FOTO: Mark Condren

FOTO: Mark Condren

Boeke

Ek is deel van Charlie Parker en hy is deel van my.

 

Die aweregse speurder, Charlie Parker bevat baie van skrywer John Connolly se eie karaktereienskappe.

So sê Connolly en dis te verstane, want hy skryf al 16 jaar die reeks boeke waarin Parker die hoofrol speel. Teen hierdie tyd behoort hy alles van Parker te weet, maar tog ook nie. Teenstrydig met ander raaiselreekse het Connolly besluit om Parker deur die verloop van die reeks ouer te laat word. Dit bring elke keer veranderende omstandighede wat ’n rol in die verhaal speel. In sy jongste boek, A Song of Shadows (Hodder & Stoughton, R300) is Parker nie sy fikse, gesonde self nie. Hy sonder hom af in ’n klein dorpie, Boreas sodat hy van sy wonde (hy is amper doogeskiet in die vorige verhaal) kan herstel. Hy raak bevriend met Ruth Winter en haar dogtertjie, maar in Ruth se verlede is daar ’n paar donker geheime. Natuurlik is daar ’n paar karakters wat òf die geheime wil ontbloot, òf wil sorg dat dit nie ontbloot word nie, omdat hulle deel is van haar geheime. Niks is swart en wit in hierdie verhaal waarvan een van die tema’s die Joodse volksmoord (holocaust) is nie. Parker waag sy eie lewe om Ruth en haar dogtertjie te beskerm en ontrafel in die proses ’n gekonkel wat oor dekades saamgeflans is. In die prose moet Parker ook ’n paar vyande uit sy verlede konfronteer. Die verhaal het ’n verrassende kinkel aan die einde. Ek het per e-pos met Connolly oor sy Charlie Parker-reeks gesels.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Hierdie verhaal is deel van die Charlie Parker-reeks. Sy karakter is besig om toenemend ouer te word. Hoe hanteer hy dit?
Ek het doelbewus besluit om hom ouer te laat word, omdat ek gedink het dit sal die boeke kan laat verander. Op een vlak is dit seker aanloklik om ’n karakter soos Parker vir ewig in sy dertigs of veertigs te hou – dit beteken volgehoue krag, ratsheid en stamina, maar dit sal die boeke in aspiek laat stol. Deur hom ouer te laat word, sal die manier hoe hy situasies hanteer ook verander, tesame met sy perspektief en sy verhouding met die naaste aan hom. Ek dink, en hoop, dat dit hom interessant sal hou.

In hierdie verhaal herstel hy van ernstige beserings. Maak dit ’n verskil in hoe jy kies watter tipe goed hy in die verloop van die verhaal moet trotseer?
Weer, dit was ’n doelbewuste besluit. In A Song of Shadows is hy beseer en in pyn, en hy het so bietjie reageer soos ’n hond sal. As ’n hond beseer is, wil hy net in ’n hoek gaan lê en sy wonde lek. Charlie sukkel om langerige afstande te stap, en wanneer hy homself druk, dan ly hy fisiek daaronder. Dit alles verander die toon van die boek: dis broeiend, en baie nugter. Dit help natuurlik dat al die vyande wat hy moet trotseer ook meesal oud is. Dit maak hulle nie minder gemeen nie, maar dit beteken dat hy homself in ’n saak bevind wat soos ’n skaakspel gespeel word, met onbekende spelers wat heeltyd stukke van die bord afhaal.

Hier pop ’n rits karakters uit Charlie se verlede op. Hoe hou jy kop met al die karakters in die reeks, want almal is nie in elke boek nie? Het jy ’n diagram of naamkaart van al die gereelde karakters?
O, ek wens ek was so georganiseerd. My assistent Clair is besig om ’n tipe bypassende volume saam te stel, soort van ’n konkordansie, waarna ek kan terugverwys, maar ek hou aan om nuwe karakters by te voeg wat haar poging kompliseer, so dis dalk nooit klaar nie! Ek hou meeste van die tyd dinge in my kop, maar ek hou nogal van die aspek om ’n kleiner karakter uit ’n vorige verhaal ’n groot rolspeler in ’n latere boek te maak. Dis nie iets wat baie in raaiselverhale gedoen word nie. Dis meer tipies van geskiedkundige fiksie, of fantasie verhale of wetenskap-fiksie. Maar ek dink lesers is slim en hou daarvan om deel te voel van ’n voortgesette saga.

Waarom die Joodse volkmoord as tema vir hierdie spesifieke verhaal? Hoe het jy die navorsing aangepak, en is dit gegrond op ware mense en gebeure? Het jy ’n persoonlike konneksie met daardie geskiedenis?
My oog was bloot gevang deur die voortgesette pogings van die VSA om ’n beweerde voormalige Nazi, genaamd Hans Breyer na Europa uit te lewer om tereg te staan op aanklagte van oorlogsmisdade. (Breyer is dood voordat hy uitgelewer kon word.) Ek het begin wonder hoe baie van hierdie mans en vroue oor is en hoe ernstig word die jagtog na hulle opgeneem. Uit daardie navorsing het ’n klomp verrassende detail na vore gekom oor hoe min energie die Geallieerdes daaraan bestee het om hierdie mense voor die hof te bring, en hoe die Britte en die Amerikaners hulle beskerm het sodat hulle elke greintjie intelligensie-inligting oor die Russe uit hulle kon melk. Dit was vir my fassinerend en ek het gehoop dit sou lesers ook boei. Net toe die boek op die mark gekom het, het Oskar Gröning, die boekhouer van Auschwitz in die hof verskyn, en ek veronderstel dat die 70ste herdenking van die bevryding van die konsentrasiekampe mense ook weer herinner het aan die gruweldade wat in daardie kampe plaasgevind het.

Wanneer jy ’n Charlie Parker-boek skryf, skryf jy met die reeks in gedagte of skryf jy so dat dit ook as ’n losstaande verhaal gelees kan word?
Ek hou altyd in gedagte dat daar lesers is wat my boek sal optel wat nie die vorige verhale in die reeks gelees het nie, en ek probeer om hulle welkom te laat voel! Dis ’n kwessie van om hulle genoeg inligting te gee oor wat alreeds gebeur het sodat hulle nie verlore voel nie. Ek hoop daar is plesier daarin om die boeke in volgorde te lees en om te sien hoe die stukke van die groter legkaart bymekaar kom.

Het skryf ‘makliker’ geword deur die jare, of sukkel jy nog soms met ’n verhaal?
Dit word nooit regtig makliker nie. Ek wou nog elke boek wat ek geskryf het weggegooi het so rondom die 40 000 woorde merk. Twyfel is deel van die proses en dis nie altyd sleg nie: dit laat jou harder probeer, maar dis uitputtend as jy vasgehaak het in die eerste helfte van die boek en jy kan nie ’n pad sien deur die tweede helfte nie, wat nog te sê die einde. Al wat jy kan doen is babatreetjies neem, ’n 1 000 woorde per dag, in die hoop dat die twyfel sal verdwyn en die verhaal homself sal onthul. Ek beplan ook nie boeke voluit nie, wat seker ook nie juis help nie.

Watter elemente maak volgens jou ’n Charlie Parker-verhaal suksesvol?
Karakter is die hoofelement. Alles hang daarvan af. Party mense dink raaiselfiksie is plotgedrewe, maar alle goeie fiksie word gedryf deur karakters. Plot is iets wat karakters doen, en as jy die karakters reg kry, dan sal die plot daaruit voortspruit. Daarna wil ek hê lesers moet hulle net verloor in die verhaal en so bietjie bang word in die proses.

Het jy ’n gunsteling-karakter in die reeks?
Ek is baie geheg aan Parker, maar eintlik hou ek van hulle almal, selfs die aakliges. “Hou van” is dalk te sterk, maar ek probeer om empatie met hulle te hê en om hulle te verstaan. Ek stel nie daarin belang om monsters te skep nie. Soos iemand een keer gesê het, elkeen het ’n rede.

Het Charlie nog die vermoë om jou te verras, of weet jy presies wat hy gaan doen?
Daar’s baie van myself in hom, so hy verras my nie te veel nie. Die verrassing lê daarin dat ek na 16 jaar steeds gelukkig genoeg is om oor hom te kan skryf, en dat ek ’n leserskap het wat na elke nuwe boek uitsien. Vir waarheen hy op pad is, ja, ek het ’n goeie idee. Dit kan dalk verander, maar vir nou weet ek hoe die boeke sal ontwikkel.

Wat wag volgende op Charlie, of hou jy dit vir ’n verrassing?
Ek werk nou aan die nuwe boek, maar dis maar nog in sy kinderskoene. Dit gaan nogal grieselrig wees, met ’n vreemde bonatuurlike wending. Ek moet regtig ’n naam daarvoor kry, alhoewel . . .