Riette Rust FOTO: verskaf

Riette Rust FOTO: verskaf

Boeke

Is daar nou meer narsiste in die wêreld?

Miskien is daar nou meer narsiste in die wêreld as ooit.

In haar boek, EK!EK!EK! (Lapa Uitgewers, R200), skryf Riette Rust dat narsisme in ’n epidemie ontaard. Die grootste oorsaak hiervoor is media en tegnologie. Tussen 2005 en 2006 is die grootste toename in narsisme aangeteken, dié tyd toe Facebook op dreef gekom het. Sy skryf dat sosiale media, werklikheidstelevisie en sommige TV-speletjies laat baie jongmense glo hulle is bestem om ryk en beroemd te wees. Maar dié verwagting tas hul waardes aan. Die probleem lê egter nie net by die jongmense nie, want as jy om jy kyk, sal jy sien jy is omring deur mense met narsistiese neigings. Maar hoe gemaak? Hoe hanteer jy hierdie mense sonder dat jy daaronder ly? Veral as dit jou baas is of iemand in jou vriendekring.

In hierdie baie interessante boek behandel Riette al die aspekte van narsisme: wat dit is, hoe jy narsiste herken en hoe jy hulle moet hanteer. Dis in baie toeganklike taal geskryf en begrippe word op ’n eenvoudige manier uiteengesit. Sy behandel ook ’n paar gevallestudies wat jou goeie insig in verskillende aspekte van verhoudings waar narsisme betrokke is uitwys. ’n Handige gids vir enigeen wat al met ’n narsis te doene gehad het.

FORO: verskaf

FOTO: verskaf

Riette het per e-pos vrae beantwoord.

Waarom wou jy ’n boek oor narsisme skryf?
Toe SARIE my in 2013 vra om ’n artikel oor die onderwerp te skryf – as opvolg van ’n leser s’n oor die onhoudbare nagmerrie waarin sy verkeer – het die onderwerp my ingesuig. Sielkunde is juis my passie. Tydens die skryfproses ontdek ek toe dat ek ’n paar narsiste in my lewe het, of gehad het.

Die verligting was onbeskryflik toe ek via my navorsing ontdek dat ek nie die een met die probleem is nie. Narsiste smokkel so met jou kop dat jy dit glo. Ek wou weet hoe om dié moeilike mense te hanteer. (Jy kan tog nie van ’n familielid of summier van jou baas ontslae raak nie.)

Toe die artikel en daaropvolgende radiopraatjie boonop ’n oorweldigende reaksie ontlok, het ek besef hoe baie mense die hel van narsisme beleef en hoe groot die behoefte aan kennis is. Daarby wou ek hê dat lesers ook die verligting wat ek ervaar het, moet beleef.

Drie-en-’n-half jaar se moeilike pad van navorsing, skryf en herskryf het gevolg. Maar ek het heeltyd gevoel asof daar ’n engel op my skouer sit wat my aanmoedig en help. Die boek móés net gebeur. Te oordeel aan die positiewe reaksie en resensies was dit die regte besluit. Ek is boonop trots daarop om te kan sê dat EK! EK! EK! Herken en hanteer narsiste die eerste Suid-Afrikaanse én Afrikaanse boek oor narsisme is.

Jy skryf oor gesonde narsisme. Moet mense nie maar ’n klein graad van narsisme hê om suksesvol te wees nie?
Absoluut, ja. Maar, daar is ’n groot verskil tussen ‘gesonde’ oftewel aanpassingsnarsisme en die patologiese (siek) soort. As jy ‘gesond narsisties’ is, sal jy byvoorbeeld nie op ander trap om bo te probeer uitkom nie. ‘Gesonde narsisme’ help jou eerder om selfgeldend te wees. Elkeen van ons het ’n skeut daarvan nodig om te kan oorleef, emosioneel staande te bly, sukses te behaal en aanvaar te word, sê kenners.

Narsisme is aanvanklik deel van ons normale ontwikkeling. As baba ervaar jy dat jy dinge kan laat gebeur. Wanneer jy huil, word jy drooggemaak, opgetel of gevoed. As tweejarige is die ‘selfsugtige’ myne-myne stadium weer normaal. Maar hierdie dinge is veronderstel om verby te gaan …

Indien jy as (normale) volwassene genoeg ‘gesonde narsisme’ het, kan jy selfversorgend wees, leierskapeienskappe openbaar en genoeg selfvertroue hê. Daarby sal jy angs, veral in sosiale situasies, beter kan hanteer. Jy sal ’n realistiese selfbeeld hê en jou daarom nie emosioneel van ander mense isoleer nie. (As jou selfbeeld emosionele isolasie veroorsaak, is jy waarskynlik ongesond narsisties.)

Wat is die waarskuwingstekens dat mens met ’n narsis te doen het?
’n Narsis het ten minste vyf van die volgende nege eienskappe:

*’n opgeblase selfbeeld. Hy oordryf sy prestasies, talente en vermoëns.

*Hy is behep met fantasieë van onbeperkte sukses, mag, briljantheid, skoonheid of ideale liefde.

*Hy glo hy is spesiaal en uniek, dat hy net verstaan kan word deur of geassosieer kan word met spesiale mense (of instansies) of met dié wat status het.
*Hy eis oormatige bewondering omdat sy selfbeeld broos is. Aandag, bewondering en komplimente is sy dwelm.

*Hy is aanpraakmakerig. Hy glo dat hy besonder gunstige behandeling verdien of dat ander outomaties aan sy (hoë) verwagtinge sal moet kan voldoen.

*Hy buit ander uit en misbruik hulle om te kry wat hy wil hê.

*Hy het ’n gebrek aan empatie en sukkel om ander se begeertes, subjektiewe ervaringe en gevoelens te herken.

*Hy is afgunstig op ander of glo dat hulle jaloers is op hom.

*Hy het ’n arrogante, hoogmoedige houding. Hy is dikwels snobisties, minagtend of neerbuigend.

Maar daar is bykomende eienskappe waaroor ek in die boek uitbrei, soos dat ’n narsis dinge swart-wit sien. Daar is geen grys area nie.

Het sosiale media veroorsaak dat daar nou meer narsiste in die wêreld is?
Sosiale media kan natuurlik nie ’n narsistiese persoonlikheidsversteuring veroorsaak nie – die kind se opvoeding, temperament, genetika en biologie speel hier ’n rol – maar sosiale media skep wel ’n klimaat waarin narsistiese eienskappe, soos selfsug, hoogmoed, meerderwaardigheid, ekshibisionisme, ydelheid, jaloesie, kompetisie, hebsug en onbeleefdheid (boeliegedrag), kan floreer.

Neem selfies as voorbeeld: Sommige Facebookers laai 10 per dag op. Dis asof jy op die verhoog gaan staan en skree: ‘Ek is so oulik, kyk asseblief vir my!’ Of jy dink: My foto is mooier as joune. En as dit nie is nie, sal ek plastiese chirurgie moet kry. Voorkoms is mos alles. Rooiligte behoort ook te flikker as jou bui of selfbeeld afhang van die aantal ‘likes’ wat jy kry.

Kan ’n narsis verander?
As hy ’n narsistiese persoonlikheidsversteuring het, is die kanse maar skraal, reken die meeste kenners. Tog vertel ’n gediagnoseerde narsis in my boek hoe hy geleer het om meer empaties op te tree. Iemand anders vertel weer hoe terapie hom help. Maar, dis narsiste wat wóú verbeter. Waarskynlik weens moeilike verhoudings.

Dit is nou maar eenmaal so dat dit vir ’n narsis moeilik is om by ’n sielkundige aan te meld. Hy sê nie ‘hallo, ek is ’n narsis, help my’ nie. Tog beland van hulle wel in terapie weens verwante probleme soos ’n dreigende egskeiding, ernstige werksprobleme of botsings met die gereg.

Wanneer ’n narsis nie die algehele versteuring het nie, maar wel narsistiese eienskappe, kán hy verander. Hy sal seker nie ewe suksesvol van al sy trekke ontslae kan raak nie, maar hy sal ’n ‘beter narsis’ kan word. Hy sal ’n paar positiewe, liefdevolle gedragspatrone kan aanleer. Die terapeut sal byvoorbeeld nie probeer ontslae raak van sy opgeblasenheid nie, maar hom eerder sover probeer kry om meer empaties, liefdevol en warm op te tree. Om te verander, is nie maklik nie. Die narsis sal moet wíl en dit sal tyd neem. Wat sy probleem moeiliker maak, is dat hy van sy narsistiese trekke hou. Dit stel hom tog in staat om te kry wat hy wil hê.

’n Knap sielkundige kan egter tot die regte kliniese gevolgtrekking kom, veral as jy, sy geliefde, ook insette lewer. Jul lewe kan verbeter indien die narsis geleer het om sosiaal meer aanvaarbaar op te tree en só beter verhoudingsmateriaal te wees.

Waarom is dit moeilik om uit ’n verhouding met ’n narsis te kom?
Baie narsiste het ’n charismatiese persoonlikheid, ’n skerp sin vir humor, is intelligent en sorg dikwels vir ongekende opwinding – veel beter as dit wat jy al ooit vantevore beleef het. Dis moeilik om te laat gaan. Maar daar kan nog redes wees:
’n Narsis breinspoel en manipuleer jou
Hy weet presies wat om te doen om jou terug te lok en skuldig te laat voel. Hy weet ook wat hy jou moet belowe sodat jy sal terugkeer in die hoop dat dinge dié keer sal verander. Die narsis skep twyfel oor jul verhouding sodat jy voortdurend bevestiging van hom sal wil soek. Hy het jou ‘afgerig’ om keer op keer terug te keer.

Hy span lukrake bevestiging in
Al tree jy elke keer dieselfde op, sal jy by tye ’n heel onverwagse reaksie van hom kry. Dis dieselfde beginsel waarop dobbelmasjiene werk. Soms is die beloning groot, ander kere gooi jy dieselfde bedrag in, net om ’n reuse verlies te ly. ’n Narsis weet dat as hy jou nou en dan beloon, jy altyd sal terugkom vir nog.

Hy laat jou twyfel aan jou vermoë om self besluite te kan neem  |
Omdat die narsis jou jare lank beheer het, is jy al so gekondisioneer om na hom te kyk vir antwoorde. Dis vreesaanjaend om te besef dat jy skielik alleen moet wees en net op jouself sal moet staatmaak.

Jy ly moontlik aan Stockholm-sindroom
Jy is soos ’n gyselaar wat ’n band met sy kaper vorm. Selfs al word jy emosioneel en verbaal mishandel, raak jy geheg aan jou narsis. Die doel van enige mishandelaar is dieselfde: Om seker te maak dat jy van hom afhanklik is en op hom sal staatmaak ‘vir oorlewing’.

’n Narsis hou daarvan om jou te verwar
Hy dryf jou nie net na waansin nie, die twyfel wat hy oor jul verhouding skep, daag jou uit. Jy wil ten alle koste seker maak hy is net joune. Só probeer hy verseker dat jy na hom sal terugkeer en wel sodat hy jou vir ewig kan manipuleer. Jy is so verward dat dit baie tyd en moeite sal verg om te besef dat jy veel beter op jou eie sal vaar.

Wat is die grootste fout wat mense maak oor narsiste?
Daar is baie, maar ek sou sê hulle luister nie na hul kopstemmetjie nie. As jy aanvoel iemand het ’n moeilike sielkundige probleem, vertrou jou intuïsie, selfs al kan jy nie jou vinger lê op présies wat hom makeer nie.

Wat wil jy hê mense moet oor narsisme weet, wat is die belangrikste ding wat jy wil hê hulle moet onthou?
Indien jy ’n narsis in jou lewe het, dalk ’n vriend, ma, baas of buurman, moet jy onthou dat jý nie die versteurde een is nie. Jy begin dit later glo en vra dan selfs om verskoning vir dinge wat jy nie eens gedoen het nie! Só probeer jy die vrede bewaar of jul verhouding herstel.

As jou verhouding met die narsis verbrokkel het, behoort jy terapie te kry om uit te vind hoekom jy by so iemand betrokke geraak het.

As jy steeds in ’n verhouding met ’n narsis is en hom nie wil laat gaan nie (dalk oor jou geloof of omdat jy hom werkik liefhet en daarom bereid is om altyd tweede te kom), ís daar hoop. EK! EK! EK! sal jou leer hoe om die narsis te hanteer en, bowenal, hoe om met hom te praat. Dit maak ’n wêreld se verskil.
Om saam te vat: Weet net dat daar wel hoop is.

In SARIE se November 2016-uitgawe is ’n uittreksel uit die boek, EK! EK! EK!.