FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Deur iemand anders se oë

Het jy al regtig probeer om die lewe en situasies deur iemand anders se oë te bekyk?

Dis moeiliker as wat dit klink. Jy moet jouself letterlik in die ander persoon se posisie plaas en probeer om uit hul verwysingsraamwerk te kyk na ’n situasie. Dikwels is daardie verwysingsraamwerk baie ver verwyderd van jou eie. Dis juis dan dat jy moeite moet doen, want soms is dit die enigste manier om begrip te kry oor iemand anders se optrede. Dis so maklik om te kritiseer en te glo jou manier van kyk na die lewe is die regte manier. Ek het geleer daar is nie ’n regte of ’n verkeerde manier om na die lewe te kyk nie. Daar is net ’n ander manier. Daardie ander manier van kyk hou altyd vir my verrassings in en kleur die lewe in. Daarvoor het ek nie ’n inkleurboek nodig nie, net ’n oog wat wil sien . . .

Somewhere Inside of Happy, Anna McPartlin (Transworld, R285)
Ek was gek oor hierdie skrywer se vorige boek, The Last Days of Rabbit Hayes oor ’n jong ma wat aan kanker sterf. Dit het my laat lag, laat huil en geïnspireer. So, ek kon nie wag om haar nuwe verhaal te lees nie. Dit was alles waarop ek gehoop het, en nog meer.

Dis ’n roerende, emosionele verhaal oor ’n jong seun wat in ’n stryd met homself gewikkel is oor sy seksualiteit. Jeremy se verhaal word gedeeltelik deur homself vertel, maar die volledige storie word stuk-stuk onthul deur al die ander karakters – sy ma Maisie, sy ouma Bridie, sy sussie Valerie, die polisieman Fred, en al sy vriende. Jy kan nie anders as om meegesleur te word deur die gebeure nie.

Die verhaal ondersoek hoe ’n gesin moet aanpas as ’n inwonende ouma aan demensie ly en nie aldag onthou wie haar mense is nie. Gesinsgeweld van ’n pa wat ’n ma aanrand, die invloed daarvan op die kinders – dis alles deel van hierdie roerende verhaal. En dan is daar die tragiese dood in ’n ongeluk van ’n karakter wat die spil van die verhaal vorm. Ek wil nie sê wie nie, want hierdie verhaal moet jy lees. Hou maar die snesies byderhand! – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boy on the wire, Alastair Bruce (Umuzi, R230)
As jy lus is vir ’n diep, donker boek is hierdie een vir jou. John Hyde, die protagonis, is die jongste van drie boeties. In ’n tragiese ongeluk, by ’n swemgat in die Karoo, sterf die middelboetie. Maar was dit ’n ongeluk? Wat het regtig dié dag gebeur? Hoekom praat die twee oorlewende broers nie meer met mekaar nie? Die stilte en rou skeur die familie uitmekaar. Die ma pleeg selfmoord, al maak almal asof dit ’n ongeluk was.

John vlug so gou as wat hy oud genoeg is oorsee en vervreem hom van sy pa en broer. Mens kan egter nooit heeltemal van jou verlede of van die waarheid weghardloop nie – jy dra dit saam met jou. John keer terug na Suid-Afrika; egter te laat vir versoening.

In afsondering in sy ouerhuis in Port Elizabeth, met net spoke as geselskap, begin sy geestesgesondheid wankel soos hy keer op keer die dag by die swemgat herroep. Sy lang onderdrukte geheue speel speletjies met hom, en die pad na die waarheid bring net pyn, nie vergifnis of verlossing nie. – Helen Schöer

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Skaduself , Paula Marais (Human & Rousseau, R220)
Die buiteblad van die boek lig jou in dat die eerstepersoon-verteller vanuit die tronk skryf oor haar lewe en die foute wat sy begaan het en hoe sy dinge anders sou wou gedoen het. Die boek begin ook in ’n hofsaal waarin die verteller baie verward en deurmekaar voorkom.

Die eerste deel van die verhaal word in afwisselende hoofstukke vanuit die perspektiewe van Sanusha en Thea, die aangeklaagde, vertel. Die leser ontmoet Sanusha die eerste keer op vyfjarige ouderdom waarin sy dinge verklap oor haarself en haar familie, onder andere, ook oor haar ma, Thea. In die tweede deel van die boek ontmoet ons vir Clay, die man met wie Thea getrou het, en die tweede helfte van die boek handel oor die swangerskap en bevalling.

Hierdie boek is briljant geskryf en bied ’n ysingwekkende blik op nageboortelike depressie en die skade wat ouers aan kinders kan doen. – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Lion Heart, Justin Cartwright (Bloomsbury, R255)
Richie Cathar se Emily verlaat hom en sy hippie van ’n pa sterf ook nog. Innig jammer vir homself, vind hy by ’n vriend van sy pa uit dat Alaric geglo het dat Richard I van Engeland, oftewel Richard die Leeuehart na wie die hoofkarakter trouens vernoem is, ’n kosbare swaard van die kruistogte in Jerusalem versteek het.

Richard volg aanvanklik effe verleë, mettertyd vasberade in sy pa se voetspore, en soek na hierdie oorblyfsels uit Engeland se geskiedenis. Hy loop ’n invloedryke vorige liefde van sy pa raak en raak verlief op ’n joernalis, Noor van Arabies-Kanadese afkoms. Noor verdwyn spoorloos en Richie keer terug na Engeland, oortuig daarvan dat sy ’n spioen is. Hy sit sy naslaanwerk voort.

Mens twyfel of Richie enigiets gaan uitrig, maar Cartwright slaag daarin om humor sowel as jammerte teenoor Richie te ontketen. Terselfdertyd skep hy telkens die perfekte atmosfeer, hetsy van ontgogelde finansiers, verstrooide akademici, verbrokkelende rykmanshuise in Jerusalem of kroeë wat mens se nekhare laat rys.

Richard se karakter is amper die beste deel van die storie: sy lomp selfbewustheid; sy onvolwasse uitbarstings, maar dan ontwikkel sy ruggraat en dapperheid soos hy ons deur die avontuur van hierdie vertelling begelei. – Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The crazy life of Larry Joe, Joanne Jowell (Panmacmillan, R230)
Ek moet erken, ek het baie traag begin lees aan die boek. Ek het glad nie geweet wie die man, Larry Joe, is nie. Nadat ek ’n paar YouTube-stories gekyk het, kon ek nie wag om te begin lees nie. Jy kan my in ’n wip vang met enige suksesverhaal of een met karaktergroei.

Larry het grootgeword in ’n tipiese Kaapse township. Hy was bekend met dwelms en gangsters. Dis iets wat ek as gewone, wit, middelklas, voorstedelike vrou my nooit sal kan indink nie. Die kompleksiteit van ons land en die oplossing om mekaar te vind, gaan werklik van ons elkeen dieselfde dryfkrag en deursettingsvermoë vereis as wat Larry getoon het om bo sy omstandighede uit te styg. Hierdie tipe stories moet op ons koerante se voorblaaie gepubliseer word: suksesverhale, lelies wat blom uit die modder uit. . .  Ek het gewonder hoeveel medegevangenes Larry weer hoop gegee het met sy lewensverhaal.

Dis die eerste boek wat ek van dié skrywer lees. Sy het ’n gemaklike geselstrant wat maklik lees,  en sy skryf eerlik en inspirerend. Larry Joe se verhaal wil jou hart laat bars van trots oor hoe hy homself opgelig het en ’n sukses van sy lewe maak.

Ek dink sy verhaal is ’n moet lees vir elke Suid-Afrikaner wat glo ons land het ’n toekoms, en wat bereid is om mense ’n tweede kans te gee. – Elmarie Rust

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

ELTON amper-famous APRIL en Juffrou Brom, Carin Krahtz, illustrasies deur Silvia Rebel (Tafelberg, R130)
Elton is in Gr.7 in hoërskool Jakaranda en word beskou as ’n totale ‘loser’. Tuis is sy ma ’n misoes met nare ‘boyfriends’ en soms moet hy maar eerder daar wegbly. Hy verlang geweldig na sy verlore pa, maar niemand wil eers vir hom ’n buskaartjie koop dat hy by hom kan gaan kuier nie. By die skool het sy Afrikaanse onderwyser hom reeds afgeskryf, sy maat lei hom heeltyd in die moeilikheid met detensie die gevolg daarvan. Die hoofmeisie wat sy maag laat fladder, beskou hom egter as kaf. En om alles te kroon word sy krieket-kit gesteel sodat hy nie vir die eerstes kan speel nie. Toe kom die nuwe geheimsinnige, en volgens Elton, ietwat ‘weird’ Afrikaanse onderwyseres, Juffrou Brom, by die skool aan. Op haar eerste dag gooi hulle al die woordeboeke weg en maak klas skoon. Die volgende dag is die mure oranje geverf en daar is ook ’n klomp pampoenplantjies in die klas. Maar is sy werklik so mislik as wat sy lyk?

Hierdie storie, soos vertel deur Elton in sy besondere woorde – “Wel, klap my plat met ’n pap snoek . . .”, is sy jong lewensverhaal, sy ervarings en gevoelens met die mense om hom en sy groei in hierdie omgewing. Oorgedra soos ’n dagboek, met prettige kantlyn insetsels, speel die storie baie met jou gevoelens. Dit is werklik ’n boek waarop jy glad nie wil uitmis nie.  -Cailin Spickett (Gr.6)

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Anywhere, Jon Robinson (Penguin Books, R196)
Anywhere is die tweede boek in die “Nowhere” trilogie. Ná hul ontsnapping bevind Alyn, Jes, Ryan, Elsa, Harlan en Julian hulle in ’n ongenaakbare, sneeubedekte woud. Maar hulle is nie alleen nie. Hulle word natuurlik gejaag – eintlik gejag – deur die bewaarders van die tronk, maar beslis is daar ook mense wat hulle probeer help. Terwyl hulle vlug, raak die tieners geskei van mekaar, maar is vasbelote om nooit na die verskriklike bestaan in die tronk terug te keer nie. Ons beleef hoe hulle probeer oorleef in verskillende situasies, met wisselende vlakke van sukses. Gou kom hulle agter dat jy niemand kan vertrou nie. Wie is die Pledge wat die tronk begin het?  En die Guild wat die Pledge glo probeer vernietig?

Ek was bly dat van die vrae wat onbeantwoord gebly het aan die einde van Nowhere  nou beantwoord word. Maar wees verseker dat hierdie storie met sy eie nuwe stel vrae kom!  ’n Storie met ’n vinnige pas wat jou boei tot die laaste sin.  Nou wag ek vir “Somewhere”. –  Dian Liebenberg

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

2 A.M. at The Cat’s Pajamas, Marie-Helene Bertino (Picador, R250)
Madeleine Altimari het nie ’n maklike lewe nie. Op die ouderdom van nege is sy gewoond daaraan om na haarself te kyk. Haar ma is kort gelede oorlede, haar pa is heeltemal in homself gekeer van smart, en haar skoolhoof hou niks van haar nie. Madeleine is nie op haar mond geval nie, vloek en rook soos ’n skoorsteen. Maar daar is darem ook dinge wat werk vir haar; sy het ’n onderwyseres wat in haar glo, sy is lief vir jazz musiek en sy kan sing. Haar droom is om jazz op ’n verhoog te sing. En daar IS ’n jazz klub in die stad. The Cat’s Pajamas is ’n eens legendariese jazz klub wat gebukkend gaan onder ’n moeilike tyd en op die rand van bankrotskap staan.

Hierdie verhaal verweef Madeleine, die onderwyseres en die klubeienaar se stories soos ’n lappieskombers totdat dit op ’n punt kom – Ou Kersaand om 2 A.M. in The Cat’s Pajamas. Die verhaal was ’n interessante leeservaring. – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die Ballade van Robbie de Wee en ander verhale, Deon Meyer (Human & Rousseau, R265)
Die bundel bevat 18 kortverhale wat deur Deon Meyer geskryf is. Deel daarvan is Meyer se gewilde tydskrifverhale wat in 1997 as Bottervisse in die Jêm uitgegee is. Dié bundel is herhaalde kere heruitgegee. Maar in die boek is daar ook vyf verhale wat nie voorheen in ʼn bundel verskyn het nie. Die titelverhaal het onlangs as ʼn rolprent die lig gesien. Romanse, alhoewel ietwat onkonvensioneel, speel ʼn groot rol in die verhale. Meyer is egter bekend as ʼn misdaadskrywer en spanning en intriges, met ʼn moord of twee hier en daar, bly dus nie agterweë nie. Die karakters word met deernis uitgebeeld. Humor is ook teenwoordig en sorg vir lekker lag sessies. Of jy nou van spanning of romanse hou, jy sal die bundel enduit geniet.

Dit is ʼn lekkerlees ervaring, en ʼn voorreg om ʼn uitgawe van die bundel te kan hê. Meyer skryf al sedert 1994 en het ten minste al 13 boeke op sy kerfstok. Verskeie van sy boeke is vertaal en het groot internasionale sukses behaal. – Gert Venter

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Late Bourgeois World, Nadine Gordimer (Bloomsbury, R145)
Gordimer, politieke aktivis en Nobelpryswenner, se vierde roman is meer polities van aard as meeste van haar ander werke en was vir ’n dekade in Suid-Afrika verban.

Die verteller Liz van der Sandt besef, in teenstelling met die meeste wittes in die sestigerjare, dat die “bevoorregte wit voorstedelike lewe” verkeerd is. Haar vorige man, verbete weerstandwerker, se ordelose sabotasiepoging misluk, hy kry tronkstraf en pleeg later selfdood. Sy sê vir haar seun “…but know he went after the right things, even if perhaps it was in the wrong way.”

Haar “wit skuldgevoel” word gedramatiseer teen die drang om te behoort. “But when he caught my smile he looked right through me as though I wasn’t there at all.” Liz aarsel op die rand van politieke aksie; die roman eindig egter sonder enige verdere handelinge.
Mens het eintlik meer feite oor die anti-apartheidpartye verwag; die gebrek daaraan laat ’n leemte in die roman.   – Linda Volschenk