FOTO: verskaf

Boeke

Dana Snyman se reis is ’n verkenning van die wêreld

Dana Snyman verken die wêreld wanneer hy reis. Maar dis ook ’n binnereis waarop hy homself verken.

In sy jongste boek, Op pad: ’n reisjoernaal (Tafelberg, R250) boekstaaf hy die reis wat hy saam met ’n televisiespan onderneem het. Van sy huis in Jacobsbaai het hulle die pad gevat die land in. Op soek na hoop – die tema van die televisiereeks. Vir Dana was dit nie ’n maklike reis om te onderneem nie, want hy is nou voor die kamera. “Hoe ydel, nog meer ydel as gewoonlik, maak die teenwoordigheid van twee televisiekameras ’n mens nie. Hoe besorg oor jou beeld na buite, hoe bang vir wat ander gaan dink.” Die heeltyd vra Dana vrae, oor hoe dit is om ’n middeljarige Afrikaner in Suid-Afrika te wees; hoe bid ’n mens; hoe vergewe jy iemand. Hy bespiegel oor onsekerheid, die vrees vir sentimentaliteit en om belaai te wees met skuldgevoelens. Dié verkenning word gedoen in gesprekke met sy oorlede pa en gewone mense wat hy op sy reis raak loop. Sy stryd is die stryd waarmee alle Afrikaners hulself kan vereenselwig. “Om die bekende agter te laat en oor ’n drumpel te tree na iets nuuts, iets onbekends.” Dit gaan gepaard met gevoelens van onsekerheid, onveiligheid en angs. Tog kom hy aan die einde van sy reis tot die slotsom dat daar tog ’n plek in die land is vir Afrikaners en dat ons hoopvol kan wees. Dis ’n baie persoonlike en eerlike vertelling, een waarin Dana homself bloot lê om die vrae te vra wat ons almal eintlik self wil vra. Ek het met Dana gesels oor Op pad: ’n reisjoernaal.

 

FOTO: verskaf

Was dit van kleintyd af jou droom om ’n skrywer te word?
Ná skool het ek nie geweet wat ek wil doen nie, toe gaan swot ek BA. Ek het net so ses maande gehou. Toe het ek allerhande werke in Pretoria gedoen. Ek het nie op skool gedroom om ’n skrywer te wees nie. Ek het glad nie uitgeblink in opstelle of in tale nie. Ek het allerhande werke gedoen van veiligheidswag, skakelbordoperateur tot boekwinkelklerk. Op ’n dag het ek ’n onderonsie met ’n kliënt in die boekwinkel gehad en toe  het ek net bedank en die technikon gebel en gesê ek wil joernalistiek studeer. Min het ek geweet ek moes keuring kry vir die kursus en dat dit eintlik al gesluit was. Maar gelukkig kon ek, danksy prf. George Claassen,  inskryf. So, ek was 27 toe ek ’n joernalis geword het.  Ek het eers by Die Laevelder geland en toe later is ek Beeld toe. Ek het geleer skryf by die koerante. Hoe meer mens dit doen, hoe meer ingeoefen raak jy. Hoe ouer ek raak, hoe gemakliker raak ek met my eie foute.

Hoe skryf jy?
Terwyl ek skryf, lees ek alles vir myself hardop. Vir my is ’n storie ’n ding wat mens hardop moet kan lees. Ek het baie respek vir mense wat Breyten Breytenbachagtig kan skryf, maar vir myself is ’n storie ’n praktiese ding. Dis soos ’n gebruiksartikel, dis iets wat jy vir iemand kan gee soos ’n tafel en ’n stoel.

Hoe hanteer jy dit om in die openbaar herken te word en die aandag wat daarmee saam kom?
Dis lekker om herken te word. Ek probeer nie te veel daaraan dink nie. Ek probeer net aangaan. Een van die tema’s in my boek gaan juis oor die reis vir die eerste TV-reeks wat ons gemaak het wat laas jaar uitgesaai is. Dit gaan oor die spanning van die wêreld van televisie wat ’n eintlik kunsmatige wêreld is, die wêreld van die kamera en die ou agter die kamera. Wanneer begin jy iets doen vir die kamera, en wanneer is jy net jouself? Wat my die meeste getref het op daardie reis toe ons weggry van my huis op Jacobsbaai, was dat ons geen werklike plan gehad het nie. Dit was ’n intense ervaring. Die eerste ding wat my verras het van die kamera is dat mens alles bietjie meer intens ervaar.

Jy skryf oor onsekerheid en skuldgevoelens in die boek. Jy vra ook of daar nog hoop is. Het jy hoop?
Ek dink baie wit mans in Suid-Afrika sukkel met onsekerheid en skuldgevoelens en die vraag oor waar ons in die land inpas. Natuurlik het ek hoop. Maar hoop is ’n moeilike ding. Hoop is so moeilik dat ek 35 000 woorde daaroor geskryf het. Deel van my krisis as ’n middeljarige wit Afrikaanse man is dat ek grootgeword het in ’n wêreld vol sekerhede en dissipline. Nou is daardie sekerhede weg. Nou dink ons daar is nie meer hoop nie. Ons sit toenemend by braaivleisvure en in koffiewinkels en praat onsself in moedeloosheid in. Ons verbeel ons ons ly so swaar. Waar soek mens na hoop? Ons is ’n klomp mense in hierdie land en ons moet dit maak werk. Ons sal verras wees oor hoeveel goeie gesprekke ons met ander landsburgers kan hê oor gedeelde menslikheid.

In al jou boeke verwys jy baie na familie. In hierdie boek tree jy dikwels in gesprek met jou pa. Waarom?
Eerstens is die gesprek ’n persoonlike een met my pa, my vader,  maar dis ook ’n gesprek met die vaderland. Dis my gesprek met die ou Suid-Afrika.

Jy is nogal ’n introvert. Is dit vir jou maklik om geselsies aan te knoop met vreemde mense?
Dit is maar moeilik. Iemand wat my baie geleer het om met mense te praat, is Nardus Nel. Nardus was ’n fotograaf wat my baie geleer het van die lewe. Ons was 20 jaar of wat vriende.  Hy het voluit gelewe en hy het altyd vir my gesê: “Dit gee my ’n kick om met vreemde mense te praat.” Ek het hom dopgehou oor hoe hy iets sê om die beste uit mense te kry. Wat mens wel agterkom is dat elke mens ’n storie het en as jy vra, dan is hulle bereid om dit te vertel.

Waar is huis vir jou en wat beteken huis vir jou?
Huis beteken vir my my stories. My huis is nou op Jacobsbaai. Ek wil toenemend nie ry nie. Ek wil my eie klein omgewing verken, maar ek sal altyd ’n bietjie ry. Dit het miskien met ouderdom te doen, maar mens se reis is eintlik die binnereis. Ek moet nog al daardie stories vertel.