FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Ek het 14 jaar lank my drankverslawing weggesteek!

Ja, dit het inderdaad so gebeur. Vir 14 jaar het die bekende radio-persoonlikheid, Sam Cowen, haar verslawing aan drank weggesteek. Net haar man was bewus van die ware situasie.

Haar ouers, vriende en kollegas was salig onbewus van haar probleem. Want dis mos okei om ’n glasie wyn te drink, is dit nie? Maar as daardie een glasie ’n bottel word, en soms sommer twee of drie, een in die kombuis, een in die sitkamer en nog een op ’n ander plek. Wat dan? In haar eerlike verhaal kom sy met die sak patats vorendag.

From Whiskey to Water, Sam Cowen (MF Books, R240)
Die ou gesegde sê jy moet nie iemand op sy baadjie takseer nie, en dit is tog so waar. Vat nou maar die skrywer van hierdie boek. Op die oog af lyk sy na ’n suksesvolle vrou, iemand waarna baie mense met afguns kyk.  Sam Cowen is ’n bekende radio-persoonlikheid, het ’n TV-program aangebied en sy het twee boeke geskryf. Sy is gelukkig getroud en het twee kinders. Wat kan dan nou skeel?

Dan onthul sy in hierdie boek haar diep, donker geheim. Sy is ’n alkoholis. En sy het die moed om nou vir die eerste keer openhartig oor haar verslawing te skryf, 14 jaar nadat sy besef het sy het ’n probleem met drank. Dis ’n eerlike openbaring waarin sy vertel van die vertwyfeling oor haar eie vermoëns, dat sy nie goed genoeg is nie, al probeer sy hoe hard … Dit het haar na drank gedryf, want alles was net bietjie makliker ná ’n paar drankies. Tot die dag wat sy besef het sy is besig om haar huwelik en haarself te vernietig. Toe vervang sy die een verslawing met ’n ander een. In die plek van drank het kos gekom. En natuurlik probeer Sam die een dieet na die ander, maar niks hou die gewig af nie. Nie eens oefening nie, tot die dag wat sy besluit het om vir iets te oefen, in stede van om te oefen sodat sy gewig kan verloor. Sy het begin swem en haar liefde vir die sport weer ontdek. Dis in die swembad waar sy haar vrede gevind het. Sy het verskeie oopwater swemtogte aangepak, onder meer na Robbeneiland. Die pad vir haar is moeilik en dis ’n stryd waarteen sy altyd sal moet waak, om nie weer te verval in die kloue van die drankduiwel nie.  En natuurlik het sy gewig verloor, maar dit het haar 10 jaar geneem.

Die openhartige boek is plek-plek snaaks, maar dis ook hartseer. Veral as jy besef die vertwyfeling oor mens se eie vermoë is dikwels net in jou eie kop.  – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Glowfly Dance, Jade Gibson (Umuzi, R240)
Ek wou eintlik ophou lees toe die stiefpa begin om die dogtertjie seksueel te mishandel. Dis nie dat die beskrywings so grafies was nie; dis eerder dat die storie so getrou uit die kind se perspektief geskryf word dat dit voel of jy magteloos saam met haar ly.

Ek is egter bly ek het nie ophou lees nie, want hoe ontstellend ookal, dis ’n briljante boek. Mai, die dogtertjie deur wie se oë die leser alles sien afspeel, is ’n taai ou dingetjie en die lewe looi haar behoorlik. Sy is die oudste van vier. Haar stiefpa is gewelddadig en misbruikend en maak hul gesinslewe hel. Mai se ma probeer van hom ontsnap, maar dit blyk ’n onbegonne taak te wees. Hy skroom nie om die kinders seer te maak om haar te beheer nie.

Daar is min hulp te kry, en hul situasie raak desperaat. Dis asof almal om hulle te lam is om die tragedie te keer waarop die verhaal duidelik afstuur. Ek wil nie die einde weggee nie, maar dis nie gelukkig nie.

Agterin die boek by die erkennings sê die skrywer dat die boek ’n gedenking is aan haar eerste ma. Ek hoop die boek gee ’n mishandelde vrou iewers die moed en krag om haarself uit haar situasie te red voor die te laat is. – Helen Schöer

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Droomland, Vita du Preez (Lapa Uitgewers, R215)
Met baie harde werk en wilskrag het Ruby Swart vir haar ’n lewe gebou as internasionale model en nou as sakevrou met haar eie klerereeks en boetiek in Kaapstad. Maar sy sal nooit volledig mens voel terwyl sy nie weet wie haar pa is nie? Die gevoel van verwerping hang soos ’n meulsteen om haar nek. Wanneer Ruby se ma onverwags sterf, is sy meer as ooit vasbeslote om uit te vind wie haar biologiese pa is. Al is dit net om vir hom te sê hoe min sy van hom dink.

In haar soeke kruis haar paaie met die van dr. Joshua Durand, haar ma se dokter en vertroueling, en Vincent Boonzaaier, haar ma se eksentrieke skrywer buurman. Van Eden, haar geboortedorp, tot in Londen volg sy die geheim wat haar ma nooit wou deel nie. Hoekom voel sy so aangetrokke tot Vincent en wat is die Durands se aandeel in haar lewe? Maar moet party geheime nie liewer juis geheime bly nie? Kan onskuldige mense dalk baie seer kry?
’n Verhaal waar liefde en geregtigheid seëvier, maar nie sonder kinkels en draaie nie. – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

In The Unlikely Event, Judy Blume (Picador, R292)
Wat is die kans dat drie vliegtuie wat vanaf dieselfde lughawe opgestyg het binne sestig dae van mekaar in ongelukke betrokke is? New Jersey, voorstad Elizabeth, die jaar is Desember 1951. En elke keer word ’n gebou waar daar ’n groot aantal kinders in is net gemis deur die vliegtuie. Miri, Rusti en Irene, drie geslagte vroue van ’n Joodse familie wat saam woon in Elizabeth, beleef hierdie ongelukke. Miri en haar ma, Rusti, sien selfs hoe die eerste vliegtuig neerstort en ontplof. Jy lees hoe dit hul lewens beïnvloed en ook die lewens van hul familie en vriende.  Jy ervaar ook die feit dat deur al die hartseer en trauma almal se lewens maar net weer aangaan. Hulle raak verlief, hulle trou, hulle gaan skool toe, hulle gaan werk toe. Die drie vliegongelukke is ware gebeure, maar die storie en karakters is fiktief.  Dit is egter ’n baie mooi storie van Miri, Rusti en Irene se lief en leed. – Jenny du Toit

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Inside the O’Briens, Lisa Genova (Simon & Schuster, R285)
Joe O’Brien is ’n middeljarige polisiebeampte in Charlestown en hy en sy vrou het vier kinders in hul twintigerjare. Joe begin toenemend sporadiese uitbarstings kry en sy ledemate maak onwillekeurige rukbewegings terwyl sy gedagtes onsamehangend raak.

Aanvanklik lyk dit na werkstres, maar ’n neuroloog diagnoseer Huntington-siekte. Tot Joe se ontsteltenis is dit ’n aftakelende siekte waarvoor geen behandeling bestaan nie. Meer nog, bestaan ’n 50% kans dat hy dié neurologiese toestand aan elkeen van sy vier kinders kon oordra.

Hy besef later dat sy ma dieselfde siekte gehad het en nooit ’n alkoholis was nie, en is innig jammer omdat hy haar verwerp het as ’n swak rolmodel. Sy kinders moet self besluit of hulle die eenvoudige bloedtoets wil aflê en wil weet of hulle die siekte het en op hul beurt aan hul kinders mag oordra.

Intussen raak Joe se simptome erger en hy verloor status in die polisiemag. Sy selfvertroue neem af terwyl sy kinders hul eie sielestryd voer.

Lisa Genova is ’n neurologiese wetenskaplike. Soek haar ander titels ook: “Still Alice”, “Left neglected” en “Love, Anthony”.  – Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Red ruby heart in a cold blue sea,  Morgan Callan Rogers (Penguin, R312)
Florine Gilham woon saam met haar vrolike jong ma en visserman-pa in Long Reach, ’n klein vissersgehuggie aan die kus van Maine. Florine is 12 jaar oud in 1963 toe haar pragtige rooikop-ma saam met ’n vriendin vir ’n paar dae weggaan en nooit weer terugkom nie. Die ergste is dat Florine en haar pa nie weet of Carlie weggeloop het omdat sy die kleindorpse lewe nie meer kon verdra nie, en of sy dood is. Die lewe in hul dorpie gaan voort, maar Florine en haar pa worstel met hulle woede, hartseer en mekaar.

Hierdie boek bied ’n interessante blik op kleindorpse Amerika in die 1960’s. Dis pragtig geskryf en veral die dialoog is baie goed met heelwat pittige sêgoed en wyshede. Hierdie debuutwerk van Morgan Callan Rogers is baie meer as ’n “coming-of-age” roman.  – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Swimming in the moon, Pamela Schoenewaldt (HarperCollins, R292)
Veertienjarige Lucia en haar jong ma, Teresa, moet uit Italië vlug nadat haar ma hul werkgewer aangeval het. Met geleende geld reis hulle Amerika toe om daar ’n nuwe lewe te begin. In Amerika is alles nie maanskyn en rose nie, maar ná ’n rukkie kry Teresa ’n goeie werk as sangeres by ’n rondreisende teatergeselskap. Lucia kan dus aangaan met haar skoolopleiding, al bekommer sy haar die hele tyd oor haar temperamentele en onstabiele ma. Lucia se droom van universiteitsopleiding word bewaarheid, maar toe Teresa terugkom huis toe ná ’n senuwee-ineenstorting moet Lucia al haar toekomsdrome opsy skuif om na haar siek ma om te sien.

Hierdie historiese roman wat afspeel in die vroeë 1900’s bied ’n uitsonderlike blik op die omstandighede waarin Amerikaanse immigrante hulle bevind het in hul nuwe tuisland.  – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Engagements, J. Courtney Sullivan (LittleBrown, R200)
Toe die kopieskrywer, Frances Gerety, in 1947 die advertensie-slagspreuk “a diamond is forever” vir die diamant-reus De Beers geskryf het, sou sy nooit kon dink dat dié woorde die verkope van diamante die hoogtes in sou stuur nie. The Engagements begin deur kortliks te vertel hoe Gerety, ná sy laat een nag skielik besef sy het vergeet om aan kopie te dink vir ’n diamant-advertensie en dit inderhaas moes skryf vir die volgende dag, met die slagspreuk vorendag gekom het. En dit klink omtrent soos ’n toneel uit Mad Men, die gewilde televisiereeks wat draai rondom ’n advertensie-agentskap gedurende die 1960s!
Daarna volg jy jare later vier paartjies se storie en leer jy hoe Gerety se diamant-slagspreuk op een of ander manier betrekking tot hul verhoudings het. Hoewel die hele boek draai om Gerety se legendariese woorde wat sy vir die De Beers-advertensie geskryf het, handel The Engagements veral oor die kompleksiteit van verhoudings en hoe eksterne faktore ’n invloed daarop het. Dié boek is die perfekte pasmaat vir jou vakansie. Liesl du Toit

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Glittering Art of Falling Apart, Ilana Fox (Orion UK, R210)
Hierdie mooi familiesage strek oor so drie geslagte heen. Dit speel af in Londen, Engeland oor ’n tydperk van 1960 tot nou. Dit gaan nou wel nie oor die adelstand nie, maar oor ’n gegoede familie met ’n herehuis. Dis amper soos ’n feëverhaal, hierdie lekkerlees romantiese verhaal vertel van die onregverdige lewe en dan die gelukkige einde. Die boek draai hoofsaaklik om twee verhale, die van Elisa in die verlede, en van Cassie in die hede.
Die titel van die boek is baie gepas, want Elisa, wat haar hele lewe voor haar oop het, maak baie slegte besluite en vriende. Boonop laat die vinnige lewe van partytjies, drank, seks en dwelms, alles uitmekaar val. Dit is so hartseer dat die mense wat eensaam, verlore en op soek is, juis dink dat dwelms hul vriend en oplossing is. En dis juis dit wat hul ten gronde laat gaan. Die boek laat mens ook weer besef as jy sonder vriende is, het jy nog familie. Maar as jy nie familie het wat jou ondersteun nie, is dit baie moeilik om deur te druk en suksesvol te  wees.  En dan as die misverstande tussen familie mekaar ook verder verdryf … Die verhaal beskryf pragtige vriendskappe tussen vriendinne en niggies. Cassie is ’n voorbeeld van iemand wat alles reg doen, waar Elisa amper alles verkeerd gedoen het.

Die taalgebruik is baie ordentlik, en daar is net twee vloekwoorde en geen warm tonele nie in die teks.  Die prostitusie en dwelmmisbruik word baie keurig beskryf. Dit lees vreeslik maklik, en laat jou met ’n goeie gevoel. – Elmarie Rust

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Marriage of Opposites, Alice Hoffman (Simon & Schuster, R310)
Hierdie roman is gegrond op die lewe van Rachel Pomié, ’n Joodse meisie wie se voorgeslagte vlugtelinge van die die Spaanse Inkwisisie was, maar sy is ook die ma van die welbekende Impressionis en skilder, Camille Pissarro. Die gebeure speel af in die 1800’s, op die idilliese tropiese eiland St. Thomas. Rachel trou eers met ’n ou wewenaar, en daarna met sy jonger neef, haar kinders se pa, wat tot gevolg gehad het dat die Joodse gemeenskap hulle as uitgeworpenes behandel het.

Camille, as koshuisganger in Frankryk, is betower deur die Franse kuns. Terug op St. Thomas, onder die mentorskap van die Deense kunstenaar, Fritz Melbye, begin Pissarro om voltyds te skilder. Hy keer uiteindelik vir goed terug na Parys.

Onder Pissarro se naaste vriende het Renoir, Sisley en Gauguin getel en hy was Paul Cezanne se mentor. Pissarro was ’n uitstekende leermeester en word beskou as een van die grootste kunstenaars van die 20ste eeu.  – Linda Volschenk