FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Die waarheid is vreemder as fiksie

Die waarheid is vreemder as fiksie. Hoe dikwels het jy al hierdie uitdrukking gehoor?

Het jy al ’n berig in die koerant raakgelees en dan gewonder hoe die gebeure moontlik kan wees? Dikwels wanneer ek televisie kyk, is ek stomverbaas oor feite wat lyk of dit uit iemand se duim gesuig is. Tog gebeur daar elke dag dinge wat so onwaarskynlik lyk en wanneer jy dit ondersoek, dan blyk dit tog die waarheid te wees. Wanneer ek met joernaliste en skrywers praat oor onderwerpe en gebeure waaroor hulle skryf, gebruik hulle ook dikwels dié uitdrukking. Dit bly my verstom dat hoe goed mens se verbeelding is, daar steeds werklike gebeure is wat dit oortref! Hierdie week is baie van die onderwerpe van die boeke vreemder as fiksie.

Bloedvreemd, Juliana Coetzer (Jonathan Ball, R178)
Hierdie pynlike verhaal gaan oor Coetzer se dogter, Anneke, wat as sewejarige ’n seldsame virus opdoen wat haar eie lewe en die van haar gesin radikaal raak. Die vertelling word vanuit die ma se perspektief gedoen en dis roerend om te lees hoe sy moet probeer om manmoedig aan te gaan ten spyte van haar kind se konstante terugslae en daaglikse agteruitgang. Die virus veroorsaak breinskade by Anneke en sy word verder afgetakel deur epileptiese toevalle waarteen geen medisyne of dieet effektief bly nie.

Dis ’n eerlike vertelling oor hoe ’n ma en ’n gesin ’n stryd moet voer om ’n eenheid te bly in die aangesig van die uitdagings wat gebied word deur Anneke se chroniese siekte. Dit kon nie maklik wees om jou gesin se lewe, en veral die omstandighede rondom Anneke so openhartig te openbaar nie. Hierdie boek sal enige leser aangryp en jou nie onemosioneel laat nie. Dis ’n boeiende en roerende leeservaring. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Bloed op haar hande – vroue agter tralies, Carla van der Spuy (Lapa Uitgewers, R184,99)
Baie skrywers met ’n agtergrond in die joernalistiek skryf nie-fiksie. Carla van der Spuy se vierde boek kyk net soos haar vorige top-verkoper, Mens of Monster, na die donkerkant van die lewe. Sy vertel die ware verhale van vroue agter tralies en die hartverskeurende gebeure wat hul skuldigbevinding en vonnis vooraf gegaan het.

Feitlik al die vroue wat in die boek aangehaal word, is die produkte van hul omgewing. Gebrek en geweld het gewoonlik hoogty gevier en hul stories spreek van oorlewing, woede en magteloosheid. Maar hoekom so gewelddadig? En hoekom moord?

Die skrywer kry dit reg om die oortreders se vertroue te wen en so ontvou die verhale, dikwels met trane, sowel as kru taalgebruik. Hulle sê dit soos dit is en draai nie doekies om nie. Dìt gryp mens aan die hart.

Deur die bank vra die vroue ’n tweede kans; hulle is spyt oor wat hulle gedoen het en verlang na hul kinders. Party moet nog lang vonnisse uitdien en vir ander is die tronklewe die veilige hawe wat hulle nooit voorheen geken het nie.

Die boek lees vinnig en lekker, al is die onderwep so donker en daar is raakvat beskrywings van die vroue se voorkoms. “Die een lyk soos jou buurvrou by wie jy ’n koppie suiker sal leen en die ander een laat jou aan jou kinders se kinderkrans juffrou dink.” Elke hoofstuk het ’n verrassende kinkel wat maak dat jy die boek nie kan neersit nie. – Susan Puren

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die Hormoonfabriek, Saskia Goldschmidt (Protea Boekhuis, R225)
Mordechai (Motke) de Paauw kyk op sy oudag terug oor sy lewe. Die eens magtige sakeman is nou vasgekluister aan sy bed en al wat hy oorhou van sy mag en arrogansie is sy herinneringe. Hy en sy tweelingbroer Aron het ’n winsgewende besigheid opgebou deur saam met die farmakoloog Rafaël Levine ’n bedryf te begin waardeur al die afvalvleis van hul vleisfabriek in hormoonpreparate gebruik is – ’n omstrede besigheid, maar uiters winsgewend. Die wellustige Motke en die sagmoedige Aron kom in konflik oor Motke se twyfelagtige etiese uitkyk, sowel as sy misbruik van die fabrieksmeisies. Al die mense in Motke se lewe word aangeraak deur sy doen en late, en nie ten goede nie.

Die boeiende verhaal is soms walglik om te lees, omdat Motke nie juis die toonbeeld van ’n vooraanstaande burger is nie. Hy herinner mens aan alles wat aaklig is van selfsugtige en kapitalistiese mense. Die skrywer het sekere geskiedkundige inligting gebruik waarteen die verhaal afspeel. Daniël Hugo se vertaling van die Nederlandse verhaal is uitmuntend. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Girl in the Dark, Anna Lyndsey (Bloomsbury Circus, R350)
Hierdie aangrypende outobiografie (neergepen onder ’n skuilnaam) beskryf die skaars denkbare lewe van Anna, ’n Britse vrou met ’n uiters ongewone toestand: sy is hiperallergies vir alle vorme van lig. Die eerste simptome het haar tien jaar gelede uit die bloute oorval – eers het sy slegs ’n reaksie getoon op die lig vanuit haar rekenaarskerm, maar spoedig het dit na haar hele liggaam versprei. Sy het uit haar werk bedank en haar verdonkerde tuiste het haar tronk geword; sodra sy aan lig blootgestel word, voel dit of sy begin brand. Sy sê: “Dis asof iemand ’n blaasvlam teen my vel hou en dit met ’n rasper afvyl.” Tydens seldsame periodes van remissie, kan sy vir ’n kosbare paar minute (voor dagbreek en na sononder) haar huis verlaat, anders is sy vir maande aan ’n pikswart slaapkamer gekluister.

Dié merkwaardige boek laat jou met ’n knop in die keel, en word sterk aanbeveel vir enigiemand met ’n chroniese kwaal en hul versorgers; Anna verwoord haar siekte, omstandighede en gemoedsgesteldheid op ’n skerpsinnige, humoristiese en boeiende wyse. – Emsie Viljoen

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

A Fort of Nine Towers, Qais Akbar Omar (Picador, R352)
Omar se idilliese kinderjare waarin hy vlieërs van sy oupa se huis se dak vlieg en sy oggendgebede saam met sy oupa sê, eindig skielik in 1991.

Hierdie boek is ’n klassieke outobiografie geïnspireer deur die trefferboek The Kite Runner. Omar se middelklas familie vlug en soek skuiling in ’n fort; hulle word byna doodgemaak en sy pa besluit dat hulle Afghanistan moet verlaat. Kaboel het ’n wettelose plek geword. Daar is baie boeke oor Afghanistan geskryf, maar hierdie is een van die min wat geskryf is deur ’n Afghaan.

Die lewe verander handomkeer, in hul bure se binnehof waar hulle ’n paar jaar gelede ’n verlowingspartytjie bygewoon het, is daar nou ’n sloot met die koppe van mans en vroue daarin.

Dis die daaglikse stryd van die familie om eindelose oorloë, onder andere die wrede Talibanregering, hongersnood, armoede en grusame ondervindinge te oorleef, en getuig van die mens se merkwaardige vermoë om te oorleef ten spyte van die haglikste toestande. ’n Insiggewende ware verhaal! – Linda Volschenk

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Children of the jacaranda tree, Sahar Delijani (Weidenfeld & Nicilson, R267)
’n Verhaal oor Iran wat anders as die meeste romans, nie vertel van mense wat wegkom en elders gaan woon nie. Die roman speel af in die laat 80’s, toe die owerhede skoongemaak het en diegene vervolg het wat polities onafhanklik wou dink.

In die eerste hoofstuk ontmoet ons Azar, wat lewe skenk aan ’n baba in die tronk. Ander sentrale karakters is Parisa wat een kind het wat buite die tronk grootword en wat swanger is met nog een en Firoozeh wat inligting aan die owerhede gee in ruil vir voorregte. Die pyn van ma’s wie se kinders weggeneem word, en van familielede wat van mekaar vervreemd word, is oorweldigend.

Elke volgende hoofstuk handel oor die verhaal van ’n persoon se verbintenis met die tronksel. Dié vertelling van die geskiedenis van Iran is ’n kragtoertjie van begin tot einde. – Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Dead Cows for Piranhas, Hazel Friedman (Jonathan Ball Publishers, R210)
Friedman lewer verslag oor die lot van Suid-Afrikaanse dwelmmuile. Konserwatief bereken is daar meer as ʼn duisend Suid-Afrikaanse dwelmmuile wat tans in tronke wêreldwyd aangehou word. Alhoewel ons soms sal hoor dat iemand met dwelms op ʼn lughawe gevang is, weet ons min van die werklike omvang van die probleem. Friedman het ʼn in diepte ondersoek daaroor gedoen. Sy het, onder gevaarlike omstandighede en selfs met versteekte kameras, onderhoude gevoer met van die dwelmmuile wat in tronke in Thailand sit, hul families, die owerhede en ook met die middelmanne wat die dwelmmuile werf.

Sy kom tot die gevolgtrekking dat die meerderheid van die wat gevang word, doelbewus deur die dwelmbase as lokvoëls gebruik word om groter operasies suksesvol deur te voer. Sy voer aan dat die probleem eerder een van mensehandel is en dat die Suid-Afrikaanse owerheid bitter min simpatie met die slagoffers het. Kleurfoto’s help om die realiteit van die probleem tuis te bring.

Friedman is ʼn ervare ondersoekende joernalis en senior vervaardiger by Special Assignment by SABC3 en het al talle toekennings vir haar joernalistieke werk ontvang. – Gert Venter

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Rocks – One Man’s Climb from Drugs to Dreams, Marco Broccardo (Tracey McDonald Publishers, R212)
Broccardo vertel hoe die pad van sy verslawing verloop het. Hy is eerlik oor sy ondervindings en oor foute wat hy in sy verlede gemaak het. Hy skryf hoeveel verhoudings hy vernietig het weens dwelmmisbruik en hoeveel geld deur sy hande gevloei het om hiervoor te betaal.

Dis nie ’n “mooi” storie nie en die outeur probeer nie om die werklikheid te verdoesel nie. Die narratief is wel boeiend en trek die leser in by sy smerige bestaan met geen positiewe vooruitsigte nie.

Dan kom die kentering wanneer hy self besluit om sy lewe om te draai. Die gevolge hiervan is positief in sy geval, hoewel dit byna bo-menslike inspanning verg. Broccardo skram geensins weg van sy enorme verliese waarvoor hy self verantwoordelikheid aanvaar nie. Hy is nie voorskriftelik of prekerig nie, maar draai nie doekies om oor die soort lewe wat dwelmgebruikers najaag nie.

Die boek behoort nuttig te wees vir maatskaplike werkers, onderwysers of ouers met groen koring op die land. Die gestroopte verteltrant maak die ontstellende leesstof verteerbaar. – Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Twelve Rooms of the Nile, Enid Shomer (Simon & Schuster, R200)
Geskiedskrywers wil dit hê dat Florence Nightingale en Gustave Flaubert die Nylrivier gedurende dieselfde tyd bevaar het, tog het dié twee bekendes mekaar inderwaarheid nooit ontmoet nie. In Shomer se roman word hulle egter reisgenote en só ontstaan ’n onwaarskynlike vriendskap tussen die kuise verpleegster en die promiskue prosateur wat hulle te midde van 1850 op ’n kruispad in hul loopbane bevind.

Hierdie boek sal byval vind by diegene wat van atmosferiese fiksie hou – nieteenstaande die storie teen ’n slakkegang beweeg, vergoed dié bekroonde outeur se deeglike navorsing, boeiende historiese gegewens en vernuftige karakterbeskrywing daarvoor. Kwessies aangaande inspirasie, die geesteswroeging wat geroepenes ervaar, die akkurate voorstelling van negentiende-eeuse Egipte en die oordrewe preutsheid van die Victoriaanse era word treffend weergegee. – Emsie Viljoen

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Op ver paaie, P.J. Schoeman (Protea Boekhuis, R160)
Schoeman vertel van sy soektog na ʼn legendariese wilde perd tydens ʼn jagtog in die Kaokoveld in die eertydse Suidwes-Afrika. Saam met die skrywer ervaar ons die misterie en romantiek van ʼn inheemse stam in die unieke gebied. Ons beleef die wilde dans van die bloubokkie, hoor die rou weeklaag van ʼn leeu en sien die trane van die eland.

Schoeman wat in 1988 oorlede is, was van 1951 tot 1956 hoofveldwagter in Namibië. Die bekroonde en bekende skrywer en natuurkenner het talle boeke op sy kerfstok en word steeds wyd gelees. Op ver paaie het oorspronklik in 1949 verskyn. In hierdie tweede uitgawe is die teks aangepas en woorde wat aanstoot kan gee, is vervang. Insidente wat aanstoot kan gee, moet in die konteks van die tyd gelees word. Dis inderdaad ʼn voorreg om, na bykans 65 jaar, weer die boek te kan lees, op ver paaie te kan reis, ons oë oop te maak vir die veld en diere en te besin oor wat werklik van waarde is in die lewe. – Gert Venter