Boeke

5 Boekminute met Craig Fraser

Selfs die lot van ons wat niks weet van sokker nie, is op hol en vertoon met trots ons landsvlag op ons motors en hang vlae buite ons kantore en dra sokkerhemde op Vrydae. Natuurlik is daar ook karre met vlae van ander lande. Vir ‘n sokkerondersteuner kan jy mos nie voorskryf wie hy moet ondersteun nie! Hier in Gauteng, oral waar ek ry, sien ek die opgewondenheid oor die sokker. Die afwagting is groot, veral noudat daar net enkele dae is voor die toernooi afskop. Die spanne kom aan!

Met hierdie toernooi het daar natuurlik ook ‘n klomp boeke met sokker as tema die lig gesien. Soccer Chic deur die Kaapse fotograaf Craig Fraser (Quivertree) is een van die mooistes wat in my hande beland het. Die boek is ‘n mengsel van sokkerfoto’s van wedstryde en bewonderaars in die pawiljoene en die spanne se go-go girls. En dan is daar formele portrette van spesifieke sokkerondersteuners wat hul passie op baie individuele maniere wys deur hoe hulle aantrek! Ek het per e-pos met Craig gepraat oor hoe hy hierdie boek gestalte laat kry het.

Is jy ‘n sokkerbewonderaar?
Nee. Ek was nog nooit ‘n sokkerbewonderaar nie, maar ek dink dis eintlik tot my voordeel. Die boek gaan nie regtig oor sokker as sodanig nie, eerder oor die Suid-Afrikaanse kultuur en hoe uniek dit is. Dit gaan oor die passie wat óns sokkerliefhebbers na die spel bring en ook die positiewe invloed wat sokker in die gemeenskap het. Sokker gee mense die geleentheid om van die sieldodendheid van ‘n werkersklasbestaan te ontsnap. Dit gee ‘n gevoel van behoort, ‘n geleentheid om jouself op jou eie manier uit te druk, ‘n geleentheid om te droom. . . Op soveel verskillende vlakke is sokker ‘n absolute positiewe invloed en ek dink vir my as buitestander, wat hierdie wêreld waarvan ek so min weet, betree het, kon ek dít raaksien en probeer weergee in hierdie boek.

Waar kom jou inspirasie vir die boek vandaan?
Ek het dit as ‘n geleentheid gesien om iets unieks van ons Suid-Afrikaanse kultuur weer te gee. Quivertree Publications spesialiseer in boeke wat ons kultuur vier en ons doen hoofsaaklik boeke oor ontwerp en kos, maar ons probeer altyd om ook boeke te publiseer wat ons individualisme as Suid-Afrikaners beklemtoon. Soccer Chic is ‘n viering van die kreatiwiteit van ons sokkerondersteuners – hul passievolle ondersteuning, die humor en die vreugde wat hulle na die spel bring.

Ek lees in jou boek jy skiet nog op film. Waarom?
My fotografiese aanslag is nogal berekenend. Ek hou daarvan om dit daar en dan reg te kry, ek soek nie ‘n klomp verskillende angles en opsies nie. Ek wil net ‘n foto neem en as ek gelukkig is, is dit ‘n foto wat die moeite werd is. Deur film te gebruik dwing dit my om my onderwerp op hierdie wyse te benader. Vir my is die idee dat jy onbeperkte opsies kan skiet vervelig. Tegnies gee die digitale kamera nie beter resultate nie – ek skiet op 6×6 skyfiefilm, dis fantastiese kwaliteit. En die foto kan enige grootte gebruik word, sonder enige beperkinge.

Hoe lank het dit jou geneem om hierdie projek te voltooi?
Die foto’s is geneem oor een seisoen van die plaaslike PSL-liga. Ek het wedstryde bygewoon in Johannesburg, Pretoria, Durban en Kaapstad en het foto’s geneem by so drie of vier wedstryde per week.

Hoe het die proses gewerk met die portrette en om die aanhalings by die mense op die portrette te kry?
By die wedstryde het ek ‘n buitelug-studio opgestel met ‘n wit agtergrond en professionele beligting. Soos die bewonderaars aangekom het, het ek gekies wie ek wou afneem. Jy kan jou indink hoe waansinnig dit was – hordes fêns wat mekaar stamp en stoot, ‘n geskerts en ‘n gekorswil. Ek moes ongelooflik vinnig werk. Daar was nie tyd om onderhoude daar en dan te doen nie en ek het net die besonderhede geneem van die mense wat ek afgeneem het. Ek het die skrywer Steve Smith in diens geneem om almal te bel en die onderhoude later te doen.

Waar het jy Masilo Machaka, jou baie interessante assistent, gekry?
Die eerste wedstryd wat ek bygewoon het, was in Rustenburg. Ek het nie ‘n idee gehad van hoe ek my onderwerpe gaan kry nie. Gelukkig was daar ‘n fan tent waar hulle besig was met ‘n veldtog om nuwe kaartdraende lede te werf. Ek het die mense daar gevra wie die grootste fans was en almal het onmiddellik geantwoord Masilo Machaka. Hy was daar. Ons het gesels en ek het hom vertel wat ek besig was om te doen en hy het toe aangebied om te help. Ek het sy nommer geneem en so het ons toe saam begin werk.

Wat was jou grootste uitdagings met hierdie projek?
Die logistiek was moeilik – om drie wedstryde in twee dae af te neem, om te reis van bestemming na bestemming met soveel toerusting, om die studio op te stel, die burokratiese rompslomp om met beamptes te onderhandel vir die nodige toestemming, die hordes bewonderaars wat almal afgeneem wou word, al die onbeheerbare faktore soos sterk wind wat die agtergrond en ligte omwaai, reën. . . Dit was ‘n ambisieuse projek, uiters gekompliseerd en uitdagend.

Die beste van die projek?
Die humor, dit was ‘n lughartige ervaring. Die fans het my met groot warmte ontvang.

Waaraan werk jy tans?
Ons werk gedurig aan nuwe projekte en het vier nuwe boeke wat hopelik in Oktober gepubliseer word. Die besonderhede sal in Augustus bekend gemaak word.

Van watter span of speler is jy ‘n bewonderaar?
Ek het nie tydens die projek ‘n bewonderaar geword van ‘n spesifieke span of speler nie, maar ek het wel ‘n bewonderaar geword van die Suid-Afrikaanse sokkerkultuur. Dit was ‘n fantastiese ervaring om aan hierdie boek te werk.

*Lees ook in die Augustus-uitgawe van SARIE meer oor Soccer Chic (ISBN: 0-9814287-5-4). Die boek is opgeneem in Exclusives se Homebru-versameling en is ook aanlyn beskikbaar by www.quivertreepublications.com. Vir navrae skakel 021 4616808.