Boeke

Die natuur is waar dié fotograwe hul inspirasie kry

Vir hulle is dit belangrik dat die mens weer terugkeer na die natuur, om weer soos van ouds ’n konneksie met die natuur te maak.

Ja, sê hulle in hul pragboek, Sacred Nature, ons moet weer met respek en ootmoed omgaan met die natuur, veral omdat daar eintlik baie min ongerepte dele in die wêreld oorgebly het. Die twee fotograwe woon in Kenia en bring die meeste van hul tyd in die wildernisgebied van die Mara-Serengeti deur. Daar neem hulle pragfoto’s van olifante, kameelperde, leeus, luiperds, krokodille en al die inwoners van die gebied. Hulle is bekommerd oor die impak wat bevolkingsgroei op die aarde se ongerepte natuur het. Met dié boek wil hulle mense inspireer om weer die gewydheid (sacredness) van die natuur te herontdek. Die foto’s word gekombineer met filosofiese uitdrukkings en gedigte, en die teks verskaf ook waardevolle inligting oor die diere en die gebied self. Sacred Nature (HPH Publishing, R980) is ’n boek waardeur jy weer en weer sal blaai, eerstens om jou te verlustig in die ongelooflike foto’s en tweedens om die insiggewende teks te lees.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Jonathan Scott het per e-pos vrae geantwoord oor hul boek.

Kan jy jou eerste kamera en jou eerste foto onthou?
My eerste regte kamera was ’n Canon EF Shutter Priority-kamera. As ek toe net geweet het om in die beste lense te belê, Canon lense, dan sou my foto’s soveel beter gewees het. Ek het op reis oor die land gegaan met die kamera sonder om die handleiding te lees! Drie maande later met my aankoms in Nairobi, die eerste geleentheid om my films te laat ontwikkel, ontdek ek dat ek die Tamron zoomlens gestel het op Automatic Aperture en dat dit glad nie gewerk het nie. Al my foto’s was onbruikbaar, onderbelig en so swart soos die nag. Wat ’n wekroep! Al daardie wonderlike Afrika-sonsondergange en natuurlewe foto’s, alles net herinneringe verlore in tyd, insluitend ’n skoot van my eerste luiperd in die wonderlike Serengeti Nasionale Park. Eina!! Angie was altyd ’n fotograaf. Sy het haar eie donkerkamer gehad onder die trappe by hul huis in Dar es Salaam in Tanzanië, en ’n Pentax was haar eerste ware kamera. Ons het natuurlik altwee Box Brownies gehad! Ons is nou 67 en 63, so “eerste foto’s” is moeilik om te onthou. Angie dink dit was waarskynlik van ’n geliefde troeteldier, ’n kat of hond.

Hoe het julle betrokke geraak in natuurlewefotografie? Jonathan, jy het ’n graad in dierkunde, was dit ’n natuurlike stap na fotografie?
Angie en ek is altwee kunstig. Ons altwee teken en is gek oor kuns en fotografie. Angie is nogal stil en gereserveerd. Sy het haar stem in fotografie gevind. Ek het begin foto’s neem om dit wat ek sien te dokumenteer, hoofsaaklik om interessante oomblikke van diere se gedrag vas te lê. Ek was meer van ’n natuurkenner as fotograaf. Ek het nie die potensiaal van fotografie gesien om stemming en emosie te skep nie, waar Angie dit wel gesien het. Sy het die krag van ‘lig’ verstaan en sy is lief daarvoor om stemming en emosie in haar foto’s te bring deur sylig en lig van agter – wonderlike goed. My fotografie in my vroeë dae was ’n manier om verwysingsmateriaal te versamel vir my pen en ink sketse, wat ek as beperkte uitgawe afdrukke in Nairobi verkoop het. Maar ek het vinnig besef ek is in die beste plek in die wêreld om wildlewe af te neem – die Maasai Mara.

Julle het altwee die toonaangewende Wildlife Photographer of the Year-wedstryd gewen. Hoe kies julle die foto’s wat julle inskryf, want sekerlik moet julle duisende foto’s neem?
Ons is die enigste paartjie wat die wedstryd as individue gewen het. Dit het ons lewe verander. Almal, van fotograwe van National Geographic tot amateurs, wil dié wedstryd wen. Daar is baie verskillende kategorieë in die wedstryd, so daar is iets vir almal: diere, voëls, insekte, bewaring, lanskappe, plante – en Junior kategorieë en ook kategorieë vir Jong Volwassenes. Dis ’n wonderlike forum vir enige aspirerende fotograaf om sy tande op te sny.
Fantastiese foto’s wat wen het iets magies – wonderlike lig en ’n kunssinnigheid of ongelooflike aksie (of al die elemente). Dit moet iets sê wat nuut en verfrissend is in styl of inhoud, iets wat die oog verras.

Julle woon in Kenia. Wat is die mees dramatiese verandering wat julle in jul jare daar gesien het?
Die dramatiese verlies van tien duisende groot charismatiese diere. In Afrika het leeus die afgelope 50 jaar 75% van hul natuurlike verspreiding verloor (daar was ’n tyd toe leeus die wydsverspreide soogdier naas die mens was). Vandag is daar waarskynlik nie meer as 20 000 leeus wat wild in Afrika loop nie. Die Maasai Mara waar ons ’n klein klip kothuis in Governer’s Camp het, het ’n vermindering van 30% in die leeu bevolking gesien die afgelope 30-40 jaar. Wilde diere word van die planeet afgedruk deur ’n golf van mense. Tanzanië het 65 000 olifante verloor tussen 2008 en 2013, dit was 5 jaar van onbeskryflike slagting. In 1989 het ons die verbranding van 12 ton ivoor in Nairobi Nasionale Park afgeneem, wat gelei het tot ’n verbod op die handel in ivoor. Daardie tyd is daar deur die 1980’s elke jaar 600 000 olifante dood gemaak. In April vanjaar het Kenia 105 ton ivoor by dieselfde plek verbrand – die tande van 8 000 olifante – in ’n poging om die oplewing in die stroop van Afrika-olifante en die onwettige handel in ivoor te help stopsit. Ons was daar en dit breek ons harte om te sien wat ons aan die planeet doen.

Het jy ’n gunsteling-dier om af te neem?
My gunsteling was en is steeds die luiperd, die moosite en mees enigmatiese van al die groot roofdiere. Maar eintlik is dit enige dier waarop ons fokus vir ons werk as wildlewefotograwe en skrywers. Die afgelope 40 jaar was dit op verskillende tye leeus, luiperds, die groot migrasie, wilde honde, jagluiperds, Antarktiese wildlewe insluitend besoeke aan keiserpikkewyn broeikolonies in temperature van -20°C, en Indië en sy tiers om maar net ’n paar te noem. Angie is lief vir leeus, die enigste ware sosiale kat; hulle het konstant interaksie en Angie is heel gelukkig om dag na dag te wag vir die foto om te ontwikkel in die geselskap van ’n groep leeus wat ons beter ken as party van ons mense vriende.

Wat is die beste kwaliteite wat ’n wildlewefotograaf moet hê?
Jy moet jou onderwerp verstaan. My agtergrond in soölogie en my passie om op te lees oor wildlewe en my eerstehandse kennis wat ek oor 40 jaar in die veld opgedoen het, is ’n groot voordeel. Angie wil altyd binne die kop van die leeus kom, om een van die trop te word, of in die geval van wilde honde, om deel van die trop te word. Vir ons gaan dit oor spanwerk. Ek bestuur ons viertrek voertuig tot in posisie, sodat Angie die foto kan kry wat sy in haar kop sien; deur te weet wat volgende gaan gebeur, kan ons in die regte plek op die regte tyd wees. Ek het algehele vertroue in Angie se bekwaamheid om die foto te kry. Jy moet jou foto’s beplan en nie net kliek wanneer iets gebeur nie. Ons probeer die foto’s wat ons wil neem, visualiseer en beplan dan hoe ons dit gaan kry, of dit is om ’n trop leeus af te neem, en of ons die migrasie by ’n rivierkruising afneem.

Grootste fotografie hoogtepunt vir julle?
Om die inividuele toekenning te wen in die hoogaangeskrewe Wildlife Photographer of the Year Award was ’n reuse eerbetoon vir ons altwee. Ek het in 1987 gewen en Angie in 2002. En Heinrich van den Berg en HPH wat ons jongste boek, Sacred Nature: Life’s Eternal Dance, uitgee, is ’n nuwe mylpaal vir ons. Die boek was Angie se visie en meeste van die foto’s is ook Angie s’n. Die boek is ’n familie affêre. Die ontwerp konsep is opgedroom deur ons seun, David wat die kreatiewe direkteur is van Eventbrite in San Francisco. David het wonderlike aanhalings gekies wat die atmosfeer van die foto’s weerspieël en wat ons persoonlike filosofie vasvang: die heiligheid van die natuur en hoe ons moet herkonnekteer met die natuur om die vlaag van verwoesting van die mens reg oor die planeet te stop.

Wat is die grootste uitdaging in jul verhouding, omdat julle as egpaar saamwerk?
Soos Angie altyd sê, die beste verhoudings is ’n “kompetisie van vrygewigheid”. Ons is ’n wonderlike span en moedig mekaar die heeltyd aan. Ons hou van mekaar se werk en dink daaraan as “ons s’n”. Angie het ’n baie eiesoortige, intieme styl, waar ek weer gek is oor aksie en om midde daarin te wees. Angie hou daarvan om ’n stil plek te kry en dan met haar onderwerp te werk ver weg van die gestamp en gestoot. Sy hou daarvan om “ín the zone” te gaan. Dis ook Angie wat meer tegniese aanvoeling het; sy het ’n ongelooflike werk gedoen om die foto’s reg te kry vir die drukker en het party wonderlike swart en wit foto’s geskep, party met ’n subtiele toon wat hulle ’n goue gladheid gee. Ons is mal oor reis. Ons is baie verskillend, maar dit komplementeer ons verskillende persoonlikhede – Angie is stil en diepdenkend, terwyl ek ’n kekkelbek is. Ek het groot geesdrif en is goed met idees, terwyl Angie die struktuur en dissipline verskaf om ons projekte te laat gebeur.

Is julle gemaklike reisigers, en okei om weg van jul tuisbasis af te werk?
In een woord – ja. Angie is baie georganiseerd en briljant om die detail uit te sorteer. Ons klere word netjies gestoor by ons huis in Nairobi volgens warm of droë omgewings: Afrika of Antarktika. Dis dieselfde met ons kameratoerusting wat netjies onder die trappe in die kluis gestoor word. Angie kyk na alles. Ek dra net die toerusting! Ons probeer om altyd ons kameratoerusting as handbagasie te neem. En ek gebruik ’n kamerabaadjie met groot sakke waarin ek tot 4 kamera’s en drie of vier lense deur sekuriteit dra. Om kamera’s in die ruim van die vliegtuig te stoor, is ’n groot risiko; dit kan gesteel word en rond gegooi word. Om saam te wees en saam te werk, is vir ons belangriker as waar ons woon en werk, alhoewel ons ’n mooi woning in die voorstede van Nairobi en ’n klip kothuis in Governor’s Camp in die Maasai Mara het waaraan ons dink as ons tweede huis.

Hoe het jou fotografiestyl ontwikkel deur die jare? Benader jy jou werk anders as in jou jeug?
Angie was altyd ’n fotograaf, maar ek moes leer om ’n fotograaf te word. Angie was my inspirasie om te verbeter, om meer kreatief en verbeeldingryk te wees, om myself te druk om meer avontuurlik te wees as fotograaf.  Angie was nog altyd lief vir swart en wit fotografie en om tyd in haar donkerkamer deur te bring. Om oor te skakel na digitaal was ’n natuurlike verwikkeling vir haar. Sy doen al ons ontwikkeling en werksvloei. Ons hou daarvan dat ons foto’s natuurlik moet lyk. Ons sal onsself nooit beskryf as digitale kunstenaars nie. Solank mense eerlik is oor wat hulle met hul foto’s doen op die rekenaar is dit nie ’n probleem nie. Op die ou einde hou ons daarvan om te handel in die werklikheid; om die natuur vas te lê in al sy glorie is op sigself genoeg. Om ’n fotograaf te wees, gaan oor om jou eie styl te ontwikkel en die foto te sien, om te probeer om iets anders te skep. Dis wat ons probeer het met Sacred Nature, en ons voel ons het dit gedoen. Ons hoop dat mense nie net na die boek sal kyk en dit op die winkelrak sal los nie, maar dat hulle tyd daarmee wil spandeer en die emosies te ondersoek wat ons foto’s en David se ontwerp by hulle oproep, dat hulle ’n eksemplaar huis toe sal neem en dat die inspirerende aanhalings met hulle sal praat op ’n betekenisvolle wyse. As Canon ambassadeurs gebruik ons die beste en nuutste lense wat Canon aan ons leen. Dis ’n geweldige voorreg. Dis nie goedkoop om ’n fotograaf te wees nie!

Wat maak hierdie boek anders as julle vorige boeke?
Angie wou meer as enigiets ’n boek skep wat gelei word deur die foto’s – nie deur die teks nie. Ons het reeds 30 boeke gedoen en al die ander was eerstens “woord stories” geïllustreer met ons foto’s. Dit het beteken dat ons redakteur ons sou vra vir ’n foto om elke gedeelte van die storie wat ons vertel, te illustreer. Maar Angie wou hê die storie moet in die foto’s wees en die teks meer ’n soort gedig oor ons denke en oortuigings. Die sleutel element van Sacred Nature is David se ontwerp. Dit transformeer die foto’s.

Hoe lank het dit geneem om die foto’s bymekaar te maak?
Party van die foto’s dateer terug na die 1980’s, hoewel meeste van die werk in die afgelope 10 jaar geneem is. So, hierdie versameling van ongeveer 140 foto’s verteenwoordig ons lewe se werk. En die aanhalings reflekteer die spiritule konneksie wat ons met die natuur voel. Soos een mens gesê het, ons moet aan “God” dink as die kreatiwiteit in die natuur – die wonderwerk van alle lewe.

Het jy ’n gunsteling-foto in die boek?
My gunsteling-foto’s is baie foto’s wat deur Angie geneem is. Ek is mal oor haar infrarooi foto’s van olifante; een is die openingsfoto van Hoofstuk1. En die leeu portret – die openingsfoto van Lord of the Savanna. David was onverbiddelik daarin dat hy foto’s wou hê nie soseer oor dieregedrag nie, maar wat emosie en stemming gehad het. Hy het daarop aangedring dat elke foto iets moet sê. Hy wou nie net nog ’n wildlewe boek doen nie; hy wou hê dit moet anders wees as enige ander boek met Afrika foto’s. Ons glo hy het dit reg gekry.

Wat is die boodskap wat julle wil oordra met die boek?
Sacred Nature gee ons etos as bewaarders en fotograwe weer. Dit help nie om net foto’s vir onsself te neem nie, ons moet ons werk gebruik om ander te inspireer en aan te moedig om ons laaste wilde plekke te bewaar. Daar is geen ander plek op aarde waar jy so baie wilde diere steeds vry in die natuur kan sien nie soos in die Mara-Serengeti in Kenia en Tanzanië nie – ons agterplaas. Soos David Attenborough sê, hoe kan jy verwag mense moet omgee oor dit wat hulle nie ken nie. ’n Safari na Afrika is die avontuur van ’n leeftyd, maar dis ook ’n geleentheid om by te dra om Afrika se fantastiese natuurgebiede veilig te hou. ’n Deel van die geld wat jy aan parkfooie betaal, help om die parke en wildtuine te beskerm. Toerisme gegrond op wildlewe moet help om bewaring te befonds, maar dit moet omgewingsvriendelike, volhoubare toerisme wees. Dis waarvoor ons baklei in die Maasai Mara. Ons het nodig dat die internasionale gemeenskap help om bewaring te befonds, om te vergoed vir die koste wat deur die plaaslike gemeenskap gedra word, wat langs plekke soos die Mara-Serengeti woon wat gevra word om te verduur dat olifante hul oeste vertrap of dat ’n leeu hul koeie doodmaak. As plaaslike gemeenskappe nie voordeel trek uit wildlewe nie, sal hulle dit nie wil sien oorleef of dit wil help beskerm nie. Dit moet waarde vir hulle inhou.

Glo julle steeds in papier?
In die voorwoord van Sacred Nature sê ons: “Times have changed for photographers since Angie and I first picked up a camera. This was brought starkly into view in a recent conversation with a fellow wildlife and travel photographer who lives in the US. Our friend sounded stunned when we mentioned that we were reprinting our popular safari guides to East African animals and birds. ‘Books?’ he replied. ‘You mean e-books, not paper, right?’ He then went on to extol the virtues of apps over books, and e-books over hard covers, ready to abandon the world of paper infused with that delicious smell of fresh earth. Sacrilege, we thought, as he continued to expound on the new way of being for photographers. ‘Forget “real” books or “art” prints or “agency stuff” – social media is the new marketplace and showcase for your work: Google Plus and Instagram.’ Our friend has given up chasing image sales, believing that the value of a single photograph has become so diluted by the plethora of imagery available worldwide that being a photographer today demands a new business model. To him the real value of his images is as online content to showcase his talent as a digital technician and teacher, something at which he has been incredibly successful. The fact is, Angie and I love books. For us, browsing through the shelves of Waterstones, Foyles or Hatchards on our visits to London is one of life’s great pleasures. And in the US we grieve at the loss of Borders, where we used to spend hours sitting with a pile of new editions, drinking coffee and marvelling at the written word, poring over works of the great artists and photographers, past and present: Ansel Adams, Cartier Bresson, Sebastião Salgado.”

Dramatiese sonsondergang oor die Maasai Mara.

FOTO: Jonathan en Angela Scott

Masai in die Maasai Mara.

FOTO: Jonathan en Angela Scott

Olifante word bedreig in Tanzanië, waar 65 000 olifante verloor is tussen 2008 en 2013.

FOTO: Jonathan en Angela Scott

Jagluiperds.

FOTO: Jonathan en Angela Scott

Die natuur in al sy glorie!

FOTO: JOnathan en Angela Scott