FOTO: verskaf

Boeke

Drie boeke oor Oscar Pistorius se hofsaak

Die Oscar Pistorius-verhoor was een van die grootste nuusgebeure van die jaar, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in die wêreld.

Duisende mense het vasgenael gesit voor die televisiestel om die uitsending van die gebeure in die opspraakwekkende verhoor te volg. Ander was aktief op sosiale media en het seker gemaak hulle bly op die hoogte van die saak via Twitter. Moet nie eers praat van die bladsye en bladsye wat in koerante, tydskrifte en ander publikasies afgestaan is aan dekking oor wie en wat Oscar Pistorius is, wie die betrokkenes in die saak is en wat aanleiding gegee het tot gebeure nie. Mense het deur die bank ’n opinie gehad oor dié saak, en wêreldwyd het dit die aandag getrek. Susan Puren, ’n ondersoekende joernalis, het drie boeke oor die gebeure rondom Oscar Pistorius gelees en gee haar opinie daaroor.

Behind The Door, Mandy Wiener & Barry Bateman (Pan Macmillan, R240)
As jy ook soos miljoene mense oor die wêreld vasgenael voor die televisie gesit en nie ’n woord in die Oscar Pistorius-verhoor gemis het nie, sal hierdie boek jou geheue oor elke aspek van die saak verfris. Dit gee nie nuwe antwoorde op ou vrae en die altyd teenwoordige bespiegelings nie, maar bied die leser die geleentheid om in sy eie tyd die saak in detail te herleef. En vir dié wat slegs hier en daar ’n sappige brokkie gehoor het, sal dit die feite verskaf om volgende keer te kan saampraat wanneer Oscar se hofsaak om die braaivleisvuur bespreek word.

Die boek beskryf die getuienis voor die hof en veral wat die Staat se getuies beweer het. Omdat niemand by was toe die misdaad gepleeg is nie moes die aanklaer, advokaat Gerrie Nel, op forensiese- en sogenaamde oorgetuies – mense wat iets gehoor het – staatmaak. Dis veral laasgenoemde se weergawes wat aan die begin van die verhoor wêreldwyd uitbasuin is en so ’n permanent prentjie van die beweerde gebeure by die publiek gevestig het. Tog het regter Masipa die meeste daarvan verwerp en die boek gee die leser die kans om hierdie getuienis vanuit die regter se oogpunt in te sien en te verstaan hoe die reg werk.

Dertig bladsye van die boek, daar is 568 in totaal, word aan die dramatiese uitspraak gewy. Dis boeiend om te lees hoe regter Masipa die misdaad aan die hand van die bewysbare feite ontrafel en uiteindelik bevind dat Oscar Pistorius aan manslag en nie aan moord skuldig is nie. Die deurslaggewende faktor waarvoor die staat nie antwoorde gehad het nie, was die tydlyn van die gebeure op Valentynsdag 2013 wat meesterlik deur die verdediging se advokaat Barry Roux voor die hof gelê is.

Mandy Wiener het reeds bewys dat sy min gelyke het as ’n skrywer van ware misdaad verhale. Haar mede-skrywer, Barry Bateman, het homself as ’n meester-gebruiker van Twitter onderskei wie sy derduisende volgelinge van dag een af ingelig gehou het. Saam het Mandy en Barry ’n merkwaardige boek gepubliseer wat lekker lees en deur ingewikkelde regsmenings draf sonder om die leser vir ’n oomblik agter te laat.

Van sprokie tot tragedie in die kolligVan Sprokie tot Tragedie in die Kollig, Ilse Salzwedel (Penguin, R175)
Die tragedie op Valentynsdag 2013 het die wêreld aangegryp en al is Oscar Pistorius reeds aan strafbare manslag skuldig bevind en gevonnis vir die dood van Reeva Steenkamp gaan daar nog lank oor die saak gepraat word. Nie almal kon egter elke woord in die media en veral op televisie volg of in die hof sit om tussen feit en fiksie te onderskei nie. En selfs die wat kon, stem steeds nie altyd saam nie.

Die skrywer het wyd nagevors – ook op Twitter – en haal nie minder as 73 bronne in die boek aan nie. Verskeie kenners gee ook hul menings oor aspekte van die saak en hoe die reg in Suid-Afrika werk. Hilton Botha, die oorspronklike ondersoekbeampte wat aan die begin van die saak afgehaal is, vertel sy storie en sê wat hy in Oscar se huis gesien het toe hy kort na die skietery op die toneel aangekom het. Die leser leer ook vir Reeva Steenkamp van nader ken en hoor van haar ambisie en drome, asook haar ouers smart na die verlies van hul liefling-kind.

ReevaReeva, A Mother’s Story, geskryf deur June Steenkamp en geredigeer deur Sarah Edworthy (Little Brown, R285)
June Steenkamp het elke dag waardig en feitlik sonder om enige emosie te toon ’n paar tree agter Oscar Pistorius in die hof gesit. As Reeva Steenkamp se ma moes dit uiters moeilik gewees het, want die kliniese hofkameras het elke beweging die wêreld ingestuur.

Maar agter die skerms was June besig om haar hart uit te stort in ’n hartverskeurende boek oor Reeva se grusame dood op Valentynsdag 2013.

Dis die verhaal van ’n ma wat duidelik die grond aanbid het waarop haar dogter geloop het. Daar is interessante vertellings oor Reeva en hoe sy mense om haar beïnvloed het. June skryf onder andere hoe Reeva haar en haar man, Barry, na hulle 15 jaar vervreem was, weer by mekaar uitgebring het. Dis nuwe feite wat nie in die hof gehoor is nie.

In die hoofstuk van die boek sê June sy is tevrede met die vonnis maar teleurgesteld in die uitspraak en dat sy steeds haar eie weergawe het oor wat daardie aand in Oscar se huis in Pretoria gebeur het. Sy glo nie Oscar se weergawe nie, maar het hom wel as ’n Christen vergewe.

Daar is geen vermelding in die boek van die geld wat die Steenkamps sedert Reeva se dood maandeliks van Oscar ontvang het nie en dat hulle dit later as sogenaamde bloedgeld beskryf het en aan hom wou teruggee nie. Ook nie dat hulle na bewering bykans twee miljoen rand na Reeva se dood ontvang het vir die eksklusiewe televisieregte vir hul storie nie. – Susan Puren