Michael Mol en John Berry.

Michael Mol en John Berry.

Boeke

Dokter en sjef span saam vir gesonde kookboek

Michael Mol is ’n mediese dokter en John Berry is ’n sjef. Hulle het kragte saamgesnoer om ’n resepteboek saam te stel wat op gesondheid en welstand fokus.

Michael Mol is vir baie mense meer bekend as ’n sjarmante aanbieder op televisie, maar deesdae het hy teruggekeer na sy wortels as mediese dokter. John Berry het as sjef gewerk vir byna ’n dekade in restaurante en hotelle in Kalifornië en Hawaii. Hy was ’n stigterslid van Kauai Health Foods in Amerika. Na ’n besoek aan Suid-Afrika het die Kauai-groep besluit om ook hier winkels oop te maak en John was gek oor die land en het hierheen verplaas. Vir altwee hierdie mans is gesondheid en welstand die kernbeginsels van hul lewensfilosofieë. Een van die groot boustene daarvan is om gesond te eet.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

In Jou Beste Lewe (Christelike Uitgewersmaatskappy, R299,95) gebruik hulle hul kennis en vaardighede vir ’n resepteboek waarin gesonde, vinnige maaltyd-opsies wat binne 30 minute reg is en pittige gesondheidswenke gegee word. Dis ’n pragtige kykboek ook, met die volkeur foto’s van die resepte en die twee en hul gesinne agter die skerms. Ek het per e-pos met John en Michael oor hul boek gesels.

Het julle mekaar geken voordat julle aan die boek gewerk het?
John Berry (JB): Ja, ons het op SABC 3 se ontbytprogram, Expresso, ontmoet. Ek het ’n paar kosdemonstrasie met nuwe produkte vir Kauai gedoen en ons het baie pret saam op stel gehad. Omdat ons dieselfde familiewaardes deel en ’n voorliefde vir gesondheid en welstand het, was daar ’n goeie fondasie om ’n boek te doen.

Hoe het julle op die konsep van die boek besluit, want daar is so stortvloed resepteboeke in die mark?
JB
: Daar is nie tans regtig ’n boek soos hierdie een in die mark nie. Ons het ons ook nie te veel gesteur aan die kompetisie daarbuite nie. Ons het ag geslaan op die leefwyse van vandag en het gesien daar’s ’n behoefte aan ’n boek wat mense sal inspireer en hulle kan lei deur die mynveld van inligting oor kos en gesondheid.

Hoe het julle die boek aangepak? Het julle altwee die resepte in die boek gemaak?
JB: Nee, Michael is baie goed met eet, nie kook nie! Hy het al die navorsing en die geloofwaardige wetenskap vir die “gesondheidswenke” wat aan elke resep gekoppel is, gegee. Ek het al die resepte getoets.

Hoe lank het dit geneem om die boek te doen en was daar baie navorsing betrokke?
JB: Die oorspronklike idee het so drie jaar gelede ontstaan, maar toe ons uiteindelik ’n uitgewer aangestel het, het dit so twee jaar geneem om die boek te voltooi. Ek dink dit was ’n kombinasie van ons lewensreise. Ek het oor die jare baie verskillende invloede van sjefs ervaar, ondervinding opgedoen met die opvoeding van drie kinders en om uit te vind wat vir hulle werk en wat bloot net in die asblik beland. Om deur die warboel van inligting te werk en om eens te wees oor “wat is gesond” het tyd in beslag geneem en ons albei het ook baie navorsing gedoen.

Wat is jou persoonlike kosfilosofie?
Michael Mol (MM):
Ek is nie ’n sjef nie en het geen formele dieetkundige opleiding nie en die hoeveelheid voedingsleer wat ons in mediese skool gehad het, kan op ’n post-it nota opgesom word. Wat my mediese agtergrond my wel geleer het, is om geen aanspraak net te aanvaar nie, maar om al die bewyse te evalueer. Daar’s baie kwaksalwery en gerugte oor gesond eet op die rakke vandag. My raad aan lesers is om alles op te weeg, opinies te bervraagteken, toets die goed wat te goed lyk om waar te wees en moenie omgehaal word deur dit wat iedereen doen nie. Daar is ’n regte manier om te eet en jy moet dit jou missie maak om uit te vind wat dit is, want jy ìs regtig wat jy eet. Min ander dinge het ’n groter impak op jou gesondheid as dit wat jy elke dag in jou mond sit. Met hierdie kombuistafel-naslaanboek probeer ek en John om jou in die regte rigting te stuur.
JB: Die werklikheid is dat ons nie alles organies gaan eet nie en ons gaan ook nie dit wat ons eet self kweek nie, maar die grootste deel van die voedingstowwe wat ons familie inneem, moet so na aan die kosse se natuurlike staat wees. Alle diere proteïen moet free range wees en verfynde kosse is uit. Vir my beteken gesonde kos nie smaakloos nie. ’n Verskeidenheid bestanddele en verskillende kookmetodes word in ons huis gebruik. Ons het geleer om ‘die reënboog te eet’ en eet kos ryk aan kleur en voedingstowwe. Dit gaan nie daaroor om maer te wees nie, maar om gesond te wees, gesond te eet en ’n skoon lewe te lei.

Die Mol-gesin. FOTO: verskaf

Die Mol-gesin. FOTO: verskaf

Wat is jou gunsteling-ete van die dag en waaruit bestaan dit?
MM: My gunsteling-ete van die dag is aandete, wanneer ons hele gesin om ons eetkamertafel vergader om na te dink oor die dag en ook te deel oor die dag wat was. Ons bespreek goed, eet, argumenteer, lag, lees die Bybel en konnekteer met mekaar op ’n vlak wat ons koester. Terloops, as jy jonger as 25 is . . . ’n eetkamertafel is ’n tafel waarom gesinne bymekaar gekom het om saam te eet voor die koms van televisie.

JB: Ontbyt: Ek is lief daarvoor om ontbyt vir my vrou en kinders voor te berei. Ek hou veral daarvan om omelette te maak, want mens kan soveel verskillende kombinasies skep, en dit verskaf wonderlike volhoubare energie in stede van ’n bakkie graanvlokkies wat jou suikervlak hemelhoog lig.

Die Berry-gesin. FOTO: verskaf

Die Berry-gesin. FOTO: verskaf

Jou beste raad vir mense oor wat hulle moet eet?
MM:
Moenie op ’n dieet gaan nie!
Vir my gaan gesond eet nie oor streng eetvoorskrifte nie, of om jouself te ontneem van smaaklike kos nie. Dit gaan eerder daaroor om goed te voel, meer energie te hê en gesond te bly. ’n Gesonde liggaamsmassa is ’n bonus. Dis verwarrend om deur hope inligting oor diëte te sukkel. Hou dit eenvoudig deur ’n paar eenvoudige reëls te volg, wat deur die eeue dieselfde gebly het, ten spyte van al die dieetgiere wat verander het.
– Eet baie vars vrugte en groente, en onthou hoe meer kleur dit het, hoe beter is dit vir jou.
– Eet regte kos. Verwerkte kosse is gepak met ongesonde vette, sout en suiker wat jou gesondheid benadeel.
– Bestuur jou porsiegroottes. Jy kan TE VEEL gesonde kos eet, wat nog te sê ongesonde kosse.
– Eet ’n wye verskeidenheid kos. Verskillende kossoorte verskaf verskillende voedingswaarde. Bowendien is dit vir niemand lekker om net selderystokkies te eet nie.

JB: Eerstens, leer om NEE te sê! Ons word elke dag deur verkeerde koskeuses in die gesig gestaar en ons moet bedag wees daarop. Besluit watter kossoorte is sleg vir jou en jou gesin en verwyder dit uit jul dieet. Probeer om natuurlike kosse te eet, en nie geriefskos nie.
Tweedens, bestee minder geld op dinge wat nie waarde toevoeg tot jou lewe nie en bestee meer op gehalte kos, wat beteken jy gaan minder aan dokters ook bestee!

Hoe kry jy kinders om iets te eet wat hulle nog nooit geëet het nie of van hou nie?
MM
: Stel ’n voorbeeld en wees hardnekkig. Die idee agter die boek was om aan ons kinders te bewys dat gesonde kos smaaklik kan wees! As my kinders die huis verlaat met die idee dat gesonde kos vaal en onverteerbaar, en essensieel ’n bitter pil wat ons moet sluk om beter en gesonder te leef, dan het ek gefaal as gesonde rolmodel vir hulle. Wie wil langer leef as jy nie die eenvoudige plesiere in die lewe kan geniet nie, soos smaaklike kos!?
Natuurlik was die dieper rede vir die boek om gesinne bymekaar te kry rondom ’n tafel. Gesonde eetwyse is die sleutel, maar die grootste boustene van die gemeenskap is die gesinseenheid. Om om ’n eettafel bymekaar te kom, moedig nie net ’n gesonde eetstyl aan nie, maar ook gesonde familieverhoudings.

JB:
Laat hulle toe om honger te word en stop alle snoepgoed voor maaltye. Fokus ook op smaak en kooktegnieke. Ek het gevind dat enige groen groente liggies gekook met bietjie suurlemoen/olyfolie en ’n klontjie botter goed ontvang word. Baie jong kinders moet net ’n paar keer voorgestel word aan ’n nuwe kossoort voordat hulle dit sal probeer; mens moet net nie moed opgee nie! Nog ’n wenner is om hulle te laat help in die kombuis; dit lyk asof kos dan beter smaak. Nog beter, plant en kweek saam met hulle jou eie groente in die tuin. Hulle sal trots voel om dit te eet.

Wie kook in jou huis?
MM:
Die beste kok op die dag . . . en 90 % van die tyd is dit NIE ek nie. (Ek kan Jacqui bedank wat heerlike, gesonde maaltye vir ons voorberei, maar wat ook op ’n innemende manier na my geskerts luister dat ons nog gesonder kan eet . . . Ek is soms ’n regte wysneus met wie dit soms pynlik is om saam te leef!)

JB: Meeste dae my vrou, maar oor naweke kook ek. Ons begin ook om die kinders te leer om te kook – ontbyt in die bed vir ma en pa hier kom ons!