FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

“Ek het ’n klein prys betaal vir dié voorreg”, sê Riette Rust oor haar nuwe boek.

Riette het weliswaar ná elke onderhoud ’n breek geneem, tee gedrink en doelbewus kalm probeer word. Sy het ook enkele bloedbadnagmerries gekry. Maar dit was ’n klein prys om vir ’n lewensveranderende ervaring te betaal.

Dié ervaring is die skryf van die boek, Vlees en Bloed (Lapa Uitgewers, R200). Dis die verhaal van Eileen de Jager en Roelien Schutte wat Riette saam met die susters verder vertel. Lesers het kennis gemaak met hulle en hul grieselrige werk in Bloedsusters (Lapa Uitgewers, 2011). Die twee susters maak misdaadtonele skoon, vir die afgelope 15 jaar reeds. Dis tonele waar selfdood, moord, marteling, aanranding, plaasaanvalle en natuurlike sterftes plaasgevind het. Dis nogal aardig om hieroor te lees en dit is onstellend vir my as leser. Maar iemand moet hierdie werk doen! Wat my geraak het, is die tonele waar mense dood is en daar geen naby familielede of vriende was om dit aan te meld nie. Die mense is eers ná dae, of selfs weke ontdek. Die opruim van die huise van opgaarders moet vir die susters ’n ander tipe uitdaging bied. Maar die ergste is die waar daar ’n bloedbad plaasgevind het. . .  Mens kan nie anders as om die twee susters te bewonder nie, want dié werk is nie vir sagmoedige Neelsies nie. In die nuwe boek word daar nie net meer vertel oor watter tipe tonele die susters skoon maak nie, maar ook gekyk watter moontlike gevolge dit op hulle kan hê. Die afwisseling tussen persoonlike verhaal en navorsing maak dat die boek nie neerdrukkend raak nie en dat mens enduit bly lees.Die boek kom met ’n waarskuwing op die omslag, want dit kan sensitiewe lesers ontstel. Ek het per e-pos met Riette Rust gesels oor Vlees en Bloed.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

 

Hoe het jy die onderhoude met die Bloedsusters gedoen?
Eileen de Jager woon in Ballito, KwaZulu-Natal en Roelien Schutte in Pretoria, maar danksy tegnologie was die onderhoude via Skype moontlik. Ons drie het onmiddellik gekliek. Ek het hulle aanvanklik saam, maar later een-een, ondervra. Dit was maar moeilik om tyd geskeduleer te kry, want die susters word soms op kort kennisgewing na misdaadtonele uitgeroep. Daarby het kragonderbrekings gereeld ons beplande gesprekke gekelder. Hoewel ek nog nie vir Eileen of Roelien persoonlik ontmoet het nie, voel ek ná die skryf van Vlees en bloed byna of ek die derde suster is!

Moes jy baie navorsing doen om die kenners se kommentaar by te voeg?
Ja, maar ek is verskriklik lief vir navorsing en vir sielkunde. Ek het eers elke onderwerp deeglik nagevors sodat ek die kenners met gesag kon uitvra. Die inligting oor bloed was ingewikkeld; dis nie my spesialisgebied nie. Ek moes byvoorbeeld eers vasstel wat ’n prioon is en ook alles oor elke moontlike gevaar wat in bloed kan skuil, navors. Wat ek egter die meeste geniet het, was om die Amerikaanse Psigiatriese Vereniging se Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders, oftewel die DSM-5, te raadpleeg. Ek het begin lees oor hoekom mense opgaarders word en later, net vir die interessantheid, oor bykans elke ander versteuring gelees. Wat ’n komplekse spulletjie is die mens nie!

Hoe het jy die kenners gekies wat jy gebruik het, want daar is so baie in die mark?
As joernalis weet ek teen dié tyd presies wie die top-kenners in die land is. Dit was nie altyd maklik om hulle te oortuig om van hul kosbare tyd af te staan nie, maar hulle het tog. En dit manjifiek gedoen.

Het van die gebeure wat die Bloedsusters beskryf jou nie ontstel nie?
Beslis. Maar is ontsteltenis nie maar deel van die lewe nie? Daarby bevat elke goeie boek of fliek tog aangrypende of ontstellende tonele. Dit het voordele: Deur te huil, kry jy die geleentheid om van opgekropte emosie ontslae te raak. Maar, jy besef ook dat jou probleme absoluut nietig is in vergelyking met baie ander mense s’n. Sedert ek Vlees en bloed geskryf het, waardeer ek elke dag met my geliefdes soveel meer. En doen ek ook wat die Bloedsusters doen: Soek doelbewus die mooi in die lewe op.

Wat het jy gedoen om te voorkom dat die boek te neerdrukkend raak?
Humor ingewerk. Moeilik was dit nie, want die susters is van nature snaaks. Ons het soms so hard gelag, dat my man, JD, gevra het of ek dan nie oor moord skryf nie. Die susters vertel byvoorbeeld dat hulle van die seksspeelgoed wat hulle op tonele kry, ontslae raak – al gril hulle tot in hul tone – voor die res van die familie daarop afkom. “Want sulke speelgoed is nou nie juis familieheirlooms nie!” sê Eileen.

En dan was daar die dag dat hulle van aangesig tot aangesig met ’n paar leeus gekonfronteer is: “Jy weet, soos Sylvester Stallone bo-oor ’n kar se bonnet gly en dan so onderstebo by ’n kardeur inklim: Dit was ék daardie!” sê Roelien.

Natuurlik is daar galgehumor ook: Roelien sê dat maaiers soms so groot soos “miniatuur worshonde” word. “En wanneer ons twee dae aan só ’n toneel werk, sit ons oornag vir hulle die TV aan!” spot sy.

Was daar ’n punt waar jy gevoel het die onderwerp kry jou onder en dat jy eers ’n breek moes neem van die skrywery?
Omdat ek die dieper betekenis van die Bloedusters se werk verstaan, het die skrywery my gelukkig nooit heeltemal ondergekry nie. Soos Eileen en Roelien dit stel: “Ons besef dat as ons nie daar was nie, duisende slagoffers van misdaad deur nog erger trauma sou moes gaan.” Stel jou voor hoe dit moet voel om jou eie ma, suster of kind se bloed of weefsel te moet skoonmaak.
Ná elke onderhoud het ek wel ’n breek geneem, tee gedrink en doelbewus kalm probeer word. Ek het ook enkele bloedbadnagmerries gekry. Maar dit was ’n klein prys om vir ’n lewensveranderende ervaring te betaal.
Daar was darem ook tye dat ek absoluut in awe was oor die werk wat die susters doen, oor die uitleef van hul Christenskap en oor hul omgee en liefde vir mekaar en hul naasbestaandes. Dat hul harte so sag en hulle so sensitief is, het my verbyster. As dit by haar gesin se bloed kom, val Eileen maklik flou. Sy is ook bang vir naalde, terwyl Roelien spinnekoppe vrees.

Wat was die mees insiggewende ding wat jy uit die boek geleer het?
Ontelbare dinge. Maar bowenal dat ek nog meer van sielkunde (en kriminologie) hou as wat ek ooit besef het. Al het ek reeds sielkunde studeer, begin ek nou ná jare weer van vooraf. Sommer vir die lekkerte. Dié keer deur Unisa.

Hoe het julle by die titel van die boek uitgekom?
Ek het met verskeie titels rondgespeel, maar nie een het net rég gevoel nie. Misdaad en maaiers byvoorbeeld was darem net té grusaam en ook ’n totale oordrywing van die onderwerp. Toe dink my knap uitgewer, Suzanne van Niekerk, Vlees en bloed uit. Dis nommerpas. Die susters is tog met bloed en weefsel aan mekaar verbind. Daarby is daar dikwels bloed en menslike weefsel op tonele wat hulle dan op hul knieë, skropborsel in die hand, skoonmaak.

Waarom moet lesers hierdie boek lees?
Omdat dit oor soveel meer as die Bloedsusters se vertellinge handel. Lesers sal antwoorde op vrae kry soos:

– Hoekom fassineer misdaad ons so?

– Wat loop verkeerd in kinders se lewens dat hulle later misdadigers word?

– Hoekom is daar soveel plaasmoorde in ons land en wat kan inwoners doen om hulself te beskerm?

– Hoekom wend soveel Suid-Afrikaanse tieners hulle tot selfdood?

– Hoekom is daar soveel huishoudelike geweld en hoe kan ons gevaarlike verhoudings vermy?

– Hoekom sterf soveel Suid-Afrikaanse bejaardes alleen?

– Hoekom word sommige mense opgaarders? (Die Bloedsusters maak ook oorvol, besmette huise skoon.)

– Watter gevare skuil in bloed?

– Hoekom drink ons alkohol en wanneer behoort die rooi ligte te flikker?

– Hoekom is dit belangrik om behandeling vir posttraumatiese stres te kry?

– Praat die susters die waarheid wanneer hulle van hul interaksie met geeste en engele praat?

– BDSM (Bondage, Domination, Sadism and Masochism): Hoe werk ophanging (body suspension) en hoekom doen mense dit?

– Waarin lê die kick en ook die gevare van die outoërotiese speletjie waaraan tieners soms sterf?

Daarby glo ek die Switserse psigoanalis Carl Jung. Hy het gesê dat jou geestesgesondheid van jou “skaduwee” afhang – daardie deel van die psige waar jou donkerste energie, soos melankolie en moorddadigheid, geberg word. (Hoe dikwels sê baie van ons nie: “Ek was so kwaad, ek kon hom gerus vermoor het!”) Jung sê hoe meer ons die morbiede onderdruk, hoe meer wakker dit neuroses of psigoses aan. Om weer heel te word, moet ons daarom ons meer demoniese neigings erken.

*Gaan luister gerus tydens die Woordfees op Saterdag, 12 Maart om 15.30 na die gesprek, Feit of fiksie, tussen misdaadskrywers, Riette Rust, Carla van der Spuy, Martin Steyn en Henk Breytenbach. Kaartjies is by Computicket te kry.