FOTO: Michael Hammond

FOTO: Michael Hammond

Boeke

Dan Sleigh kry iets reg wat min kan!

Dan Sleigh kry dit reg om my so ver te kry om ’n verhaal oor die geskiedenis van die vroeë jare in die Kaap te lees.

Op skool kon geen geskiedenisonderwyser my inspireer om aandag te gee aan dié vak nie. Dit was droog, saai en vervelig om die klasse deur te worstel. Maar ek het agter gekom as geskiedenis op ’n boeiende en fassinerende manier aangebied word, lees ek sommer deur die nag om die verhaal op te slurp. Dis wat Dan Sleigh reg kry met sy boek, 1795 (Tafelberg, R320), wat ook die wenner van NB Uitgewers se Grootromanwedstryd vir 2015 is.

Die verhaal draai om William van Reede van Oudshoorn, iemand wat Dan ‘die laaste goeie man’ noem. Deur sy oë ervaar ons die gebeure aan die Kaap in die jaar, 1795, die laaste jaar wat die Kaap onder die VOC-vlag regeer word. Alhoewel die kern van die verhaal gebou is rondom geskiedkundige feite, hoe die Kaap regeer word deur kommissaris Sluysken van die VOC en sy amptenary, en hoe daar oorlogswolke op die horison wink, is daar ook ’n intense persoonlike verhaal oor William se verlore liefde. Eers is dit sy geliefde Neeltje wat hy aan die dood afstaan, daarna die ongelukkige huwelik met Geesje Kirsten, van wie hy van bed en tafel geskei is. Daar kom ’n Franse vrou in die Kaap aan, Francine-Marie, en William raak verlief op haar. Maar vervulde liefde is hom nie beskore nie.

In Simonstad lê die Engelse vloot onder bevel van generaal Craig net en wag om aan wal te gaan om die Kaap in te neem. William doen alles in sy vermoë om Sluyskens te oortuig dat daar ’n oorlogsplan opgestel moet word en dat die Kaap verdedig moet word ten alle koste. Helaas, op die ou einde is dit elke korrupte amptenaar vir homself en net so is die Kaap in die hande van Brittanje. William se volgehoue verset teen verraad en vreemde oorheersing maak hom ’n teiken en die nuwe regering probeer sy lewe so moeilik as moontlik maak.  Teen die einde van die boek lê generaal Craig besoek af by William en wanneer hy sien William skryf met ’n gansveer, sê hy aan William: “Moes ek uit Engeland kom om jou van staalpunte te vertel? Jy sit hier en mors jou tyd met die verlede. Dit is geskiedenis.” Waarop William antwoord: “Vir my, nie geskiedenis nie: Dit is ek.” William sê dat geskiedenis soos ’n kanker is, “jy kom nie van sy pyn weg nie.” En dit is die kern van die verhaal, die geskiedenis is wat dit is, jy kan dit nie verander nie, hoe pynlik dit ook al mag wees. Lees eers oor die verlede, want dikwels sal dit insig gee oor die hede.
Ek het die verhaal geweldig geniet. Dan Sleigh kry dit reg om die geskiedenis lewendig te maak.

Ek het per e-pos met Dan Sleigh gesels.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

 

 

Die meeste van jou boeke het ’n geskiedkundige strekking. Waarom is jy so aangetrokke tot die geskiedenis?
Mense sterf en verdwyn; stemme word stil. Geskiedenis is ’n soektog na oorlewendes in eindelose ruimte. Dus: ’n poort tot die verlede. Ek het nie alleen gewerk nie; met al vier romans het Helena Scheffler – ’n briljante kultuurhistorikus en elke keer my eerste leser – gehelp om die menslike bestaan in verskillende lande en tye te ondersoek en te probeer uitbeeld.

Waar het jy die eerste keer die gedagte gekry om 1795 te skryf en wat was die inspirasie daarvoor?
William van Reede van Oudshoorn se stryd teen vreemdelinge wat sy land oorneem was al lank aan my bekend, en ek wou van hom, in hierdie tyd van politieke verwarring, vertel. Die vraag bly steeds dieselfde: Waarom?

Hoe het jy die navorsing vir die verhaal aangepak? Was daar iets wat jy in jou navorsing ontdek het, wat jou verras het?
Nee, ’n roman moet nie van navorsing afhanklik wees nie. Dan is die inligting te ondeurdag en die skrywer moet liewer ’n ander medium kies om dit bekend te maak. Ek versamel al jare lank inligting oor die gebeure en dink baie lank daaroor.

Het jy ’n persoonlike verbintenis met die VOC?
My Kaapse voorvader aan moederskant was ’n VOC-skipper en die waarnemende ekwipasiemeester van die Tafelbaaise diensstasie. Die VOC was goed vir my. Afgesien van meer as vyftig jaar se studie in oorsese en plaaslike argiewe, het my Kompanjie-studies en tekste my ’n ridderskap, twee gevorderde universiteitsgrade, ’n suksesvolle professionele loopbaan en verskeie toekennings vir Bewaring en Opvoeding besorg. En dan die romans en pryse vir letterkunde.

Hoe skryf jy? Is jy gedissiplineerd en skryf jy elke dag?
Sonder dissipline is daar net onrus en twyfel. Vra vir William van Reede van Oudshoorn. Met dissipline kom sukses.

Hoe lank het jy aan hierdie boek gewerk?
Meer as drie jaar, dag en nag lank. Ek kan nie my mense, hul wêreld en al hul omstandighede verlaat voordat hul verhaal gereed was vir publikasie nie.

Hoeveel van die verhaal is fiktief?
Al die heel beste dele. Onthou dat die genre fiksie is. Maar dit was nie nodig om, soos Conrad met Nostromo, elke bos en klip self te skep nie. Tafelberg was byvoorbeeld reeds hier, ook Jan van Reenen se plaas Ganze Craal in die Slagtersveld, William se woonhuis Saasveld agter die Kompanjiestuin, die pakhuis op die hoek van Strand- en Breestraat, die klipkuil in Vlaeberg se hang. Dit was William en Francine se bekende, daaglikse wêreld.

Waarom die verhaal juis uit William van Reede van Oudshoorn se oogpunt vertel? William staan sentraal. Ek het hom ‘Die laaste goeie man’ genoem. Voor in die roman is ’n kort karakterskets van hom deur ’n tydgenoot geskryf. Lees dit; oordeel self. Hy is die een wat nie wou oorgee nie, nie wou ophou veg nie of sy land verloor nie, die leidende en lydende persoon. Hy moes ook ’n waardige man wees vir Francine-Marie, die Vrou van die Verligting. William se weiering om voor die vyand te buig is vir altyd die laaste dokument in die VOC-argief. Sy reputasie en voorbeeld is onsterflik.

Ek sien in die publisteitstuk van die uitgewer dat dit jou laaste roman is. Wat lê nou vir jou voor? Gaan jy glad nie weer skryf nie?
Consummatum est. Ek is jammer daaroor, want ek het dit geniet. My kwynende sig is een van verskeie redes. Ek sien net dat ek nie by alles gaan uitkom wat ek graag wou doen nie. Ek was maar ’n besoeker aan die wêreld van letterkunde en gaan nou terug na geskiedenis. Ek het meer afsondering en stilte nodig en moet veel meer aandag aan erfenisbewaring gee; hoe meer die nasionale, provinsiale en stedelike bewaringsowerhede hul plig verwaarloos, hoe meer word sulke diens noodsaaklik. Ons moet nou bewaring demokratiseer.