FOTO: verskaf

Boeke

Dinge verloop nie altyd seepglad nie

Dit is nou maar en maal so. Wanneer dinge nie seepglad verloop nie, veroorsaak dit baie meer intrige as wanneer alles volgens plan gebeur.

En dikwels wanneer dinge skeefloop, maak dit vir een van daardie stories waaroor agter hande gefluister word, daardie storie wat jy nie kan wag om aan jou beste vriendin te vertel nie. Wanneer daar mense betrokke is, dan raak dit eers ’n sappige happie om oor te vertel! Natuurlik is mens altyd verlig dat dit wat jy besig is om oor te vertel, nie met jou gebeur het nie. Hierdie week het ek ’n paar boeke gekies waar verhoudings, spesifiek die wat nie so glad verloop nie, deel van die verhaal is.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke aanlyn te bestel.

Anderkant die spieël, Melissa Sharneck (Queillerie, R180)
Hoe toevallig dat Maggie en Lenta, nogal buurvroue, weggesteek word op ’n klein dorpie deur hul onderskeie mans. Maggie kom af op dagboeke  wat deur haar man Mark se eks geskryf is. Dié eks is oorlede. Is Mark regtig homoseksueel soos die eks beweer?  Hy gee hopeloos te veel om vir sy vennoot Kobus en hy is altyd moeg of uitstedig. In Voortrekkersus het Maggie ’n buurvrou wat baie vreemd optree.  Lenta is jonk, pragtig en getroud met Lodewyk, wat meer as 20 jaar ouer is as sy. Lenta se huishulp en vertroueling, Anna, pas haar op soos ’n stukkie goud.  Sy sê Lenta is haar aanneemkind met gebreekte vlerke. Lenta en Lodewyk het altwee baie bagasie en in hul huis gaan daar perverse en onnatuurlike dinge aan. Maggie weer, is besig om kop te verloor met haar eie huwelik wat besig is om op die rotse te loop.  Sy sal ’n ultimatum aan Mark  moet stel en dan ’n besluit maak om te bly of te gaan.  Voor dit egter gebeur, sorg die buurhuis vir baie hartseer.  Maggie vind iets uit wat haar lewe kan verander en dit beïnvloed haar besluit.  – Jenny du Toit

Foto: verskaf

Foto: verskaf

Bella se skaduwee, Amelia Strydom (Tafelberg, Hartklop, R94,95)
Bella, ’n vroedvrou wat natuurlike bevallings by mense se huise hanteer, moet onwillige mentor speel vir ’n buitengewoon aantreklike ginekoloog, dokter Markus Cameron. Hy is haar ‘skaduwee’, maar gou word hy veel meer as dit. Sy word verplig om op hom staat te maak. Albei het verledes met ongelukkige verhoudings en daarom is albei hiperversigtig vir die teenoorgestelde geslag. Die aantrekkingskrag tussen hulle is egter onbetwisbaar en die saadjie van die liefde ontkiem vinnig. Die skrywer se kennis van geboortes, bevallings en babasake is indrukwekkend. Navorsing is deeglik gedoen. Dit is ’n lekkerleesverhaal met ruggraat.Malene Breytenbach

Foto: verskaf

Foto: verskaf

Cry Baby, Lauren Liebenberg (Penguin Books, R240)
Liebenberg beskryf die voorstedelike leefwyse waar allerhande leë en betekenislose konsepte geld. Die leser leer ken die uber-wedywerende super-mammas, ge-botoks en alles wat daarmee gepaard gaan, wie se bedorwe kinders alles vir hulle is. Grace, ’n tuisbly-superma wat in die “regte” voorstad in Johannesburg woon, is deel van dié groep. Sy ry met haar SUV verby drie skole na die “regte” private skool.
Toe haar vyfjarige Sam probleme by die skool optel, sy bed natmaak, nagmerries en hallusinasies kry, en gevaarlike eksperimente doen, verbrokkel haar “perfekte lewe” en sy bevraagteken alles: haar huwelik, haar rol as moeder en haar eie geluk.
Na ’n treurige keerpunt verander haar hele gesin se lewenstyl drasties, maar dit bring helaas ook bevryding mee. Dis’n uitstekende roman en behou jou aandag enduit. – Linda Volschenk

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Maar Tintin in Tibet, Annelie Ferreira (Tafelberg, R185)
Lukas se pa, ’n dominee, daag op ’n dag uit die bloute by sy woonstel op en vra hom om saam met hom van Stellenbosch na Beaufort-Wes te gaan om ’n messias te gaan sien wat ’n klomp pastore aan die gons het. Hoe kan Lukas weier? Dinge gaan net nie goed met hom nie. Hy het met sy Golfie agter in ’n ander kar vasgery én sy meisie besluit skielik sy het “spasie” nodig. So, Lukas klim in sy pa se ou Mercedes Benz in om weg te kom van alles.
Dié verhaal is deur-en-deur een van die verhouding tussen ’n pa en seun en hoe iemand met ’n verouderde wêreld-uitkyk moet leer hoe om dit wat meeste mense nou al as alledaags beskou, te aanvaar. Hoewel die boek in ’n gemaklike taal wat lekker lees geskryf is, word ernstige onderwerpe soos voorhuwelikse seks en rassisme aangeraak. Jonger én ouer lesers sal dié boek geniet. – Liesl du Toit

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Om Helena te hoor, Carolyn Morton (Human & Rousseau, R135)
Helena word net nie raakgesien nie. In haar ouerhuis kry haar talentvolle broer, wat uitstekend klavier speel, al die aandag. By die skool kan haar crush nie minder in haar belang stel nie. Sy is egter net so talentvol soos haar broer en kry die geleentheid om dit vir almal te wys wanneer hy skielik uit ’n klavier-kompetisie moet onttrek. Helena kom egter voor ’n moeilike besluit te staan wanneer sy moet kies wat sy met die prysgeld wat sy wen, gaan doen. Gaan sy dit gebruik om haar eie droom, om by die Musiek-Akademie te studeer, te verwesenlik? Of betaal sy vir haar vriendin, wie se ouers dit nie kan bekostig nie, se belangrike operasie? Tussendeur  moet sy ’n klavieronderwyseres wat heeltyd kritiseer en nie haar drome ondersteun nie hanteer.
Ek is mal oor ’n storie wat gaan oor ingewikkelde menseverhoudings en Om Helena te hoor het geen tekort daaraan nie – van vriendskap tot die verhouding tussen ’n broer en suster en selfs dié met jou ouers.     – Liesl du Toit

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Sondag op ’n voëlplaas, Johann Nell (Tafelberg, R220)
Ons onderskat dikwels tot in watter mate kinders die ernstiger sy van die lewe ervaar en hoe hulle die wêreld beskou. Die hoofkarakter van dié debuutroman, wat naamloos is, vertel die verhaal van sy kinderdae op ’n plaas, Aalwynskop, in Oudtshoorn. Hy vertel veral van sy neerdrukkende pa wat altyd fout vind met hom, en Andri, die tomboy-plaasmeisie wat hom so fassineer dat hy nooit, selfs in sy volwassenheid, kan ophou dink aan haar nie. Ná sy pa sterf in ’n motorongeluk en nóg ’n tragedie stuur sy ma hom weg om skool te gaan op Paarl en daar in die koshuis te bly. Hy word ná universiteit ’n onderwyser, maar kan steeds nie van Aalwynskop en van Andri vergeet nie. ’n Reeks rampspoedige gebeure lei daartoe dat hy terugkeer soontoe om vrede te vind. Dit wat hy wel uitvind, veral oor Andri, is ’n hartseer verhaal. Ek was baie beïndruk met hoe mooi die boek geskryf is, en dit ’n debuut! Ek moet net waarsku dat daar geen gelukkige eindes is nie en jy jouself moet voorberei vir ’n hartseer storie vóór jy begin lees. – Liesl du Toit