FOTO verskaf

FOTO verskaf

Boeke

Dalai Lama en aartsbiskop Tutu begin wêreldwye projek vir vreugde

Vandag is Internasionale Vredesdag en met die wêreldwye #SharetheJoy-projek wil aartsbiskop Desmond Tutu en die Dalai Lama graag vir mense weer hoop gee.

Hoop om deur die uitdagende situasie in die wêreld te kom, hoop om pyn, woede, hartseer en ellende te oorkom, net soos die Dalai Lama en aartsbiskop Tutu onderskeidelik in hul eie lewe moes doen. Hulle glo dat vreugde en empatie altyd sal wen en wil hê mense moet weer vreugde in die lewe ontdek.

In ’n persoonlike boodskap verduidelik aartsbiskop Tutu wat die projek behels en hy doen ook ’n beroep op almal om deel te wees daarvan.

Kyk sy video hier. https://vimeo.com/175597229

Om die boodskap verder te deel het hy en die Dalai Lama saam ’n boek geskryf, The Book of Joy (Penguin Random House) waarin hulle vertel van hul ontmoeting by die Dalai Lama se woning in Dharamsala en hul gesprekke oor hoe ons weer ewigdurende vreugde kan vind in die onsekere tye in die wêreld. Hulle deel ook hul persoonlike ervarings en geskiedenis. Op die Book of Joy se webwerf kan jy aansluit by ’n boekklub waar jy weekliks inspirerende nuus oor die boek en die projek sal kry. Jy kan ook inspirerende boodskappe aflaai, en daar is video’s van die Dalai Lama en aartsbiskop Tutu wat jy op sosiale media kan deel om die vreugde verder te deel.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Jy kan deel raak van die projek deur jou eie slimfoonvideo te maak waarin jy die sin voltooi: “For me, Joy is …” en dan vertel waarom hierdie projek belangrik is. Jy kan ook ander mense uitnooi om deel te word van die projek. Die video deel jy dan met die hutsmerk #SharetheJoy op sosialemedia-platforms.

Met dié projek wil die twee groot geeste hê dat jy net ’n paar minute uit jou besige dag neem om oor die vreugde van die lewe te dink. Hoe kan jy ’n verskil maak? Hoe kan jy vreugde in iemand anders se lewe bring? En hoe kan jy jou eie vreugde met ander deel?

Soos aartsbiskop Tutu sê: “Geen donker lot bepaal die toekoms nie. Ons doen. Elke dag en elke oomblik is ons bevoeg om ons lewe te skep en te herskep en die gehalte van menselewens op ons planeet te verbeter. Dít is die mag wat ons het.”