FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Disfunksionaliteit

Ek het al dikwels gewonder oor disfunksionaliteit.

Volgens Pharos se Verklarende Afrikaanse Woordeboek beteken disfunksioneel: “1. Wat nie normaal of behoorlik werk nie. 2. Gekenmerk deur die mislukking van normale of opbouende verhoudings tussen lede van ’n groep.” Wat beteken dit nou eintlik? Dat almal van ons disfunksioneel is, want ons almal het verhoudings wat misluk, en dikwels werk dinge ook maar nie so behoorlik in ons lewens nie? Nee, ons is eintlik normaal. Dis mos maar waaruit die lewe bestaan. Die lewe is nie altyd net maanskyn en rose nie. Wanneer dit kom by regte egte disfunksionaliteit is dit heeltemal op ’n ander vlak; een waar sosiale sisteme, waardes en normes ineenstort. En tog funksioneer daar steeds mense op hierdie vlak! Dis verstommend waardeur mense kan gaan in die wandel en wee van ’n lewe wat gekenmerk word deur hartseer, ongelukke, mislukkings en ellendes. Hulle oorleef, hoe weet mens nie altyd nie. . . Hierdie week se boeke gaan oor disfunksionaliteit, soms in die oortreffende trap en soms op ’n vlak waar dit net sowel jou of my lewe kon wees.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op Kalahari.com te besoek om van die boeke aanlyn te bestel.

Fourth of July Creek, Smith Henderson (William Heinemann, R257)
Hierdie verhaal is gebou rondom mense met stukkende lewens. As daar nou al ooit mense was wat erg disfunksioneel was, is dit dié lotjie waaroor Henderson in sy debuut skryf. Die hoofkaraker, Pete Snow is ’n maatskaplike werker wat probeer om die kinders te red van ’n vrou wat verslaaf is aan drank en dwelms, maar intussen kan hy nie sy eie verhouding met sy vervreemde vrou en dogter uitgesorteer kry nie. Ander karakters wat dinge deurmekaar kom krap, is sy broer wat op parool is en wegloop, en die uiters vreemde Jeremiah Pearl en sy seun, Ben. Pearl is ’n ‘conspiracy theorist’ en glo die wêreld is besig om in duie te stort. Hy en sy seun leef in die bosse en Snow moet hard werk om die twee se vertroue te wen. Dis ’n hartseer storie, een wat jy stukkie vir stukkie ontrafel. Nie die gemaklikste verhaal wat ek al gelees het nie, maar een met baie waardevolle sosiale kommentaar oor die hedendaagse wêreld. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die hart van ‘n ma, Abraham Phillips (Human & Rousseau, R175)
Dié ontstellende boek lê die tikprobleem in die armoedige gemeenskappe van Doringdal en Helshoogte in die Wes-Kaap bloot.
Maria Stokkies se seun, Roy, vermoor sy tikverslaafde pa en word tronk toe gestuur. Maria se suster, Stienie, en haar twee tieners het geen ander heenkome nie en kom woon by Maria. Saam met hul buurvrou, Bettie, moet hierdie drie ma’s magteloos toekyk hoe die tikmonster hulle families en lewens vernietig.
Outentieke taal word gebruik en soms sukkel ’n mens om die dialoog te verstaan, veral tydens die dwelmsmokkelaars en die gevangenes se gesprekke. Daar word wel ’n woordelys met woordverklarings voorsien, en ’n mens leer woorde soos “dala” (die ding uitbaklei), “sabela” (gesels, praat) en “dikding” (’n vername man tussen die gangsters).
Na die lees van hierdie boek kan ’n mens nie onkundig wees oor die impak en die vernietiging van die tikprobleem nie.   – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Dear Bullet or A letter to my shooter, Sixolile Mbalo (Jonathan Ball, R175)
Dis die ware verhaal van Sixolile, wat haar storie vertel en respek en bewondering afdwing. Sy word deur haar ouma grootgemaak in Mpondela, Oos-Kaap.
Sixolile, ’n geesdriftige tiener word op dertienjarige ouderdom herhaaldelik verkrag, geskiet en met haar kop in ’n putlatrine gelos vir dood. Sy oorleef wonderbaarlik maar die koeël in haar keel sal lewenslank deel van haar bly.
Sy besoek die verkragter in die tronk en vergewe hom. Daarna gaan soek sy haar afwesige ma in die Kaap en besef dat haar ma steeds liefdeloos en onbetrokke by haar kinders is. Na etlike maande in die hospitaal, voltooi sy wel haar skoolloopbaan. Sy inspireer alle vroue wat blootgestel is aan verkragting en geweld en sy is betrokke by Rape Crisis en NICRO. Sy gee inspirerende praatjies vir vroue in gevangenissentrums, haar boodskap is dat vroue nie slagoffers van hul omstandighede is nie – maar wel oorlewendes en oorwinnaars. Dis ’n puik boek en dis Suid-Afrikaans.   – Linda Volschenk

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Bodies of Light, Sarah Moss (Granta Publications, R216)
’n Meesal sombere verhaal oor die Moberley-gesin en veral Ally. Haar ma, Elizabeth, straf haar dogters op dieselfde sielsvernietigende maniere wat sy as kind ervaar het. Haar wrede en perverse dissipline vernietig vreugde en warmte. Sy dwing haar dogters om saam te werk in die bordele en gestigte van Viktoriaanse Manchester. Dié wrede wêreld word gekontrasteer met die opulente wêreld van haar man Albert, ’n kunstenaar wat nakende nimfe skilder. Hy skilder Ally as Proserpina wat hel toe gaan. Ally se suster May breek tragies weg. Ally breek ook weg deur in Londen as geneesheer te studeer en word een van die eerste vroulike geneeshere in Brittanje. Veral twee mense bring lig na haar donker en gedrewe lewe: haar Aunty Mary en Mr Cavendish, wat liefde bring.Malene Breytenbach

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Two brothers, Ben Elton (Bantam Press, R220)
Elton skryf die storie van ’n ‘tweeling’, hoewel een van hulle van sy eie ma weggeneem word in die hospitaal.
Paulus en Otto Stengel word groot in Berlyn in die Joodse gemeenskap aan die begin van die vorige eeu. Wanneer Duitsland se Nazi-beleid uitgevoer word, word familie en vriendskap getoets en moet die broers wat polities verskil, ’n keuse uitoefen.
Deur die loop van die roman wys Elton hoe dinamies identiteit kan wees, dat dit voortdurend veranderbaar is. Dit kom na vore in die liefdesdriehoek, waar Paulus en Otto albei verlief is op Dagmar, argetipiese Joodse prinses. Sy is bedorwe en besluiteloos, die dogter van ’n miljoenêr en kontrasteer met Silke, die dogter van die huishulp.
As jy iets wil lees wat jou sal vermaak sonder enige stremming, is dit nie die boek wat jy moet kies nie. Elton se navorsing word deeglik ingeskryf en doen plek-plek afbreuk aan die leesgenot. Die geskiedenis waaroor hy skryf, bly die leser by lank nadat die boek toegemaak is. – Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Willow trees don’t weep, Fadia Faqir (Quercus, R175)
Najwa word geforseer om haar pa te gaan soek nadat haar ma aan kanker sterf en haar reputasie op die spel is. Meisies mag nie alleen woon in Jordanië nie. Haar pa is weg toe sy vier jaar oud was. Hy het jare gelede ’n vriend gaan uithelp en toe het dinge drasties vir hom verander. Hy word later ’n held weens die lewens wat hy red in die woestyn. Hy was deel van die Bin Laden-faksie. Najwa se ma het hom nooit vergewe nie en enigiets wat aan hom herinner het, is verwoes. Najwa is nou 27 en na heelwat wedervaringe spoor sy hom uiteindelik in Engeland op. Hy is gevange geneem en lewenslank tronk toe gestuur. Hy is ook nie die pa wat sy met rukkies kon onthou nie. Hy het oud geword en hul verhouding is maar hakkerig in die begin. Najwa moet terugkeer na Amman en haar pa reël dat sy by sy vriend, Hani, se familie kan gaan woon om haar reputasie intakt te hou. Hy gee sy dagboek waarin sy lewe en alles wat hy gedoen het, aan haar. Vir die eerste keer voel Najwa gereed om reg te gaan maak wat ongedaan gebly het na haar ma se dood.
Die boek leen hom met rukke toe aan baie sensitiewe politiese gebeure in Afghanistan. – Jenny du Toit

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Life Drawing, Robin Black (Picador, R288)
In ’n poging om aan die spoke van die verlede te ontsnap, koop Owen en Augusta ’n afgeleë opstal. Behalwe vir nodige inkopietogte na die naaste dorpie, voer dié twee kunstenaars ’n kluisenaarslewe op die platteland – Owen skryf en Gus skilder. Hulle idilliese bestaan is egter blote skyn; na drie jaar het hul verhouding so versleg dat hulle mekaar se geselskap beswaarlik kan verduur. Teen Gus se verwagting in, het die verhuising nie gehelp om haar en Owen se wonde te genees nie (in die stad het sy ’n kortstondige affair met een van haar leerlinge se pa gehad). Maar dan ontmoet Gus vir Alison; sy huur die verwaarloosde plaashuis langsaan en algaande word die vrouens vertrouelinge. Alison se dogter, Nora, maak ’n draai by haar ma en kom te hore van Gus se ontrouheid. Sy vry na Owen, maar hy wys haar weg – met tragiese gevolge. In weerwil van die deus ex machina-slot, verdien Black ’n pluimpie vir haar beskrywing van ’n huwelik waar man en vrou mekaar al jare lank ken; haar debuut verken elke nuanse van ontrouheid en intimiteit, behoefte en berou, en die geheime wat liefde onderhou sowel as dié wat dreig om dit te vernietig. – Emsie Viljoen

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Glipstroom, Anemari Jansen (Human & Rousseau, R195)
’n Debuutroman wat voorspelbaar dog vaardig geskryf is. Die hoofstukke wissel tussen Maja se lewe as onderwyseres in die Soutpansberg en in die Kavango waarheen sy haar ingenieurman Louis vergesel het na ’n padkamp en ’n ander gestroopte lewe waarby sy moet aanpas. Sy verlede van oorlog, as lid van die SAP se onluste-eenheid, maak hom hard, eerder as teer. Hy is hardwerkend en gestres. Hulle verhouding is wankelrig. Haar grootste vriend en vertroueling is Phineas, the kampopsigter. Sy dra die geheim van haar verhouding met die fassinerende kunstenaar Alex, met sy swerwersmentaliteit, met haar saam. Haar lewe is deurspek met begeerte, verlies en verlange. Sy moet keuses maak. Iets wat pla: Waarom is Louis nie agterdogtig nie? Daar is baie dialoog. Die beskrywings van Maja se omgewings is oortuigend.   – Malene Breytenbach

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Y, Marjorie Celona (Faber and Faber, R209)
Shannon word gekry op die voorstoep van die ‘Y’, waar haar ma haar gelos het. Sy word aangeneem deur Miranda, ’n enkelma met ’n dogter, maar die vrae oor waar sy vandaan kom en wie sy is gaan nooit heeltemal weg nie. Die enigste persoon wat dit kan antwoord is haar ma, en wanneer Shannon haar kry, leer sy meer van haar agtergrond as wat sy ooit gedink het sy sou.
Hierdie boek het stadig gelees, en het baie inligting en agtergrond gehad, wat nodig is om die omstandighede te verstaan. Dis goed geskryf en ’n mooi storie. Alhoewel ek glad nie met die hoofkarakters kon identifiseer nie, het ek gehoop sy kry die antwoorde wat sy so graag wou hê, en het ek baie simpatie vir haar ontwikkel. ’n Boeiende storie van ’n meisie wat haar eie identiteit soek. – Deirdre Reinhardt

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Laugh back the Sun, Lan Reid (Print Matters, R179)
Die skryfster, Lan Reid, het haar vader, kaptein Johannes Christiaan (Chris) Lessing, nooit werklik geken nie, omdat hy oorlede is toe sy maar vier maande oud was. Die titel kom uit ’n oorlogsgedig van Paul Kiln waarin hy verlangend uitsien na vrede. Chris Lessing is egter in 1946, ’n jaar nà sy terugkeer van die oorlog, in sy huis op Robbeneiland geskiet.
Reid se moeder, wat na Chris se dood weer getroud is, het nooit openhartig met haar oor haar vader gepraat nie, behalwe dan om te sê, ‘Well, he was a good-looking man and he was so charming, but I should never have married him.’ Kort voor haar moeder se dood kom Reid egter af op ’n houtkissie met 120 briewe wat haar vader tydens die oorlogsjare aan sy vrou geskryf het, en hulle skep ’n heeltemal ander indruk as die negatiewe beeld wat haar voorgehou is. Op grond daarvan herkonstrueer Reid sy lewensverhaal waarin leemtes aangevul word met (meesal) sinvolle gissings. – John van den Berg