FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Dana Snyman probeer die lewe verken

In sy jongste boek probeer Dana Snyman die lewe verken. Hy sê self so.

In die Blou Kamp (Tafelberg, R225) is ’n bundel met skryfsels wat hy op sy Facebook-blad geplaas het. In die heel eerste stuk, ’n Soort voorwoord, is hy in gesprek met die fotograaf Paul Alberts oor dié se boek wat blyplek gevind het agter Dana se bakkie se sitplek, so tussen die domkrag en ander goed wat daar leef. Eintlik wou hy al die boek daar uitgehaal het, tog bly dit daar omdat Dana van tyd tot tyd daardeur blaai. Hy het ’n konneksie met die tipe foto’s wat Alberts geneem het, foto’s wat hom herinner “aan die teksture van hierdie land wat jy so goed geken het, aan die verganklikheid en die broosheid van dinge, en die onbestendigheid van alles in hierdie tussentyd waarin ons lewe – die lewe buite die hekke van Eden. Die lewe wat ek ook op Facebook probeer verken, al is dit hoe voorlopig.”
Dié verkenning strek oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe, van nostalgiese herinneringe oor sy ma en pa, staaltjies oor die mense wat sy huishouding aan die gang hou, terloopse mense wat hy op sy reise raakloop, mense wat hy doelbewus opsoek, plekke waar hy aandoen, herinneringe van insidente en die avokadopit in die bottel wat ’n boom moet word. Sy stories is ook ons verkenning van die lewe, want deur sy oë kyk jy opnuut na die teksture van hierdie land en dwing dit jou op ’n manier om jou horisonne en uitkyk te probeer verbreed deur jou in ’n ander man se skoene te plaas. “Al is dit hoe voorlopig.”

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Ek het ’n paar astrante vrae per e-pos aan Dana gestuur wat hy openhartig geantwoord het.

Jy het grootgeword in ’n era sonder Facebook. Wat dink jy van Facebook en dink jy dit beïnvloed mense se verhoudings en hoe hulle die wêreld sien?
Ja, inderdaad. Toe ek my verstand gekry het, was daar nog sogenaamde handsentrales. Jy kon nie eens die telefoon in die huis optel en self iemand bel nie. Jy moes vir tannie Julia bel wat voor ’n skakelbord in ’n geboutjie agter die poskantoor gesit het. Tannie Julia het jou dan deurgeskakel na waar jy wil wees. Byna ondenkbaar, né? Ek het gemengde gevoelens oor Facebook. Die meeste van die tyd verwonder ek my aan wat mense daarop skryf en doen, al stem ek nie noodwendig met alles saam nie. Dit is, vir ’n skrywer, ’n goeie plek om te sien wat gaan in mense se koppe aan.
Op ’n ander vlak bring dit ook mense bymekaar. Soms. Jy lees van iemand se swaarkry of lyding en besef hoe bevoorreg jy is, en dan wil jy sommer help. Baie mense doen dinge vir mekaar, dink ek, op grond van dinge wat hulle op Facebook lees. Jy kan ook langverlore vriende op Facebook opspoor, ens. Dis die een kant van die saak. Maar bring Facebook regtig mense bymekaar? Soms wonder ek of Facebook nie net die illusie daarvan skep nie. Praat ons op Facebook nie steeds maar net met mense wat min of meer soos ons is en soos ons voel nie? Kyk ’n mens na die werklikhede in hierdie land, lyk dit of presies die teenoorgestelde gebeur: Gemeenskappe, swart en wit, ryk en arm, konserwatief en liberaal, WP- en Bulls-ondersteuners . . . almal beweeg verder van mekaar af weg. Of is ek verkeerd? Dis maklik om agter jou hoë muur voor jou rekenaar te sit en een met die heelal te voel, tot jy by daardie veiligheidshek uitry . . .

Hierdie nuwe boek van jou is hoofsaaklik skryfsels wat jy op Facebook geplaas het. Hoe het die projek vir jou afgeskop en waarom juis Facebook ontgin?
Baie van die stories was op Facebook, ja. Uiteraard het ek dit intussen van Facebook gehaal, want ek wil hê mense moet die boek koop. Ha! Die dinge het so half toevallig begin. In die eerste twee of drie jaar wat ek ’n Facebook-blad gehad het, het ek niks daarop geplaas nie. Ek het net ander mense se goed gelees en bekyk. Toe beginne ek dink: Hoekom nie? Is dit nie ’n goeie plek om jou stories te vertel nie? Ek is nie een wat juis oor dinge wil kla nie, soos baie mense op Facebook doen. Ek word ook maar min kwaad vir iemand spesifieks. Ek wil net stories vertel.

Dis baie uiteenlopende onderwerpe. Het jy met ’n plan gewerk oor wat jy plaas of hoe het jy besluit “ek gaan iets hieroor of daaroor skryf.”?
Dis vir my ’n groot kompliment as jy sê daar is baie uiteenlopende onderwerpe. Ek is so bang ek haak vas by een ding. Nee, ek gaan sit nie en beplan oor wat ek wanneer wil skryf nie. Dit kom net. Met die Genade.

In ’n vorige onderhoud het jy vir my gesê hoe ouer jy word, hoe meer wil jy onder die radar beweeg. Is hierdie Facebook-eksperiment nie teenstrydig hiermee nie?
Dit is ’n groot teenstrydigheid, ja. Op die oog af. Maar Facebook het ook die voordeel: Jy kan onder die radar wees, en steeds jou stem laat hoor. Ek kan hier op Jacobsbaai sit, met my honde, ver van die gedruis, en steeds in voeling bly met die wêreld.

Hoe voel jy oor jou bekendheid en dat jy in die openbaar herken word?
Soms is dit lekker. Ek is ook maar ydel, sien. Gelukkig gaan dit die meeste van die tyd nie oor myself nie. Ek het nie die looks van Bobby van Jaarsveld, die dansvermoë van sy suster, Karlien, of die charisma van Steve nie. As mense met my wil praat, gaan dit oor stories – dikwels hul eie stories wat hulle ook wil vertel. Ek is altyd dankbaar as ek mense daarmee kan help. Baie mense dink, glo ek: As Dana sy stories kan vertel, kan ek ook. En dis vir my mooi en goed so.

Is jy ’n sentimentele mens, want in die stukkies oor jou pa is daar tekens daarvan?
Ek is bang vir daardie woord: Sentimenteel. Baie mense verwar dit dikwels met soetsappigheid. Ek is sentimenteel, maar ek glo darem nie ek is soetsappig nie. Ek besef die harde werklikhede, die eensaamheid en pyn van oudword, die onsêbare pyn van iemand wat kanker het. Die aarde is ’n baie wrede plek – ’n mooi plek, maar ook oneindig wreed. Ek kyk na my pa as ’n mens wat van als probeer sin maak het, en wat ook sagtheid na die wêreld probeer bring het, veral aan die einde van sy lewe. Daarvoor bewonder ek hom baie.

Jy skryf ook oor jou ma se depressie en hoe dit in haar era afgemaak was as iets anders. Jy self gaan ook gebuk onder swart buie. Dink jy dis geneties of is dit in jou geval omdat jy so diep dink en voel oor die lewe?
Dis ’n moeilike vraag om sommer so kortliks en vinnig te beantwoord. Ek dink dis bewys: die geneigdheid tot depressie kan geneties oorgedra word, van geslag na geslag. Daarom moet jy maar jou pilletjies drink as die dokter of die psigiater glo jy moet. Ek probeer al hoe meer aan depressie dink as ’n soort uitdaging om ryker en dieper te probeer lewe. Soms maak dit ’n mens dalk meer depressief, ek weet nie. As jy redelik sensitief is, en jy sien al die swaarkry en pyn rondom jou, raak dit jou ook. Maar ek glo daar lê tog ’n soort redding in om vorentoe te leef, en om nog meer bewus van dinge te probeer raak, meer in die oomblik te gedy… Die lewe is ’n skrikwekkende, wrede, ontsaglike mooi ervaring… Joe, ek raak nou melodramaties.

Was hierdie tipe skryf vir jou makliker as om rubrieke, essays en kortverhale te skryf?
Alle vorms van skryf is vir my moeilik.

Kan jy een van die gedeeltes in “In die blou kamp” uitsonder – die een wat jou die sterkste by bly?
Nie regtig nie. Elke storie het iets van myself in, en ’n mens is mos maar lief vir jou kinders, al is party nie noodwendig mooi nie.

Het die avokadopit darem eindelik ’n volwaardige boom geword?
Geen kommentaar. Ek wil in ’n volgende boek daaroor skryf.