FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

“My droom is om ’n dik kinderboek vir grootmense ook te skryf.”

Vir Keina Swart het kinderboeke ’n spesiale plekkie in haar hart. Uit haar pen het reeds twee verskyn, sowel as ’n jeugverhaal.

Maar sy droom daaroor om ’n kinderboek te skryf wat kinders sal laat lag, huil en droom, en wat vir grootmense ook in die hart sal tref. Lesers van rubrieke behoort al haar skryfsels raak te gelees het in ’n verskeidenheid koerante en tydskrifte. Van hierdie rubrieke en tien wat spesiaal geskryf is, is saamgevat in die bundel, Die Potlooddief se Bruid en ander stories  (Protea Boekhuis, R150). Die 60 essays gaan oor mense wat iewers in Swart se lewe ’n draai gemaak het. Of dit haar eie kinders is, familie, vriende, kennisse of mense wat sy terloops met ’n storie raakgeloop het, sy maak hulle deernisvol en empaties deel van die leser se lewe.
Met haar fyn waarnemersoog vat sy ’n karaktertrek en gevoelens met net ’n paar woorde vas: “bloubeaarde vlinderhande”, “…daai huil wat ’n mens nie wil los nie?”, “Maar laataand merk ek sy lê weerloos, mol-alleen, op haar bed en slaap met die radio en lig aan.” Die prentjie is helder in jou gees, want jy raak saam met Swart deel van dit wat sy beskryf. Sy skryf dat woordemans gevaarlik is, want hulle het die vermoë om jou hart sommer vinnig-vinnig met ’n paar poëtiese woorde te verower. Maar pasop vir die woordevrou, want haar stories, hoe oënskynlik eenvoudig ook al, sal jou in ’n wip vasvang! Hierdie boek het my laat lag, huil, droom en peins. En die stories wil my nie los nie. . .

Ek het per-epos met Swart gesels oor haar bundel rubrieke.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Hierdie is nie jou eerste boek nie. Kry jy nog steeds skoenlappers in jou maag wanneer jy die boek vir die eerste keer in jou hande hou?
Dis ’n baie lekker gevoel en met Die Potlooddief se Bruid was daardie gevoel ekstra lekker, want die boek het vanjaar presies op my verjaarsdag in die boekwinkels en onder my kopkussing beland. Maar verreweg die beste skoenlapper-gevoel, is om iemand te sien wat jou boek sit en lees.

Jy skryf in verskillende genres. Watter een is jou gunsteling?
Ek is opgelei as joernalis, maar hardenuus-stories maak my deesdae droewig. Ek is nie meer goed daarmee nie. Miskien was ek nooit goed daarmee nie. Die jeugboek-genre (Bloujaar, Protea Boekhuis 2014) was vir my die moeilikste skryfwerk ooit. Ek weet nie of ek weer daarvoor kans sien nie, maar ek wil graag weer eendag ’n kinderboek skryf. ’n Lekker dikke, wat kinders sal laat lag en huil en droom. Een wat grootmense ook sal wil lees.

Ek dink dis moeilik om ’n gereelde rubriek te skryf, want wat maak jy as die muse jou vir ’n rukkie gelos het?
Ek is glad nie soos daardie gedissiplineerde skrywers wat elke dag ’n sekere hoeveelheid woorde of ure skryf nie. Ek wens ek was! Onder druk kan ek koerantstories skryf, maar vir rubrieke het ek stilte nodig; dinktyd. Die muse los my vir lang rukke, maar dit maak my nie paniekerig nie, want sy sal weer kom. En terwyl ek wag, konsentreer ek op my koerantwerk en lees stapels boeke.

Waar kry jy die beginpunt vir ’n rubriek?
Dis soms net ’n sin. Iets wat iemand sê. Iets wat ek opmerk terwyl ek by ’n vergadering of byeenkoms is. Dikwels is dit iets wat ek bedink terwyl ek met my voete op die dashboard sit en by die venster uitkyk terwyl ek en my gesin iewers op ’n verlate grondpad ry.

Loop jy soms lank met ’n idee in jou kop rond voordat dit gestalte kry in ’n rubriek, of skryf jy maklik?
Soms gebeur daar iets, en dan dink ek: “Eendag wil ek nog daaroor skryf.” Maar die tyd moet reg wees. En soms is “die tyd” in die middel van die nag. Dan staan ek op en gaan skryf totdat die son opkom. As ek eers wegtrek, laat waai ek gewoonlik. Of daar gebeur nóg iets wat aanhaak by ’n vorige gebeurtenis, en dit gee my idee lyf en jaag my rekenaar toe.

Is jy ’n fyn waarnemer van mense en dinge, want jy is baie beskrywend in jou rubrieke?
Ek was as kind verskriklik skaam en sou nooit by ’n vreemde groepie gaan staan en gesels het nie. Dis ook vir my moeilik om tydens gesellighede na mense te stap en myself voor te stel, al wil ek dit soms graag doen. Ek sal eerder alleen op ’n mooi plek wil sit en lees of saam met familie of vriende kuier. Ek let gedrag en ander dinge op wanneer iemand ’n rol in my lewe speel. Ek vorm nie sommer menings oor mense wat ek van g’n kant af ken nie. Dis tydmors. Ek dink dit is hoekom die meeste stories in my bundel gaan oor mense wat ek ken en liefhet.

Maak jy notas oor goed wat jy sien, hoor of lees of het jy ’n uitstekende geheue waar jy alles mooitjies in liasseer?
My skoolmaats spot my gereeld oor my vermoë om jare gelede se dinge in detail te kan onthou. Hulle kan die gebeurtenisse onthou, maar ek onthou die detail van wie wat aangehad het, of gesê het of gedoen het. Maar ja, ek maak ook baie notas. Ek het stukkies papier, boekies, dagboeke. Soms sê iemand iets, en dan skryf ek dit neer. Ek onderstreep ook met ’n merkpen in boeke en skeur bladsye uit tydskrifte en koerante. Dit hoop op en lok goggas, maar dit verskaf my vreugde om so nou en dan daardeur te werk.

Hoe benader jy mense wat jy ken as onderwerp?
Die meeste rubrieke in die boek gaan oor regte mense en gebeure. Soms het ek eers die moed gehad om oor mense te skryf wanneer hulle dood is, maar dit kan nogal maklik ontaard in soetsappige “huldeblyke”. Ek vra nie amptelik “toestemming” om oor iemand te skryf nie, maar soms sal ek hulle vertel dat ek nog oor hierdie of daardie ding gaan skryf. Ek gebruik selde mense se regte name in rubrieke, maar hulle wéét gewoonlik wie hulle is. Dis maklik om oor mense te skryf wanneer hulle ’n mooi storie het.

Watter rubriek in hierdie bundel lê vir jou na aan die hart en waarom?
Raai hoe lief is ek vir jou? is my gunsteling. Dis die storie van al die boeke in ons huis, en van my kinders se grootwordjare reg van die Babalela-dae af tot deur die @Thomas-reeks en Fiela se kind. Totdat ek op ’n dag besef het die tyd van Fees van die Ongenooides is nie ver nie. Boekrakke maak my ongelooflik hartseer. Veral boekrakke met kinderboeke in. Ek weet nie hoekom nie (of miskien weet ek hoekom, maar dis weer ’n storie vir ’n ander dag).

Hoe het julle gekies watter rubrieke word ingesluit in die bundel?
Baie van die rubrieke het die afgelope tien jaar in Die Burger, Beeld, Rapport en Die Pos verskyn. Daar is so tien nuwes wat spesiaal vir die bundel geskryf is. Ek en Amelia de Vaal, my redakteur by Protea, het op die ou einde besluit om die rubrieke te sorteer onder Mans van my Hart, Vroue van my Hart, Kinders van my Hart en Stories van my Hart.

Hoe het julle aan die titel gekom?
Ons het regtig lank gesukkel om die regte titel te kry; dit was ’n reuse-spanpoging. Die boek was al op pad drukkers toe, toe krap ons nog kop. Die Potlooddief se Bruid is een van die verhale in die bundel. Dit gaan oor ’n Downsindroom-seun vir wie ek baie lief was. Sy ma het ’n klerewinkel reg langs die kantoor van die plaaslike koerant waar ek werk, gehad. Hy het baie keer in my kantoor kom sit terwyl ek stories tik en die mooiste prente van bruide geteken. Dan het hy uitgeglip, die prent op my tafel gelos en my potlode gegaps! Hy was ’n ou man met ’n kinderhart en het dikwels vir mense vertel dat hy nog eendag met my gaan trou, maar dat hulle vir niemand mag sê nie omdat dit ’n geheim was.