Boeke

Eksklusiewe uittreksel uit Izak de Villiers se Onder ewige Vlerke

Vir almal wat hom geken het, as predikant, as skrywer, as digter, as koerant- en tydskrifredakteur, as eggenoot en gesinsman en persoonlike vriend, was hy ‘n groot persoonlikheid. Selfs mense wat ‘n appeltjie met hom te skille gehad het, kon beswaarlik apaties staan teenoor hom. Sy groot persoonlikheid en die passie wat hy gehad het vir alles wat hy gedoen het, kom uit in hierdie boek. Dit bevat die laaste oordenkings wat Izak oor sy geliefde Psalms geskryf het, gebede, gedigte en ander lewenswyshede uit sy vorige boeke. Dan is daar huldeblyke en foto’s uit sy persoonlike albums.

Vir my is een van die roerendste gedeeltes van die boek juis die huldeblyke. As mens daardeur lees, besef jy hoe diep Izak mense in sy leeftyd aangeraak het – of dit nou kollegas, sy seuns en dogter of vriende, selfs sy vyande was. Die man het ‘n indruk gelaat. Die huldeblyk deur sy seun, Louis, by Izak se gedenkdiens gee ‘n baie eerlike beeld van hoe Izak was, dié van ‘n mens met al die goeie en meer moeilike eienskappe wat met menswees gepaard gaan. Hy was iemand wat voluit gelewe het en nie geskroom het om sy opinie te lug nie.

Ek kan my heelhartig met almal se huldeblyke vereenselwig omdat Izak oop geleef het en sy emosies getoon het en so honderd persent mensch was. Soos Johan Marais tereg sê:”Dit sou ‘n onreg aan hom wees om hom in enkelvoudige terme soos geniaal, skrywer, berese of belese te beskryf. Hy is dit alles tegelyk en veel meer.”

Die boek is ‘n huldeblyk aan ‘n baie merkwaardige persoon wat diep spore getrap het in vele mense se lewens en wie se teenwoordigheid sal bly voortleef deur sy eie woorde. As jy ‘n Izak-fên is, is hierdie boek die versamelaarsitem wat in jou boekrak moet staan. Jy sal weer en weer gedeeltes daarvan lees soos wat dit jou bui pas.

LEES ‘n uittreksel uit Onder ewige Vlerke

  • Lleana

    Inspirerend, wonderlik net soos Izak dit kon doen.

  • ghndzx ziotpdxtszpl, [url=http://blbcyhicxuos.com/]blbcyhicxuos[/url], [link=http://rjqtbtqxsxys.com/]rjqtbtqxsxys[/link], http://gtkkkfpmxkzj.com/