FOTO verskaf

FOTO verskaf

Boeke

Ek het goeie dae. En ek het slegte dae, sê Kate Hudson

Mens sou dink iemand soos Kate Hudson se lewe is maanskyn en rose. Maar nee, sy het goeie dae en sy het slegte dae. En dan het sy ook dae wat net aaklig is.

Dit sê sy in haar boek, Pretty Happy, waarin sy uitwei oor haar lewe. Dis nie ’n onthulling oor haar liefdeslewe nie. Dis eerder ’n boek wat jou gaan inspireer en help.

Pretty Happy, Healthy Ways to Love your Body, Kate Hudson saam met Billie Fitzpatrick (HarperCollins, R470)
Kate is nou vir die eerste keer in haar lewe op ’n plek waar sy vrede het met haarself en kans sien om vreesloos uitdagings aan te pak. Sy het nou selfvertroue om alles wat met haar gebeur te hanteer. Hierdie selfvertroue maak dat sy voel sy het nou ’n paar lewenslesse wat sy met ander kan deel. Maar, sê sy, sy het die boek uit pure frustrasie geskryf omdat sy al so dikwels in haar lewe gevra is hoe sy haar lyf hou soos wat dit is. Die antwoorde wat dikwels in die media geskryf word is: Ek spring graag tou. Ek doen joga. Ek doen Pilates. Ek oefen twintig minute per dag. Party van die goed is waar, maar dis nie die volle waarheid nie en skets nie die hele prentjie nie. “If you want to make lifestyle changes, it doesn’t happen with a Like on Instagram! It takes time and discipline.” En dis waaroor hierdie boek gaan, die veranderinge wat sy aan haar leefstyl gemaak het, om ’n gesonde liggaam en gees te hê. Sy sê dis eerstens ’n kop-ding. As jy gelukkig en tevrede is met wie en wat jy is, sal dit baie makliker wees om aan die ander kwessies te werk. Jy moet heel eerste jou ingesteldheid verander, jouself nie kritiseer en afbreek nie. Gee jouself krediet vir die dinge wat wel goed is, soos ek het mooi hare, of ek is nie vieslik met mense nie. In haar boek deel sy praktiese wenke, maar gee ook raad oor die kwessies wat met mens se kop kan smokkel. Almal wat onder druk voel oor hoe die samelewing jou beoordeel, sal waarde put uit Kate se verhaal. – Phyllis Green

 

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

The owl always hunts at night, Samuel Bjork (Penguin, R305)
Dis die Noorweegse skrywer se tweede verhaal oor die speurder Mia Krüger en haar baas in die polisie, Holger Munch. Sy eerste boek was I’m travelling alone. In hierdie tweede boek draai die verhaal om die moord van ’n jong meisie onder raaiselagtige omstandighede en die ondersoek daarna. Haar lyk word ontdek op ’n bed van vere in ’n pentagram diep in ’n bos. Maar die ondersoek word bemoeilik, want op die toneel is min forensiese leidrade wat opgevolg kan word. ’n Kuberkraker ontdek iets so skokkend dat hy genoop voel om dit met Krüger te deel. Die ondersoekspan besef hulle het met meer te kampe as wat hulle gedink het en dat die moordenaar dalk reeds ’n tweede slagoffer in die oog het. Wat hulle uitvind oor die moordenaar is eintlik tragies, want hy lewe in sy eie droomwêreld waarin hy glo hy is ’n uil. Die jagter van die nag …

Ek het aanvanklik gesukkel om in die ritme van die verhaal te kom, omdat die twee inleidende proloë eers heelwat dieper in die boek begin sin maak het. Toe ek eers die konneksies tussen die verskillende rolspelers in die gebeure kon maak, het ek baie vinniger en lekkerder gelees. Die skryfstyl is heeltemal anders as die van Amerikaanse en Britse spanningsverhaalskrywers, maar dit doen glad nie afbreek aan die skokkende verhaal nie. Die skrywer se eerste boek, sowel as hierdie een, was top-verkopers reg oor Skandinawië, asook Europa.  – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Die formidabele Ling Ho, Johan Kruger (Umuzi, R200)
Willem Landman is ’n berekende skelm wat geld verdien deur mense te verkul. Sy alter ego is die Formidabele Ling Ho in volle Sjinese mondering: klingelende satynpuntskoene, snor, puntbaardjie en pruik wat iemand anders laat muteer.

Sodra Kwantie aan kwantumfisika blootgestel is en getransformeer is na Schrödinger se kat, begin die poppe letterlik dans. Dora, sy assistent, is sy soort meisie vir wie hy uit sy vriend André se masseersalon afgerokkel het.

Tot die noodlot hom by Evie Harmse, bibliotekaresse van Mpumalanga en haar kollega, Noah Mahlangu, uitbring en hy sy hart op haar fyn vroulikheid verloor.

Wanneer Ling Ho se kulkunstenaarvertoning skeefloop en die polisie hom in hegtenis neem, vlug hy huiswaarts. Terselfdertyd keer Evie en Noah in die stortreën terug met die rondreisende biblioteekbus.

Al die karakters lei meer as een lewe en word met die dood gekonfronteer in ’n sondvloed.

’n Satiriese kragtoertjie wat Afrikaanse lesers onbedaard vir hulleself sal laat lag. – Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

All their minds in tandem, David Sanger (Quercus Fiction, R348)
New Georgetown, Wes-Virginië, 1879. Die Amerikaanse Burgeroorlog is verby en die Unie het gewen. Soldate keer terug na hul huise en sukkel om hul lewens te herbou nadat broers, vaders en seuns teen mekaar geveg het. Maar Emerson kan help. Hy noem homself the maker en sy besigheid is mense se herinneringe. Hy kan vir jou’’n verlede skep as jy soos dr. Ümbrund nie een het nie en hy kan ook pynlike herinneringe verwyder. Maar dr. Ümbrund is nie die enigste rede hoekom Emerson besluit het om New Georgetown toe te kom nie.

David Sanger se debuutroman volg nie ’n tradisionele hoofkarakter nie, maar is eerder ’n soort van foto-album wat verskeie karakters in die dorp se stories volg. Daar is die Marianne-susters, Blanche, Elena en Kittie, by wie Emerson loseer vir die tydperk wat hy in die dorp is. Odell is ’n jong talentvolle pianis wat deurloop onder sy pa se alkoholisme en dobbelary. Maar as hy ’n indruk maak op die misterieuse karakter The Bird, verander sy lewe ten goede. Dan is daar ook Ora wat in die kroeg werk en Clay, die dorp se boelie.

Hierdie roman val op die grenslyn tussen historiese fiksie en fantasie. Die konsep is sterk, maar dit voel asof daar net te veel tegelyke tyd in die roman gebeur. Alhoewel die onkonvesionele styl interessant en vars is, sal almal nie daarby aanklank kan vind nie. Saam met die onbevredigende einde maak dit vir ’n uitdagende leeservaring.  - Antoinique van Staden

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Career of Evil, Robert Galbraith (Little Brown, R210)
Robin Ellacott kry die skok van haar lewe wanneer sy ’n geadresseerde pakkie oopmaak en op ’n geamputeerde menslike been afkom. Cormoran Strike, die privaatspeurder, besef dat enigeen van vier mense uit sy verlede dit kon gestuur het. Die polisie fokus op een van die vier verdagtes, terwyl Strike en Ella op die ander drie konsentreer. Strike is bevooroordeeld teenoor een van die verdagtes en dit veroorsaak dat hy perspektief verloor en al sy energie fokus op dié spesifieke verdagte. Dit word aan Ella oorgelaat om die besigheid te bestuur en die ander twee te ondersoek. In die verloop van die verhaal word geheime oopgevlek, lewens gered en ander byna verwoes. Galbraith weef ’n uitmuntende verhaal met ’n hele paar verrassings. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Saving Grace, Jane Green (Macmillan, R276)
Is dit moontlik om die perfekte lewe te hê?  Vir buitestaanders is Grace Chapman se lewe benydenswaardig … Sy is pragtig, ’n top-sjef, die moeder van ’n liefdevolle dogter, getroud met ’n suksesvolle skrywer en woon in ’n pragtige plaashuis op die Hudsonrivier in die staat New York.  Maar die uiterlike kan misleidend wees en toe haar man Beth, die nuwe, jong assistent aanstel, begin Grace se “perfekte” wêreld uitmekaar val met verwoestende gevolge.
Die verhaal plaas ’n dwingende fokus op ’n huwelik wat al vir 25 jaar aanstruikel, verwoes deur selfsug, afknouery en onuitgesproke geheime van die verlede. ’n Huwelik wat wrede verraad in die gesig staar.  Sal die styf gespande bande finaal gebreek word?

Saving Grace is ’n stadige-brandende, sielkundige bladsy-draaier wat my aangegryp en geboei het tot op die laaste bladsy.  ’n Verrassing is die watertand resepte wat welig gesaai is regdeur die boek. – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

The Magic Strings of Frankie Presto, Mitch Albom (Sphere, R385)
Frankie Presto, ’n oorlogweeskind word deur ’n blinde musiekonderwyser in ’n klein Spaanse dorpie grootgemaak. Op negejarige ouderdom word Frankie na Amerika gestuur in die bodem van ’n boot en al wat hy besit is ’n ou kitaar met ses snare.
Maar sy talent sorg dat hy deur die musiekwêreld van die twintigste eeu seil en groot popsterre soos, onder andere Elvis Presley beïnvloed. Hy word ’n popster en maak plate. Almal vereer hom, maar sy gawe is ook sy las toe hy agterkom dat hy deur sy musiek mense se toekoms kan beïnvloed, “een snaar wat blou word wanneer ’n lewe verander is”.

Op die kruin van sy gewildheid verdwyn hy! En verskyn eers dekades later, kort voor sy dramatiese dood, om nog een laaste lewe te verander.

Albom se boodskap is dat elkeen van ons by ’n “orkes” in hierdie lewe aansluit, hetsy deur musiek, familie, vriende of romantiese metgeselle, wat ons verander. – Linda Volschenk

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

The Mistress of Nothing,  Kate Pullinger (Serpent’s Tail, R317)
Die gevierde Lady Duff Gordon, moet Victoriaanse Londen verlaat om haar vernietigende tuberkulose te beveg in die meer geskikte klimaat van Egipte. Sally, haar toegewyde diensmeisie, reis saam met haar tot in Luxor, aanvaar nuwe gewoontes en die koeler plaaslike kleredrag entoesiasties in die verwelkende Egiptiese son saam met haar. Hulle leer die taal van die nuwe omgewing, en gaan op uitstappies na die grafte. Sally geniet haar nuutgevonde vryheid met groot entoesiasme, en moet uiteindelik die bitter vrugte van haar nuwe lewe self proe, sodat sy tot die insig kom dat sy self die Meesteres van Niks is nie.

Gegrond op die ervarings van die ware mevrou Gordon, met ’n besonderse, romantiese vertelling van ’n baie interessante reis en eksotiese omgewing. – Mariette Postma