie om die euwels van die wêreld as tema vir sy verhale te gebruik nie. Hierdeur wil hy mense bewus maak van ongeregtighede in die wêreld en ‘n bewusmaking skep daar rondom.

In sy eerste boek, A Walk Across The Sun, het hy geskryf oor mensehandel, hoe jong vroue as prostitute uitgebuit word en hoe moeilik dit is om uit die kloue van hul onderdrukkers te ontsnap. Die verhaal speel in Indië af en Addison verweef die plaaslike kultuur in die storie.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Sy jongste boek, The Garden of Burning Sand (Quercus, R250) gaan oor die regstelsel in Zambië ten opsigte van verkragting. ‘n Jong meisie met Downsindroom word verkrag. Sy sterf nie in die aanval nie en dan kom ‘n Amerikaanse regsgeleerde en ‘n Zambiese polisieman tot haar redding. In die ondersoek krap hulle ‘n nes van onheil oop en dit lyk nie of hulle die skuldige gaan kan vastrek nie. In die proses moet hulle ook probeer dat die korrupsie van sekere mense wat in die regstelsel in Zambië betrokke is, hul ondersoek nie ontspoor nie. Saam met die span mense wat hulle bystaan volhard hulle. Maar wees nie bevrees nie, na ‘n hele spul kinkels kry die skuldige sy welverdiende straf en word die jongmeisie herenig met ‘n pa wat sy nie geweet het sy het nie!

Addison se verhale is nooit eenvoudig nie en mens moet kophou om al die drade mooi bymekaar te hou, maar jy lees tot aan die einde in die hoop dat die goeie die slegte sal oorwin. Ek het per e-pos met die skrywer gesels.

Jy takel menseregte kwessies, spesifiek vroueregte in jou verhale. In A Walk Across the Sun was die tema mensehandel en in The Garden of Burning Sand  is dit verkragting. Waarom wil jy oor hierdie onderwerpe skryf?
In sommige opsigte het die onderwerpe my gekies, nie andersom nie. In 2008 was ek ‘n jong prokureur wat ‘n litigasiepraktyk probeer opbou het. Ek en my vrou het ‘n rolprent oor mensehandel gekyk en dit het ‘n aar raakgeboor. My vrou het voorgestel dat ek my passie vir geregtigheid en om stories te vertel kombineer en ‘n verhaal skryf wat die kwessie van mensehandel sal verpersoonlik en lesers regoor die wêreld sal aanraak. Dit was die inspirasie vir A Walk Across the Sun.
Ons het vriende ontmoet wat Zambië toe gaan verhuis om ‘n organisasie sonder winsbejag op die been te gaan bring. Hulle gaan met verstandelik gestremde kinders werk. Kort daarna het ek op ‘n storie afgekom van ‘n groep regslui en maatskaplike werkers wat ‘n Zambiese meisie met Downsindroom gehelp het wat in die starte van Lusaka verkrag is. Ek het besluit om die gebeure saam te weef in ‘n roman wat onder meer die globale kwessie van geweld teen vroue aanraak. Dit was die ontstaan van The Garden of Burning Sand.

Is jy in wese ‘n aktivis?
Ek het ‘n blywende belangstelling in geregtigheid. Dis die resultaat van my persoonlikheid, my opleiding as regsgeleerde en my vele reise. Hoe meer ek van die wêreld sien, hoe meer is ek oortuig dat geregtigheid een van die hoekstene van vrede is. Oral waar mense ‘n onreg aangedoen word sonder straf, is daar konflik en oorlog. Waar onregte reggestel word en die skuldiges gestraf word, vind mense gewoonlik ‘n geweldlose uiting vir hul pyn. As ons bloedverlies en geweld wil verminder, moet ons geregtigheid bevorder, veral vir die armes en die ontneemdes.

Was The Garden of Burning Sand  ‘n moeilike verhaal om te skryf, omdat jy verskillende temas daarin aanraak?
Garden was moeilik om te skryf, nie oor die onderling verbonde temas of die komplekse struktuur nie. Die uitdaging was dat lesers regoor die wêreld verlief geraak het op A Walk Across the Sun en ek was onder groot druk om ‘n waardige opvolger aan hulle te bied. My redakteurs en ek het maande gewerk om die boek te fine tune, meer as wat ons aan die eerste een gewerk het. Ons was toegewyd om die storie presies reg te kry.

Waar kry jy die idees vir jou verhale?
Omdat ek oor eietydse kwessies van geregtigheid skryf, kyk ek of ek nuwe idees kry in die nuus, in tydskrifte wat ek lees en stories wat ek by vriende en kennisse hoor. Ek werk nou aan my derde boek, die inspirasie daarvoor het van my literêre agent gekom. Ek het so drie of vier idees waarmee ek rondloop wat moontlik later boeke sal word.

Hoe doen jy navorsing; reis jy na die bestemmings waar die stories afspeel?
Navorsing is ‘n voorvereiste vir my kreatiewe proses. My doel as skrywer is nie om ‘n fiktiewe wêreld te skep nie. Eerder, ek vertel geloofwaardige verhale van die regte wêreld deur die lens van fiksie. Daarom is ek nie gelukkig met ‘n boek voordat die kenners vir my sê dis geloofwaardig nie. Ek lees wyd oor die plekke en onderwerpe waaroor ek gaan skryf, en dan reis ek na die plek waar die storie afspeel. Ek spandeer tyd saam met die plaaslike mense, beleef hul wêreld, eet hul kos, gesels en maak baie notas. Die bladsye moet realisme en geloofwaardigheid uitstraal.

Wat wil jy bereik deur jou verhale?
Ek hoop om mense na plekke te neem waar hulle nog nooit was nie en om vir hulle iets van die wêreld te wys waaraan hulle nooit dink nie, veral die verskillende vorms van ongeregtigheid. Ek wil mense hoop gee dat gewone mens, as hulle braaf genoeg is, ‘n verskil kan maak in die lewe van ander. En om mense aan te moedig om ‘n bewuste besluit te neem om teen ongeregtigheid te baklei op die plekke waar hulle invloed het.

Hoe help jou agtergrond in regte jou in jou skryfwerk?
Dis ongelooflik waardevol. Voordat  A Walk Across the Sun verskyn het, het ek vir 6 jaar sake in die hof bepleit, komplekse verhoudings met kliënte genavigeer en eintlik geleer hoe die wêreld regtig werk: die realiteit van politiek op plaaslike en globale vlak, die interaktiewe struktuur van die reg en regulasies, en die subtiele en dikwels ongesiene menslike dimensies van pragmatisme, vooroordeel, omkoopbaarheid, en af en toe se atruïsme wat ons openbare beleid vorm. Dit het my voorberei op ‘n beroep in skryf waar dit net soveel gaan oor bewusmaking as kunstigheid – deur my stories, maar ook by die geleenthede waar ek as spreker optree. Dit het deur my boeke tot stand gekom.

Hoe skryf jy, het jy ‘n roetine of skryf jy enige plek?
Ek skryf soos wat ek as regsgeleerde gewerk het. Ek het ‘n kantoor en het werksure. Inspirasie kan natuurlik nie gereguleer of ingeperk word nie en dikwels oorskry my werk my eie kunsmatige grense. Om my gesin se onthalwe probeer ek binne my werksure hou. Dis nie moeilik om gemotiveerd te bly om te skryf nie. Vir my is die uitdaging eerder om te stop wanneer ek in die zone is, wanneer die storie soomloos en sonder moeite gebeur. Daardie oomblikke is onskatbaar.

Wat is die mees onverwagse ding wat jy op jou onlangse skrywerstoer oor jou boek gehoor het?
Om te hoor ek het die kultuur, die geure en die mense van Suidelike-Afrika reg uitgebeeld. Ek is altyd senuagtig as my stories gelees word deur mense wat weet waarvan hulle praat – omdat hulle die plek ken of omdat hulle kenners is oor die kwessies waaroor ek skryf. Dis baie bevredigend om te hoor Suid-Afrikaanse lesers hou van die storie en lewer kommentaar oor die geloofwaardigheid daarvan.