Boeke

Top-5 boeke – Probeer iets nuuts

Ek het ‘n voorstel van ‘n paar nuwe dinge (wat gelukkig nie te moeilik is nie) wat jy kan aanpak. My voornemens het ek lankal vergeet. Die jaar het met te ‘n vinnige spoed weggespring, so ek gaan ook self een van my eie voorstelle moet volg. Daar is twee wat vir my lyk asof ek dit sal kan baasraak – om ‘n erdwurmplaas te begin en hoe om saam te gesels oor boeke wat ek nog nooit gelees het nie! Natuurlik het ons hulp nodig met ons nuwe projekte en gelukkig is daar ‘n klompie boeke wat ons hiermee kan help.

Onthou, jy kan van die boeke teen ‘n afslagprysbestel by ons aanlynwinkel.

Beginner’s Guide to Earthworm Farming, Mary Murphy (Penguin Books SA, R120)
As jy gedink het ‘n erdwurm is maar net ‘n erdwurm, dink weer. Hierdie eenvoudige wurm beïnvloed bykans elke aspek van die wêreld waarin ons leef. Hulle help om ons aarde gesond te hou deur net bloot onder die grond te doen wat hulle doen. Mary Murphy het in 2005 ‘n erdwurm-“plaas” begin by die Mount Nelson Hotel in Kaapstad en dit was die eerste van sy soort in Afrika. Dit het baie belangstelling plaaslik en internasionaal uitgelok en sy het besluit om hierdie boek te skryf, sodat almal die waarde van so ‘n erdwurmboerdery kan besef en dadelik hul hande vuil kan gaan maak. Het jy geweet daar is 4 700 verskillende erdwurmspesies en dat die langste erdwurm wat gevind is 6,7 m was? Murphy vertel allerhande interessante feite oor die wurms en ander verwante onderwerpe. Die boekie is vol feite en wenke van hoe om ‘n erdwurmboerdery aan die gang te sit, hoe jou “plasie” moet lyk, en dan lys sy heel agterin die boek ‘n klomp webwerwe waar jy nog verdere leeswerk kan doen. Dis ‘n gemaklike lees, want die skryfstyl is ontspanne, al bevat dit ‘n magdom inligting. Nou ja, ek vat net gou my graaf en dan is ek weg tuin toe!

Slumdog guttercat

Slumdog Guttercat, Anoux Massey met foto’s deur Tracy Robertson (Readhill Publishing, R189,99)
Die lewe in ‘n informele nedersetting is moeilik. Daar is armoede, VIGS-wesies, werkloosheid en natuurlik drank- en dwelmmisbruik. Dis nie net die mense wat swaarkry nie, maar ook die diere. Anoux Massey, wat haar eie persoonlike hel van dwelmmisbruik oorwin het, het op ‘n dag besluit om net een dier in ‘n informele nedersetting te help. So begin ‘n hele nuwe hoofstuk in haar lewe, wat lei tot die stigting van PETS (Pet Empowerment in Townships). Die hoofstukke in die boek vertel onder meer van mense se onkunde oor diereversorging, algemene siektes wat voorkom, behandeling van dié siektes en nuttige wenke vir diereversorging.
Raad word ook gegee oor hoe om ‘n dier wat gered is te hanteer en te behandel. Dit sluit in: kwarantyn, behandeling teen vlooie en bosluise, ontwurming, `n goeie dieet, ‘n besoek aan die veearts en hope liefde. Kwarantyn is belangrik, want dit beskerm jou en jou eie diere as die diere wat gered is ‘n aansteeklike siekte het. Dis belangrik dat die dier na ‘n veearts geneem moet word om seker te maak daar is geen gesondheidsprobleme nie.

Verder word die besonderhede van verskeie dierewelsynorganisasies in Suid-Afrika gegee, asook hoe jy hulle kan help. Wetgewing rondom diere en hul beskerming word ook bespreek.

Die hoofstukke in die boek is informatief, verstaanbaar en maklik om te lees. Die boek bewys elkeen van ons kan ‘n verskil maak en gee riglyne oor hoe jy dit kan doen. – Karien Labuschagne

Making your art work

 Making your art work, Ann Gadd (Create Yourself Publications, R180)
Hierdie is ‘n baie praktiese gids van alles wat jy moet weet, as jy geld uit jou kunswerke wil maak. Ann Gadd is self ‘n kunstenaar en weet hoe moeilik dit is om jouself as kunstenaar te bemark en seker te maak dat jou kunswerke by die regte galery uitkom, waar jy verseker kan wees van ‘n mark wat in jou werk sal belangstel.

Haar wenke begin met hoe jy moet dink oor jou werk en jouself om jouself as professioneel te kan bestempel. Dan neem sy mens stap vir stap deur die roete van hoe om by jou eindbestemming te kom – om geld te verdien. Sy wys duidelik die slaggate uit en haar hele aanslag is prakties. Dis beslis ‘n boek wat enige potensiële kunstenaar behoort te lees, veral as jy nie weet waar om te begin nie.

Die belangrikste ding van die hele proses is dat jy natuurlik ook talent moet hê!

Die boek is beskikbaar by toonaangewende boekwinkels, maar kan ook bestel word by orders@blueweaver.co.za. Vir meer oor Ann Gadd self en haar kunswerke, besoek www.artforewe.co.za

Get your book published

 Get your book published in 30 (relatively) easy steps, Basil van Rooyen (Penguin Books SA, R150)
Die skrywer van hierdie boek is al vir meer as dertig jaar betrokke in die boekebedryf en besit ook sy eie uitgewerye. Hy was ook betrokke by die nagraadse kursus in Publishing Studies by die Universiteit van die Witwatersrand. Hy kan dus met gesag skryf oor die onderwerp en gee in hierdie boek in 30 stappe die werkwyse wat jy moet volg en wat jy moet weet om jou eie boek gepubliseer te kry. Die boek bestaan uit twee dele. Deel een is ‘n stap vir stap gids wat van die ontstaan van die boek, dus die konsepsualisering, deur die hele proses tot by die eindproduk.

In deel twee gee hy ‘n oorsig oor die boekbedryf, eerstens internasionaal en dan hoe die bedryf in Suid-Afrika daar uitsien. Hy beklemtoon dat hierdie boek jou nie gaan leer hoe om te skryf nie. Sy uitgangspunt is dat jy reeds relatief goed kan skryf en daarom fokus hy in hierdie werk op boeke wat geskryf word om verkoop te word met die hoofdoel om geld te maak. Dis ‘n lywige boek en jy sal moet tyd bestee om daardeur te werk. Van Rooyen se skryfstyl is gemaklik en hy verduidelik die hele proses eenvoudig genoeg dat jy ‘n goeie insig sal hê oor wat jy behoort te doen.

Heel agterin die boek lys hy ook ‘n hele aantal webwerwe wat die voornemende skrywer van hulp sal wees. ‘n Nuttige stuk gereedskap die!

How to really talk about books

 How to really talk about books you haven’t read, Henry Hitchings (John Murray Publishers, R210,95)
Was jy al ooit in ‘n geselskap waar iemand skielik ‘n breedvoerige gesprek begin voer oor ‘n boek (een van daai wat niemand regtig gelees het nie, maar maak of hulle het) en dan na jou draai en verwag dat jy moet saampraat en hopelik iets van waarde te sê het oor die genoemde boek. Dis my grootste nagmerrie, want in ‘n mens se leeftyd is dit gans onmoontlik om elke boek wat in die nuus is, te lees. Buiten as jy nie werk nie en jouself in ‘n kamer toekluister en net lees! ‘n Ander opsie natuurlik is om die film te gaan sien. Dis egter nie altyd foolproof nie, want sommige karakters in die boek word sommer uitgelaat uit die film. Of erger nog, twee of drie karakters word saamgevoeg in een!

Daarom was ek verheug toe ek hierdie boek ontdek het, want hier is beslis vir my ‘n paar wenke in van hoe om my pad deur sekere “akademiese” gesprekke te baan. Hitchings fokus hoofsaaklik op die klassieke skrywers soos Jane Austen, James Joyce en Shakespeare, maar in die laaste paar hoofstukke gee hy wenke hoe om jou pad deur ‘n gesprek oor die hedendaagse skrywers se werke te bluf.

Dis ‘n interessante boek, met ‘n paar amusante argumente.