FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Die psige van die mens interesseer skrywer Madelein Rust

Vir Madelein Rust verskaf die psige van die mens, veral die donker kant daarvan, baie materiaal vir verhale.

In haar jongste boek, Monstersaad (Lapa UitgewersR219,95), is haar hoofkarakter, Renate Malan, ’n forensiese sielkundige wat ondersoek instel na die selfdood van ’n sewentienjarige meisie. Sy krap vele onheilighede oop en die meisie se naaste familie het almal iets om weg te steek. Renate moet diep delf om uit vind of dit ’n ware selfmoord was, en of een van die familielede die meisie se dood aangehelp het. Tussendeur spook haar eie verlede ook nog by haar en is sy vol twyfel hoe haar pa se gene haar as mens raak. ’n Broeiende verhaal ontvou waarin mens baie bewus raak van hoe boos die mensdom kan wees.

Madelein dra die boek op aan kankerstryders. Sy self is onlangs gediagnoseer met borskanker.

Ek is in Julie vanjaar gediagnoseer met Fase 3 borskanker en het ’n mastektomie gehad. Ek het pas my derde chemo-sessie voltooi en ek het nog sowat 13 wat voorlê, gevolg deur 25 bestralingsessies. Dit gaan goed met my. Kanker het die verkeerde vrou uitgekies om mee moeilikheid te soek. Die chemo maak ’n mens regtig baie siek en alhoewel dit sleg is, is dit baie bemoedigend om te weet dis nog erger vir die kankerselle. Dis ’n absoluut fassinerende reis waarin ek onverskrokke mense ontmoet wat ’n vlak van empatie bereik het wat die hart warm maak.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Vertel my so bietjie oor jouself: wie is jy, waar kom jy vandaan, wat het jy geswot, is skryf jou voltydse werk?
Ek is ’n middeljarige vrou en ma – en volgens my man ’n opperste space cadet omdat my kop gedurig doenig is met dinge wat onprakties en onuitvoerbaar is. Ek werk as ’n bedryfspesialis vir ’n internasionale maatskappy en skryf is bloot ’n heerlike stokperdjie. Ek werk lang ure, so ek skryf net naweke van 04:00 tot wanneer ek ookal ten minste een hoofstuk voltooi het.

Na die destydse matriek, in die tyd toe die dinosaurusse nog die aarde bewandel het, het ek B.Iuris geswot by die Vrystaatse Universiteit. In my middel-dertigs het ek geswot vir ’n graad in Bedryfsielkunde deur UNISA en ek het die kursus voltooi op die rype ouderdom van 42.

Waar kom jou belangstelling in skryf vandaan en waarom spesifiek misdaadfiksie skryf?
Ek dink mens word ’n skrywer gebore. Vandat ek kan onthou was ek mal oor stories vertel en later skryf – selfs as tiener. My maats het gedink ek was bekonkel in die kop, maar ek kon nie ophou skryf nie. Sommer vir my eie plesier.

In die dae toe ek Regte geswot het, was my gunstelingvakke Strafreg en Medicina Forensis. Die aardige dinge wat mense doen en die redes waarom hulle dit doen, het my gefassineer. Terwyl ek Bedryfsielkunde geswot het, was Abnormale Sielkunde weer my gunstelingvak – om dieselfde rede. Ek het nie bewustelik die genre gekies nie. Daar het nog altyd spannende werke met ’n sielkundige ondertoon uit my pen gevloei, waarskynlik omdat die mens se psige vir my so interessant is. Met spanningsliteratuur is dit baie maklik om die leser so ver te kry om verder te lees en nog verder.

Hoe skryf jy: beplan jy die plot baie goed, werk jy die karakters uit en skryf dan volgens jou plan?
Ek gaan baie planmatig te werk. Ek skryf ’n behoorlike storielyn, plus ’n biografie vir elke karakter. Die biografie help dat ek deurentyd weet wat in die karakter se kop aangaan gegrond op sy/haar kinderdae en ervarings wat hul lewens geslyp het. Dit beïnvloed die register waarin hulle praat en die dinge wat hulle doen. Maar soms kies my karakters koers in ’n rigting wat ek nie beplan het nie. Dis vir my baie opwindend, want skielik is ek net so verbaas as wat die leser waarskynlik gaan wees oor ’n onverwagte kinkel in die kabel. Ek los die weerbarstige karakters dat hulle maar hul eie ding doen en gewoonlik lei dit tot die een of ander interessante gebeurtenis.

Jou eerste boek, Die 13de kaart, is benoem vir ’n ATKV-Woordveertjie. Hoe het dit gevoel?
Eers was ek baie verbaas. Ek het die e-pos met inligting oor die nominasie toegemaak en weer oopgemaak en dieselfde goed het nog steeds daar gestaan. Ek het later weer gelees om net doodseker te maak dat ek dit nie misverstaan nie. Ons het ongelooflike goeie skrywers in die spanningsliteratuurgenre en die feit dat my debuut een van die finaliste was, was ’n verskriklike groot eer en aanmoediging.

Het dit ’n uitwerking gehad op hoe jy die skryf van jou tweede boek benader het?
Monstersaad was reeds op die rakke toe die Woordveertjiesfinaliste bekend gemaak is. Die nominasie het wel ’n invloed gehad op my ingesteldheid terwyl ek aan Boek 3 werk. Mens voel sommer positief oor jou werk en dit help om die wroeging waaraan baie skrywers ly in te perk. Ek praat nou van die wroeging oor die kwaliteit van jou werk – wat lei tot die Delete-knoppie wat met mag en mening ingespan word.

Hoe het jy die navorsing aangepak vir Monstersaad?
Ek het baie vakliteratuur gelees oor die biologie van boosheid en die rol wat genetika speel in die vorming van geweldsmisdadigers. En natuurlik is daar Google, wat my beste vriendin is. Ek het voordat ek begin skryf het oor genetika en biologiese faktore navorsing gedoen en ook terwyl ek aan die boek gewerk het. Ek het ook ’n aanlynkursus oor die forensiese wetenskap en profilering voltooi terwyl ek aan die boek gewerk het. Dit is ’n fassinerende onderwerp en daarom moes ek my dwing om nie te veel navorsing te doen en sodoende skryftyd af te skeep nie.

Waarom speel die verhaal in Bloemfontein af?
Ek is ’n oud-Bloemfonteiner, so wanneer ek oor die stad skryf bevind ek my op ’n nostalgiese reis deur die plek waar my hart nou nog is. Dis natuurlik ook so dat spanningsfiksie nie gewoonlik met Bloemfontein as basis geskryf word nie, so ek het besluit om anders te wees en vir Bloem ’n bietjie gratis lugtyd te gee.

Hoe skep jy jou karakters?
My karakters is gewoonlik ’n kombinasie van feit en fiksie. Dis vir my lekker om mense wat ek ken of van ver af bewonder te gebruik om my karakters mee te bou. Ek moet ’n prentjie van die karakter in my kop hê, anders sukkel ek om hulle te laat ‘lewe’.

Gaan ons nog ’n boek oor Renate kry in die toekoms?
Boek 3, nog naamloos in die stadium, is weer ’n storie oor Renata en haar span. Sy is ’n lekker komplekse karakter met wie mens interessante dinge kan laat gebeur. Ek het reeds ’n Renata-storielyn in gedagte vir Boek 4.

Het jy ’n gunstelingskrywer?
So baie! Dibi en Henk Breytenbach, Martin Steyn, Deon Meyer – om maar net ’n paar van die Afrikaanse skrywers te noem.

Wat lees jy op die oomblik?
Ek het ’n selfopgelegde reël – ek mag niks lees terwyl ek aan ’n manuskrip werk nie. Daar is nie tyd vir so ’n luukse nie en (meer belangrik) ek assimileer heeltemal te maklik ander skrywers se stelwyses en manier van doen. Ek wil hê my werk moet altyd 100% Madelein s’n wees. Ek het een keer die fout gemaak om ’n boek van Deon Meyer te lees terwyl ek geskryf het en ek moes ’n paar hoofstukke skrap toe ek dit lees en besef ek skryf skielik net soos die man. Daar lê ’n boek van Lien Roux-de Jager en een van Deborah Steinmar vir my en wag. Dié sal ek lees nadat ek Boek 3 teen einde November vir Lapa aangestuur het.

 

.