FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Debuutroman oor ’n malhuis vol gefolterde karakters met seksmal sielkundige

Hierdie debuut ontgin die donker kant van die hoofkarakter, maar beskryf ook die doen en late van ’n spul gefolterde karakters. Daar is die siekes in die malhuis, die seksmal sielkundige en die gekweste familielede.

Daar is die mense wat in die inrigting is, maar ook almal wat deel was van die hoofkarakter, Helena Harmse, se lewe. In haar familie is haar ma ’n hoer, haar pa ’n dronklap, haar broer emosioneel geknak deur sy diensplig. Daar is geweld by die tonne en skeltaal wat gesprekke peper. Elkeen wat ’n rol speel in Helena se lewe het ’n duiwel binne hulle wat hulle folter op die een of ander manier.

In die openingstoneel van die verhaal kuier Helena by haar ma in ’n inrigting vir geestesiekes. In die volgende hoofstuk verplaas die skrywer jou na Londen, na waar Helena ’n man optel in ’n kroeg en onwelvoeglike seks met hom het. Die derde hoofstuk neem jou na die inrigting in Londen waar Helena as terapeut werk, die “malhuis”. Elke hoofstuk in hierdie onthutsende verhaal verplaas jou na ’n ander plek en tyd in Helena se lewe. Jy spring tussen die hede en die verlede vir haar geskiedenis wat hoofstuk vir hoofstuk ontvou.

Anel Heydenrych se karakters is nie die ‘girl next door’-tipe nie. Hul aksies manifesteer die minder mooi aspekte van die lewe. Hulle is broeiend en hou jou vasgevang tussen die bladsye, net soos hul gevangeneskap in die malhuis. Maar om van hierdie gek-wêreld te ontsnap, wend Helena haar tot seks . . . Baie wilde seks, wat grafies beskryf word. Vir Helena is die seks ’n manier om mense te straf, maar ook haarself, want in haar verlede is daar ’n groot geheim. Sy het haarself verplant uit Afrika, want dis haar manier om haar familie, die mense wat sy ken te vergeet en om van die dinge wat gebeur het te ontsnap. Maar die verlede haal Helena telkens in, nes sy dink sy kan wegkom daarvan, dan is die herinneringe weer daar. Vergrype van verskeie aard, drank, geweld, seks en dood, het haar lewe gevorm. Soos wat die verhaal vorder, onthul Helena ook al hoe meer van hierdie gebeure.

Helena sê in die eerste hoofstuk : “Jý is die gelukkige een, Ma. Jy kan nie onthou wat jy gedoen het nie.”  Teen die einde van die verhaal onthou Helena alles wat sy gedoen het. Haar lewe het volsirkel geloop. Die wilde verhaal neem met ’n tempo sy loop en jy lees nogal vinnig aan Helena se verhaal, maar jy vergeet sekere aspekte daarvan nie sommer maklik nie.

Ek het per e-pos met Anel Heydenrych oor haar debuutroman, Malhuis (Penguin, R220), gesels.
Malhuis - Anel Heydenrych - LR

Beskryf jouself in ’n neutedop. Wie is jy en wat doen jy?
Ek het in Johannesburg grootgeword, my eerste graad en onderwysdiploma aan die PUKKE verwerf het. Daarna het ek my honneurs in Afrikaans-Nederlands aan UNISA verwerf  en verlede jaar my MA in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Pretoria. Ek het verskeie beroepe gevolg: onderwys, radio, skryf en televisie joernalistiek. Ek was ook al ’n opleidingsbestuurder, skakelbeampte en het my eie televisie maatskappy gehad. Vir meer as vier jaar het ek die voorreg gehad om in drie lande (Taiwan, die VSA en Engeland) te woon en te werk. Tans hou ek skool so 50 km buite Colesberg by ’n baie goeie Engelse plaasskool. Ek is getroud (tweede huwelik), het geen kinders nie, maar wel twee honde.

Malhuis is jou debuut roman. Waar het jy die idee daarvoor gekry?
Malhuis het in Engeland ontstaan, terwyl ek in die suide van Londen by ’n inrigting vir geestesiek kriminele as aktiwiteitskoördineerder en terapeut gewerk het.  Eenoggend ná ’n verfterapiesessie met Naomi het ek aan Naomi en haar wit haas, Blossom gedink, terwyl ek na my kantoor gestap het. Daar het ek besluit die titel van ’n boek kan moontlik Blossom in die Malhuis wees. (Naomi het werklik ’n wit haas met die naam Blossom gehad). Ek het gedink aan die vasgevangenheid van mense in so ’n inrigting en die haas wat simbool daarvan moes word.  Daardie dag het ek nogal baie na Suid-Afrika verlang en gedink dat ’n hoofkarakter (sielkundige) wat in so ’n inrigting, vol teenstrydighede en waansin werk, moontlik interessant kon wees.

Aanvanklik het ek kortverhale wat in die inrigting afspeel, geskryf. Dit het verskyn in VIERSPRONG, ’n kortverhaalbundel saamgestel deur Nadia de Kock. Maar die boek en die Helena-karakter het deurgaans in my kop gebroei, gevra om geskryf te word . . . Die karakters in die inrigting, en wat hulle gemotiveer het om te doen wat hulle gedoen het, het my gefassineer. Hulle was alles behalwe eendimensioneel en kon lekker leesstof word. Ek het uiteraard baie van hulle handelinge aangepas en soms bietjie oordryf om die verhaal te pas.

Dikwels sê mense dat ’n debuut gewoonlik redelik outobiografies is. Is dit so met Malhuis?
Daar is outobiografiese elemente in Malhuis, maar dis werklik hoofsaaklik fiktief. Die karakters in die inrigting bestaan wel; ek het slegs hul vanne verander. Daar’s insidente uit Helena se kinderlewe wat ooreenstem met myne en dinge wat wel in ons ouerhuis gebeur het.

Ek is egter nooit verkrag nie en my ma het nie ’n verhouding met ’n pastoor gehad nie. My pa het later in sy lewe ’n drankprobleem ontwikkel. Ek is die jongste van ses kinders en ons het dit nie altyd maklik gehad nie. My broer, André, het as soldaat in die destydse “bosoorlog” geveg en selfmoord gepleeg. Dit was moeilik om te verwerk. Ek skryf redelik maklik oor dinge wat ek ervaar en wat my op ’n emosionele vlak raak (gewoonlik eers baie lank daarna wanneer ek die gebeure reeds redelik goed verwerk het). “Bloei eers klaar en skryf dan” is so ietwat van ’n motto.

Helena se seksuele reis is hoegenaamd nie outobiografies nie. Ek moes baie lees en navorsing doen oor byvoorbeeld die “BDSM” tonele in die boek en moes my verbeelding gebruik om my in haar skoene in te dink. Helena het na my “toe gekom” soos misvlae en haarself aan my “geopenbaar”. Dit was ’n tienjaar lange “skryfreis” saam met Helena. Dit het in ’n stadium gevoel asof sy my denke oorheers.

Is dit moeilik om oor verkragting te skryf?
Dit was redelik moeilik om oor verkragting te skryf. Dis ’n verskriklike ding wat met mense (nie net vrouens nie) gebeur en ek het probeer om dit so realisties as moontlik te beskryf vanuit ’n jong meisie se perspektief. Dis nooit maklik om oor dié dinge te skryf nie. Malhuis is geen aanval op die kerk of geloof nie, maar ongelukkig is daar sulke karakters wat onder die vaandel van geloof en heiligheid mense se lewens ingrypend kan beïnvloed.

Daar is redelike eksplisiete sekstonele in die boek. Gesien in die lig van Helena se jeugjare, waarom haar amper ’n seksverslaafde maak?
Ek het doelbewus die seksbeskrywings grafies geskryf omdat ek gevoel het dit is hoe Helena dit sou benader. Sy gebruik seks om ander, en veral haarself, te straf. Seks het ’n radikale invloed op haar lewe gehad en dis wat sy kies om mee wraak te neem. Dit word vir haar ’n instrument om te ontvlug van die werklikheid en veral om straf uit te deel – veral selfstraf. Ongelukkig kan sy seks nie in ’n liefdevolle verhouding geniet nie weens dit wat met haar gebeur het.  Ek glo mens moet hierdie aspekte net so eerlik as enige ander beskryf. Nie om te skok nie, maar om dit geloofwaardig te hou. Dit is tog so dat daar baie mense is wat steeds wegdeins van hierdie aspekte af.

Een van die sterkste temas in die verhaal handel oor vergrype (drank, seks en selfs geweld). Waar kom jy aan al die donker elemente?
Vergrype soos drank, seks en geweld is aan die orde van die dag in ons moderne samelewing. Dit is elemente waarmee baie mense gekonfronteer word.  As joernalis het ek geweldig baie donker gesien en beleef. Ook die kinders waarmee ek oor die jare te doen gekry het, ervaar dié aspekte as deel van hul daaglikse oorlewingstryd.
Ek moet bely dat ek makliker oor die donker sy van die lewe skryf as oor romantiese en ligte dinge. Alhoewel ek die lewe met passie en positiwiteit benader, raak die donker kant van die lewe my meer intens. Die kontak met die donkerder kant van die lewe in my eie verlede het ook gehelp om my te brei sodat ek met mense se pyn kan identifiseer.

Dis ironies dat Helena ’n sielkundige is wat ander mense probeer help. Kan sy haarself help?
Helena was ’n slim, sensitiewe kind totdat die verkragting haar verander het. Sy het nie haar “omgee”-sy heeltemal verloor nie en daarom kan sy vir die pasiënte omgee, maar selfhaat beïnvloed haar tot so ’n mate dat sy beheer oor haar lewe verloor. Ek dink nie sy kan haarself help nie, daarom ook dié ironiese einde.

Daar is ten spyte van Helena se manhaftigheid ’n weerloosheid aan haar. Was dit belangrik om dié aspek van haar karakter uit te lig?
Dit was belangrik om haar weerlose sy ook te belig. Dis nie maklik om met ’n totale donker karakter te identifiseer nie. Sy is immers ’n sielkundige wat met ander mense se pyn werk. Dit was vir my belangrik om van Helena te hou. Ek het soms gehuil oor haar, terwyl ek geskryf het.

Wat was die moeilikste van die boek?
Om die balans reg te kry. Helena is ’n baie komplekse karakter en om haar storie te vertel “soos wat sy dit wou vertel hê”, was nie altyd maklik nie. Dit was ook moeilik om oor die aspekte wat Helena as kind ervaar het, te skryf. Twee van my susters en ’n broer leef nog en mens is tog besorg oor hoe dit hulle sal raak. Ook dié aspekte wou ek so “gestroop” as moontlik beskryf. Dit was ook vir my belangrik om humor in te werk. Die karakters in die inrigting was soms baie snaaks en ek wou dié sy van hulle ook belig.
Die vrou in swart het eers later deel van die verhaal geword. Dit was soms moeilik om haar verskynings realisties te laat oorkom.

Is jy ’n gedissiplineerde skrywer wat ’n roetine het, of kan jy enige plek, enige tyd skryf?
Ek probeer om so gedissiplineerd as moontlik te skryf, maar daaglikse realiteite maak dit soms moeilik. Ek is wel gelukkig dat ek enige plek of tyd kan skryf. Ek het al twee vliegtuie verpas terwyl ek op die lughawe gesit en skryf het. Ek het in Engeland ook baie in die hoekies van restaurante en kroeë gaan sit en skryf, gewoonlik met oorfone aan om die klanke uit te hou. Dis nogal vir my lekker om op verskillende plekke te skryf. Reis is ’n passie, so ek probeer soveel as moontlik om in nuwe milieus te beweeg sodat daar nuwe inspirasie en prentjies kan kom. Reis stimuleer ook kreatiwiteit en ek hoop om nog baie daarvan in die toekoms te kan doen.

Hoe voel dit om jou boek op die winkelrak te sien?
Dis regtig vir my fantasties om my boek op die winkelrak te sien. Ek’s ongelooflik dankbaar vir die voorreg. So baie mense skryf, en skryf selfs baie goed, maar sien nooit hul boeke gebind op die rak nie. Soms druk ek nog my boek teen my bors vas en voel hoe ek opnuut weer met dankbaarheid gevul word. Dit verander werklik ’n mens se lewe.

Wat lê nou vir jou voor skryfgewys?
Ek skryf tans aan my volgende roman “Die afloerder” wat in die Noord-Kaap afspeel. Dit is weer ’n moeilike en komplekse werk, maar ’n geweldige uitdaging. Daar is baie in die kop, ek hoop daar is genoeg tyd om alles neer te pen. Minder slaap en geen televisie nie, is maar in die stadium die enigste oplossing.