hyena_nights_
Boeke

Top-5 boeke oor die doen en late van mense

Ek kan soms my nuuskierigheid nie beteuel nie en wonder altyd oor ander mense se lewens. Hul lewens lyk altyd veel interessanter as my eie en ook opwindinder as my eie. Voel julle ook soms so? Hierdie week het ek spesiaal boeke gekies wat ‘n venster oopmaak op ander mense se lewens. Kyk saam met my na ‘n egpaar wat hul lewe en navorsing in die Kalahari met ons deel, ‘n professor wat praat oor sy gestremde familie, ‘n afgetrede besigheidsman wat sy jare se werkondervinding met humor deel, ‘n ma wat van haar emosionele reis en soeke na begrip en vrede vertel, en ‘n Afrika-reisiger wat ons op sy reis na Rwanda saamneem. Hierdie mense se lewens het beslis ‘n klomp draaie met hulle geloop en dis lekker om bietjie te kan inkyk daarna en te besef daar is mense wat hul lewens lééf.

Onthou om ons boekwinkel te besoek om van die titels aanlyn te bestel.

Hyena Nights & Kalahari Days, Gus & Margie Mills (Jacana, R189,95)
Gus en Margie Mills is oorspronklik in 1972 Kalahari toe om vir net twee jaar daar ‘n studie te gaan doen oor die bruin hiëna. Op die ou end het hulle twaalf jaar daar gebly! Dis ‘n fassinerende boek wat van twee fasette van hul lewens vertel. Gus vertel in die eerste gedeelte alles oor die navorsing, hoe hulle nagte om agter die skaam en ontwykende diere aangery het. Soms met meer sukses as ander nagte. Hierdie navorsing het die grondslag gelê van die grondige kennis en inligting wat vandag beskikbaar is oor bruin hiënas en spotted hiënas. Die tweede gedeelte van die boek word vertel deur Margie. Sy vertel van hul dag tot dag lewens, van hoe dit is om in ‘n tent in die wildernis (ja, wildernis, want daar was regtig net basiese geriewe) te oorleef en dit nogal met babatjies! Vir so ‘n vrou kan ek maar net my hoed afhaal en in bewondering haar verhaal lees. Maklik was dit beslis nie, maar dat hulle ‘n interessante lewe vol uitdagings gehad het in daardie twaalf jaar is waar. Die interessantste is dat hulle uiteindelik die roepstem van die Kalahari nie kon weerstaan nie en hulle is van 2006 af terug om navorsing te doen oor jagluiperds. Ek hoop dit lei tot ‘n lekker opvolgboek! - Phyllis Green

 

13 Klutse kwyt

13 Klutse Kwyt – van Saambou tot die SAUK, Anton F Prinsloo, (Protea Boekhuis, R150)
Dr. Anton Prinsloo se boek oor sy werksherinneringe is so fyn tong in die kies. Dit is ‘n lekker “onthou jy nog”-boek waarvan met eerlikheid gesê kan word, die jonger garde sal nie kan saamgesels nie. Die protokol wat (voor 1980 selfs) geheers het, was kort duskant koninklik. ‘n Junior werknemer sou nooit sommer net by die hoof van die afdeling se kantoor ingaan en hom op sy naam aanspreek nie, wat nog te sê by die bestuurder van die maatskappy. Optrede oor die algemeen in daardie era kan opgesom word as “prim and proper”!

Om van die wedervarings en geleenthede te lees, maak soveel weggebêre herinneringe wakker. Dis met verwondering dat ‘n mens lees van ‘n doodgewone kind uit Heilbron in die Vrystaat, wat elke geleentheid aangegryp en benut het. Dis amper ‘n Forest Gump-storie, van op die regte tyd en op die regte plek. Voorwaar ‘n vol lewe! Daar is nie net gefokus op die mense wat ‘n indruk op hom gemaak het nie, maar ‘n paar minder aangename gevalle is ook beskryf. ‘n Lekker omvattende boek vol heerlike onthou uit vergange dae. - Trudy Booyens

Woestyn vol hoop

Woestyn vol Hoop, Elize van Eeden (Corals, R119,95 posgeld ingesluit)
Die skrywer en haar gesin was in ‘n motorongeluk tydens ‘n vakansie in Namibië. Haar man en seun is tragies oorlede en nou moet Elize en haar dogter met hul stukkende lewens voortgaan. Hoe maak ‘n mens sin uit só ‘n tragedie? En waar is die Here midde-in hierdie hartseer?
Elize probeer antwoorde op hierdie vrae kry, terwyl sy ‘n reis deur haar emosionele en geestelike woestyn aanpak. Sy doen navorsing oor woestyne as natuurverskynsel en as geestelike baken. Die boek is haar soeke na voorbeelde, verklarings en antwoorde uit die Bybel asook moontlike hanteringswyses van ‘n persoonlike woestyntyd.
Hierdie is nie ‘n tipiese Christen-geskenkboek met kleurprentjies in ‘n mooi verpakking nie. Maar die verhaal is eg en die boodskap is getrou aan God se ferm en ontfermende hand. ‘n Mens leer dat ‘n woestyn méér is as ‘n barre, verlate en verbanne wildernis: Dit kan ook ‘n oase van hoop wees. – Lee-Ann Steenkamp

(Bestel by corals@worldonline.co.za en navrae by 016 982 3255)

Able-bodied Able-Bodied: Scenes from a curious Life, Leslie Swartz (Random House Struik, R190)
Leslie Swartz is ‘n kliniese sielkundige en professor aan die Universiteit Stellenbosch. Hy word hoog aangeskryf vir sy professionele werk as navorser, ondersoeker en skrywer oor die wêreld van gestremdes.
Hierdie boek is ‘n meer persoonlike ondersoek en gee ‘n beskrywing van sy lewe en sienswyse oor sy eksentrieke familie. Sy liggaamlikgestremde vader, sy tantes en sy ouma op die rand van sielkundige gestremdheid speel almal ‘n rol wat soms komies is. Met geduld en meegevoel bekyk hy die uitdagings vir al die betrokkenes en probeer hy ‘n verskil maak aan die gemeenskap van mense met ongewone liggame wat ander behoeftes het.
Die skrywer beskryf die sielkundige, sosiale- en finansiële probleme waarmee gestremde mense hulself bevind. Die boek gee ‘n insig in die wêreld van gestremdes en gestremdheid. Dit laat mens stil word en dink. - Nikki Strassburg
Heart of Africa Heart of Africa, Sihle Khumalo (Random House Struik, R195)
Ontdekkingsreisigers soos John Hanning Speke, wat die oorsprong van die Nylrivier ontdek het, fassineer die skrywer Sihle Khumalo. Khumalo wil weet wat dryf mense soos Speke om nuwe plekke te gaan ‘ontdek’ en is dit moontlik om ‘n plek te ontdek as die plaaslike inwoners reeds daarvan weet?! Hy besluit om self ook na die oorsprong van die Nylrivier te reis, om te sien waaroor dit alles gaan.
Hy gee homself net vier weke om na Rwanda te reis. Om dit nog meer uitdagend te maak besluit hy om slegs van openbare vervoer gebruik te maak. Hy stel vir homself ses doelwitte: ‘n Veerboot-rit oor die Tanganjika-meer, om op die ewenaar te staan in Uganda, bungee te spring in Jinja (die amptelike oorsprong van die Nyl in Uganda), berggorillas in Rwanda te gaan kyk, die oorsprong van die Nyl in die Nyungwe-woud, asook die Kigali Memorial Centre in Rwanda te besoek.
Khumalo bewys weer eens dat selfs die beste planne verkeerd kan loop, veral as jy van openbare vervoer afhanklik is. Nes met sy vorige boek, Dark Continent, My Black Arse, kom sy fyn waarnemingsvermoë en skerp sin vir humor na vore. Lekker informele reisboeke oor sy persoonlike ervarings. – Karien Labuschagne
  • Pieter Niemann

    Net kommentaar op die boek "Woestyn vol Hoop"

    Elize van Eeden het 2 dogters wat die ongeluk oorleef het. Ek sien die advertensie praat slegs van ‘n dogter.

    Ek het die boek Woestyn vol Hoop gekoop en ja wat ‘n vreeslik ervaring om van die een uiterste oor te gaan na ‘n ander uiterste. Dit is ‘n aangrypende verhaal wat Elize weergee in haar boek met relevante tekse uit die Bybel om die aangeleentheid te regverdig ten einde die pyn te verwerk. (Ek stem dat God se vertroosting kom uit sy Woord)

    Die lewe maak snaakse draaie met mens en wonder party keer wat is die doel van so ‘n oefening. Ek sien niks positiefs in die hele verhaal in nie behalwe ‘n geestelike verdieping vir Elize self en die res van haar gesin wat die ongeluk oorleef het.

    Almal in die gesin was eens bekeerde christene en ‘n ideale model familie wat leiding gegee het in selgroepe en op wie die kerk kon steun. ‘n Gesin met "vertoon waardes" gehad het. Dan die tragedie en dan die boek wat daarop volg om miskien ander te troos wat deur dieselfde dilemma gegaan het of gaan-ek weet nie.

    Ek dink die boek het Elize self gebruik om uiting te gee aan haar eie emosies en vertroosting te vind in haarself en God ten einde berusting te kry en die lewenspad verder aan te durf.