Boeke

Dalene Matthee – Die Lekkerste Tee deur Izak de Villiers

Die boek is ‘n reeks outobiografiese vertellings oor sy kinderjare, sy jare as predikant en sy werk as redakteur by SARIE en Rapport. In hierdie uittreksel beskryf hy sy onderhoud vir SARIE met die skrywer Dalene Matthee.

DALENE MATTHEE: DIE LEKKERSTE TEE

Mense het my al dikwels gevra: wat was my lekkerste onderhoud ooit?
Daar was baie. Vir die radio was daar ‘n hele reeks bekendes. Ook vir Sarie. En enkeles vir Rapport, waar Anton Rupert die aangenaamste was.

Dis nie dat ek juis van die persoon moes gehou het nie. Dit moet net ‘n gevoel wees dat ek dit geniet. Dit hoef ook nie juis ‘n scoop te gewees
het nie. My grootste scoop in ‘n onderhoud was toe Koos Botha aan my beken het dat hy die bom by die Hill View-skool in Pretoria geplant het.
Daardie Sondag was dit die groot nuus. Die polisie het kom verklarings afneem dat elke woord in die berig korrek was en ek moes teken.

Ek het Koos jammer gekry en sy brute eerlikheid bewonder. Maar ‘n persman is soms soos die rower wat ‘n pistool teen my kop gehou het
in my garage en gesê het: “If we shoot you it is because you have and we have not. You owe us.” Like hell.

Nee, lekker was dit nie altyd nie. Dis werk, en ek het ‘n hekel aan mense wat my vra of ek my werk “geniet”. As werk “geniet” moes word,
sou dit “genot” geheet het, en die betaling daarvolgens bereken.

Van sommige onderhoude wou ek wegvlug. By ander het ek gewonder wat op die aarde ek nog vir dié onnosel klip kon vra: gewoonlik ‘n
“ster” in ‘n TV-reeks of in sport. Een so ‘n twak het my in sy hotelkamer ontmoet, so vol van sy eie kwinkslae en onnosel grappies dat ek byna
net daar my tas gevat en geloop het. Hy moes dit opgemerk het, want toe ‘n spanmaat inkom, sê hy hulle moet iets saam gaan drink. Ek is nie
genooi nie. Terloops, sy “lewensdoel” was ook “om die lewe te geniet”.

Toe ek aan die einde van 1986 begin reëlings tref om Dalene Matthee te gaan spreek, het ek dit teenoor Danie van Niekerk genoem.

“Het jy haar al tevore ontmoet?” wou hy weet.

“Nee, nog net op TV gesien en oor die radio gehoor. En hier en daar
‘n staaltjie opgetel.”

“Hmm,” sê hy, “ek sou graag na dié gesprek wou luister …”

“Hoekom?” vra ek.

Hy kyk my aan asof hy iets weet wat ek nie weet nie. “Boeta, sy is ‘n
formidabele vrou.”

“Vertel my meer,” het ek hom aangepor.

“Nee, ek weet te min. Gaan stel maar self vas,” het hy gesê en geheimenisvol
geglimlag.

Ek het gereken hy kon my veel meer vertel het.

Annari van der Merwe, haar uitgewer en soms ook vir die pret
fotograaf vir Sarie (en wat ‘n lekker werksmaat was sy nie!) was meer
tegemoetkomend: “Wil jy hê ek moet dit reël? Sy praat nie maklik met
mense nie en hou eintlik nie van publisiteit nie. Sy kan moeilik wees.
Maar wil jy hê ek moet saamgaan?”

“Natuurlik,” het ek gesê, “dan kan jy sommer die foto’s neem.”

Vroeg in Oktober 1986 het ons George toe gevlieg en dadelik na
Dalene se huis in Hartenbos gegaan. Terwyl Annari die kar se kattebak
oopmaak (sy was sommer my chauffeur ook!) om haar kameras uit te
haal, het Dalene en haar man, Larius, ons kom ontmoet. Sy was vroëer
‘n musiekonderwyseres, ‘n nooi Scott van Riversdal, en hy ‘n bankman.

Ek het my sjarmemasjientjie in my kop aangedraai en uit senuweeagtigheid
sommer begin praatjies maak oor hul aanbouery by die huis en vir
wat hulle ‘n diefalarm laat aanbring het, want wie wil wat op Hartenbos
steel …

Dalene het my aangekyk soos ‘n vriendelike geitjie wat ‘n vlieg wou
vang, met my die vlieg. Annari het die bekykery stopgesit deur te vertel
dat sy Dalene se medisyne saamgebring het, homeopatiese druppels (Kali
Phos en Cerato). Ek het gereken dis ‘n opening: om oor sulke medisyne
te gesels, druppels en goeters wat ek self, synde effe van ‘n ipekonder,
gebruik het.

“Glo jy in homeopatie?” vra ek.

“Nee,” antwoord sy, “die homeopate het hierdie medisyne vir hulle gevat. Dis nie hulle s’n nie.”

Haar oë het dit baie duidelik gemaak dat sy nie lus was vir gesels oor
siektes en medisyne nie. Sy wou weet of dit waar is dat ek familie is van
ds. Jan Lange wat op Riversdal was. Ek het gesê hy is my oom en sy
het haar oë hemelwaarts gelig. Oom Jan was bekend as ‘n vuurvreterdominee
wat gepreek het dat jy die vuurvlamme onder jou alie voel.

Maar hoewel streng, was ons baie lief vir hom omdat hy altyd dáár was
as jy wou uitpraat.

“Daai dominee Lange,” het Dalene gesê: “Ek het hom al sy dae gegee
in die katkisasieklas en in die kerk. Ek het hom effe geïntimideer, glo
ek. Goed so. Predikante weet meesal nie waarvan hulle praat nie. Jy ook
nie.” Ek het dit maar gelate aangehoor en besluit: swyg. (Ds. Lange het
eintlik met groot bewondering van haar boeke gepraat, veral toe Kringe
in ‘n bos verskyn het.)

Toe ons onsself in die sitkamer sitmaak, wou sy weet: “Wil julle tee
hê?”

Ons het ja gesê; ek was bly vir die verposing, want ek het begin
aanvoel dat ek in is vir ‘n ding of twee. Sy het die tee gebring, met sulke
Joko-etikette aan. Toe kyk sy na Annari en sê: “Ek sal hóm graag wil
ondervra. Ek het hom al op TV gesien en gedog: nie te sleg nie; ek wonder
of hy ‘n vrouejagter is …”

Toe draai sy na my: “Is jy ‘n vrouejagter? Met
al die mooi vroue daar by jou en om jou. Hulle draai seker om jou en
jy speel sleutelslot by die heuningpot! Sulke predikante soos julle … o,
aarde! Júlle!” En sy skud haar kop.

(En net daar het ek ‘n selfverdedigingstegniek onthou: slaan eerste
met die woorde en slaan katswink. By Rapport het die departement kommunikasie
aan Unisa my genooi om ‘n lesing te kom gee. Die dosente
en die gehoor het aggressiewe vrae oor my “swak koerant” gevra. Toe
haak ek af: “Waarvoor bestaan julle spulletjie nou eintlik? Hoort julle
vak aan ‘n universiteit? Wat leer julle die mense? Leer julle hulle om te

spel? Vir wat kan ek nie een van hulle huur nie? En wat beteken julle

graad? Lyk my nie dit is eintlik iets werd nie.” Daai klompie was geskud

tot in hul tone, want van daardie oomblik af het ek die klappe uitgedeel.

Ek is nooit weer genader nie. Eers weer aan die Universiteit van Moskou
het ek ‘n lesing oor kommunikasiekunde gegee en my gate uit geniet
omdat ons saam ‘n koerant “ontwerp” het.)

Maar Dalene. Ek slaan toe terug met: “En wat bedoel jy met sleutelslot
by die heuningpot? Watse pot? En wat speel jy?”

Sy het my so skuins bekyk en gesê: “Sleutel slash slot. Sleutel koppelteken
slot. Sleutel spasie slot. Sleutel in slot.”

Ek het begin bloos.

“Ja, bloos maar,” het sy gesê. Ek het my koppie warm tee byna in een
sluk afgesluk en aan die stik gegaan en gehoes. “Stoot jou arms bokant jou
kop!” het sy beveel. Ek het so gemaak. Annari het dit geniet. Dalene het
my op albei agtervoete gehad. Ek het my oom Jan Lange jammer gekry
in die katkisasieklas en kon haar sien, hoe sy hom treiter. Seker oor waar
Adam se seuns vrouens gekry het, ensovoorts. Sy het gewoon voortge-
gaan om te vertel dat sy die stoutste kind is wat Riversdal ooit opgelewer
het. Toe ‘n klein monoloog oor hoe die mens die natuur verfoes en die
see bemors. Sy het elke oggend die see gaan groet: “Goeie môre, see. Hier
is ek. Bly om jou weer te sien. En môre, alles wat in jou leef. Ons is alles
deel van die groter see. Jy is maar ‘n klein seetjie. Geniet die dag.”

Toe verander sy die onderwerp: “Weet jy hoe lyk jy vir my? Of nee,
dalk vervies jy jou, want ek ken jou nog nie.”

“Nee, sê maar …” het ek aangepor.

“Jy lyk soos ‘n Jood. Soos ‘n ryk, welvarende Jood. Daai neus en daai
oë. Jood se kind.”

“Ag nee,” het ek effe vies gesê, “nie jy ook nie!” Inderdaad was Jood in
my vroeë skooldae een van my byname. “Oupa” ook: “Oupa, daar val
jou pyp.” Maar Jood … ‘n oom het eendag vir ‘n vriend van my gevra
watter Joodjie vir hom staan en wag. Ek het onder die hoë stoep by ons
fietse bly staan.

“Ek het ‘n bietjie Jode-bloed, ja,” het ek erken. “En om die waarheid
te sê, is ek trots daarop. Dis waar ons Viljees die musiek vandaan kry. Het
jy geweet dat die dirigent van die Paryse Opera ‘n Viljee is?”

Sy het my vraag geïgnoreer en my beveel om vir haar my regterhand
te gee. Sy wou die lyne bestudeer. Toe vat sy my linkerhand en beloer
daardie lyne, veral die lewenslyn wat soos ‘n besembos eindig, of soos
die delta van die Nyl.

“Jy is ‘n ou-ou siel,” het sy gesê. “Ek het so gedog. Maar jy het met ‘n
blerrie swak hand in hierdie lewe ingekom. Jy sien, jou linkerhand se
lyne wys hoe jy gekom het. Die regterhand s’n hoe jy gaan. Gelukkig
vir jou gaan jy met ‘n baie beter hand hier uit. Jy moes in jou vorige
lewe maar aangejaag het, en jy is toe ‘n paar standerds teruggesit. Jy haal
dit nou weer in. Jy het die hande van ‘n priester. Jy sou in ‘n klooster
gepas het. Ek dink dis juis daar waar jou neukery begin het … Pas maar
hierdie keer op. Speel jy klavier?”

Ek het ja gesê en sy het haar kop geskud. “Jy het die hart vir musiek,
maar nie die tools nie. Jou hande is nie vir die klavier nie. Hoekom het jy
nie viool gespeel nie?”

Teen dié tyd het ek my vervies en afgehaak met: “Omdat ek ander
kinders met die viool sou gedôner het.”

Toe lag sy uit haar maag en sê sy dink ons kan wel vrinne wees.

“Ek het jou anders verwag,” voeg sy by, “maar nou het ek jou hand
gesien.”

“Ag, hand! Wat van my hand?”

“Jy hoef nie te weet nie.”

“Glo jy aan die sterre?”

“Ek is ‘n Libra, eintlik gematig.”

“Nou toe nou, ek het gedog jy is juis onbeskof. Soos ek.”

“Jy is ‘n Leeu. Julle brul en maak dood. Omdat julle dink julle is beter.
Maar jy brul net, en mense skrik hulle g*tte af. Aan die ander kant …
jy is ook iets van ‘n militêr. Ja, jy sal doodmaak – net as dit moet. Nog
iets?”

“Dan glo jy tog aan die onsin oor die sterre wat jou beïnvloed?”

“Nee, wat ons dink ons weet, is belaglik. Wat die sterre presies aan ons
doen, weet ons niks van nie. Niks.”

“En jy glo in reïnkarnasie? Dat die mens weer telkens terugkom.”

“Nie net die mens nie. Maar ja, ons kom terug. Ek het al ‘n graf van
my gesien. Op een van die Kanaal-eilande. Met my naam op. Ek weet ek
was ‘n diensmeisie. Sewentiende eeu. Daar is ander grafte ook.”

“Waar kom jy aan dié goed?” wou ek weet.

“Goed?” vra sy. “Sê liewer kennis. Ek sal jou nie sê nie. Jy hoef dit nie
te weet nie. Ons is nie opgewasse teen te veel weet nie. Die kerk ook nie.
Die Bybel, byvoorbeeld, is ons tweeduisend jaar vooruit. Ons lééf dit nog
nie. Ons leer nog net versies. Net woorde. Ons weet nog nie mooi wat
in die Bybel staan nie. Ons staar in mure vas. Die sterre is ‘n groot storie.
Groter as mense. In die Franse Rewolusie het iemand ‘n mooi ding gesê.
Hy het vertel hy weet nie eintlik hoe mense is nie. En veral nie veel van
hoë mense of leiers nie. Al wat hy weet wat hoog is, is die maan wat hy
saans sien, en die sterre en die son. Dis hoog. Ons kyk maar sommer hier
onder vas, man. En die maan en die sterre is ook nie meer hoog nie. Dis
dimensies van bestaan ver. Maar jy behoort dit mos te weet. Synde ‘n
kerkman wat nou koekresepte uitdeel.” (Toe knipoog sy. Help, Danie,
het ek gedink. Die Bosvrou het my beet.)

Toe praat sy effe versoenend: “Daar is iewers ‘n wanbalans, man. Die
skepping is ‘n groter storie as wat enige mens kan dink. God ook. Die
kerke sal ons later nog reg leer. Want die kerke moet ook nog leer om
ons te leer. Die kerk moet voor loop, nie agter mense aan nie. Politiek
moet by die deur uitgesit word. Lewe is ook anders as wat ons beweer
ons weet. Die mens kry sewentig jaar” – sy het dit toe nie gekry nie –
“en daar gáát hy! Ek sal jou bome in die bos gaan wys wat duisend jaar
oud is.”

“Wil jy dus sê, jy, ons, mense, is ‘n duisend jaar agter die bome?”

“Nee, sê so driehonderd jaar. Ek gaan ook nie kerk toe nie.”

Sy het opgestaan en gevra of ek nog tee wil hê. Bruin krale om die
nek. ‘n Swart-en-rooi polkadot-romp. Die dik swart hare. En die oë
onder die swart wenkbroue. As sy wou, kon sy ‘n baie mooi vrou gewees
het. Wanneer sy op ‘n sekere manier gestaan het, asof sy om ‘n hoek
loer, kon jy iets van die stoute en baie aantreklike jong tiener in haar
sien. Maar ek het niks daarvan gesê nie. Op ‘n manier moes ek hierdie
onderhoud begin vasvat.

“Dit klink my jy het maar net ‘n bosgodsdiens. En jy skryf jou eie
bosbybels.”

Sy het die pot geel daisies effe nader getrek: “Oh, I love my bosgodsdiens!
It works! Kyk, man, ek verstaan nie eens die katkisasieboek nie. Dis moeilik
en julle maak dit te moeilik. Ek moet sommer ‘n eenvoudige godsdiens
hê. Ek sê nie dit sal vir jou en Annari werk nie …”

Sy bly ‘n oomblik stil en sê toe: “Jong, hierdie onderhoud is op die
verkeerde pad. Vra die gewone vrae. Ek vertrou jou ook nie heeltemal
nie. Ek bekyk jou so … Jy moet net onthou intelligensie, of dit wat ons
intelligensie noem, se reikwydte is maar bra klein. Jy weet dit klaar. You
live by your wits. Jý moes dit al tevore, eeue gelede, geleer het. Dis een rede
waarom ek jou nie vertrou nie. Daar is ander ook. Was kardinaal Richelieu
nie ‘n De Villiers nie?

“Nee, hy was Du Plessis …”

“Oukei. Ek sal darem lekker oor jou kan skrywe! Maar ek hou van
jou omdat jy … so Joderig is.”

Ek het besef dat sy besig was om die kaarttafel op my om te keer. Sy
het met my gespeel soos my oom Jan Lange uit sy sitplek by die sinode
met sy gehoor gespeel het en dr. Koot Vorster ook sommer op sy herrie
gegee het, maak nie saak wie die voorsitter was nie.

Ek het na Annari gekyk om hulp. Maar sy het net geglimlag.

“Dalene, hoeveel kinders het jy?”vra ek flou.

“Drie. Amanda, Toni en Hilary.”

“En ek wil jou vra: het al die pryse wat jy nou al gekry het, nie ‘n
bietjie na jou kop toe gegaan nie?” Moedswillig.

Baie sag het sy geantwoord: “Lyk dit vir jou so?”

“Nee. Nein. Nee. Maar jy skryf sulke treffers … Het jy al ooit foute
gemaak, of soos jy sê, jou kaarte verkeerd gespeel?”

“Natuurlik het ek baie goeie kaarte vermors. Dis wat mense doen en
dan blameer hulle die Liewe Here. Roem het vir my geen betekenis nie.
Ek weet nie wat roem is nie. Prinses Diana is beroemd, maar of dit haar
ten goede kom, is ‘n vraag. Ek het niks verniet gekry nie. Ek moes hard
daarvoor werk en het uit my foute geleer. Foute is jou beste leermeester.
Die waarheid is hard. Jy moet genadeloos eerlik wees met die waarheid
omtrent jouself.”

Toe sien ek ‘n kans: “Ja, die waarheid is hard. Maar jy vertel lekker
stories wat jy uitdink … Want jy maak darem ‘n ietsie ook daarmee. Ek
bedoel geld.”

“Ja, en dan sê hulle ek is ‘n geldwolf. Ek het R14,50 in my bankboekie.
My man hanteer my geld. En jy wil my uitlok met ‘stories’ vertel oor
wáárheid. Luister: daar is geen storie wat ‘n opregte storie is wat nie
waar is nie. Dis hoe die Bybel werk, en wat mense nie kan verstaan nie.
Maar die storie moet oprég wees. Ek skryf net wat ek weet en toets en
navors. Dit kos baie tyd en werk en geld, terwyl jy van geld praat. Die
vertel van die storie is maar net die koppeltekens invul tussen die feite
wat saamgesels. Of weier om saam te gesels.”

“Het jy ‘n boodskap vir vroue?”

“Nee, ek hoop nie so nie. Ek het vir hulle niks te sê nie. Vroue het
wysheid. Mans het intelligensie. Maar dis die wysheid wat die werklik
intelligente mens bewonder, nie die intelligensie nie. Ek is g’n boodskapper
of prediker nie. Soos Opperman roep ek maar net gestaltes op.

”Maar ek het iets vir mans te sê: elke jaar moet hulle die rolprent Camelot
gaan kyk en luister na die liedjie “How to handle a woman …” (Sy begin
sing. Toe sê sy: “Nou praat ek twak. Moet dit nie skryf nie.”)

Dit het my lus gemaak om iets te waag: “Ek hou van jou. Jy is reguit.
Wat dink jy van diplomasie? My ma het gesê takt is iets wat die voëls op
sit … Lyk my vir jou ook.”

Dit was haar kos: “Mense is bang om vir mekaar die waarheid te sê.
Skrywers lieg vir mekaar. Hulle prys mekaar selfs in die openbaar en
beskinder mekaar dan agteraf. Dis skelm. Ons laat ons bind deur wat
ander van ons sê. Wat ‘n aaklige gevangenskap: om na die ‘beeld’ van
jouself te leef wat ander vir jou skep. Julle predikante word mos betaal
om dit te doen. Partykeer dink ek julle word betaal om te glo ook. Wanneer
die gaping te groot word van wat jy werklik is en wat mense wil hê
jy moet wees … dan is daar onweer aan die kom. Jong mense moet dit
gou leer verstaan. Mense sal lekker saam met jou lieg en dan verder oor
jou lieg en bedrieg.

“Daar is net een ‘leuen’ wat vertel moet word, veral as jou kind klein
is. Sê vir haar sy is die mooiste, slimste, liefste koningin van jou hart.
En vir jou seun: voel aan sy voorarms en spog met sy muscles. Sê hy is ‘n
mán aan die word, ‘n ware man van eer. Sê hy is slim, al is hy dom. Jy sal
sien hoe groei jou kind dan. Máár: sê ook baie duidelik waar die lewe se
strepe lê. Die waarheid van life is not fair. Jy weet dit seker. Jy is mos Ma se
Kind. Bederf ook. Alles word verwerk in die Groot Kosmiese Rekenaar
waar jou program opgestel en gevorm word. En onthou: as jy iets wil
leer, sal jy oral ‘n leermeester vind wat jou maar te graag wil help. Maar
dan moet jy luister en nie beter weet nie. Jy kry altyd ‘n onderwyser, ‘n
ghoeroe. Selfs in iemand se jaart. Dis wat ek pes van politici: hulle weet
niks en wil ook niks leer nie. Dan wil hulle vir my dit of dat kom sê.”

Ek het geknik. Ek sou dit later meer as een maal weer beleef en wéér
beleef: mense wat nie wil leer nie.

“Maar wat sal jy van die aarde mis? Jou huis hier by die see?”

“Ek sal die Bos mis, daar tussen die groot bome. Die wysheid van
geknoetste stamme. Die stemme in die wind in die takke. Gister en
môre, as die mens dit nie vernietig nie. Hulle sal nog wraggies in die Bos
ook ‘n gholflandgoed aanlê …”

“Vier jy Christelike feeste?” (Kerstyd was aan die kom.)

“Nie Kersfees nie. Die afgelope vyftien jaar nie meer nie. Dis ‘n persoonlik-
godsdienstige dag en klaar. Ek het eendag by ‘n Kersete in ‘n
hotel gesit – ‘n benoude eetkamer – en gesien hoe ‘n Kersvader met sy
sneeuhoed loop en sy wattebaard en die mense met Kershoedjies op hul
koppe en trekklappers en wyn – ek drink geen wyn nie – en besluit dis
nie vir my nie. Klaar. Ook nie klein kindertjies in die kerk met ‘n pop
wat Jesus voorstel en Maria en die arme ou Josef nie. Dis gewoon verspotte
gewoontes en om nie mee te doen nie, verskaf my groot genot.”

“Jy klink maar deeglik aweregs …”

“Ja, mense sê ek is ‘n ou heks. In een van my lewes is ek as ‘n heks
verbrand deur ‘n spul priesters. Hulle was bang vir hekse. Ja, bang, niks
anders nie. Priesters was mos ook politici. Politici vernietig alles wat
hulle bangmaak. Politici maak my kwaad, omdat hulle so dom is. As dit
nou ek was wat so dom is, kan mens dit nog verstaan …”

My bandopnemer het gewys die tyd raak min. Ek het geweet ons sou
kon aanhou tot die volgende maand. Sy het iets in my wakker gemaak.
Iets opwindends. Iets soos in ‘n openbaring … goed gegee om oor na te
dink. Ek wou weet wat sy sou doen as sy haar lewe kon oor hê.

Feeble vraag,” het sy gesê, “maar jy bedoel seker hierdie lewe … Nou
ja, ek sou meer wil leer. Van kindsbeen af het ek gerebelleer. Maar dit
help nie jy rebelleer en dan is dit klaar nie. Wat bou jy op wat beter is?
Wat skep jy om jou rebellie te regverdig? Ek het leermeesters gesoek tot
letterlik aan die einde van die aarde. Ek het oral gesoek, gelees, gestudeer.
En toe begin skryf. Nou wil ek weer net sit en leer. Leer.”

“En het jy ooit ‘n goeie leermeester gekry?”

Sy het geknik.

“Wie en waar?”

“Moenie dink ek laat my vang nie, meneer Jood. Gaan vind self uit en
betaal die prys.”

Die bandopnemer het met ‘n klak afgeskakel. Annari het van Dalene
foto’s gaan neem. Ek het gedink dat ek vir destyds se Sarie dié onderhoud
baie sagter sou moes maak. Ek het vir myself tee uit die pot geskink. Die
lekkerste tee in jare. Ná ‘n onderhoud wat my laat sweef het – enersyds
soos ‘n bokser wat in ronde nommer een al ‘n hou teen die slaap gevat
het, andersyds dieselfde gevoel as ‘n belewenis uit een van Stephen King
se boeke. En verder: byna soos die aand in die hotel, toe ek die vreemde
lig gesien het. (Ek het ‘n gedig, “Visioen”, daaroor geskryf in Jerusalem tot
Johannesburg.)

Terug van die foto’s, kon ek sien haar bui het verander. Sy wou speel.

“Gestel jy stap in ‘n groot bos. Jy kom op ‘n rivier af en jy moet oorgaan
na die huisie anderkant. Daar is nie ‘n brug nie. Dis ‘n lekker dag.
Sal jy swem?”

“Nee,” het ek gesê, “ek sal klippe soek om so gou moontlik anderkant
te kom.

“Hmm,” sê sy: “Dit was die seksvraag …”

“Wat?!”

“Ja, die seksvraag.”

“En wat het jy uit my antwoord geleer?”

“Ek sal nie sê nie. Dalk is jy ‘n ou prude.”

“Sê jy of vra jy?”

Stilte.

Toe: “Jy het al seergekry. Dis goed.”

Annari het skielik gepraat: “Ek wens ek kon hierdie gesprek op video
opneem. Julle lyftaal. Hoe julle mekaar se oë vashou en nie een van
julle wil wegkyk nie, amper asof julle mekaar herken en weer en weer
wil toets of die herkenning wáár is …”

Ons het niks gesê nie.

Toe ons groet, het sy breed geglimlag: “Jy moet weer kom. Ek bedoel
dit. Ek wil jou die Bos gaan leer. En om met die see te praat – en die
geheime agter die see. Maar dit het ‘n prys …”

“Soos wat?” wou ek weet.

“Tot siens.” Sy het my op my wang gesoen. Annari het weggetrek uit
die skaduwee uit en vir eers niks gesê nie.

Hoe het die vrou van die Bos dit van meet af reggekry om my om die
bos te lei – en selfs aan my hare deur dié bos te sleep?

Naskrif
Van my Sarie-onderhoude het ek slegs ‘n paar, onder meer hierdie een,
op band gehou. Dis effe beskadig. Ek het Dalene nooit weer gesien nie.

*Vir meer besoek www.umuzi-randomhouse.co.za/

* Lees ook Izak de Villiers se rubrieke in SARIE

  • Maudie Verreyne

    Dit was een van die wonderlikste onderhoude wat ek nog gelees het. Ek het tussen deur baie emosies beleef – lekker gelag, hartseer, jammerte. Maar veral jammerte dat die Bosvrou nie meer leef in hierdie lewe nie en nie meer aangrypende bosstories kan vertel nie. Sy was ‘n formidabele vrou en sal haar mis. Dankie Isak dat jy die onderhou met haar gaan voer het en dit so werklik oorgedra het in die artikel dat ek dit soos ‘n storie voor my kon sien afspeel. Bravo vir jou mannemoed!!!!