FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Die avontuur wag

Staan bietjie van die sofa af op, skakel af daardie televisie en kom in die natuur vir bietjie meer avontuur.

Moenie hierdie vakansie op die sofa deurbring nie. Ons land het soveel om te bied, van natuurskoon, avontuur, fauna en flora tot die beste uitsigte. Om jou te help om ’n paar aktiwiteite te beplan, het ek ’n hopie boeke gekies wat kan dien as gidse, raad en inspirasie. Daar is ook ’n paar boeke wat jou sal help om jou kennis oor die natuur te verbeter.

Deur Mari Rheeder

Die Avontuurgids van Suid-Afrika, Jacques Marais (Lapa Uitgewers, R220)
Opsoek na avonture in jou provinsie? Of beplan jy ’n vakansie propvol avontuur? Die gids bied vir jou meer as 1 000 avonture regoor ons land. Vir elke provinsie word word vier puik plekke uitgewys soos Addo-Olifantpark in die Oos-Kaap, Ukhahlamba in Kwazulu-Natal en Bela-Bela in Limpopo. Die gids is geïllustreer met met pragtige foto’s. Al die aktiwiteite by elke plek word ook aangedui, waar jy kan perdry, bergklim, kunsvlieghengel, waterski en nog baie ander. Vir die adrenalienverslaafdes is daar ook vir elke provinsie ’n lys van top-10 ekstreme gebeurtenisse, feeste, nasionale parke en reservate. Met hierdie gids is avontuur altyd op jou vingerpunte.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Southern Cross to Pole Star, Aimé Tschiffely (Head of Zeus, R496)
Hierdie historiese reisverhaal vertel van Aimé Tschiffely wat in 1925 met twee perde vanaf Suid-Amerika tot in die VSA gereis het. Hierdie onderwyser met amper geen perdry ondervinding nie, het die 16 000 km tog vanaf Buenos Aires tot in New York aangepak, stoksielalleen met twee Argentynse perde. Daar is vreesaanjaende oomblikke op ’n hangbrug in Peru, deur versengende hitte in woestyne, deur riviere geïnvesteer met krokodille en boonop is daar vreemde agtervolgers. Hierdie verhaal is vir alle avontuursoekers en liefhebbers van perde.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The places in between, Rory Stewart (Pan Macmillan, R124)
Deursettingsvermoë, dapperheid, drome en selfvertroue som Rory Stewart op. Hy het vir 16 maande lank in 2001 sowat 40 km per dag gestap deur Iran, Pakistan, Indië en Nepal. Sy groot droom om deur Afghanistan te stap, is stop gesit deur die Taliban wat sy visum weggevat het. Dit het hom nie gekeer nie en sowat ’n jaar later as wat hy oorspronklik beplan het, in Januarie 2002 begin hy sy avontuur in Herat, Afghanistan. Deel in sy staptog met opwindende wendinge, avontuur en spanningvolle oomblikke.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Field Guide to the battlefields of South Africa, Nicki von der Heyde (Random House Struik, R290)
Met Suid-Afrika se drie oorloë en 71 skermutselings wat bygedra het tot ons ryk geskiedenis, is dit hoogtyd dat daar ’n boek beskikbaar is wat al hierdie gevegte dokumenteer. Gerangskik volgens streke en provinsies, word elke geveg gesien volgens die aksies wat aanleiding gegee het daartoe, asook die uitkoms van die skermutseling. Elke stryd word uitgebeeld met foto’s, geïllustreerde tydlyne, feite brokkies, roetekaarte en GPS koördinate. Die boek is boeiend, goed geskryf en interessant. Ideaal vir enige geskiedkundige of net iemand wat belangstel in Suid-Afrika se oorloë en gevegte.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Explore Cape Town, Laurianne Claasse (Art Publishers, R301)
Beplan jy ’n reis na ons land se moederstad? Of jy nou kabelkarretjie gaan ry, in die winkelsentrums rondloop of Kaapstad se tientalle museums besoek, is hierdie boek die perfekte handlanger. Alle nodige inligting oor die stad word weergegee in hierdie mooi boek met hope foto’s van hierdie stad. Wenke oor lekker restaurante, vermaak, staproetes, gholfbane en nog vele meer maak deel uit van die gids. Ontdek nuwe plekke in die stad wat jou uitstappie net soveel meer besonders kan maak.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Easy Walks in the Cape Peninsula, Mike Lundy (Tafelberg, R160)
’n Moet-hê gids vir alle geesdriftige stappers. Fiks of onfiks, jonk of oud, voel geïnspireerd om jou stapskoene aan te trek en uit te kom. Moontlike staproetes in en om Kaapstad word volledig verduidelik, met roetekaarte, roetebeskrywing, die gemiddelde staptyd, weerstoestande en raad oor staptog-veiligheid. Elke roete het ook punte van belang soos watervalle, grotte, flora en uitstekende uitsigte. Lekker handige gids vir groot avontuur.

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Insider’s Guide, How and where to photograph birds in Southern Africa, Isak Pretorius (Jacana Media, R200)
Om voëls te fotografeer kan moeilik wees, omdat hulle onvoorspelbaar is. Die fotograaf, Isak Pretorius gee handige wenke aan professionele- en amateur fotograwe. Hy verskaf ’n volledige lys van toerusting wat jy benodig en verduidelik ook waarvoor elkeen is en hoe dit werk. Tegnieke vir elke situasie word uiteengesit, soos hoe gemaak as die voël vlieg, swem of in sy nes sit en slaap. Hy gee ook advies van hoe om meer kreatief foto’s te neem. Met hierdie boek kan jy jou foto’s transformeer van iets gewoon tot iets heeltemal uniek en asemrowend.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Latin for Birdwatchers, Roger Lederer and Carol Burr (Random House Struik, R220)
Soos met enige veldgids is daar ’n voorwoord wat verduidelik hoe om die boek te gebruik en wat ook agtergrond gee oor hoe binome ontstaan het. ’n Binoom is ’n dubbelnaam en vorm deel van die sisteem van taksonomie waar elke lewede organisme ’n naam gegee word. Dié name is egter nie almal net uit Latyn nie, maar kan ook uit Grieks en ander tale wees. Die naam kan afgelei wees van die klank wat die dier maak, sy kleur of selfs gewoontes. Byvoorbeeld Upupa (oo-POO-pa) epops, die gewone hoepoe is genoem na die klank wat hy maak. Deur te weet wat die naam beteken kan ’n mens meer leer oor die gewoontes en karakters van al ons pragtige voëls. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Wild Ways, Peter Apps (Random House Struik, R190)
Wou jy al ooit meer uitvind oor diere en hul maniere? Dan is dié boek net vir jou. Deel een gee algemene agtergrond oor wat dieregedrag is en hoe dit gebruik kan word om meer te leer oor die diere. Deel twee handel onder meer oor hoe die sintuie en sosiale gedrag van die faktore is wat ’n rol speel in dieregedrag. In deel drie word elke orde van diere bespreek. Het jy geweet dat ’n koedoe tot 3 m hoog kan spring en dat in die Krugerwildtuin studies getoon het dat dié boksoort 148 verskillende soorte plante eet. Die fassinerende boek vol interessante feite is ’n aanwins vir enige natuurliefhebber.   – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Kom ontdek die diereryk, Terry Jennings (Human & Rousseau, R110)
’n Pragboek oor al die verskillende diere wat mens gewoonlik in dieretuine, wildtuine, voël- en reptielparke en akwariums kan sien – maar met baie inligting oor hul natuurlike gewoontes, habitat en ook spesiale kenmerke. Die diere word ingedeel in soogdiere, reptiele, voëls en waterdiere. Elke groep diere word beskryf (soos byvoorbeeld soogdiere – wat hare of ’n pels het en aan sy ma drink as hy klein is) en elke dier word geïllustreer met pragtige foto’s, ’n kort beskrywing, waar hulle natuurlik voorkom, interessante feite. Het jy geweet ’n kameel kan 135 liter water drink in 13 minute? Daar word ook aangedui of die diersoort bedreig is in die natuur.
Omdat die boek gaan oor diere wat gewoonlik in aanhouding is, word baie uitheemse diere ook behandel – soos tiers, alligators, kamele, pelikane en palings. Dis diere waaroor mens nie gewoonlik lees nie. Ek kon baie dinge leer oor diere wat ek nie geweet het nie – soos hoekom inkvisse ink uitspuit en wat die doel is van die boggels op ’n kameel se rug. Die indeks en woordelys agter in die boek help my om iets vinnig op te soek. Ek weet nou hoeveel diere daar in die wêreld is, hoe hulle leef en dat hulle bewaar moet word vir die nageslag. – Cailin Spickett, 11 jaar