FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

“My eie stryd met onvrugbaarheid is die inspirasie vir my hoofkarakter.”

Paula Marais het vier jaar gesukkel om swanger te raak met haar tweede kind. Dis hierdie stryd wat die sneller vir haar jongste boek was.

Die Britse kunstenaar Helen, wat die hoofrol in Love & Wine speel, sukkel om swanger te raak. Haar grootste droom is om ’n baba te hê. Sy en haar man, George, het deur die hele rompslomp van vrugbaarheidsbehandeling gegaan, maar steeds kon Helen nie swanger raak nie. Min wetende dat George haar reeds verraai het deur ’n buite-egtelike verhouding aan te knoop en boonop ’n kind te verwek in dié verhouding. Helen vlug na Suid-Afrika en gaan woon in haar oom Alex se huis aan die kus. Hier hoop sy om die skerwe van haar lewe op te tel en weer te skilder en so ontslae te raak van haar emosionele bagasie. Haar nuwe lewe bring haar vir die eerste keer weer in aanraking met mans wat haar begeerlik laat voel. Sy ontmoet Max en hy help haar om vir die eerste keer in ’n lang tyd effe van haar sorge te vergeet. Sy raak al hoe meer betrokke by hom en hy vra haar om hom te help om sy biografie oor sy familie te illustreer. Sy gaan woon dan op die wynplaas en Max se broer, Jared, slaan haar voete onder haar uit. Dan is dit die begin van ’n verhouding wat Helen op ’n wipwaentjierit neem. Die een oomblik gaan dit goed en die volgende oomblik is daar net geen kommunikasie tussen hulle nie. En moenie dink Max is uit die prentjie nie! Marais weef ’n boeiende verhaal en jy beleef saam met Helen haar opwinding en teleurstellings. In die verhaal kom jy in die kop van ’n vrou wat gebuk gaan onder die teleurstelling van onvrugbaarheid, liefdesverraad, ’n verlies aan selfvertroue en die stadige proses van om weer te begin bou aan ’n lewe waar die wêreld en mense betekenis het. Die drie hoofkarakters leer deur die verloop van die verhaal dat hulle hul gevoelens eerlik moet deel voordat hulle aan verhoudings kan bou. Hulle geheime word stelselmatig onthul soos wat die storie sy loop neem. Jy kan nie anders as om emosioneel betrokke te raak by Helen nie. Die agtergrond waarteen die verhaal afspeel, Franschhoek en wynmakery, gee kleur aan die gebeure en maak dit ’n lekker leeservaring. Ek het per e-pos met Paula Marais oor Love & Wine (Logogog, R284) gesels.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf


Waar het jy die idee vir die verhaal gekry?
Toe ek begin skryf het was ek swanger met my tweede seun. Dit was egter ná ’n vier jaar lange stryd met infertiliteit, net soos Helen se stryd met onvrugbaarheid in die verhaal. Ek wou ’n liefdesverhaal skryf wat met ’n gebroke karakter begin, wat eers heel moet word voordat sy vorentoe kan beweeg. Ek wou ook graag die boek laat afspeel in ’n plek wat my raak, en Franschhoek met sy Franse Hugenote konnotasie (soos my eie) en geskiedenis, asook die prag van die plek, het dit perfek gemaak. Hierdie boek was eerstens karaktergedrewe en tweedens konsepgedrewe.

Wat het jou aangetrek na Helen se karakter?
In my boeke (insluitend Shadow Self – Skaduself en The Punishment), is ek altyd aangetrokke tot geïsoleerde karakters, mense op die rand van die gemeenskap wat nie op dieselfde noot sing as ander mense nie. Hul vlakke van geluk en emosionele diepte is meer onpeilbaar en stormagtig as ander mense wat nie met dieselfde intensiteit voel nie. As ’n skrywer is ek ’n waarnemer, maar ek voel ook baie diep, dikwels tot so ’n mate dat ek ander se emosies kan aanvoel voordat hulle iets sê. Dis waarom ek ’n konneksie maak met die eerlikheid van ’n karakter soos Helen. Sy is nie perfek nie en sy is geraak deur tragedie, maar sy is eg.

Baie van haar hartseer hou verband met haar onvrugbaarheid en George se verraad en ontrouheid. Hoe definieer dit haar as ’n vrou?
Infertiliteit is so isolerend. Dis nie ’n onderwerp waaroor mens sommer praat nie, want die mens wat daaraan ly, voel soos ’n volslae mislukking. En ook hulpeloos. Toe ek deur al die aaklige behandelings gegaan het, het ek dit in die geheim gedoen. Net die naaste mense aan my het daarvan geweet. As ek terugkyk, besef ek dit was oor my eie trots en ek het hierdie eienskap ook vir Helen gegee. Dis amper asof sy haarself blameer vir haar infertiliteit. Omdat sy onvrugbaar is, voel sy emosioneel ook bar. Sy het geen vertroue in haar eie seksualiteit nie, want die seksdaad is verlaag tot die tegniese ding van tye en verantwoordelikheid, eerder as liefde en geborgenheid. George se verraad maak dit net erger – sy kan nie ’n baba maak nie en sy kan nie ’n man behou nie. Dis wat sy in haar kop glo.

Jy het vir haar kuns gegee as die manier om weer betekenis in haar lewe te kry. Hoe belangrik is dit?
As ek iets aakligs ervaar, motiveer ek myself deur te sê dat ek eendag daaroor sal skryf. Helen is ook so, maar sy het net vergeet hoe haar kuns haar oplig omdat haar aandag by ander prioriteite is. Die leë skilderdoek is iets wat sy aanvanklik vrees en daarom het sy haar oom Alex se aanmoediging nodig. Wanneer sy dan begin skilder, klim sy amper binne in die skildery in en sy gebruik haar hande om te verf. Hierdeur word haar artistieke impuls sintuiglik en sensueel. Dis ’n belangrike deel van haar gesond word-proses.

Die twee broers en Helen se aangetrokkenheid tot beide is ’n interessante dilemma. Hoe het jy die balans behou sonder dat die verhoudings ongeloofwaardig raak?
Al is Max en Jared broers, verskil hulle ongelooflik baie. Helen is aangetrokke tot die verskillende elemente wat hulle verteenwoordig. Aanvanklik reageer sy net, want dis makliker as om ’n deurdagte besluit te neem. Soos sy haarself vind, begin sy besef wat sy nou eintlik wil hê. Wat ek van Jared en Max hou, is dat hulle ’n broederlike verhouding het ten spyte van beide se gevoelens vir Helen. Hulle is vriende, sake-vennote en natuurlik broers. Hulle het ’n gedeelde geskiedenis wat net hulle s’n is. Miskien is dit die teenpool vir hulle belangstelling in Helen.

Jy verweef wynmakery, genealogie en ander feite soomloos in die storie. Hoe het jy die navorsing gedoen?
Meeste van my navorsing het ek in Franschhoek gedoen. Ek is van Hugenote afkoms en ek het dit geniet om deur die genealogie te werk in die Hugenote Museum. Daar was baie boeke en die boek wat ek agterin Love & Wine noem het ’n CD gehad waarin die hele De Villiers-stamboom uiteengesit word. Dit was fassinerend. Ek het ook wonderlike gidse gehad wat my rondgewys het op die wynplase en ook die wynmaak-proses verduidelik en ook oor die lewe in Franschhoek. Ek het ook baie inligting aanlyn gekry, veral oor die botteleringsproses. Ek was swanger tydens my eerste besoek om die navorsing te doen en kon nie self die wyn proe nie. Maar my man was gaaf genoeg om namens my te proe!

Helen raak intens betrokke by Jared, nie dat dit tot voordeel van haar is nie. Waarom haar in die duister hou oor Jared se sielkundige toestand?
Die ‘geheim’ is eintlik simbolies van die samelewing en hoe geestesongesteldhede hanteer word. Ek glo mense moet openliker praat oor geestesongesteldheid. Maar Jared se familie het besluit dis skandelik, vir hulle, maar waarskynlik meer so vir Jared. Hulle wil nie sy swakheid aan die gewone mense ontbloot nie en Max het respek hiervoor. Vir my was dit belangrik dat Helen vir Jared moes leer ken voordat sy uitvind van sy geestestoestand, omdat dit die patroon in die samelewing is. Dis maklik om vir ’n vreemdeling te sê dat jy jou toon gebreek het of dat jy longontsteking gehad het. Maar meeste mense sal nooit sê: “Ek ly aan obsessief-kompulsiewe neurose of akute angs.” Nie voordat daar ’n mate van vertroue is nie.

Is jy ’n gedissiplineerde skrywer met ’n streng roetine?
Ek is baie gedissiplineerd. Met twee seuns, ’n man en ’n ooraktiewe Jack Russell genaamd Sammy wat baie oefening moet kry, het ek nie baie tyd nie. Ek doen ook baie redigering van skryfwerk en ek doen ook korporatiewe en ander skryfwerk. Omdat ek so besig is, glo ek nie in iets soos writer’s block nie. Ek het myself geleer om elke dag in ’n koffiewinkel te gaan sit en skryf – dieselfde koffiewinkel, dieselfde koffie, bedien deur dieselfde lieflike mense (ek het ’n blog geskryf oor hoe dit kreatiwiteit stimuleer: www.paulamarais.com/blogposts). En die koffie is ’n groot sneller vir my. Dit lewer nie altyd massiewe woordtellings op nie, maar dis beter om woorde te hê as geen woorde. Ek sny altyd baie aan my werk.